Standpunt van die Kerkraad van Moreletapark Gemeente oor homoseksualiteit

Kyk ook:

Baie kort na die sinode besluit het dat selfdegeslagsverhoudings geduld sal word in die NG Kerk, het Morelatapark Gemeente die volgende baie goeie standpunt oor homoseksualiteit gepubliseer:

Standpunt van die Kerkraad van Moreletapark Gemeente oor homoseksualiteit

1. Ons is oortuig dat die Skrif ons leer dat ’n huwelik die lewenslange verbintenis tussen een man en een vrou is, wat mekaar met die liefde van Christus versorg. Ons aanvaar dat die enigste wyse waarop ’n Christelike huwelik tot stand kom is tussen een man en een vrou waar Christus in die middelpunt is.

2. Ons glo dat die Skrif daaroor duidelik is dat alle seksuele verhoudinge buite die huwelik teen God se wil en plan is.

3. Ons glo dat die beoefening van homoseksualiteit teen God se wil en plan is soos alle ander sondes waaroor die Skrif praat. Vir al hierdie sondes is daar vergifnis en vrymaking deur die bloed van Jesus Christus.

4. Die gemeente se deure staan met die liefde en deernis van Christus oop vir alle mense. Wanneer ’n persoon egter in enige sonde volhard kan hy/sy nie in ’n leiersposisie (leraar, personeel, bestuurslid, bedieningsleier of aanbieder) in ons gemeente dien nie.

5. Ons wil steeds as kerk die oop arms van Jesus wees wat vir alle mense genade, vergifnis en heling bied.

************

Op 3 November 2015 het Moreleta die volgende verklaring gemaak:

Verklaring van die Kerkraad van Moreletapark Gemeente oor die Algemene Sinode van 2015 se besluit oor selfdegeslagverhoudings

Die Kerkraad van Moreletapark Gemeente het tydens hul sitting op 29 Oktober 2015 eenstemmig besluit om standpunt in te neem teen die Algemene Sinode van 2015 se besluit oor selfdegeslag verhoudings. Die Kerkraad is oortuig dat hulle besluit, wat in hierdie verklaring opgesom is, die weg aandui wat God vir hulle kom aanwys het.

Die eerste en grootste gebod is dat ons God moet liefhê bo alles en die tweede is dat ons ons naaste moet liefhê soos onsself (vgl. Matt.22:37-39). Daarom verklaar die Kerkraad dat hulle so lief vir God is dat hulle Hom in elke besluit bo alles wil eer deur aan Hom gehoorsaam te wees (vgl. Ps. 119:30-35). Die Bybel is duidelik dat God genadig én regverdig is. Daarom is Hy lief vir alle mense maar keur Hy sonde af, omdat dit ons verhouding met Hom skaad. Alle mense sondig en kan alleen op grond van God se genade vrygespreek en deur geloof sy kinders word (vgl. Rom. 3:23). God se bevel aan sy kinders is dat sonde nie in hulle lewens moet heers nie maar dat hulle moet wegdraai daarvan af en volhardend daarteen moet stry (vgl. Rom. 6:14). Die Kerkraad bevestig daarom dat hulle nooit ’n besluit sal neem wat enige sonde toelaat of goedkeur nie.

Die Kerkraad het geen begeerte om ’n enkele sonde uit te lig nie, maar die besluit van die Algemene Sinode dwing hulle egter om in dié geval standpunt in te neem, aangesien geslagsgemeenskap buite die raamwerk van ’n huwelik tussen een man en een vrou volgens die Bybel, verkeerd is.

Die Kerkraad wil dat die Gemeente se standpunt, sowel as die kerklike proses wat gevolg word om beswaar aan te teken teen die besluit van die Algemene Sinode, ’n getuienis moet uitdra wat Bybels en Kerkordelik begrond is. Die Gemeente wil in die proses saamwerk om ’n oplossing te kry waardeur God geëer sal word en die kerk se getuienis na en teenoor alle mense nie sal skade ly nie. As ’n evangeliese Gemeente, wat die Bybel aanvaar in al die beginsels wat dit leer (Sola Scriptura), wil ons dat ’n verantwoordelike interpretasie van die Bybel die lig vir die pad vorentoe sal gee.

Die Kerkraad het besluit dat die besluit van die Algemene Sinode oor selfdegeslagverhoudings, nie aanvaar kan word nie op grond daarvan dat dit (inter alia):

  1. Die sonde van die beoefening van homoseksuele geslagsgemeenskap ontken.
  2. Die beoefening van volhardende sonde in leraars se lewens aanvaar.
  3. Die Bybel op ’n liberale en humanistiese wyse uitgelê word wat in stryd is met die byna 2000 jaar oue hoofstroom Christelike en byna 500 jaar oue gereformeerde uitleg van die Bybel.
  4. ‘n Verbintenis, ingesluit die beoefening van die seksuele, buite die konteks van die huwelik erken terwyl die Bybel, sowel as in die besluite van die Algemene Sinode, die huwelik slegs as ’n lewenslange verbintenis tussen een man en een vrou beskou.

Alhoewel die besluit van die Algemene Sinode die reg aan kerkrade gee om hieroor hulle eie standpunte en praktyke te formuleer en te reël, glo die Kerkraad dat hierdie ’n tyd is waar daar opgestaan moet word teen sake wat van kardinale belang is vir die integriteit van die evangelie en die getuienis van die kerk.

Die Kerkraad sal daarom die volgende proses volg om sy getuienis te laat hoor en die onaanvaarbare dele van die besluit van die Algemene Sinode te laat verander of herroep, nl.:

  1. Gesprekke sal met die ring van Elarduspark gevoer word.
  2. ‘n Brief sal aan die Diensraad van die Oostelike Sinode gerig word waarin die Gemeente haar distansieër van die besluit van die Algemene Sinode en vra dat ’n spesiale sitting van die Oostelike Sinode gehou word om standpunt in te neem teen die besluit.
  3. Indien die bogenoemde proses onsuksesvol sou wees sal die Gemeente, in die lig van die omstandighede dan, herbesin.
  4. Die Gemeente sal ingelig bly en die geleentheid gegee word om deurentyd deel te neem aan die proses.

As leierskap van die gemeente wil ons die gemeente lei om te fokus op dit waarvoor God ons hier op aarde geplaas het naamlik deur saam met mense ’n pad te stap sodat almal Jesus kan leer ken en in verhouding met Hom kan leef (vgl. Mat 28:19-20). Ons begeerte is dat alle mense die God mag ontmoet wat so lief was vir die wêreld dat Hy sy Seun gestuur het sodat elkeen wat in Hom glo nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê (vgl. Joh. 3:16). Die Gemeente het begrip vir spesifieke uitdagings waarmee mense sukkel maar wil hande vat sodat ons mekaar kan help in ’n lewe van groei in Christus.

Soli Deo Gloria

Moreletapark Gemeente

3 November 2015

1 thought on “Standpunt van die Kerkraad van Moreletapark Gemeente oor homoseksualiteit”

  1. Daar is net een God.
    Ons leef in die laaste brief van die 7 briewe aan die sewe gemeentes.
    Watter nietige mens is groot genoeg om met oordeelsdag God te laat aankla ivm “Menseregte” skending.
    Die vraag is “Hoekom sal Satan duiwels uitdryf? “
    Die wêreld beweeg na die einde en die koms van die “Anti-Christ” en soos met enige voorbereidings proses moet paaie en geboue se fondasies gelyk gemaak word en verstewig word vir dit wat volg.
    Die “Demo” in demokraties en demonies lyk baie dieselfde. Die voorbereidings word gedoen. Geldlose ekonomie. Een geloofs oortuiging. Een politieke staat. Satan soek mag om sy koningkryk te vul.
    Daarom moet die Kerke sterk staan en lei en liewer siele lei na Jesus ipv om onmin en verdeeltheid te bewerk want daar word in Satan se bose plan ingekoop.
    Verduidelik liewer by God as by die mens en sy regstelsels want is mense regters nou groter as God. Stellig nie. Preek die Woord Leef die Woord Glo in God, Jesus en Heilige Gees en jy sal die Ewige Lewe kry as beloning. Bekeer julle tot die Lewendige God sodat Hy julle barmhartig sal wees.
    Kies, God of Satan. Maak Goddelike keuses en nie Demokratiese keuses nie.
    Hy Leef.
    Groete in Jesus.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui