‘n Beoordeling oor die 2002 NGK besluit oor skrifgesag

Die manier waarop in die 2002-verslag van die Algemene Sinode oor die Bybel gepraat word, het nie die effek om lidmate of predikante se geloof in die Bybel as Woord van God te versterk nie, maar om dit af te breek. Die “menslike” aandeel in die totstandkoming van die Bybel word op só ’n manier beklemtoon, dat die oorheersende soewereine werk van die Heilige Gees (2 Pet. 1:21) op die agtergrond gedruk word. Hierdie feit word duidelik uit onder andere die volgende sinsnedes wat in die verslag voorkom:

  • “menslike karakter van die Skrif”,
  • “gewone mensewoorde”,
  • “die Bybel as menslike boek”,
  • “menslike “foute” in die Bybel”,
  • “volgens moderne standaarde nie voldoen aan wetenskaplike eksaktheid nie”,
  • “wetenskaplike “swakheid” ”,
  • “geen aanspraak op historiese eksaktheid nie”,
  • “Die voorbeelde [van foute in die Bybel] kan eindeloos vermeerder word”,
  • “As dit sou gaan om eksakte historiese feitelikheid, kwalifiseer die Bybel klaarblyklik nie as betroubaar nie”,
  • “Dus is die Bybel self reeds interpretasie wat in elke tyd opnuut vertolk moet word”,
  • “Selfs “fiksie” en “foute” staan in diens van die Waarheid”,
  • “Wat in een konteks die waarheid is, is in ’n ander ’n leuen”,
  • “bedoeling van die Skrif … nie geleë in wetenskaplik korrekte informasie nie, maar in die heilskarakter daarvan”,
  • “bedoeling nie geleë in historiese eksaktheid nie”,
  • “beheptheid met die letter van die Skrif”,
  • “juis die moderne tyd as gevolg van dramatiese groei in kennis, ons diep onder die indruk gebring het van die feit dat die Bybel geen handboek is vir die wetenskap nie” en
  • “die Bybel nie ’n bron van onfeilbare natuurwetenskaplike en historiese informasie is nie”.

“Vleeswording van die Woord” beteken volgens hierdie verslag onder andere dat daar foute in die Bybel mag en behoort te wees. Mense wat dit nie wil aanvaar nie, is glo “fundamentalisties”. Volgens dié verslag is die “historiese feite vir die Skrif van die allergrootste belang” en “alles in die Skrif draai om hierdie geskiedenis”, maar ’n entjie verder in die verslag staan: “As dit sou gaan om eksakte historiese feitelikheid, kwalifiseer die Bybel klaarblyklik nie as betroubaar nie”! Hoe sinvol is sulke teenstrydighede?

Alhoewel daar ook geldige opmerkings in die verslag is, is die negatiewe en neerhalende tendens ten opsigte van die Bybel duidelik. Dit staan in skrille kontras met die siening wat Christus sélf oor die Woord van God gehandhaaf het. Hy het verklaar “dat die Skrif nie gebreek kan word nie” (Joh. 10:35). Hyself haal die Ou Testament 180 keer aan as betroubare Woord van God!

In teenstelling met bogenoemde kan gekyk word na die geloofsverklaring oor die Bybel as Woord van God wat te NG Witfield in 2003 opgestel is: Geloofsverklaring oor die Bybel as Woord van God.

Hierdie besluit is onder andere gebruik om Jurie le Roux onskuldig te bewys in die klag van Ferdie Mulder teen Jurie le Roux (kyk Ring van Pretoria-Oos bevinding van ondersoekkommissie oor klag teen prof Jurie Le Roux).

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui