NGK 2019 homoseksuele besluit – wat nou?

NGK 2019 homoseksuele besluit – wat nou?

1 November 2019

Tydens die NG Kerk se algemene sinode van 2019 het die sinode op 8 Oktober die 2015 besluit oor selfdegeslagverhoudings herbevestig. Alhoewel die 2015-besluit in 2016 omgekeer is, kry mens die idee dat die 2019-besluit nou behoorlik ingesement is in die NG Kerk. In die afgelope 10 jaar was daar al vele pleitskrifte aan die NG Kerk leierskap gerig om hulle tot besinning te roep, maar dit was futiel (kyk Lys van pleitskrifte aan NG Kerk leierskap). Die drie teologiese fakulteite, wat toekomstige predikante in die NG Kerk oplei, is te ver heen (kyk Fanie Snyman moeg vir verdagmakery). Dit is baie duidelik dat die NG Kerk nie gaan omdraai nie.

Die vraag is: wat moet behoudende lidmate en gemeentes in die NG Kerk nou doen?

Verskillende reaksies

Ek hoor verskillende reaksies van behoudendes:

’n Groot aantal behoudendes het reeds die NG Kerk verlaat.

Moreletaparkgemeente het in April 2019 aanduiding gegee dat hulle daaraan dink om bande met die NG Kerk te breek. Hulle het weer gereageer met ’n verklaring (kyk Moreletapark reageer op NGK se 2019-SGV-besluit).

Een persoon sê vir my dat hy net gewag het vir hierdie besluit en nou gaan hy maar uit die NG Kerk bedank. Hy het nou genoeg gehad.

Party lidmate sê dat hulle hul nie aan die sinode steur nie solank die gemeente waaraan hulle verbonde is nie sulke belaglike standpunte het nie.

Ander sê dat hulle glad nie die besluit ondersteun nie, maar dat hulle nie bakleiers is nie. Dus lei mens af dat hulle maar sal aanbly en ’n blinde oog gooi oor die dwaling in die NG Kerk.

Om niks te doen is nie ’n opsie nie

Om voort te gaan in die NG Kerk asof niks gebeur het nie, is hoegenaamd nie ’n opsie nie. Jesus was hoogs waarskynlik self ook nie lus om die geldwisselaars uit die tempel te jaag nie, maar Hy het ’n sweep gaan vleg en gaan doen wat gedoen moes word (Johannes 2:14-16).

Dietrich Bonhoeffer het gesê:

“Om stil te bly in die aangesig van die bose is self boos; God sal ons nie onskuldig verklaar nie. Om nie te praat nie, ís om te praat. Om nie op te tree nie, ís om op te tree.”

Ses persent van alle gemeentes se inkomste gaan na die sinode. Blykbaar is R3 miljoen bestee aan die afgelope hofsaak wat die NG kerk leierskap waarskynlik aspris verloor het en wie weet hoeveel is spandeer om te probeer om die belydenis van Belhar goed te keur. Dit is tyd dat die finansiële kraantjies toegedraai word. In Engels sê hulle: “Put your money where your mouth is”. (Of weerhou jou geld waar jou hart nie is nie.)

Daar is baie mense (selfs hoë profiel) wat baie groot persoonlike opofferings maak ter wille van hierdie saak. Kyk byvoorbeeld:

  • Israel Folau (Australiese rugbyspeler wat sy rugbyloopbaan prys gegee het.)
  • Jaelene Hinkle (Vroue sokkerspeler wat haarself uit die span onttrek het omdat sy nie bereid was om ’n gay pride hemp te dra nie.)

As hierdie mense bereid is om sulke persoonlike opofferinge te maak, kan NGK lidmate nie niks doen nie.

Amptelike standpunt as opsie

Baie gemeentes het standpunt ingeneem ná die 2015-besluit. Om weer amptelik standpunt in te neem sal futiel wees. Die sinode sal vir jou terug antwoord met iets in die lyne van: “Die 2019-besluit sê juis dat daar ruimte gemaak word vir almal. Dit is die mooi van die 2019-besluit. Ons dwing niks op iemand af nie.”

Om amptelik standpunt in te neem mag jou gewete moontlik vir ’n rukkie stil, maar moenie vir een oomblik dink dat jy iets konkreets gedoen het nie.

Wat is die opsies?

Afstigting

Die NG se algemene sinode kan niks aan ’n predikant se pensioen doen nie en ’n gemeente se bates behoort nie aan die algemene sinode nie, maar aan die lidmate van die gemeente. Dus, as ’n gemeente afstig is daar geen ekonomiese implikasie nie. Dit is egter nie so eenvoudig nie. Niemand weet lyk my watter persentasie van lidmate in ’n gemeente moet toestem om af te stig voor dit gedoen kan word nie. Dit kan wees dat 90% van lidmate stem om af te stig, maar die bates van die gemeente gaan na die ander 10% wat nie wil afstig nie.

Doleansie

In kort kom doleansie daarop neer dat geldelike bydraes weerhou word.

  • Streeksinodes kan hulle finansiële bydrae aan die algemene sinode weerhou.
  • Indien streeksinodes nie doleer nie, kan gemeentes besluit om hulle sinodale bedraes te weerhou.
  • Indien ’n gemeente nie wil doleer nie, kan gemeentelede hulle bydrae aan hulle gemeente weerhou. Is so ’n geval sou ek in elk geval voorstel dat sulke gemeentelede na ’n ander gemeente toe gaan.

 

1 thought on “NGK 2019 homoseksuele besluit – wat nou?”

  1. Die hele debakel oor SGV is verstommend. Hoe is dit moontlik dat ons kerkleiers tyd vekwis oor n saak wat ondubbelsinnig in die Woord van God vervat word. Is hulle besig om die guns van mense na te streef? Vergeet ’n slag van wat mense dink of sou voel! Doen wat reg is en verklaar dit as die sonde wat dit duidelik is. Moenie bang wees om op die gevoelens van mense te trap vir die regte redes nie. Dit is julle plig! Moet egter beslis nie die Woord van God verdraai en vertrap nie.

    Die volgende stelling is absoluut skokkend: “Die 2019-besluit sê juis dat daar ruimte gemaak word vir almal. Dit is die mooi van die 2019-besluit. Ons dwing niks op iemand af nie.”

    Hierdie is erkenning van onvermoë om ’n standpunt in te neem en dit te basseer op die voorskrifte uit die Bybel wat as die enigste Wetboek van ons geloof staan. Lees asb die Bybel! LEES hom!

    Daar is geen ander evangelie nie. Lees gerus Galasiers1:6-10

    6 Dit verbaas my dat julle so gou van God wat julle deur die genade van Christus geroep het, afvallig word en ’n ander evangelie aanneem.
    7 Daar is geen ander evangelie nie! Tog is daar mense wat die evangelie van Christus probeer verdraai, en dit is hulle wat vir julle in verwarring bring. (NB: “Tog is daar mense wat die evangelie van Christus probeer verdraai, en dit is hulle wat vir julle in verwarring bring”)
    8 Maar al sou een van ons of selfs ’n engel uit die hemel aan julle ’n evangelie verkondig wat in stryd is met die evangelie wat ons aan julle verkondig het – die vloek van God sal hom tref!
    9 Ons het dit voorheen al gesê en ek sê dit nou weer: As iemand aan julle ’n evangelie verkondig wat in stryd is met die evangelie wat julle ontvang het – die vloek van God sal hom tref!
    10 Klink dit nou asof ek die guns van mense soek, of soek ek die guns van God? Probeer ek by mense in die guns kom? As ek nog steeds die guns van mense soek, sou ek geen dienaar van Christus wees nie.

    Voeg hierby: Levitikus 18:22
    “Jy mag nie ’n homoseksuele verhouding hê nie. Dit is ’n afstootlike sonde.
    (Lees gerus die hele hoofstuk!).

    Levitikus 20:13
    “Twee mans wat homoseksueel verkeer, doen ’n afskuwelike sonde. Hulle moet doodgemaak word. Hulle verdien die dood.

    Romeine 1:26-27
    26 Daarom het God hulle oorgegee aan skandelike hartstogte, want hulle vroue het die natuurlike verkeer verander in dié wat teen die natuur is;
    27 en net so het ook die manne die natuurlike verkeer met die vrou laat vaar en in hulle wellus teenoor mekaar ontbrand: manne het met manne skandelikheid bedrywe en in hulleself die noodwendige vergelding van hulle dwaling ontvang.

    Korintiërs 6:9-10
    9 Of weet julle nie dat mense wat onreg doen, geen deel sal kry aan die koninkryk van God nie? Moenie julleself mislei nie: geen onsedelikes of afgodsdienaars of egbrekers of mense wat homoseksualiteit beoefen
    10 of diewe of geldgieriges of dronkaards of kwaadpraters of bedrieërs sal deel kry aan die koninkryk van God nie.

    Moenie julleself en ander mislei ter wille van die guns van mense nie!

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui