Oerknal word in die Bybel beskryf

Die volgende briewe is geskryf na aanleiding van SOS maak toe aanlyn kykers die duiwel in (26 Jul 2020).

Sien my kommentaar in rooibruin blokhakies.

**********

Oerknal word in die Bybel beskryf | Netwerk24

A. Engelbrecht skryf:

George Claassen (02.08) weerspreek homself: “Vir ’n teorie om as wetenskap aanvaar te word, moet dit getoets kan word en bekragtigbare voorspellings kan maak.” Die teorie van evolusie voldoen net so min aan die vereiste as die geloof in die skepping. Die Bybel ontken nie die oerknal (big bang) nie. As “die sterre saamgesing het en al die hemelinge gejubel het” (Job 38:7) moes dit ’n “oerknal” gewees het. Die bekragtigbare voorspelling is in Luk. 21:25,26. Mark. 13:24,25 verduidelik: “Die son sal verduister word en die maan sal nie skyn nie. Die sterre sal uit die ruimte val en die kragte van die hemelruim sal ontwrig word.” Kan jy jou ’n groter oerknal voorstel? Ook die verskuiwende kontinente kan verklaar word deur Noag se vloed.

[Kommentaar: Engelbrecht is heeltemal korrek in sy eerste twee sinne: nie evolusie óf skepping is (operasionele) wetenskap nie. Dit help egter ongelukkig nie baie om te probeer redeneer dat God wel deur ’n tipe oerknal geskep het nie. Die oerknal was juis ontwerp om God uit die prentjie uit te sluit. God het geskep soos Hy gesê het in Genesis 1. Wat wel ooreenstem met die oerknal en skepping soos wat skeppingsleerders (kreasioniste) glo is dat die heelal uitdy. Kyk ook Die Bybel oor skepping vs evolusie/Kosmologie en Ver-sterlig-jong-aarde-probleem en Ons is in die middel.]

Gerhard Stander, Danabaai, skryf:

Ek is ’n gelowige, ’n kreasionis, en ek glo aan evolusie, maar ek is nie ’n evolusionis nie. Kreasionisme kan evolusie insluit. Waar die kreasionis verskil, is oor die ontstaan van lewe, wat die evolusionis nie verklaar nie. Dit is vreemd dat Claassen suggereer dat kreasionisme en die verwerping van evolusionisme kwansuis opgeleide wetenskaplikes, ingenieurs en wiskundiges sou kortwiek. Tog sien ons baie gelowige wetenskaplikes. Claassen is reg dat kreasionisme nie ’n wetenskap is nie, maar geloof. Maar totdat hy die ontstaan van lewe kan bewys, is ook evolusionisme net ’n geloof.

[Kommentaar: Gerhard onderskei nie hier tussen mikro-evolusie (natuurlike seleksie) en makro-evolusie (Darwinistiese evolusie) nie.

  • Natuurlike seleksie = veranderinge binne ’n soort
  • Darwinistiese evolusie = veranderinge om verskillende soorte te vorm deur middel van mutasies.

Met “kreasionisme” word gewoonlik bedoel dat Darwinistiese evolusie verwerp word. ’n Mens lei egter af dat Gerhard ’n teïstiese evolusionis is. Kyk teïstiese evolusie om te sien watter probleme dit het. Verder is daar nie net gelowige wetenskaplikes nie, maar heelwat wetenskaplikes wat evolusie, die oerknal en ’n ou aarde verwerp – kyk Wetenskaplikes teen evolusie en oerknal.]

Is die aarde plat? | Netwerk24

09 Augustus 2020

Johan Visser, Kleinmond, skryf:

Volgens Pienkes du Plessis het Basie Basson by die Skole-ondersteuningsentrum (SOS) se seminaar beweer die evolusieleer het by die duiwel ontstaan. Dit sou beteken evolusie is vir hulle boos, en kreasionisme Bybels, asof hulle die Bybel as ’n handboek vir natuurwetenskap beskou. Skeppingsverhale het in baie antieke kulture en godsdienste bestaan. In die Bybel is daar twee sulke skeppingsverhale (Gen. 1 en 2). Ek sal my nie op die Bybel verlaat as ek meer wil uitvind oor die ontstaan van alle lewensvorme nie. Ons kan nie die Bybel gebruik soos die Voortrekkers nie. Ons het darem nou al in die 21ste eeu aangekom.

[Kyk die volgende artikels wat die stellings hierbo bespreek: Die Bybel is nie ’n geskiedenis of wetenskapshandboek nie en Is Genesis 1 en Genesis 2 verskillende, teenstrydige skeppingsverhale?. Soos ek geskiedenisboeke gebruik om meer uit te vind oor Jan van Riebeeck en die Romeinse Ryk, so sal ek eerder die Bybel raadpleeg vir dinge wat in die verlede gebeur het, eerder as historiese wetenskap.]

Karien Baard, Fairland, skryf:

Ek stem volmondig met Pienkes du Plessis (2 Aug.) saam in sy kommentaar oor Basie Basson van die SOS en Solidariteit se paneelbespreking oor evolusie. My skoonma, saliger zijn, het 40 jaar terug al vir my gesê: My kind, God is nie ’n towenaar wat sy vingers klap en dan is daar ’n berg en ’n boom nie! God skep deur evolusie! Mnr. Basson, glo jy ook dat Adam uit stof gemaak is en Eva uit sy ribbebeen? En dan sommer ook dat die aarde plat is? Ek glo vir seker in God. Maar my God skep deur evolusie.

[God het nie Sy vingers geklap nie. Hy het gepraat, soos ons in Genesis 1 lees. Die oomblik as mens afwyk van wat die Bybel duidelik sê is jy besig om jou eie God te skep – kyk Welkom by Bou-‘n-God. Die feit dat Karien praat van “my God” is baie veelseggend. Dit laat ’n mens wonder of Karien haar eie god geskep het… Alhoewel daar wel mense is wat in ’n plat aarde glo verwag die Bybel dit glad nie van ons nie – kyk Verkondig die Bybel dat die aarde plat is?.]

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui