Kerk verloor hofstryd oor geboue

 

*******

Kerk verloor hofstryd oor geboue | Netwerk24

Jeanne-Marié Versluis

13 Maart 2022

’n Bitter, dekade lange regstryd oor kerkgeboue tussen 13 Hervormde kerke en die Nederduits Hervormde Kerk van Afrika (NHKA) is steeds nie verby nie.

Die 13 gemeentes, hoofsaaklik in Gauteng, het van 2010 af hul kontantbeleggings by die NHKA se sinodale kerkkantoor opgeroep en hul kerkgeboue, -sale en pastorieë aan vrywillige verenigings as derde partye geskenk.

Hulle het hul bande met die NHKA verbreek nadat die NHKA sy standpunt oor apartheid verander het.

Die NHKA het geëis dat die gemeentes weer die eiendomme in hul name terugkry, maar die hooggeregshof in Pretoria het Maandag bevind die NHKA het geen regsgronde om op te staan nie. Hy was nie ’n party in die skenkingsooreenkomste tussen die gemeentes en die verenigings nie en kan nie die ooreenkomste se geldigheid uitdaag nie.

Dr. Wouter van Wyk, sekretaris van die NHKA se kommissie van die algemene kerkvergadering, sê hulle wag op regsadvies om te besluit of hulle gaan appelleer. Hy sê die wegbreek het in 2010 begin nadat die NHKA hom gedistansieer het van sy vroeëre aanvaarding van apartheid.

Adv. Roelof du Plessis SC, namens die 13 gemeentes, sê as die NHKA nie gaan appelleer nie, gaan die gemeentes nog eiendomme en geld wat aan hulle behoort, maar wat weens die hofsaak bevries is, oproep.

Die hofgeding duur al tien jaar.

Verskeie skikkingsaanbiedinge is aan die NHKA gemaak wat daarop neergekom het dat die kerk die eiendomme en geld wat die gemeentes nog nie vervreem het nie, kan behou. “Ons het aan die kerk gesê: hou julle wat julle het, en ons hou wat ons het.”

Die NHKA wou nie skik nie.

“Dis die hardvogtigste Christene wat ek in my lewe teëgekom het,” het Du Plessis oor die NHKA gesê.

“Maar as hulle ’n hand van vriendskap uitsteek, sal ons dit enige tyd vat.”

Hy sê die “vonk” vir die wegbreek was die NHKA se bewoording van sy standpunt oor apartheid en omdat die kerk se besluit oor sy apartheidstandpunt prosedureel verkeerd geneem is.

“In die bewoording is ’n sin dat apartheid die beeld van God in die mens aantas. Ons sê die beeld van God is nie in ’n mens nie. Dit was net in een mens: in Jesus.”

Van Wyk het aan Rapport gesê: “Die saak gaan nie vir ons oor eiendom nie. Dit gaan oor die geloofsband wat hulle (die gemeentes) verbreek het tussen gelowiges. Ons het as medegelowiges ’n band. Hulle het daardie band met ons verbreek weens ons standpunt teen apartheid. Die NHKA verwag nie van almal om dieselfde standpunt te hê nie. Op elke kerkraadsvergadering verskil mense tog. Ons verskillende sienings behoort nie ons geloofsband te raak nie.”

Hy sê die gemeentes het eers die bates vervreem en hul kontant na nuwe lopende rekenings geskuif. Dit het hulle in staat gestel om weg te breek. Daarna het hul predikante bedank en hul pensioen by die NHKA aangevra.

Dr. Johan Otto, voorsitter van die 13 onafhanklike gemeentes se geloofsbond, sê hulle het in Oktober 2010 ’n brief aan die gemeentes gestuur dat hulle hul eiendomme moet “beveilig”.

“Ons het wettig opgetree deur die eiendomme te vervreem, maar daar is verskriklike laster teen ons gepleeg dat ons onregmatig opgetree het.”

Hy sê versoening tussen die twee groepe sal dalk eendag gebeur, “maar nie nou nie”.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui