Ampte in kerk nou ‘oop vir pedo’s’

Kyk ook:

Al hoe meer mense maak die konnotasie tussen pedofilie en homoseksualiteit (kyk Homoseksualiteit en pedofilie).

Dit is baie ironies dat toe Chris van Wyk hierdie konnotasie gemaak het, het Hennie Pienaar, ’n gay aktivis, hom na die menseregtekommissie (MRK) gesleep. ’n Mens het gedink dat die MRK hierdie aanklag summier sou uitgooi, maar hulle het dit weliswaar na die gelykheidshof verwys.

Nou wonder ’n mens of Hennie vir Petrus Kriel ook na die MRK gaan sleep?

*******

Ampte in kerk nou ‘oop vir pedo’s’ | Netwerk24

Deur Johan Eybers

10 November 2019 00:02

Die gort is nou behoorlik gaar ná die besluit van die NG Kerk (NGK) se algemene sinode om gemeentes self te laat besluit of hulle gay mense in die ampte gaan aanvaar en gay paartjies in die huwelik wil bevestig.

Die ring van Louis Trichardt, onder die voorsitterskap van dr. Petrus Kriel, sê die algemene sinode se “onnadenkende” besluit om gay mense in die ampte te aanvaar beteken dat die NGK netsowel pedofiele en mense “wat sadomasochisme beoefen” as predikante, ouderlinge en diakens kan aanvaar.

En in die ou Wes-Transvaal is ’n mosie voor die Goudland-sinode wat tot gevolg sou hê dat dié sinode uit die NGK wegbreek, op die nippertjie afgeweer.

In ’n verklaring aan die algemene sinode waarsku die Louis Trichardt-ring dat die algemene sinode se “onnoukeurige bewoording” nou “die ampte en legitimasie vir pedofiele oopstel”.

Die ring sê hy is ongelukkig met die besluit wat onder meer lui dat kerkrade aangemoedig word “om by die aanwysing van persone in die ampte lidmate se geskiktheid vir die spesifieke rol in ag te neem ongeag ras, geslag, klas of seksuele oriëntasie en identiteit”.

Die ring meen die benaming “seksuele oriëntasie en identiteit” is ’n sekulêre beskrywing uit die LGBT-gemeenskap.

“Volgens hierdie beskrywing is pedofilie ook ’n seksuele oriëntasie en identiteit,” lui die ring se verklaring.

Die kerkvaders van Louis Trichardt en omstreke meen die Kerk stel hulle oop vir regstappe as hulle “deur die amp en legitimasie vir pedofiele toegang gee tot kinders”.

“Dit gaan vir ons daaroor dat die algemene sinode nie sy vorige standpunt gehandhaaf het nie waar geslagtelike gemeenskap slegs binne die huwelik uitgeleef kan word en dit nou ruimte maak vir mense wat anders dink,” sê ds. Bertus Badenhorst, skriba van die ring.

Volgens die ring se verklaring erken en respekteer hulle steeds die algemene sinode “as ons eie kerk se instelling vir ons eie kerklike verband”, maar hulle distansieer hulle van “slegs hierdie een sonde”.

In Noordwes praat predikante egter openlik van skeuring. ’n Stemmery voor die Goudland-sinode oor ’n voorstel dat die sinode sy “band losmaak” van die algemene sinode is tot 20 November uitgestel nadat ’n orde-mosie om meer tyd te koop deur die meerderheid van die 240 afgevaardigdes aanvaar is.

’n Opvolgvoorstel is toe ook aanvaar dat ’n afvaardiging van vyf lede eers met die algemene sinode hieroor sal praat. Die vergadering word volgende week in Benoni gehou.

Die Goudland-sinode is die vierde grootste streeksinode in die NGK gemeet aan belydende lidmate. Dit bestaan uit 130 gemeentes in Gauteng en Noordwes.

Sommige predikante sê egter hulle is niksvermoedend in ’n strik gelei deur ’n groep wat ’n agenda gehad het om weg te breek.

Volgens ’n predikant wat nie sy naam genoem wil hê nie was dit “gou duidelik dat daar ’n georganiseerde groep was wat voorberei het om ’n skeuring te bewerkstellig”.

Hy sê ’n voorstel om weg te breek is uit die bloute op die tafel geplaas.

Nog ’n predikant sê baie afgevaardigdes weet nie eens wat die implikasies daarvan is nie. Luidens art. 37 van die Kerkorde kan ’n sinode volledig wegbreek én sy status in die NGK, voorregte en naam behou. ’n Ander predikant sê dit was duidelik dat Johan Brink, voorsitter van dié sinode en ook die voorsitter van die vergadering, “probeer het om die vergadering in ’n rigting in te stoot. Hy is al lankal besig met ’n narratief om weg te breek,” sê die predikant.

Brink ontken die bewerings ten sterkste.

“My enigste agenda is die NG Kerk se eenheid in Christus. Dit is waarom ek as voorsitter toegelaat het dat die orde-mosie kon dien. Dit was suiwer my besluit onder die krag van die Heilige Gees.”

3 thoughts on “Ampte in kerk nou ‘oop vir pedo’s’”

  1. Die argumente van die Ring van Louis Trichard is vir my heel logies. En ek wonder ook of Hennie Pienaar in hierdie saak gaan stappe doen. Anders maak die aksie teen dr Chris van Wyk geen sin nie.

  2. Goeie dag broeders en susters. Na my meer as 60 jaar in die NG Kerk is ek so bly en verheug dat die Hemelse Vader dit op die harte van almal gelê het om hierdie wonderlike besluit te maak. Baie van ons bid al 40 jaar of meer hiervoor. Ons gebede is verhoor en die kerk sal lank geseënd bly.

    Dit is egter jammerlik dat so baie broeders en susters nog nie hulle harte oopgemaak het en na die stem van die Heilige Gees geluister het nie.

    Dis die jammerlike probleem van die meeste lidmate in die NG Kerk dat hulle weier om deur die Gees en die bloed van Jesus gelei to word.
    ‘n Pedofiel kan “straight, gay, losbandig of sedeloos wees. Om na GAY’s as pedo’s te verwys is belaglik en behoort as laster en haatspraat gesien te word. Ek persoonlik weet van baie voorbankers en predikers in die NG Kerk wat beslis losbandig is, beslis sedeloos is, seks voor die huwelik gehad het, lesbiese en gay hunkerings koester en pornografie kyk.

    So julle hoogs heiliges wat gays en lesbiese mense beoordeel, dalk is dit tyd dat julle die Kerk verlaat en ophou gekkigheid kwytraak.

  3. Ds Veldsman

    Of die kerk geseënd sal wees, sal ons moet sien. Ek twyfel baie sterk.

    Niemand hou hulleself hoogheilig of sonder homoseksualiteit uit bo die sondes wat jy noem nie. Dit is juis die punt: al hierdie sondes is ewe sleg.

    My vraag aan jou is: wat het jy gedoen om hierdie sedelose en losbandige voorbankers en predikers waarvan jy praat, tot orde te roep? (Volgens Matteus 18) Die Bybel oor oordeel en Die Bybel oor sonde

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui