Ons glo God se Woord – Witfield 16-17 September 2003

Kyk ook:

In 2002 is daar ’n landwye konferensie te Bloemfontein gehou oor tendense in die teologie. ’n Sterk stem van protes is by die konferensie gehoor teen dosente wat nie Bybelgetrou en belydenisgebonde hulle teologie doseer nie. Die volgende twee jaar was daar nog twee landwye opvolgkonferensies gehou: een in Stellenbosch en een in Witfield (Boksburg). Laasgenoemde het spesifiek gehandel oor die Skrif en Skrifgesag. By dié geleentheid is daar ook ’n openbare verklaring uitgereik wat geprotesteer het teen moderne dwalinge rondom die Skrif. Vir die dokument (in Word 2003 of pdf formaat), kliek hier.

**************

Ons glo God se Woord

’n Getuienis van die Reformator konferensie te Witfield op 16 en 17 September 2003

Ons, deelnemers aan die konferensie oor Skrifhantering in die brandpunt, wil ’n duidelike getuienis aangaande die Bybel lewer. Ons lewer dit in ’n tyd waarin die Bybel in die wêreld en kerk onder verdenking geplaas word.

Ons is oortuig dat die korrekte Skrifbeskouing noodsaaklik is vir die korrekte verstaan van die evangelie van verlossing in ons Here Jesus Christus. ’n Afwyking van die gereformeerde Skrifbeskouing lei noodwendig tot ’n afwyking van die gereformeerde belydenis.

Ons uitgangspunt is dat die gereformeerde Skrifbeskouing gegrond is op die selfgetuienis van die Skrif. Laat ons dit onomwonde stel: Ons glo onvoorwaardelik wat die Bybel oor homself sê!

In die lig van bg. wil ons sekere waarhede duidelik teenoor die wêreld en ons mede-Christene bely. Ons is egter ook bewus daarvan dat elke belydenis aangaande die waarheid met hom die verpligting meebring om die dwaalleer te bestry. Om hieraan gestalte te gee, wil ons ons getuienis in die volgende vorm giet:

1. Die Bybel is God se geopenbaarde Woord

1.1 Ons bely dat die Bybel die selfopenbaring van God Drie-enig is. Alhoewel mense die verskillende boeke van die Bybel geskryf het, is dit ten diepste God wat aan die woord is. Daarin is vir ons ’n diep geheimenis geleë.

Ons bestry elke standpunt dat ons in die Bybel slegs met geloofsinsigte en -getuienisse van mense aangaande God te doen het.

1.2 Ons bely dat God se openbaring progressief was.Hy het Homself en sy Raadsplan stelselmatig deur die loop van eeue op baie verskillende maniere al hoe duideliker aan die mens bekend gemaak. Die teboekstelling van Sy openbaring is daarom deur verskillende skrywers in verskillende tye en bedelings van die heilsgeskiedenis gedoen.

Ons bestry die gedagte dat latere openbarings vroeëre openbarings weerspreek of regstel.

2. Die Bybel is God se geïnspireerde Woord

2.1 Ons bely dat God in Sy selfopenbarende werk mense deur sy Heilige Gees geïnspireer het om sy Woord korrek en betroubaar neer te skryf. Wat geskryf moes word, het Hy aan die mense geopenbaar. Die Bybel het sy oorsprong dus in God – Hy is en bly die Groot Outeur.

Ons bestry elke poging om die menslike karakter van die Bybel so sterk te beklemtoon dat God se outeurskap daardeur in gedrang kom.

2.2 Ons bely dat die Heilige Gees sodanig van die Bybelskrywers besit geneem het dat nie net die boodskap nie, maar ook die vorm waarin en die woorde waarmee die boodskap deurgegee is, die geïnspireerde Woord van God is. Daarmee bely ons die verbale inspirasie van die Bybel.

Ons bestry elke gedagte dat ons in die Bybel met ’n dualistiese inspirasie te doen het, naamlik dat sekere dele onmiskenbaar deur die Heilige Gees ingegee is, maar ander dele op feilbare manier deur mense geskryf is.

2.3 Ons bely dat God in sy inspirerende werk ten volle gebruik gemaak het van die unieke persoonlikheid en literêre vermoëns van elke menslike skrywer van die Bybel.

Ons bestry die gedagte dat die Bybelskrywers op meganiese wyse maar net neergepen het wat God gedikteer het.

2.4 Ons bely dat inspirasie, streng gesproke, net betrekking het op die oorspronklike teks van die Bybel (die outographa). Alhoewel ons nie meer die oorspronklike teks het nie, kan ons dit uit beskikbare manuskripte deur noukeurige navorsing bepaal. Ons bely verder dat vertalings van die Bybel die Woord van God is na die mate wat dit die oorspronklike teks betroubaar weergee.

Ons bestry die gedagte dat die afwesigheid van die oorspronklike teks van die Bybel die foutloosheid en betroubaarheid daarvan ongeldig of irrelevant maak.

3. Die Bybelse kanon is afgesluit

Ons bely dat net die 66 kanonieke boeke, volledig en alleen, die Woord van God is. Ons glo ook sonder twyfel alles wat daarin vervat is, nie juis omdat die kerk hulle aanvaar en as sodanig beskou nie, maar veral omdat die Heilige Gees in ons hart getuig dat hulle van God is.

Ons bestry elke gedagte dat die kanon nie afgesluit is nie en dat die Here, na die vasstelling van die kanon, nog besondere openbarings buite die Skrif om gee.

4. Die Bybel vorm ’n eenheid

Ons bely dat die Bybel, ten spyte van die feit dat verskillende skrywers in verskillende tye en omstandighede geskryf het, ’n wonderlike eenheid vorm. Dit beskryf die een heilsgeskiedenis wat met die skepping begin het en met die wederkoms van Christus sy voltooiing sal vind.

Ons bestry pogings om die Bybel só as ’n samevoeging van verskeie bronne en teologieë voor te stel dat die eenheid daardeur verduister en selfs ontken word.

5. Die Bybel is gesagvol

Ons bely dat die Bybel as die Woord van God die gesag van God dra. Wat die Bybel sê, sê God! Daarom bly dit die finale maatstaf waaraan die leer en lewe van die kerk getoets moet word. Net dit wat die Bybel beveel, mag in die kerk beveel word, en net dit wat die Bybel verbied, mag in die kerk verbied word.

Ons bestry elke poging om kerklike uitsprake, besluite en tradisies aan die Woord van God gelyk te stel.

6. Die Bybel is betroubaar

6.1 Ons bely dat die Bybel in sy geheel en in al sy dele die geïnspireerde en onfeilbare Woord van God is. Daarom is dit volkome betroubaar.

Ons bestry pogings om die betroubaarheid van die Bybel onder verdenking te bring deur o.a. te verklaar dat die Bybel klaarblyklik nie aanspraak maak op historiese korrektheid nie.

6.2 Ons bely dat die Bybel,

– hoewel dit geen wetenskaplike of historiese handboek is nie, en

– hoewel die kultuurhistoriese situasie van die ontstaanstyd ten volle verreken moet word,

ten volle betroubaar is wanneer dit uitsprake oor die natuur en geskiedenis maak.

Ons bestry die gedagte dat die onfeilbaarheid van die Bybel beperk is tot geestelike, godsdienstige of heilstemas. In die lig hiervan verwerp ons die idee

  1. dat wetenskaplike teorieë oor die aarde se ontstaan en geskiedenis gebruik kan word om die Bybelse lering oor die skepping en sondvloed ongeldig te verklaar
  2. dat geesteswetenskaplike teorieë gebruik kan word om die die Bybelse lering oor die sedelike lewe van die mens ongeldig te maak
  3. dat die kultuur- en tydgerigtheid van die Bybel beteken dat dit kultuurbepaald en tydgebonde is.

7. Die Bybel is noodsaaklik

Ons bely dat die Bybel noodsaaklik is omdat dit ons die kennis kan meedeel wat tot verlossing deur die geloof in Christus Jesus lei. Verder is die hele wyse waarop God deur ons gedien moet word, daarin breedvoerig beskrywe, sodat ons tot Sy eer kan lewe. Sonder die Bybel kan ons God dus nie reg leer ken en Sy wil vir ons lewe verstaan nie.

Ons bestry die gedagte dat aanhangers van ander “godsdienste” die ware God buite die Bybel om kan leer ken en dien.

8. Die Bybel is genoegsaam

Ons bely dat die Bybel die wil van God volkome bevat en dat alles wat die mens vir sy saligheid moet glo, daarin voldoende geleer word. Daarmee bely ons die volkome genoegsaamheid van die Skrif.

Ons bestry enige poging om iets by die Woord van God by te voeg of daarvan weg te neem. In hierdie verband kan ons die verskraling van die Bybel deur die verswyging van bepaalde waarhede en die vervanging van die Bybel deur sommige moderne vertalings en parafrases noem. Verder kan ons op die verwaarlosing van sekere gedeeltes van die Bybel (bv. die Ou Testament) wys.

9. Die Bybel is duidelik

Ons bely dat die Bybel duidelik genoeg is sodat enige gelowige sy basiese boodskap kan verstaan. Alhoewel dit so is dat sekere gedeeltes ingewikkelder is as ander, is dit egter waar dat God dit wat ons moet weet om gered te word en gehoorsaam aan Hom te lewe, duidelik genoeg laat neerskryf het.

Ons bestry die gedagte dat die insigte van sg. Bybelwetenskap-likes noodsaaklik is om die boodskap vir ons verstaanbaar te maak.

10. Die Bybel is uniek

Ons bely dat die Bybel ’n unieke boek is. Dit is die enigste boek wat met reg die Woord van God genoem kan word omdat dit waarlik sy geïnspireerde Woord is.

Ons bestry die gebruik wat al hoe meer voorkom om die Bybel deur parafrases of geestelike dagboeke in die godsdiens-oefeninge in kerk, skool en samelewing te vervang. Ons bestry verder elke poging om die boeke of geskrifte van ander “godsdienste” aan die Bybel gelyk te stel.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui