Gemeentes kan bates hou as hulle wegbreek, sê hooggeregshof

Wie die gemeentebates behou tydens kerkskeuring bly ’n interessante onderwerp. Sommiges beweer dat elke lidmaat moet instem om weg te breek van die denominasie, anders gaan die bates oor na die sinode van die NG Kerk.

In baie opsigte maak dit nie sin nie.

Almal is dit eens: die plaaslike gemeente is volledig/volwaardig kerk. Dan behoort die bates tog seker aan die gemeente en nie aan die sinode nie.

Verder is die gemeente in sy geheel verantwoordelik vir die bates. Die sinode dra geen risiko wanneer dit by gemeentebates of -laste kom nie.

Sou dit dan nie meer sin maak as die bates na die meerderheid gaan wanneer die gemeente skeur nie? Die NG Kerk werk in baie gevalle met die beginsel van ’n tweederdemeerderheid. Miskien sou ’n mens kon ooreenkom dat wanneer tweederdes van die gemeente toestem om te skeur, hulle ook die bates behou.

*******

Gemeentes kan bates hou as hulle wegbreek, sê hooggeregshof | Netwerk24

Arisa Janse Van Rensburg

11 Maart 2022

Gemeentes van die Nederduits Hervormde Kerk van Afrika (NHKA) kan hul geboue behou as hulle van die kerk af wegbreek.

Dit volg nadat 13 voormalige gemeentes van die NHKA wat nou deel is van die Geloofsbond van Hervormde Gemeentes (GHG), die hof oortuig en hul saak daaroor gewen het.

Die gemeentes het tussen 2010 en 2014 wegbeweeg van die NHKA en hul kerkeiendom oorgedra aan verenigings wat hulle gestig het.

Die hof het Maandag beslis die oordrag van eiendom was wettig, omdat die eiendom in die gemeentes se naam was. Die NHKA kan as derde party geen insae tot die ooreenkoms hê nie.

Dit beteken dat wegbreekgemeentes wel hul eiendom kan behou as dit nie meer in die naam van die gemeente is nie.

Die NHKA hou egter vol die geboue behoort aan die gemeente en nie alle gemeentelede was ten gunste van die oordragooreenkoms nie.

Hulle het ook in die hofgeding aangevoer die gemeentes se besluite was nie in ooreenstemming met die beleid en kerkorde nie.

Die uitspraak kan verrykende gevolge inhou vir ander kerkgroeperings soos die NG Kerk wat ’n soortgelyke kerkorde en struktuur het.

Die hofstryd het gekom ná die kerk se skeuring in 2012 weens die kerk se besluit om hom te distansieer van die teologiese regverdiging van apartheid.

Dr. Johan Otto, voorsitter van die GHG, sê gemeentes wat ontsteld was oor dié en ander teologiese besluite, het weggebreek van die NHKA.

Hulle het verenigings gestig en toe die eiendom, wat volgens Otto aan hulle behoort, aan die verenigings geskenk.

Die geboue het toe aan die vereniging behoort en nie meer aan die gemeente nie. Dit beteken die gemeente was nie meer in beheer van die eiendom nie.

Die wegbreekgemeentes se leraars en gemeentelede het bedank en onafhanklike gemeentes gevorm. Die verenigings vorm deel van die nuwe kerke en hul bestuur.

Só kon hulle die geboue behou.

Die hof het Maandag beslis die oordrag van eiendom was wettig, omdat die eiendom in die gemeentes se naam was, en die NHKA kan nie as derde party inmeng in die ooreenkomste nie.

“Vir ons is daar nou nie meer die swaard van ’n hofgeding wat oor ons koppe hang nie. Dit beteken gemeentes kan nou met groter vrymoedigheid eiendom aanskaf, verkoop of skenk,” sê Otto.

Die uitspraak kan ook as ’n voorbeeld dien vir ander kerkmense wat dieselfde pad wil stap.

Hy sê die GHG is reeds in gesprekke met die Kairos-Netwerk, ’n groepering in die NG Kerk wat teologiese struwelinge met die Algemene Sinode van die NG Kerk het.

Dr. Wouter van Wyk, sekretaris van die kommissie van die algemene kerkvergadering van die NHKA, sê egter nie alle gemeentelede in ’n gemeente het met die besluit van die skenking saamgestem nie.

Volgens die NHKA word gemeente gedefinieer as die “laaste gemeentelid wat oorbly” – met ander woorde, die mense wat nie wou wegbreek nie en in die bepaalde gemeente bly.

Die hof het egter gelas hy sal hom van uitspraak weerhou oor kerkorde en beleide.

Van Wyk sê dit is ook nog onseker of die kerk teen die uitspraak sal appelleer.

Dr. Johann Ernst, voormalige aktuarius van die NG Kerk en kenner in kerkreg, sê die uitspraak is van belang vir dié kerkgroep omdat dit groepe in die kerk se besluite kan help rig.

“Dit lyk egter of die skeiding in die Hervormde Kerk onbetwis was en al die gemeentelede saamgestem het. Die uitspraak kan net gebruik word (om besluite in die NG Kerk te rig) as almal in ’n gemeente met mekaar saamstem,” sê Ernst.

Hy sê die gemeentelede wat nie saamgestem het nie, het gronde vir ’n saak.

Beyers Barnard, ’n regsadviseur van Johannesburg en kenner van eiendomsreg, sê egter die oordrag of skenking van die gemeentes sal afhang daarvan of die verkoper of skenker of hul gemagtigdes werklik oor eiendomsreg beskik.

“Die hof het gelas dat hulle nie die toepaslike forum is vir orde en beleid wanneer die hof genader is om in ’n kontrak in te meng waarby die NHKA nie ’n party is nie. As die titelakte in die naam van die gemeente was en hulle het dit oorgedra na ’n ander vereniging, kan die NHKA as derde party nie insae hê nie. Wat ’n gemeente is en wat nie, word bepaal deur die assosiasie van individue,” sê Barnard.

Volgens hom is daar rede om te glo dat ’n meerderheidstem om die geboue te skenk, aanvaar kan word as die hele gemeente se besluit.

Die hof se beslissing was net gerig op die NHKA se insae by die oordrag van die eiendom en nie die geldigheid van ’n interne meerderheidsbesluit nie, meen Barnard.

Dr. Gustav Claassen, algemene sekretaris van die NG Kerk, sê die kerk se orde skep genoeg ruimte vir sekerheid om te verseker dat dit wat met die Hervormde Kerk gebeur het, nie ook met hulle gebeur nie.

Claassen het ook beklemtoon dat die gemeente aan elke lid van die gemeente behoort en nie net die enkeles wat wil wegbreek nie.

Kommentaar

Johann Heinrich Ernst (op Facebook)

Dr Gustav Claassen praat ongelukkig nie die waarheid nie. Die gemeente is ’n afsonderlike regspersoon en bestaan onafhanklik van sy lede. Om in die opebaar te sê dat die gemeente aan al die lidmate behoort, is daarom verkeerd. Die kerkraad as orgaan van die regspersoon het handelingsbevoegdheid rakende die eiendom van die gemeente en kan met die nodige approbasie regtens daarmee handel. By die NH Kerk handel die gemeentevergadering daarmee, maar die NG Kerk se Kerkorde bepaal dat dit die kerkraad is. Om nog verder te sê dat die NG Kerk se Kerkorde beskerming bied dat daar nie in die NG Kerk kan gebeur wat in die NH Kerk gebeur het nie, is nog verdere openbare misleiding. Eintlik is dit nog makliker in die NG Kerk omdat slegs die kerkraad en dus nie die gemeentelede daaroor kan beslis.

1 thought on “Gemeentes kan bates hou as hulle wegbreek, sê hooggeregshof”

  1. Hierdie ingrypende saak is duidelik nog nie uitgepraat nie. Dit is geen triviale regspunt nie en kan bepalend wees of ’n gemeente (van die NG Kerk) besluit om van die kerkverband weg te breek, al dan nie. Soos ek dit vir lank verstaan het (en ek vermoed meer kundige mense ook) bly ’n gemeente staan al breek 99% lidmate weg. Hulle gaan dan met leë hande weg; die 1% wat agterbly is die gemeente en behou die eiendom. As dit nie so was nie het talle gemeentes reeds weggebreek. Die NHKA-uitspraak is egter nie die laaste woord nie.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui