‘Ek sien nie die NG Kerk waarin ek tuis is in die media nie,’ sê ekonoom by sinode in Bosveld

*******

‘Ek sien nie die NG Kerk waarin ek tuis is in die media nie,’ sê ekonoom by sinode in Bosveld | Kerkbode

Helene Meissenheimer

19 Oktober 2022

“Dit is onaanvaarbaar dat die mediadekking wat die NG Kerk kry net gaan oor die gay-debat, dominees wat ophou glo en CMR-Noord.”

Só sê die ekonoom prof Jannie Rossouw, ’n jarelange NG lidmaat by Stellastraat in Pretoria. Hy wil sien dat die kerk self inisiatief neem om hierdie narratief in die media te verander.

“Regtig vrinne, ons kan nie langer hier bly nie. Dit is nie die verhaal van die NG Kerk waar ek tuis is nie. Dit is nie die NG Kerk waar ek ’n lidmaat is nie … as dit die narratief van die NG Kerk in die media is, dan moet ons dit … in onsself vind om daardie narratief te verander.”

Rossouw, in ’n swart pak met sy kenmerkende strikdas om die nek is een van verskeie kundiges wat hierdie week die 300 sinodegangers kom toespreek by die Bosveld-saamtrek van die NG Kerk se Noordelike Sinodesitting met die tema ‘Wysheid in ’n tyd soos hierdie’.

Die antwoord op hoe die kerk beter en meer pro-aktief kan kommunikeer het hy nie, maar sê hy, “ek kan u sê wat ons tans doen, werk nie. Wat hy nie wil sien nie is nog ’n taakspan (“dit is wat die regering doen as hy nie iets aan ’n saak wil doen nie”) of ’n “dial-a-quote” kerk. Dit moet ’n kerk wees wat wel oor sake praat “wat ons sinvol met ons roeping in verband bring,” verduidelik hy in die latere vraag-en-antwoordsessie.

[Kommentaar: Daar is nie ’n oplossing vir die probleem nie. Die NG Kerk het die afgelope paar jaar uiters kontroversiële besluite geneem wat ’n klimaks bereik het met die 2019-besluit en moet nou met die gevolge daarvan saamleef.]

Gevaarligte vir die kerk

Hy sê hy is ook bekommerd oor mediavryheid en die veiligheid van ondersoekende joernaliste. Sy eie dogter is met ’n ondersoekende joernalis getroud en hy wonder hoe lank dit is voor mense in hierdie beroep se lewe bedreig word.

“Hoe gaan die Afrikaanse kerke optree as die huidige regering hulle op dieselfde wyse skuldig maak (aan die onderdrukking van mediavryheid) as die vorige Nasionale Party regering? … Onthou, sonder mediavryheid sou ons nie geweet het wat in SA aan die gang is nie,” benadruk hy.

Hierdie is van die gevaarligte wat Rossouw uitlig waarom die kerk moet oplet na die regering se hantering van joernaliste en nuusmedia. “Dinge gaan erger raak na die 2024-verkiesing.”

Op die vraag van dr Bernice Serfontein hoe die NG Kerk nou met geloofwaardigheid teen onreg kan praat terwyl die NG Kerk stil was tydens apartheid, vra hy dat die NG Kerk verby hierdie skuldgevoelens leef en nou die onreg aanspreek. “Ek weet die NG Kerk het sy vingers verbrand.”

Geloofsgemeenskap wat saamstaan

In die eerste deel van sy 20-minute spreekbeurt het Rossouw met sewe “prentjies” die ekonomiese krisis in die land opgesom. Ook ’n onderwerp waaroor hy meen die kerk te stil was tot nou toe.

“Die land is vernietig (deur die) ANC-regering wat besig is om die mense van Suid-Afrika uit te buit. Wat is die stem van die geloofsgemeenskap te midde van wat ons in Suid-Afrika sien gebeur?” vra die Wits-professor wat skerts dat hy nie bang is om reguit hieroor te praat nie.

“Die geloofsgemeenskap van die NG Kerk kan nie langer stil bly te midde van wat ons sien nie,” sê hy met verwysing na onder meer die miljarde rande wat met SAL vermors is en vir armoedeverligting gebruik sou kon word.

“As ons wag vir die regering gaan dit te laat wees. As ons as individue optree gaan dit te min wees.

As ons as gemeenskap kan optree kan ons ’n verandering maak en dit, vriende, is my boodskap vir vandag,” som Rossouw op.

  • Die webskakels vir die video-opname wat van prof Jannie Rossouw se aanbieding asook die van ander sprekers by Noordelike Sinode se vergadering deur hulle tegniese span gemaak word, sal eers na dit op 20 Oktober afsluit beskikbaar wees. Die skakel sal dan bygewerk word.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui