NG Kerk se nuwe gay-besluit kan weer in die hof draai

Kyk ook KOMMENTAAR onderaan.

*******

NG Kerk se nuwe gay-besluit kan weer in die hof draai | Netwerk24

Johan Eybers

Rapport, Sondag 21 Oktober 2023

Die besluit oor gay-huwelike wat die NG Kerk se Algemene Sinode dié week geneem het, stel hom bloot aan litigasie oor sy diskriminasie teen gay mense, sê Laurie Gaum, ’n gay predikant.

Die Sinode het besluit dat gemeentes wat nie gay-huwelike wil bevestig nie, voortaan by enige streeksinode kan inskakel wat hul siening deel.

Gaum sê egter ’n senior advokaat het reeds uitgewys dat individuele gemeentes regtens nie gay gemeentelede mag wegwys wat wil trou nie of weier om gay predikante te beroep nie.

Die Algemene Sinode se besluit, wat Vrydag in Boksburg geneem is, handhaaf hul 2019-besluit in soverre dit ruimte maak vir meningsverskille oor selfdegeslagverbintenisse en dit gee kerkrade ruimte om self te besluit of hulle gay verhoudings erken, gay paartjies wil trou en gay predikante sal aanstel.

Die 2023-besluit gaan egter verder deurdat dit voorsiening maak vir die moontlikheid dat ’n gemeente by ’n ander streeksinode kan inskakel met gelyksoortige standpunte.

Rapport het onlangs oor ’n regsmening deur adv. Jeremy Gauntlett berig dat die kerk se besluit om gay-huwelike en gay predikante se beroeping in die hande van individuele gemeentes te laat, nie naastenby ver genoeg gaan om te voldoen aan ’n vroeëre hofbevel waarin die kerk tereggewys is oor sy diskriminasie teen gay lidmate nie.

Gauntlett sê in sy regsmening dat geen liggaam, gemeente of amptenaar van die NG Kerk ingevolge die hofbevel “ ’n standpunt kan inneem wat nié selfdegeslagverhoudings tussen sy lidmate en predikante van die NG kerk ten volle erken nie”.

Die hooggeregshof in Pretoria het in 2019 bevind om gay lidmate tot die kerk toe te laat, maar hulle dan nie toe te laat om in die kerk te trou of kerkampte te beklee nie, is diskriminerend.

Die 2023-besluit lui dat “besluitneming oor selfdegeslagverbintenisse binne die raamwerk van ons Kerkorde én die Grondwet en regstelsels van ons onderskeie lande geskied”.

“Daarin word die beginsels van nie-diskriminasie, die waardigheid van alle mense en die vryheid van geloofsoortuiging en -assosiasie beskerm.”

Tweederdes van die afgevaardigdes het Vrydag die Sinodebesluit gesteun om artikel 32 van die Kerkorde te wysig sodat sinodes nie meer geografies saamgestel hoef te wees nie. Dit maak dit vir gemeentes moontlik om by ’n ander bestaande sinode met gelyksoortige standpunte in te skakel.

Die 2023-besluit is voorafgegaan deur ’n geslote vergadering. Afgevaardigdes het in dié vergadering daarop gewys dat die “ruimte” wat in die 2019-besluit geskep is, onuitvoerbaar is omdat daar binne gemeentes geweldige konflik is en dat daar twee standpunte in die kerk bestaan waarvan net een met die Grondwet belyn is.

’n Predikant van Namibië het gesê Khoi-San-gemeentes voel bedreig dat “wit mense” se selfdegeslagverhoudings na hulle sal oorwaai. Nog een het bygevoeg dat die NG Kerk in Afrika is, maar dat agendas in die kerk oor gays deur Westerse liberalisme gedryf word.

Hy het gesê daar moet ook na die Koptiese Kerk, die oudste kerk in Afrika, geluister word “wat duidelik sê homoseksualiteit is strydig met die sakrament van die huwelik” en dat ’n gay persoon “geen ander regte het nie as die reg om tot bekering gelei te word”.

Gert van Niekerk, ’n afgevaardigde kerkraadslid, het verwys na gay mense wat “God genees en herstel het”. Hy het bygevoeg dat sy gemeente baie hartseer was toe dr. Louis van der Riet, wat in ’n selfdegeslagverhouding is, as ’n leraar in Kraaifontein aangestel is.

“Ek dink die haan het gekraai in daai kerk. Want ek weet nie wat moet hy preek nie, want die boodskap van die Evangelie van God sê man en vrou.”

Van der Riet het later gesê die dag toe hy in Kraaifontein bevestig is, was “die mees betekenisvolle dag in my hele lewe”.

“Ek wil vandag as ’n gay predikant en as ’n lidmaat van hierdie kerk vir elkeen wat besonders beswaard is en wat sukkel om mense soos ek lief te hê, sê ek is bereid om ’n pad te stap en saam te sit aan die tafel.”

Dr. André Bartlett, oud-voorsitter van die NG Sinode Hoëveld in Gauteng, het gesê hy was 41 jaar oud toe hy in 1999 vir die eerste keer in hierdie gesprek in die kerk betrokke geraak het.

“As jy op daai stadium vir my gesê het dat ons 24 jaar later wanneer ek 65 is en op die punt is om te emeriteer, steeds op dieselfde manier oor mense gaan praat, dieselfde kwetsende goed oor mense gaan sê wat nie hoort op ’n vergadering nie, sou ek dit nie geglo het nie.”

Gaum, wat ’n litigant was in die destydse hofsaak, sê die aanslag wat gay mense keer op keer by die vierjaarlikse algemene sinodevergadering moet beleef, is totaal onaanvaarbaar.

“Van die gay kant af sal daar gesê moet word ons stel onsself nie meer bloot hieraan om so uitgelewer te word nie en ons eis nou dat dit anders hanteer moet word.

“Die gesprek oor seksualiteit behoort eerder op gemeentevlak gevoer te word in veilige ruimtes waar daar met deernis met mekaar gepraat kan word,” sê hy.

Hennie Pienaar, ’n gay proponent in die NG Kerk en ook ’n litigant in die destydse saak, het die jongste besluit beskryf as “ ’n huis waarin diskriminasie welkom is”.

“Daar is geen vordering gemaak om geregtigheid in die kerk te bevorder nie. Dit lyk of ons steeds met ’n leierskorps sit wat soos die vorige leierskorps geen ruggraat het nie.

“Dit is vir die leiers belangriker om nie ’n skeuring te laat gebeur nie as wat dit is om diskriminasie hok te slaan.

“Die homofobe het die kerk in ’n verlammende wurggreep. Die kerk bly ’n klub van enersdenkendes en is nie die rebel wat dit behoort te wees in ’n wêreld vol onreg en geweld nie.

“Hoe kan jy jouself uitspreek teen onreg en geweld as jy ’n ruim huis is waarin geweld, onreg en diskriminasie welkom is. Soos hulle in Engels sou sê, dit is ’n disgrace.”

Kommentaar

Daniel Louw

Die vraag is, of gemeentes soos Tafelberg, wat hulle bloot vry verklaar het van die NG Kerk, gevrywaar sou wees van hierdie hofuitspraak. Onthou dat hulle hulself baie pertinent steeds NG Kerk noem (kyk Tafelberg: akte van opskorting (22 Jun 2023)).

My gevoel is dat hulle nie weer hof toe sal gaan nie, maar indien ‘n homoseksuele paartjie moeilikheid sou maak by ‘n behoudende gemeente (soos Tafelberg), dan kan die gemeente dalk probleme hê. Byvoorbeeld, as ‘n homoseksuele paartjie die gebou sou wou huur om te trou of as ‘n paartjie aansoek sou doen om lidmate te word van die gemeente.

Die hofuitspraak mag dalk selfs ‘n bedekte seën wees. Dit mag dit dalk makliker maak dat alle lidmate in ‘n gemeente toestem om te skeur en sodoende die geboue saam met hulle te neem.

Hierdie kwessie is nie tydens die pas afgelope algemene sinode aangespreek nie, waarskynlik omdat daar nie genoeg tyd was nie, maar ook omdat daar dalk gevoel is dat dit behoudende gemeentes se probleem is, nie die sinode se probleem nie.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui