Verdere ondersoek oor selfdegeslag-verbintenisse aangevra

Die Vrystaatse sinode het besluit om nie ’n besluit te neem oor die twee belangrike kwessies op die tafel nie, maar om eerder verdere ondersoek te doen. Dit is:

  1. Die vraagstuk oor selfdegeslagverbintenisse
  2. Artikel 37: of die sinode uit die verband met die Algemene Sinode moet tree

Hoe moet ’n mens hieroor dink?

‘n Mens is veral teleurgesteld oor die eerste punt. Die homoseksuele kwessie is ten minste al sedert 2007 aktueel in die NG Kerk (kyk Die NG Kerk en homoseksualiteit). Dus, na 15 jaar is die leiers van die NG Kerk in die Vrystaat steeds sonder standpunt. Dit is verregaande! ’n Mens kry die idee dat die verslag te duidelik was en daarom teruggestuur is om hopelik meer neutraal terug te kom.

Oor punt 2 kan ’n mens nog moontlik probeer begrip hê. Dit is ’n groot besluit. Die feit is egter dat geen kerkleier kan sê dat hy/sy onvoorbereid hierop was nie. Nie net was dit duidelik op die agenda nie, maar dit was ook baie keer in die media genoem. Leiers kon hierdie kwessie al lankal met hulle kerkrade en selfs gemeentes bespreek het. Die Covidbeperkings kan nie as ’n verskoning gebruik word nie.

Dit wys maar weereens dat kerkleiers nie hierdie kwessies in die kerk ernstig genoeg opneem nie.

Ten minste is daar ’n sperdatum gestel: beide hierdie ondersoeke moet klaar wees voor September hierdie jaar. ’n Mens weet egter nie of dit die moeite werd is om jou asem op te hou nie…

*******

Verdere ondersoek oor selfdegeslag-verbintenisse aangevra | Netwerk24

Marita Herselman

11 Maart 2022

Ná drie dae van intensiewe gesprekvoering op die NG Kerk Vrystaat se sinodesitting het die vergadering die vraagstuk oor selfdegeslagverbintenisse en of dié sinode uit die verband met die Algemene Sinode gaan tree, vir verdere ondersoek verwys.

Dit het Donderdag, ná tafel- en vloerbesprekings, duidelik geword dat die sinode nie op die laaste dag van die sitting konsensus oor sy standpunt oor selfdegeslagverbintenisse gaan bereik nie.

Daar is Dinsdag halt geroep met die goed- of afkeuring van die verslag van die sinodale taakspan vir aktuele en leerstellige sake (Stals), wat onder meer oor selfdegeslagverbintenisse handel. Die verslag het vraagtekens en ongemak by sommige afgevaardigdes geskep.

Dié verslag, voorgehou deur ds. Pieter Prinsloo van die gemeente Kroonstad-Wes, het onder meer aanbeveel dat die sinode selfdegeslagverbintenisse as sonde beskou.

Die verslag sê dit is volgens die NG Kerk se belydenis “duidelik dat die huwelik slegs tussen man en vrou mag wees”.

Ds. Francois Lamprecht van die Pellissier-gemeente het Donderdag voorgestel daar word verder aan ’n verslag hieroor gewerk, wat voor September vanjaar voltooi moet wees.

“Kom ons kry ’n groter, gebalanseerde groep om so ’n verslag op te stel en feite vir ons op die tafel te sit waaroor ons nie ure of dae gaan debatteer nie,” het Lamprecht gesê.

Ds. Jan Lubbe het gesê sou die voorstel aanvaar word, is die verslag dan betyds gereed voor die volgende Algemene Sinodesitting (AS).

“Dan sou ons dus na die AS kon gaan en sê dit is wat ons bevind het, ons het ’n studie gemaak daarvan en dis waarmee ons na die AS terugkom,” het Lubbe gesê.

Die voorstel het verreweg in die stemming geslaag.

Dr. Riaan Stander van die Langenhovenpark-gemeente het gesê dit is nie ’n ligtelike besluit om uit die Algemene Sinode te tree nie. Die gemeentes in die breë se siening daaroor is nie getoets nie en daar moet ook oor prosedures vir so ’n besluit seker gemaak word.

Stander het dus, met ds. Gerhard Botha van die gemeente Heuwelsig as sekondant, voorgestel dat daar verder aan ’n verslag gewerk word wat dan na gemeentes en ringe vir bespreking verwys moet word, met terugvoering na die moderamen voor September vanjaar.

Die voorstel is goedgekeur.

Die verslag van die tydelike taakspan vir kerkverband en dolering wat Dinsdag aangebied is, het ’n soortgelyke aanbeveling bevat.

Ds. Anton Meiring van die Woodland Hills-gemeenskapskerk het met die hantering van die raad van ondersteuning se verslag, aangebied deur dr. Leon Foot (skriba van die Vrystaatse moderamen) van die gemeente Welkom-Suid, ’n voorstel gebring wat goedgekeur is.

Dit stel dat leraars en kerkraadslede van gemeentes wat nie hul sinodale bydrae gee nie en in taakspanne of kommissies dien, nie vir reiskoste of ander uitgawes vergoed sal word nie. Dit geld nie gemeentes wat ’n ooreenkoms met die sinode aangegaan het nie.

Lubbe het ’n persoonlike versoek gerig dat dolerende gemeentes wat hul bydrae terughou, dit sal herbedink, aangesien ’n proses aan die gang is oor dié sinode se verbintenis met die Algemene Sinode.

Hy het gesê die sinode se werksaamhede kry swaar weens die weerhouding van bydraes.

Die ooreenkoms tussen die NG Kerk Vrystaat en die Universiteit van die Vrystaat wat teologiese opleiding betref, gaan die volgende vyf jaar voort.

1 thought on “Verdere ondersoek oor selfdegeslag-verbintenisse aangevra”

  1. God sê wat jy vir die een doen, doen jy vir die ander. Mat. 25:31-46. As selfdegeslag goedgekeur word kry ons te doen met 1 Kor. 6:1-11 en beteken dit indirek dat al die sondes genoem in vers 9-10 goedgekeur word. Dan mag ek as diaken/ouderling/ds. onsedelik wees, openlik en die gemeente mag niks sê/doen aan my nie anders kan ek hul hof toe vat vir haatspraak. Hoe so? Want fritzie en laurietjie gaum het dit moontlik gemaak in die hofsaak. Die ergste van als is die verbloemde haat wat ons as christene openbaar met hierdie goedkeuring, teenoor mense soekend na God, omdat ons nie God’s Wil/Liefde vir mense wys nie, Sy Liefde volgens Sy Woord. Fritzie Gaum het vir sy eie seun die pad weg van God aangedui, dan is dit nie liefde nie maar haat, verbloemde haat.
    Ek val in 1 Kor. 6:9-10, gaan jul vir my God gee of jul gevoel.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui