Kairos Netwerk Nuusbrief – 1 Apr 2021

Die volgende nuusbrief (1 April) dek die volgende:

  1. Die vergadering tussen die Kairos Netwerk leierskap en die ASM op 22-23 Februarie 2021 waar die KN versoek het dat die ASM ’n buitengewone sinode toestaan.
  2. Die ASM se besluit op 3 Maart 2021 om dit nie toe te staan nie. Kyk:

Kairos Netwerk lede is gevra om hulle mening hieroor te lig. Hierdie kommentare verskyn in die bylaag aan die onderkant.

******

Beste vriend(in)

Stuur asb. hierdie nuusbrief aan al jou vriende, familie en kennisse!

1. HOOFBERIG: Oorwegings wat besluitneming kompliseer en vertraag

Op 8 Maart 2021 is Spesiale Nuusbrief 5 uitgestuur waarin terugvoer gegee is oor die besluite van die Algemene Sinodale Moderamen (ASM) na die gesprek wat die ASM gehad het met Kairos Netwerk (KN) op 22 en 23 Februarie 2021.

Die Sentrale Werkgroep (SW) van KN het na die bekendmaking van die ASM se besluite by 3 geleenthede vergader om te besin daaroor. Tans is die SW in die proses om duidelikheid te verkry oor die opvolg stappe maar is die volgende tog vir ons problematies en nog nie uitgeklaar nie:

  • KN het dokumente aan die ASM deurgegee wat die probleme met die teologiese fakulteite,  Skrifgesag en -interpretasie en Kerkordelike aangeleenthede aanspreek. Hierdie dokumente is nie versprei na die volle ASM en is ons bekommerd dat die ASM nie die volle omvang van die probleme verstaan nie;
  • Een van die opmerkings in die ASM se besluit was: “Die ATR en Algemene Kuratorium sal verder met u skakel met die oog op u voortgesette deelname aan ons gesprekke en dus die uitvoering van die besluite van die ASM”.  Ons het reeds ‘n uitnodiging van die kuratorium gekry maar is oor die presiese betrokkenheid nog onseker en sal ons daaroor besin.
  • Die geskiedenis wys ons [daarop] dat die roete om betrokke te raak by die NGK se strukture tydrowend is en nie noodwendig lei tot bevredigende oplossings nie. Dus is die SW nog in die proses om te onderskei of die Here besig is om ‘n deur oop te maak wat ons moet verder vat ten spyte van die geskiedenis;

Moontlikhede vir die pad vorentoe word oorweeg hetsy deur betrokke te raak by die ATR en kuratorium en iets te vestig wat vir beide die teologiese strominge aanvaarbaar is of hetsy deur alternatiewe verbande. Aangesien dit nie oor ons belange gaan nie, maar om die Here se Kerk en Sy eer bly die SW soek na die regte oplossing. Die KN  is verbind om biddend verder te beplan aan maniere om die behoudende gemeentes van die NG Kerk in liefde en waarheid saam te bind, te ondersteun en te bemoedig. Dus vra ons asb voorbidding vir die proses aangesien ons almal haastig is om by oplossings uit te kom. Ons moet egter seker wees dat ons binne die wil van God en binne Sy tydsraamwerk beweeg.

Skriftelike kommentaar op ASM besluit

In Nuusbrief 5 is u uitgenooi om skriftelike kommentaar te lewer. Aan die een kant was daar nie so baie reaksie as wat ons gehoop het nie maar wil ons baie dankie sê aan die mense wat wel reageer het!

Die samevatting  van 19 persone en of instansies se terugvoer is soos volg:

  • Die ASM besef nie die erns van die saak nie en word die waarde van die proses saam met die ASM betwyfel;
  • KN word versoek om sterk leiding te neem en aan gemeentes begeleiding te gee oor die pad vorentoe;
  • Inligting word benodig  om gemeentes en lidmate in te lig oor die ware stand van sake.

Sien asb. die bylaag aan die einde van die nuusbrief wat gedeeltes uit van die terugvoer aangehaal.

Bylaag: Terugvoer van KN-lede

As mens dit reg verstaan is dit teleurstellend. Mens kry die indruk dat hul nie die KN benadering ernstig opneem nie.

*****

Die reaksie van die ASM was te wagte, so dit het mens nie verbaas nie. Dis so jammer dat dit nie ’n groter verband was wat ontmoet het nie, omdat mens oortuig is dat daar dan ’n ander besluit geneem sou gewees het.

*****

Ek glo dat indien hierdie aspekte nie as ‘n minimum ooreengekom kan word nie sterk oorweging gegee moet word aan wegbreking en afskeiding van die NG Kerk. Aansluiting by ander denominasies wat bogenoemde standpunte huldig of die skep van ‘n nuwe denominasie behoort dan oorweeg te word.

*****

Ek het met groot belangstelling u gesprekke met die ASM gevolg die afgelope paar maande. Dankie vir die volledigheid daarvan wat ons gehelp het om meer spesifiek vir u te bid.

*****

U mors u tyd om verder met die ASM te onderhandel. Verdere onderhandelinge verswak ook na my mening die impak wat die vorming van ’n Bybelgelowige kerk op die samelewing en Kerk van Christus gaan hê.

*****

Die rigting waarin daar nou gedink/beweeg word, is teleurstellend: niemand kan twee here dien nie. Dit was en is duidelik dat die ASM nie gaan toegee nie, want dit gaan in die eerste plek vir hulle nie om Christus en die Bybel nie, maar om die mens.

*****

Ons glo daar is genoeg tyd aan die verkeerde pad afgestaan. Ons hoop daar is leiers wat standpunt sal inneem vir die smal weg, die nou pad, want ons weet waarheen hy lei.

*****

Die kommentaar vanaf die AS is tegelyk “boelie” taktiek asof die “meerderheid” van die NG Kerklidmate wéét wat die AS en teologiese opleiding reeds aanvang; en ook ‘n fyn bewoorde “paai” brief dat ons “moet praat” en moet saamwerk.

*****

Benodig/behoefte (groot) kort “inligtingstuk/brosjure” om gewone lidmate te lei (albei kante) om ingeligte besluite en (regte leiers kies) VOOR streeksinodesittings (2021) te neem!?

NS. Asseblief ons het uiters dringend ’n inligtingsstuk vir gewone lidmate nodig, m.a.w. waaroor ons met ander verskil.

*****

Sedert u vorige nuusbrief, saam met hierdie, het ek ’n onrustigheid in my. Dit gaan in finale instansie oor die onhoudbaarheid van die Kritiese Teologie en die greep wat hy reeds op die NG Kerkleierskap en die Teologiese opleidingseminariums het.

*****

Ek vrees die klanke is reeds duidelik uit die ASM-antwoorde soos deur u gekommunikeer, dat hul op geen wyse hierdie gekose weg om die sekularisme te omhels as van groter waarde as die Skrif, vaarwel gaan toeroep nie. En duidelik wil hul nie dat ’n breë kerkvergadering soos die Algemene Sinode die keuse maak nie.

Vir my lyk enige moontlike gesprek verder of na ’n doodloopstraat, of na kompromievorming.

*****

Die tyd dat die Algemene Sinode met ’n hamerslag vir almal sê wat om te doen is verby. Met nuwe netwerke nuwe kerkordelike wyses alternatiewe teologiese opleiding moet daar nou binne die NG Kerk nuut gedink word oor hoe om mekaar te akkommodeer. Dalk is dit selfs tyd vir huidige sinodes strukture om te verdwyn en plek te maak vir nuwe netwerke waar elke gemeente in die land self besluit by watter netwerk hy of sy binne die NG Kerk gaan inskakel. Nuwe netwerke gaan die kerk laat oorleef dit gaan die nuwe normaal wees binne die NG Kerk.

*****

Geliewe die woorde “spoedig” en “spoedeisend” meer konkreet te definieer binne ’n tydraamwerk.

KN moet oorweeg om die inisiatief te behou deur nuwe voorstelle waar prakties en moenie alle voorstelle van die ASM slaafs navolg nie.

Die ASM se besluit om nie ’n buitengewone algemene sinode byeen te roep nie, vertoon minagting teenoor die KN proses en moet in duidelike taal veroordeel word.

*****

Ek sou nie verder in gesprek tree met die ASM nie, want dit help nie. Jy kan nie ‘n kompromie met die ASM sluit nie. Die ASM reageer nie eers op ‘n leergeskil nie so, stel die ASM regtig belang in die Waarheid?

*****

Ek glo ons is in n tyd wat ons “versigtig soos slange en opreg soos duiwe (Mat10:16)” sal moet wees.

Die publieke opinie is nie aan ons kan kant, en moontlik ook nie die meerderheid opinie binne die NG Kerk self nie.

*****

Uit die staanspoor, is dit belangrik dat ‘n absolute benadering (na my mening) problematies is – bedoelende dat die een kant noodwendig foutief en die ander kant noodwendig reg is.

Miskien wil die Heilge Gees ons juis daarop wys –

  1. hoe vėr ons te-kort skiet aan ‘n letterlike meting van ons gedrag met God se wet;
  2. hoe groot God se genade is;
  3. dat ons mekaar (met ons verskille) sal liefhê;
  4. dat ons nie in ‘n posisie is om te oordeel nie; en
  5. dat ons daarom eerder die oordeel aan die Here oor sal laat.

*****

Ek waardeer dat die ASM genader is oor ’n moontlike buitengewone sinode om die saak te besleg, maar nadat dit nou geweier is, is ek van mening dat ons pad via die Algemene Sinode en ASM rakend SGV ook tot ’n einde gekom het. Ons verskille is van so ’n aard dat dit nie oorbrug kan word nie. Al wat ons kan doen is om ’n beroep te doen tot bekering en terugkeer tot die Skrif en indien dit nie gebeur nie ons te skei van diesulkes wat nie wil bekeer nie.

  1. Dit is nou tyd dat ons duidelik leiding gee en lidmate begelei in die proses van dolering en moontlike art 37 losmaking. Om alternatiewe netwerke via die AS te ondersoek sal net die lidmate verwar en die persepsie laat dat ons tog in ’n mate die 2019 besluit goedkeur deurdat ons ruimte vir mekaar gee. Lig en duisternis kan nie in dieselfde juk saamtrek nie.
  2. Oor die samewerking en moontlike sitting by die Algemene Kuratorium het ek ook gemengde gevoelens. Ons mag nooit legitimiteit gee aan die leer wat tans geleer word nie en om deel te wees van die proses kan dalk dié persepsie skep. Indien daar ’n moontlikheid is dat die Kuratorium sy rigting sal verander rakend dit wat hy tans leer aan voornemende studente, dan moet ons betrokke wees. As ons net egter deel gaan wees van ondersoeke en studies wat jare kan neem en dalk geen verandering teweeg gaan bring nie, dan moet ons nie betrokke raak nie.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui