Sê vir die oumense ons dominee is gay, eis beswaardes

Stefan de Klerk is die derde homoseksuele proponent wat aangestel is sedert 2019.

Hy het tydens die “Liefde is liefde”-demonstrasie by die Teologiese Fakulteit Stellenbosch in Augustus 2018 ’n prominente rol gespeel.

Nou is hy as predikant bevestig by NG gemeente Bloubergstrand.

*******

Sê vir die oumense ons dominee is gay, eis beswaardes | Netwerk24

Ross Michaels

13 Maart 2022

“Jy kan nie iemand wat aangaan met sonde ’n dominee maak nie.”

So sê ’n groepie gemeentelede oor ds. Stefan de Klerk (27), ’n openlik gay predikant wat vandag as leraar van die NG gemeente Bloubergstrand bevestig word.

Dié gemeente is alombekend as ’n welkome tuiste vir paartjies van dieselfde geslag en die dominee-egpaar Elmarie Dercksen en Thinus Britz reis oor die land heen om gay paartjies te trou.

’n Gemeentelid wat deel is van die drukgroep teen De Klerk se bevestiging, het op voorwaarde van anonimiteit gesê hulle meen die kerkraad was nie deursigtig oor sy seksualiteit tydens die beroeping nie. Hulle bevraagteken ook die prosedures wat gevolg is met die aanstelling.

[Kommentaar: As dit werklik so is dat die huidige dominee-egpaar reeds so openlik voorstaanders van homoseksualiteit is, dan is dit waarskynlik beter dat behoudendes in hierdie gemeente vrede daarmee maak dat hulle paaie met hierdie gemeente sal moet skei.]

Volgens Rapport se inligting lê hul ontevredenheid eintlik by hul oortuiging dat ’n gay predikant in die kerk ’n “sonde” sou wees.

“Ek bedoel die Skrif sê uitdruklik gay mense moet hulself bekeer. Hulle is welkom in die kerk, maar jy kan mos nou nie ’n ou wat aangaan met sonde ’n dominee maak nie,” sê die bron.

Die kerk se 18 kerkraadslede met stemreg het verlede maand op ’n buitengewone kerkvergadering eenparig besluit oor De Klerk se beroeping. Dit kom ná ds. Marietjie Steyn se vertrek na die Groote Kerk in Kaapstad.

“Hulle het nie die feit dat die dominee gay is, amptelik met hul gemeente gedeel nie. Dié feit is ook nie op die kerkraadsvergadering, waarop die gay dominee beroep is, aan die kerkraad bevestig nie. Blykbaar is dié besluit op die kerkraadsvergadering ná slegs tien minute geneem en is die beroeping eenparig deur al 18 kerkraadslede ingestem.”

Die groep wou by kerkleiers weet of die feit dat De Klerk gay is, aan die kerkraad gekommunikeer is. Hierop het Dercksen as een van die gemeentepredikante glo “nee” geantwoord.

Volgens dié bron het Dercksen gemeen dit sou nie regverdig teenoor De Klerk wees om sy seksualiteit uit te sonder nie.

“Haar woorde was: ‘Ek is jammer dat jy nie bewus was van Stefan se oriëntasie nie. Die kerkraad keur dit goed en almal weet dit is sy oriëntasie. Daar is ’n hele erediens aan sy lewensverhaal en seksualiteit gewy toe hy as student by ons span aangesluit het.’ ”

Die bron sê dié erediens was tydens die “sesuur-praise-and worship-diens” wat meestal deur jong mense bygewoon word. “Met die tienuur-diens (soggens) is dit tipies die ouer mense wat daar sit. Ek belowe jou daar is nie meer as 10% van daai mense waarvan ek weet, wat weet dat Stefan gay is nie.

“En hulle is die mense wat die gemeente finansieel ondersteun,” sê hy.

“Daai mense gaan loop. En hulle (die kerk) kry nie meer hul R200 000 tot R300 000 ’n jaar van daai mense in nie. Dán het jy ’n probleem.”

De Klerk het al op 16 Januarie 2020 met die televisie-aanbieder Kabous Meiring op kykNET se nuusprogram Prontuit gesels oor sy seksualiteit.

Op die Bloubergstrand-gemeente se Facebook-blad sê De Klerk hy hoop sy roeping bring genesing.

Ek ervaar my roeping onder leiding van die Gees om ander te help sin maak van die onderskeie verhoudings waarbinne ons elke dag funksioneer. Dit sluit onder meer tog spesifiek die LGBTIQA+-gemeenskap in. My belangstelling is kliniese pastoraat met ’n fokus op seksualiteit.”

De Klerk, ’n Namibiese burger, het sy teologiese studie in 2019 aan die Universiteit Stellenbosch voltooi. Dercksen het in dieselfde jaar haar meesterstudie daar gedoen en het De Klerk genader om sy proponentejaar by die NGK Bloubergstrand te doen.

Die NGK se algemene sinode het in 2015 besluit gemeentes kan self besluit of hulle gay verhoudings erken, gay paartjies in die kerk wil trou en of hulle gay predikante wil aanstel.

Dié besluit is in 2016 op ’n spesiale sinodesitting vervang.

’n Volbank regters van die hooggeregshof in Pretoria het egter in 2019 gelas dat die 2016-besluit onwettig en ongeldig is en dat die besluit van 2015 weer geïmplementeer moet word.

Die hof het ook beslis dat die kerk strydig met die Grondwet opgetree het deur teen gay mense te diskrimineer.

Laurie Gaum, teoloog en genderaktivis, het gesê die Bloubergstrand-gemeente wil juis inklusief wees.

Hy is deel van die groep mense wat die NGK se besluit oor gayregte in die kerk in die hof getakel en gewen het.

“Jy weet mense ken daai gemeente in Blouberg vir hul openheid teenoor die LGBT-gemeenskap. Hulle het ’n lang pad gestap om te kom waar hulle is. Moet dit elke keer op die tafel wees om mense se seksuele oriëntasies te dissekteer wanneer ’n beroep uitgebring word? Dis in elk geval nie in lyn met die nuutste besluit van die kerk nie.”

De Klerk en Britz wou nie op Rapport se navrae kommentaar lewer nie. Dercksen het nie haar telefoon beantwoord nie.

4 thoughts on “Sê vir die oumense ons dominee is gay, eis beswaardes”

  1. Graag wil ek aan die beswaarde(s) in die gemeente vra: u sê gays moet hulle bekeer van hul sonde en nie in sonde volhard nie …… kan u asb aan my die naam gee van slegs een persoon in u gemeente of een persoon wat u ken, wat nie daagliks in sonde volhard nie? Sover my kennis strek is net God sonder sonde en is net Hy volmaak. Die Woord sê vir my in Rom 3:23 ” almal het gesondig en dit ontbreek hulle aan die heerlikheid va God. ” Kyk ek na 1 Kor 6:9 en 1 Tim 1:10 waarin homoseksualiteit as sonde genoem word dan sien ek ’n rits van sondes in dieselfde reel en almal sondes waaraan 100% van die kerk skuldig is. Lees ek die hele deel in konteks dan gaan dit juis daaroor dat die bloed van Christus reinig van ALLE sondes. Daarvoor is Hy gekruisig en moes Hy sterf en sommige laat hulle daardeur reinig. Selfs ’n gay persoon word gereinig deur Sy bloed. Wat sê die Woord oor egbreuk, selfs in hierdie verse en ook in God’s 10 Gebooie? Selfs Jesus wys met Sy aardse lewe in die evangelies egbreuk uit as sonde. Verwys die 10 Gebooie (God’s Wet) en Jesus se uitsprake in die evangelies na gaywees? Waarom dan gaywees as ’n groter sonde ag bo egbreuk? Waarom 60% egbreukers in die kerk toelaat sonder ’n woord, maar gays word verwerp en gestenig? Elke lid van die kerk volhard daagliks in sonde. Lees ek Rom 1 wat ook dalk na homoseksualiteit verwys, dan blaai en net om na hoofstuk 2 en sien dat ons die oordeelaan God moet laat, want Sy genade is groot. Van ons word net LIEFDE verwag …… ook LIEFDE vir ons gay naaste. Rim 10:4-17 “…..as jy met jou mond bely dat Jesus die Here is, en met jou hart glo dat God Hom uit die dood opgewek het, sal jy gered word. Met die hart glo ons en ons word vrygespreek; en met die mond bely ons, en ons word gered. NIEMAND wat in Hom glo, sal teleurgestel word nie. NIEMAND NIE!! Ook nie die gay nie!! Beswaarde(s), as jy jouself sien as sonder sonde of dat jy nie volhard in sonde nie, lees gerus Matt 7:21-23. Gays aan julle wil ek net so: glo in die Here Jesus Christus en jy SAL gered word. Jesus het jou net so lief soos vir my. Moenie dat ’n veroordelende kerk jou beroof van God’s liefde en jou plekkie by Hom nie. Sterkte en Jesusliefde vir elkeen van julle. Julle het nie gekies wie julle is nie en daar is nie fout met julle nie. Leef jul lewe voluit, solank julle Jesus liefhet en Hy jul Leidsman is. Hy sal julle beslis nooit verwerp soos die meerderheid van die kerk doen nie. Ter afsluiting: wat sê die Woord oor skeuring in die kerk???? Is dit nie ook ’n sonde nie? Iets tot nadenke …… ek vra maar net ……🤔

    1. Jannie, ek ken baie mense wat nie in sonde volhard nie. Ek ken egter nie een persoon wat selfs daagliks struikel nie. Daar is egter ’n groot verskil tussen “struikel oor sonde” en “volhard in sonde”.

      ‘n Mens is veronderstel om die Matteus 18-pad te stap met mense in die gemeente wat in sonde volhard.

      Jy praat van 1 Kor 6:9 en 1 Tim 1:10. Dit is presies die punt: Homoseksualiteit word nie as sonde uitgesonder bo ander sonde nie. Alle mense wat VOLHARD in sonde, het moeilikheid.

      Kyk ook wat ek geskryf het in Bekering en Kan ons beweerde Christen gays veroordeel?.

      Oor kerkskeuring is jy welkom om ’n Saak vir kerkskeuring te lees.

      1. Matt 18 het niks met die gay debat te doen nie. Dit gaan oor ’n individu (broer) wat jou tená gekom het of verkeerd teenoor jou (enkel persoon) opgetree het. Gays pla nie individue nie en die gedeelte het absoluut niks met seksualiteit of persoonlikhede te doen nie. Dit gaan uitdruklik oor iemand wat tená gekom is en hoe dit hanteer moet word.
        ‘n Egbreker volhard in sonde, tensy hy sy huwelik herstel, want in God se oë bly ’n 1ste huwelik bindend.. ’n Kwaadprater (skinderbek) volhard in sonde, hulle hou nooit op nid. In die kerk noem hulle dit “die uitruil van gebedsversoeke”. ’n Geldgierige volhard in sonde, maar hul offergawes dra die gemeente. So kan elkeen van dit wat in Kor en Tim genoem word verklaar word. Gaan dink maar hoeveel sondes worstel jyself mee na jare wat verby is. Moenie die sondes van gedagte en nalaatsondes nalaat nie. Daar is ook nie klein en groot sondes nie.
        Rom 10 stel die vryspraak deur geloof baie duidelik dat ELKEEN wat glo vrygespreek word en NIEMAND teleurgestel sal word nue. Dit verwys ook in vers 3 na mense wat hulle nie steur aan die MANIER waarop God vryspreek nie. ’n Gay persoon wat glo en gered is en Christus ken as sy Verlosser IS gered en SAL sy plek by God kry. As hy nog in so verhouding met God leef dat hy selfs predikant word, hoeveel temeer nie. (Alhoewel meeste predikante se leefwyses en sienswyses deesdae ook maar skokkend is).
        Matt 18 verwys in vers 6 en 7 dat mense afvallig word en dat daar wel dinge kom wat mense afvallig maak, MAAR WEE DIÉ MENS DEUR WIE DIT (afvalligheid) KOM. Die kerk (vroom christene, nie ’n denominasie of gebou nie)
        veroorsaak afvalligheid in baie opsigte en in ’n geweldige mate onder die gay gemeenskap, want dit word baie duidelik deur die kerk gestel dat ’n gay persoon nie ’n Christen kan wees nie. Ek sien in van jou ander stukke verwys jyself so daarna dat gays “beweer” dat hulle Christene is en na hulself as Christene verwys terwyl hulle dit nie is nie, want hulle volhard in sonde! Sjoe, ’n skreiende skande om so iets neer te pen!!!! Mag God ook dink dat jy en almal wat jy ken wat nie in sondes volhard nie, werklik nie in sondes volhard het nie ……. selfs nie volhardend geoordeel het nie!!!!!!

        1. Jannie, erken jy dan dat homoseks sonde is?
          As jy dit erken dan kom dit daarop neer dat ek dan ook ’n bankrower, pornografieverslaafde of drankverslaafde kan wees, maar ek hoef nie te stop daarmee nie. Ek moet net “Christus ken as my Verlosser” en dan sal ek gered word.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui