Kairos Netwerk soek reformasie in NGK, verwerp sinodale struktuur

*******

Kairos Netwerk soek reformasie in NGK, verwerp sinodale struktuur | Netwerk24

Arisa Schamrel

22 Julie 2022

Hy is nie homofobies nie, maar verwerp selfdegeslagverbintenisse in die kerk, sê die Kairos Netwerk (KN).

Hy verwerp ook die NG Kerk en sy algemene sinode (AS) se siening van die kerk as ’n “ruim huis” en beskou enige verwysing na God in die vroulike geslag as “dwaalleer”.

Daarmee saam wil hy hom beywer vir “reformasie in die NG Kerk” en vra ’n totale verwerping van die AS se sinodale struktuur.

Die KN het Vrydag dié punte in sy voorlopige “geloofsverklaring” geopper tydens ’n twee dag lange familiebyeenkoms wat in die AfriForum-teater in Pretoria gehou is.

Verskeie sprekers het Vrydag die toekomsplanne van die organisasie bespreek.

Sprekers soos dr. Chris van Wyk het benadruk dat daar twee strome in die behoudende organisasie bestaan: Dié wat reformasie in die NG Kerk wil hê en dié wat reeds glo hulle het hulle vasgeloop en wat ten gunste van ’n skeuring is.

Ds. Theo Danzfuss, ’n lid van die KN se bestuur, het benadruk dat die KN se amptelike posisie steeds ’n hervorming in die NG Kerk is.

Volgens Danzfuss kan dit een van die volgende behels:

  • Die vervanging van die AS met ’n federale sinode waar gemeentes hulself kan verteenwoordig.
  • Om in ’n sinodale verband uit die AS te tree. Hier het Danzfuss sy hoop op sinodes soos Goudland of die Vrystaat gesit. “As die groep wegbreek, is dit nie meer ’n geografiese sinode nie en kan hulle aansoek doen dat enige kerk by hulle aansluit,” sê Danzfuss.
  • Die wysiging van die kerkorde sodat gemeentes ook van die AS mag wegbreek.

Danzfuss het benadruk dat hulle alles sal probeer om eers in die kerk te versoen.

“Ons sal reformeer solank as wat die Here vir ons ’n oop deur gee. As die deure gesluit is, kan ons daaraan begin dink om weg te breek. Dit is egter nie ons keuse nie, maar dan word ons verplig om dit te doen,” sê Danzfuss.

Waarvoor staan Kairos?

Ds. Smuts Janse van Rensburg, ook ’n lid van die KN se bestuur, oftewel sy sentrale werkgroep, het 11 standpunte geopper as die KN se “geloofsverklaring”.

Een daarvan is die verwerping van homoseksualiteit in die kerk.

“Ons verwerp enige seksuele intimiteit buite die huwelik, kerklike sanksionering van seksuele verhoudings tussen mense van dieselfde geslag en dus ook enige kerklike seën en bevestiging van ’n verbintenis tussen mense van dieselfde geslag,” sê Janse van Rensburg namens die KN.

Die groep het egter Donderdag benadruk hulle is nie “homofobies” of “skeurmakers” nie.

Janse van Rensburg het ook gesê hulle “verwerp die gedagte van die kerk as ’n ‘ruim huis’ waarin lewenspraktyke wat met die Woord in stryd is, ‘omarm’ en selfs geseën word” omdat hulle glo “die kenmerke van die ware kerk is die suiwer verkondiging van die Woord”.

Volgens Janse van Rensburg skaar die KN hom ook nie by “die nie-persoonlike aard van die duiwel” nie, maar glo eerder dat die duiwel “rondloop soos ’n brullende leeu op soek na wie hy kan verslind”.

Die KN verwerp ook die sienings dat die Bybel slegs mensewoorde oor God is, menslike foute bevat en kultuurgebonde is en ook enige verwysing na God as ’n vrou as dwaalleer.

Hoe lyk die KN se regspad?

Adv. Theresa Conradie, ’n paneellid wat in kerkreg spesialiseer en ook al as regter waargeneem het, waarsku dat die KN nie dadelik na die hof moet hol nie.

Sy sê dit is vir die hof moeilik om “kerklike doktrines” te ontsyfer en dat die kerk versigtig moet wees om nie sy outonomiteit te verloor nie.

Sy het voorgestel dat die KN, nes die Geloofsbond van Hervormde Gemeentes (GHG), ook ’n onafhanklike regsgroep stig.

Die GHG het in Maart vanjaar ’n oorwinning gehad toe die hof beslis het dat sy gemeentes hul kerkeiendom mag hou, ondanks die feit dat hulle van die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika (NHKA) weggebreek het.

Só het 13 gemeentes van die GHG hul eiendomme oorgedra aan trusts, wat deur gemeentes self gestig is.

Die hof het beslis die NHKA was nie ’n party in die oordragooreenkoms nie en het dus nie insae nie.

Prof. Hoffie Hofmeyr, ook ’n spreker op die vergadering, het aan die meer as 200 mense daar sy versekering gegee dat die KN se volgende stap is om soortgelyke trusts of regsgroepe te stig.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui