Dr. André Bartlett ‘vertroulik verhoor’ deur NG Kerk

**************

Dr. André Bartlett ‘vertroulik verhoor’ deur NG Kerk | Netwerk24

Deur Jana Marx

4 Desember 2020

Dr. André Bartlett, voorsitter van die NG Sinode Hoëveld in Gauteng, is vandeesweek stil-stil in Bloemfontein oor sy uitlatings oor gay mense verhoor.

Die klagte teen hom word deur dr. Johann (Tokkie) Ernst, voormalige aktuarius van die NG Kerk se algemene sinode (AS), gebring. Ernst, van Centurion, het in 2016 geëmiriteer.

Bartlett, tans lid van die AS se moderamen, is al vir jare op rekord dat hy die regte van gay mense in die NG Kerk voorstaan.

Ernst is deel van ’n groep predikante wat die kerk se amptelike standpunt oor selfdegeslagverhoudings teenstaan.

Ernst het volgens ingeligtes ná aan die saak geëis dat, sou Bartlett skuldig bevind word, hy van sy status as leraar onthef word.

Netwerk24 het verneem dat die ondersoekspan te kenne gegee het dat hulle in daardie geval self op ’n gepaste straf sal besluit.

Leraars wat Netwerk24 hieroor gekontak het, is bitter ongelukkig oor die verhoor. Die vrees is nou dat hierdie die begin is waar leraars wat nie met die behoudende standpunte oor gays saamstem nie, “gekruisig” gaan word.

Die NG Kerk se AS het in 2019 ’n besluit geneem wat kerkrade die ruimte bied om self te besluit of hulle selfdegeslagverhoudings erken, gay paartjies trou en gay predikante wil aanstel.

Twee briewe onderteken

Netwerk24 het betroubaar verneem dat die klagte onder meer verband hou met twee verklarings wat Bartlett in 2018 onderteken het.

Albei verklarings was ’n reaksie op die diskoers wat ontstaan het rondom dr. Chris van Wyk, ’n voormalige voorsitter van die Oos-Kaapse sinode en voormalige lid van die AS se moderamen, se uitlatings oor homoseksualiteit en pedofilie.

Van Wyk is later by die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie (MRK) verkla.

In September 2018 het ’n groep van 61 akademiese teoloë, wat NG-lidmate is, ’n verklaring onderteken waarin hulle verbande tussen selfdegeslagverhoudings, pedofilie en bestialiteit veroordeel.

Skaars ’n week later het 173 predikante ook ’n verklaring onderteken, waarin hulle onder meer sê hulle het “met ontsteltenis kennis geneem van gesprekke op veral die sosiale media waarin verhoudings van liefde en trou tussen mense van dieselfde geslag op dieselfde vlak beoordeel word as sake soos pedofilie en bestialiteit”.

Die predikanteverklaring is op inisiatief van ds. André Agenbag en Bartlett opgestel.

In geen van die verklarings word Van Wyk by name genoem nie.

MRK gaan voort met saak teen Van Wyk

’n Ander klagte teen Bartlett hou volgens bronne verband met kommentaar in Rapport op 23 September 2018 oor Van Wyk se uitlatings.

Bartlett het in sy onderhoud met Rapport onder meer gesê:

“Sy standpunt oor gay-wees en pedofilie kom neer op haatspraak.”

Netwerk24 het op 17 Oktober berig dat die MRK vir eers die klag van haatspraak teen Van Wyk laat vaar het, maar dat dit beslis nie heeltemal van die baan is nie.

Adv. André Gaum, MRK-kommissaris, het Vrydag weer eens aan Netwerk24 bevestig dat die MRK nie sy saak met Van Wyk as afgehandel beskou nie, trouens, “die kommissie het ’n senior advokaat bekom ten einde met die saak te kan voortgaan”.

Van Wyk het deurgaans ontken dat hy ooit ’n vergelyking tussen homoseksualiteit en pedofilie getref het.

Reaksie op die verhoor

Dr. Gustav Claassen, algemene sekretaris van die AS se moderamen, het by navraag gesê die kerkbestuur weet van die saak, maar daar is nie veel besonderhede aan hulle verstrek nie.

Prof. Nelus Niemandt, ’n voormalige moderator van die NG Kerk, verduidelik ’n tugproses lê by die ring.

“Wat in André se geval sou gebeur het, is dat sy ring te ná aan die saak is. In só ’n geval, word die saak na die streeksinode, in hierdie geval die Hoëveld-sinode, verwys. Maar hulle kan dit ook nie doen nie, want André is die voorsitter. Hoëveld het toe die Vrystaat-sinode aangewys om die saak verder te hanteer,” het hy aan Netwerk24 verduidelik.

Netwerk24 kan bevestig die Vrystaat-sinode het ’n ondersoekspan aangewys om die verrigtinge te hanteer.

Oor die sanksie wat Ernst volgens bronne versoek het, het Niemandt gesê die klaer in ’n tugsaak mag nie ’n straf bepaal nie.

Bartlett het by navraag gesê hy wil geensins kommentaar lewer of selfs bevestig dat daar ’n saak teen hom is nie.

Ernst se reaksie

Ernst het met Netwerk24 se oproep herhaaldelik gevra waar die joernalis van die verhoor uitgevind het.

Toe die joernalis weier om bronne bekend te maak, het Ernst benadruk lede van die vergadering is onder eed en gesê: “Ons sal uitvind wie hierdie vertrouensbreuk gepleeg het.”

Op die vraag waarom die vergadering so ontsettend geheim gehou word, het Ernst gesê “dis ’n kerklike ondersoek en dis vertroulik. As jy in die land se Handves van Godsdiensregte gaan lees, sal jy sien sulke sake is geprivilegieer. Dis ook om getuies te beskerm.”

Ernst het toe verduidelik hy het ’n openbare verhoor probeer vermy – “presies waarop jy nou afstuur, om mense se gedagtes op te werk”.

Hy het vir ’n paar sekondes die gesprek onderbreek en met sy terugkeer gesê hy kan nie verder praat nie en sal volstaan by “geen kommentaar”.

2 thoughts on “Dr. André Bartlett ‘vertroulik verhoor’ deur NG Kerk”

  1. Ek bid dat hierdie dissiplinêr nie veel sal oplewer nie. Dr André is ’n ware man van God met integriteit, wysheid, insig en liefde! Dr André ons tree in vir u!

  2. As boodskappers van die Woord nie eers kan sake uitwerk in hierdie stukkende wêreld nie, hoe moet die gemeentelede dit regkry. Mag dit nie ’n geval wees van ego’s nie. Soveel hartseer en vernedering oor ’n saak waaroor die Here in elk geval self sal oordeel. So bitter onnodig!

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui