Top-advokaat waarsku NG Kerk oor gays

Kyk ook KOMMENTAAR onderaan.

*******

Top-advokaat waarsku NG Kerk oor gays | Netwerk24

Johan Eybers

Rapport, 8 Oktober 2023

Die NG Kerk oortree al die afgelope vier jaar ’n hofbevel oor gay huwelike, waarsku ’n gesiene advokaat.

Die kerk se besluit om die saak in die hande van individuele gemeentes te laat, gaan nie naastenby ver genoeg om aan die hofbevel te voldoen nie, sê adv. Jeremy Gauntlett in ’n regsmening.

Gauntlett het in 2019 namens 12 lidmate opgetree toe die Pretoriase hooggeregshof die kerk tereggewys het oor sy diskriminasie teen gay lidmate. Sy regsmening is vervat in ’n ope brief aan die algemene sinode van die NG Kerk wat Sondag 15 Oktober in Boksburg begin.

Die ope brief is deur 11 van die 12 destydse litigante opgestel.

Enige gemeente wat die 2019-hofbevel verontagsaam wat die kerk aansê om gay verhoudings ten volle te erken, loop die gevaar om skuldig bevind te word aan diskriminasie, blyk uit Gauntlett se uitspraak.

Die kerk het ná die hofbevel gesê gemeentes kan self besluit of hulle gay paartjies in burgerlike verbintenisse wil bevestig en of hulle gay predikante wil beroep.

Die hof het onder meer bevind om gay lidmate tot die kerk toe te laat, maar hulle dan nie toe te laat om in die kerk te trou of kerkampte te beklee nie, is diskriminerend. Die litigante sê hulle hoop dat die afgevaardigdes ná die sinode op Gauntlett se regsmening sal ag slaan. Hulle vra verder dat die kerk dringend ’n program van versoening tussen heteroseksuele en homoseksuele mense moet bewerkstellig en herstellende geregtigheid vir homoseksuele mense moet ontwikkel.

Hennie Pienaar, ’n gay proponent in die NG Kerk en een van die 12 litigante wat die kerk destyds hof toe gesleep het, sê die kerk se leiers is duidelik daarvan bewus dat hulle die 2019-hofbevel verontagsaam.

“Hulle is nie onnosel nie, maar is ruggraatloos en verontagsaam die hofuitspraak doelbewus in ’n poging om nie die beswaardes weg te dryf nie. Diegene wat ’n probleem het met gays hoort nie in die kerk nie, maar die kerk se leiers buig agteroor om nie die beswaardes weg te dryf nie en skynheilige eenheid te behou . . .

“Ek is ’n gay proponent, maar die kerk laat my nie toe om gay mense te trou nie.

“Ek kan wel straight mense as ’n proponent trou en doen dit al vir jare. Dit is belaglik.”

Die algemene sinode (AS) het ook in 2019 besluit dat die kerk ’n algemene formulier moet opstel vir die bevestiging van burgerlike verbintenisse tussen gay lidmate, maar dié besluit is verlede jaar deur die algemene sinodale moderamen (ASM) tersyde gestel.

Gauntlett waarsku in sy regsmening dat die ASM nie die regte prosedures gevolg het om die AS se besluit omver te werp nie.

Die ASM het verlede jaar aangevoer dat die opdrag om die formulier te skryf nie uitgevoer kan word nie omdat “sinodegangers drie jaar gelede vir ’n proses” eerder as “beginsel” gekies het toe hulle gestem het ten gunste van ruimte vir verskillende standpunte oor verhoudings tussen mense van dieselfde geslag.

“Die waarheid is dat die AS nie in 2019 ’n beginselbesluit geneem het ten gunste van of teen selfdegeslagverhoudings nie,” lui die ASM-verklaring.

Gauntlett sê die “beweerde onsekerheid” tussen beginsel- en prosesbesluite “is deur die ASM uitgedink” en dit op sigself is teenstrydig met die hofuitspraak.

Gauntlett sê die kerk se aanvaarding van die 2019-hofuitspraak deur nie daarteen te appelleer nie, “beteken dat die AS, die ASM of enige gemeente of amptenaar van die NG Kerk nie ’n standpunt kan inneem wat nie selfdegeslagverhoudings tussen sy lede en predikante van die NG kerk ten volle erken nie”.

“Die hof het uitdruklik beslis dat elke NG gemeente in die land by die besluite van die hofuitspraak moet hou deur selfdegeslagverhoudings ten volle te erken en dat die uitspraak nie net bindend is vir die AS nie, maar bindend is vir alle ander strukture van die kerk, insluitend elke gemeente van die kerk.”

Nelis Janse van Rensburg, voorsitter van die ASM, sê die AS “het in 2019 sy vroeëre erkenning van die menswaardigheid van alle mense herbevestig en dat homoseksuele persone ten volle kan deelneem aan al die voorregte van die kerk”.

“Die AS sal nou weer hierdie besluite kan bevestig of aanpas. Sake kan nie nou meer op grond van korrespondensie op die agenda van die sinode kom nie.”

Janse van Rensburg sê die besluit om nie ’n formulier te ontwikkel vir die bevestiging van gay verbintenisse nie, is uitgevoer ingevolge die kerkorde.

Janse van Rensburg het vroeër verduidelik die ASM het ná die sinodesitting in 2019 gesien die AS se besluit oor ’n formulier weerspreek die eerste gedeelte van sy besluit waarin daar erken word dat daar vasgelooptheid binne die kerk is en daar ruimte vir almal geskep moet word.

Hy het toe gesê in ag genome die besluit dat gemeentes self moet besluit oor die hantering van gay huwelike, kan die gedeelte oor die ontwikkeling van die formulier nie uitgevoer word nie.

Volgens Janse van Rensburg het die AS ’n taakspan vir versoening en geregtigheid wat ’n staande opdrag het om geregtigheid en menswaardigheid vir alle mense te bevorder. “Die kommissie doen gereeld verslag aan die ASM en sal ook nou tydens die AS verslag hieroor doen.”

Laurie Gaum, ’n gay predikant en ook ’n litigant in die destydse hofsaak, sê die AS en die ASM se besluite rondom gay verhoudings en ’n formulier vir die bevestiging van gay huwelike moet in die hof getoets word. “Die reg staan agter diegene wat die kerk hieroor in die hof takel.”

Kommentaar

Daniel Louw

Volgens die berig hierbo het die hof op 8 Maart 2019 gesê dat geen gemeente in die NG Kerk teen homoseksueles mag diskrimineer nie. As dit waar is, dan is geloofsvryheid iets van die verlede.

Na die hof se uitspraak het Adacsa spesifiek vir meer duidelikheid gevra, en die hof het bloot terug laat weet: die uitspraak is duidelik genoeg.

Hof sê gay-uitspraak is ‘geensins onduidelik’ (11 Mei 2019)

Geen mens weet nou wat die waarheid is nie en hoe ‘n mens dit moet interpreteer nie.

As sy brief egter akkuraat is, bring dit ‘n reuse krisis vir enige gemeente in Suid-Afrika (nie Namibië nie) wat gedink het dat hulle steeds deel van die NGK gaan bly en bloot die keuse gaan uitoefen om nie ruimte vir homoseksualiteit in hulle gemeente te maak nie.

Daar is waarskynlik heelwat gemeentes wat passief sit en nie by die kwessie betrokke raak nie, omdat hulle mos die keuse het. Nou gaan hulle gedwing word om iets te doen.

Die vraag is of dit genoeg sal wees vir passiewe gemeentes om wel aksie te neem.

Die tweede vraag is: wat is die oplossing vir behoudendes? Die enigste oplossing gaan wees is om te skeur. As jy artikel 37 uitoefen gaan die hof jou steeds sien as deel van die NGK en jy sal gedwing kan word om ruimte te maak vir homoseksualiteit. Tafelberg gemeente het pertinent gesê dat hulle steeds NGK is, dus weet ek nie of hulle planne hulle gaan help nie.

 

4 thoughts on “Top-advokaat waarsku NG Kerk oor gays”

  1. Daniel

    Die uitspraak van die hof is van toepassing op die NGK en die se standpunt dat dit onseker is oor die posisie van homoseksuele persone in die kerk. Solank daar ‘n vasgelooptheid in die kerk is sal dit onwettig wees om teen homoseksuele persone te diskrimineer. Dit beteken nie dat die kerk nou voorgeskryf of vasgevang word deur die hof ten opsigte van die saak nie, sodra die kerk eenstemmigheid het en ‘n besluit maak rondom die saak, behoort die reg op geloofsvryheid die kerk die reg te gee om op te tree soos sy glo.

  2. Daar bly vir Namibië net een uitweg: breek met die AS van SA en wees wie ons vroeër was, nl die NG Kerk in Namibië.

  3. “Ek is ’n gay proponent, maar die kerk laat my nie toe om gay mense te trou nie.( wie ook al jy is , die kerk is reg , hoe op aarde staan jy met demone in jou om mense voor God in trou te sweer … jy is dan n leuen , en verteenwoordig satan se vieslike “”lust empire””

    “Ek kan wel straight mense as ’n proponent trou en doen dit al vir jare. Dit is belaglik.”( wat wel belaglik is , is dat straight mense onwetend seker toegelaat het dat jy hulle trou , ek sal jou onder jou gat geskop het !!!!

    1. Ek het met hartseer die kerk van my jeug verlaat ter wille van die “natuurlike” opvoeding van my kinders en die behoud van ons gereformeerd-evangeliese erfenis. Iemand het al hierdie opmerking gemaak… laat die ondersteuners van die “alfabet” beweging toe om op hulle eie “eiland” te doen wat hulle ookal behaag en voort te plant sonder protesaksies en “klere” wat uit “hangkaste” gepluk word… sonder ons liefdevolle Skepper se “natuurlike” ingryping en voorsiening.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui