Gays in NG Kerk: Die vere waai

Kyk ook:

Die volgende artikel het in Rapport verskyn.

*************

Gays in NG Kerk: Die vere waai

Baie vrees ’n uittog van lidmate ná NG Kerk se verrassende besluit

Deur Rapport-span, Sondag 11 Oktober 2015 05:10

“Nooit weer sal ons beskuldig kan word dat ons die waarde van mense minder ag nie.” – Ds. Nelis Janse van Rensburg, moderator.

Die NG Kerk is in rep en roer ná die algemene sinode se verrassende – en in sommige kringe baie omstrede – besluit om formele gay-verbintenisse en openlik gay predikante in die kerk te verwelkom.

Hoewel daar vrese in sommige oorde bestaan dat die kerk hieroor kan skeur, is dit duidelik dat daar reeds hard agter die skerms gewerk word om dit te verhoed – selfs deur predikante wat as minder “gay-vriendelik” beskou word.

Een van die mense wat waarskynlik sentraal sal staan in die pogings om die meer behoudende lidmate te oorreed om nie die kerk te verlaat nie, is ds. Dirkie van der Spuy van Moreletapark, die grootste NG gemeente in die land.

Van der Spuy, wat Maandag tot assessor (die kerk se tweede-in-bevel) verkies is, is ook moderator van die oostelike sinode.

Dié sinode het hom voor die algemene sinode sterk uitgespreek téén gay-huwelike en gay predikante en openlik gedreig met kerkskeuring, sou die sinode enige gay-vriendelike toegewings maak.

In ’n onderhoud met Rapport Vrydag was Van der Spuy heelwat meer versoenend: “Ons het ooreen gekom om mekaar se standpunte te akkommodeer en daar is ruimte gelaat vir mense wat ander sieninge het oor wat die Bybel sê.”

Hy sê juis hierom behoort daar nie ’n skeuring te kom nie.

Van der Spuy en die moderator van die algemene sinode, ds. Nelis Janse van Rensburg, het Vrydag ook ’n video-opname gemaak waarin hulle lidmate probeer gerusstel. Daarin verduidelik hulle dat elke gemeente sélf kan besluit waar hulle oor die kwessie staan en of hulle gay-troues in hul gemeente gaan ­seën.

Van der Spuy sê sy eie gemeente het ’n “baie definitiewe siening oor wat die Bybel oor gays sê” en hul houding sal nie nou verander nie.

’n Inskrywing wat ná afloop van die sinode op die kerk se webwerf geplaas is, sê die “beoefening van homoseksualiteit” is teen God se wil “soos alle ander sondes waaroor die Skrif praat”. Elders maak die webblad dit duidelik dat ’n persoon wat in “enige sonde” volhard nie ’n leiersposisie – soos leraar of personeellid – kan beklee nie.

Daar is egter ook dié wat meer openlik ’n kerkskeuring vrees en selfs aanmoedig.

Dr. Henrietta Klaasing, medeskrywer van die boek Die Trojaanse perd in die NG Kerk, het Vrydag Twitter gebruik om te sê die kerk het sy eie “doodsvonnis” met dié besluit onderteken.

Daar is ’n beroep gedoen op lidmate om openlik standpunt in te neem teen die “dwalende besluite”.

Ds. Theo Danzfuss, aktuaris van die Hoëveld-sinode, sê hy is “diep geskok en teleurgesteld” oor die besluit.

“Ek wil nie graag voorspellings maak of groepe teen mekaar afspeel nie, maar die besluit kan op ’n kerkskeuring uitloop.

“Daar is groot ongelukkigheid onder sommige predikante en lidmate,” sê hy.

“Hier kom ’n donderstorm, mét hael,” het genl. Constand Viljoen, gewese weermaghoof wat die sinode as ouderling-afgevaardigde bygewoon het, gewaarsku.

Hoewel hy nie dink die besluit sal ’n algehele skeuring veroorsaak nie, glo hy dit sal beslis tot “die hergroepering van gemeentes” lei.

Viljoen sê die media en “mense in die galery” het die debat emosioneel aangevuur ten gunste van ’n jastem.

“Iets sal gedoen moet word om die twee faksies in die kerk te versoen. Die Here sal ons moet lei oor hoe om dit aan te pak.”

Onder predikante wat nie die afgelope week by die sinode teenwoordig was nie, is dit duidelik dat die besluit gróót beroering veroorsaak het.

Rapport het 40 predikante – van Komatipoort aan die Mosambiekse grens tot in Moorreesburg in die Swartland – se mening oor die besluit getoets, maar slegs sewe was bereid om iets te sê wat gepubliseer kan word en twee het gereageer op voorwaarde dat hulle nie geïdentifiseer word nie.

“My gemeentelede bel my al van 08:00 vanoggend af om te hoor of die kerk uitmekaar gaan val. Hulle is baie deurmekaar,” het ds. Johan Marais van die NG gemeente in Thabazimbi gister gesê. Hy sê vir sommige mense gaan dié besluit “genoeg rede en verskoning” wees om die kerk te verlaat.

“Ek gaan niks sê nie! Maar een ding is seker: Geen gemeente met hul gesonde verstand gaan ’n gay predikant aanstel nie!” het ’n Vrystaatse predikant gesê.

Talle predikante het egter die besluit verwelkom.

“Ek voel positief hieroor. My gemeente is hiperkonserwatief. Maar ek gaan hulle regruk. Moet net nie my naam skryf nie, hoor! Ek preek Sondag, en hulle sal my kruisig,” sê ’n dominee van ’n gemeente in die Groot-Karoo.

Ds. Paul Barnard van die NG gemeente Helderberg in Somerset-Wes sê hy is baie opgewonde.

“Ons het drie jaar gelede reeds in ons eie gemeente hierdie proses aangepak. Ons gemeente is bereid om ’n gay predikant aan te stel.”

Dr. André Bartlett, wat die voorsteller was van die omstrede mosie, sê die reaksie het sy “wildste verwagtinge oortref”.

Nadat sy aanvanklike voorstelle Donderdag met 102 teen 88 stemme goedgekeur is, het ’n herbewoorde mosie Vrydag met ’n nog groter meerderheid (114 teen 63) geseëvier.

Bartlett is oortuig dat dié besluit nie tot kerkskeuring hoef te lei nie.

“Niemand word nou skielik gedwing om gay paartjies te trou nie. Kerkrade hoef nie te vrees dat hulle onder dwang is nie. Hulle moet die saak volgens eie diskresie hanteer.”

Bartlett sê die kerk het eintlik reeds geskeur toe vorige besluite oor gays talle lidmate van die kerk vervreem het.

Die huidige besluit skep volgens hom eerder geleentheid vir verdere gesprek met die verskil dat gay lidmate se menswaardigheid ten volle erken word.

“Die uitdaging vir die kerk is hoe om nou die proses verder te bestuur,” sê Bartlett.

“Ons het hier ʼn unieke geleentheid om uit te reik na daardie lidmate wat nie met die besluit saamstem nie.”

  • Met bydraes van Jean Oosthuizen, Liani Jansen van Rensburg en ­Elaine Swanepoel.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui