Gays in die kerk: Bartlett win regsadvies in

********

Gays in die kerk: Bartlett win regsadvies in | Netwerk24

Deur Jana Marx

12 Januarie 2021

Dr. André Bartlett, voorsitter van die NG Kerk se Hoëveld-sinode, win regshulp in oor twee briewe wat die klaer in sy tugsaak verlede jaar aan sy werkgewers geskryf het.

Bartlett is verlede jaar deur dr. Johann (Tokkie) Ernst, voormalige aktuarius van die NG Kerk se algemene sinode (AS), van die verbreking van die negende gebod (”jy mag nie vals getuienis teen ‘n ander gee nie”) aangekla.

In kerkkringe word gevoel dat die briewe, wat Bartlett tot onlangs nie gesien het nie, lasterlike inhoud bevat.

Die briewe is albei op 20 Oktober 2020 gestuur.

Die een is gerig aan die voorsitter van die ring van Johannesburg (waaronder Bartlett val). Ds. Rudi Swanepoel, ringvoorsitter, het bevestig hy het dié brief in ontvangs geneem.

In die tweede brief stel Ernst die kuratorium verbonde aan die Universiteit van Pretoria, waar Bartlett ook werksaam is, in kennis van die ondersoek. Ds. Hannes Windell, voorsitter van die kuratorium, het bevestig hy het dié brief ontvang.

Toe Netwerk24 by Bartlett navraag doen, het hy gesê: “Die proses is vir nou in die hande van die kerklike ondersoekliggaam en ek plaas my vertroue in hul hantering van die saak. Intussen maak ek van goeie regsadvies gebruik en oorweeg ek verskeie opsies (waaronder litigasie) oor of die inhoud van die briewe lasterlik is. Tans gaan ek geen regstappe doen nie.”

Ernst stipuleer in die briewe die klagte “behels bedrog (misleiding en opsetlike wanvoorstellings), laster (leuens en naamskending) en skeurmakery (valse verklarings waarmee groepvorming bevorder is en kwaadwillige optrede wat ernstige verdeeldheid in die kerk verwek het)”.

Hy skryf ook onder meer: “Die handhawing van vertroulikheid in hierdie saak is van die hoogste belang, aangesien die aangeklaagde en sy geassosieerdes in die verlede dikwels na die openbare pers gegaan het en die openbare mening tot nadeel van enigiemand wat hulle op enige wyse teenstaan, gebruik. Daardeur word ’n billike en regverdige verhoor in die wiele gery.”

Die verhoor sal in Februarie voortgaan.

Ernst het by navraag gesê: “Ek kan geen kommentaar lewer oor enige moontlike handeling nie. Die skrywes is nou die eiendom van die ondersoekliggaam, is vertroulik en sonder benadeling gemerk, en die vertroulike kerklike ondersoek moet sy gang gaan. Geen verdere kommentaar.”

Die agtergrond

Die tugverhoor teen Bartlett handel oor sy uitlatings oor gay persone in die kerk. Bartlett, tans lid van die AS se moderamen (ASM), is al vir jare op rekord dat hy die regte van gay mense in die NG Kerk voorstaan.

Ernst is deel van ’n groot groep predikante wat die NG Kerk se amptelike standpunt teenstaan.

Die nuus oor die verhoor het opslae gemaak onder predikante, met sommige wat vrees dat dit die “begin” is waar leraars wat nie met die behoudende standpunte oor gays saamstem nie, “gekruisig” gaan word.

Voorheen is berig hoe Bartlett se geslote verhoor in Bloemfontein gehou word, omdat sy eie ring of streeksinode waarop die onus normaalweg sou rus, botsende belange het.

Netwerk24 het berig dat die klagte onder meer verband hou met twee verklarings wat Bartlett in 2018 onderteken het.

Albei verklarings was ’n reaksie op die diskoers wat ontstaan het rondom dr. Chris van Wyk, ’n voormalige voorsitter van die Oos-Kaapse sinode en voormalige lid van die AS se moderamen, se uitlatings oor homoseksualiteit en pedofilie.

Van Wyk is later by die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie (MRK) verkla.

In geen van die verklarings word Van Wyk by name genoem nie.

Adv. André Gaum, kommissaris van die MRK, het Maandag opnuut bevestig dat die kommissie se saak teen Van Wyk voortgaan.

Van Wyk het deurgaans ontken dat hy ooit ’n vergelyking tussen homoseksualiteit en pedofilie getref het.

Die kerkprosesse

Die NG Kerk se AS het in 2019 ’n besluit geneem wat kerkrade die ruimte bied om self te besluit of hulle selfdegeslagverhoudings erken, gay paartjies trou en gay predikante wil aanstel.

Dr. Gustav Claassen, algemene sekretaris van die ASM, het by navraag gesê dat enige klag wat formeel teen iemand in die kerklike geledere ingedien word – of dit nou waar of vals is – ondersoek moet word.

Dr. Dewyk Ungerer, huidige aktuarius, het in sy persoonlike hoedanigheid as kerkregkenner verduidelik dat die kerk se 2019-besluit vir sowel Ernst as Bartlett ruimte bied om die sogenaamde “gay-tekste” te interpreteer binne hul elkeen se hantering van hul eie Skrifuitleg.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui