Noordelike Sinode: Wye waardering vir opleiding by UP Fakulteit, CMR-Noord sê hoe hulle moes afskaal, koers verander

Kyk KOMMENTAAR onderaan.

*******

Noordelike Sinode: Wye waardering vir opleiding by UP Fakulteit, CMR-Noord sê hoe hulle moes afskaal, koers verander | Kerkbode

Helene Meissenheimer

20 Oktober 2022

Afgevaardigdes by Noordelike Sinode se sinodesitting bespreek en besluit op die derde dag van die vergadering oor:

  • Teologiese opleiding
  • CMR-Noord
  • Die 2019-besluit oor selfdegeslagverhoudings

Die NG Kerk se Noordelike streeksinode gaan nie die roete volg van ’n eie teologiese seminarium nie, maar voortgaan om voornemende predikante vir opleiding by teologiese fakulteite soos dié van die Universiteit Pretoria (UP) te stuur.

Dr Dewyk Ungerer, die voorsitter van dié streek se sinodale diensraad (SDR) het hierdie besluit gedeel ná ’n gesprek van byna twee ure aan die begin van die derde dag van die sinodesitting wat vandeesweek in Limpopo plaasvind.

Vooraf het hy gewaarsku die bykans 300 sinodegangers gaan energie nodig hê vir die vol program wat hierdie dag voorlê.

Eerste op die program was ’n paneelbespreking oor die akademiese sy van teologiese opleiding. Die gesprek wat gevolg het, het ’n soort mikrokosmos gebied van die groter gesprek oor teologiese opleiding in die breë kerk en geskied binne die verdere konteks van ’n skerp daling in die opname van NG teologiese studente by teologiese fakulteite.

Verskeie stemme uit die gehoor van meer as 300 predikante, kerkraadslede en ook ’n paar teologiese studente het meermale hulle waardering uitgespreek vir die “goeie werk” wat by hierdie akademiese instelling gedoen word – een met wie hierdie sinode ’n besondere band het wat terugdateer tot 1938.

Nie dat daar nie teologiese verskille onderling is nie, maar dit blyk ’n sterk minderheid te wees. In hierdie sinodale streek met meer as 100 gemeentes is daar net ses wat aandui dat hulle doleer. Kommer oor teologiese opleiding aan universiteite (waar die kerk se stem een van vele in ’n akademiese omgewing is), is een van die kernpunte vir dolerende gemeentes.

Studente uit meer as 32 verskillende kerke studeer aan die Universiteit van Pretoria se Fakulteit Teologie en Religie. In 2018 het die Fakulteit vir al die voorgraadse kursusse 225 voorgraadse studente gehad. In 2019 was daar sowat 308 en in 2020 sowat 407. Die NG Kerk se studente ingeskryf vir BDiv was 36 in 2018 en sowat 40 in 2019 met die telling vir 2020 wat by 41 gaan draai het.

Die besinning oor die akademiese sy van teologiese opleiding volg op twee gesprekke wat reeds vroeër die week gevoer is oor die waarde van voortgesette teologiese opleiding en “kerkeie teologiese opleiding”, wat probeer om ’n brug te slaan tussen akademiese opleiding en die praktyk in die NG Kerk.

Dr Fanie Cronjé, ’n prominente deelnemer aan die gesprek, het gesê hy beleef onderlinge verhoudings in die Noordelike Sinode is sterk ondanks verskille: “… ons groet mekaar selfs al weet ons dat ons van mekaar teologies verskil en ons het regtig respek vir mekaar.”

Vroeër die week is ’n Pierneef-skildery van ’n kremetartboom, die kenteken van die sinodestreek, deur Sonop, een van UP se oudste manskoshuise, aan die sinode oorhandig. Die koshuis was vir dekades in besit van die NG Kerk.

CMR-Noord: Storm woed voort

Ook die storm wat woed rondom die kerklike maatskaplike diensorganisasie (CMR-Noord) is bespreek. “… (Die storm) woed nog steeds,” sê ds Danie Janse van Rensburg, wat as voorsitter van die organisasie se beheerraad deel was van ’n hofbevel wat hulle by die Hooggeregshof ingedien het om kapsie daarteen te maak dat die staat se departement maatskaplike ontwikkeling hulle kinderbeskermingstatus vroeg vanjaar teruggetrek het. Die departement het CMR met daardie optrede “heeltemal onverhoeds gevang,” aldus Janse van Rensburg.

Hoewel dit ’n ligpunt is dat hierdie status intussen tydelik herstel is in afwagting van die hofuitspraak (wat hy hoop binnekort sal volg), het dit meegebring dat die organisasie nie hulle jaarlikse staatsubsidie ontvang het nie wat neerkom op ’n “astronomiese verlies” van sowat R7 miljoen, bykans die helfte van hulle jaarlikse inkomste, aldus Janse van Rensburg.

Dié substansiële verlies aan inkomste het meegebring dat hulle 14 van hulle personeel moes afdank en hulle statutêre werk drasties afskaal met 800 kinderhofsake wat onder meer terugverwys moes word.

Hy en dr Ronel Aylward, die organisasie se uitvoerende hoof, het egter die versekering gegee dat hulle werk voortgaan om hoop te bring in gemeenskappe in hierdie uitgebreide streek. Geen van hulle maatskaplike dienssentrums of kantore gaan gesluit word nie.

Dit kom na Rapport vroeër onder meer berig het die departement het die organisasie se kinderbeskermingstatus teruggetrek in reaksie op talle klagtes van ouers wat ongelukkig is oor die manier waarop maatskaplike werkers by CMR-Noord met die verwydering van hulle kinders opgetree het.

Janse van Rensburg het ook genoem dat hy saam met ’n afvaardiging van kerkleiers Rapport se redakteur, Inge Kühne, gaan sien het oor die publikasie se beriggewing oor sake soos hierdie.

SGV: Besluit oor die AS se 2019-besluit …

Tydens die middagsessie het die vergadering ’n koersveranderende voorstel met ’n groot meerderheid groen stembriefies aanvaar. Ds Attie Nel, assessor van die SDR, het die voorstel gebring nadat ’n beskrywingspunt wat deur die Ring van Louis Trichardt gebring is, verwerp is.

Laasgenoemde se beskrywingspunt het onder meer aanbeveel “die sinode erken die onuitvoerbaarheid van die Algemene Sinode se 2019-besluit met betrekking tot selfdegeslagverhoudings.

Die aanvaarde voorstel lui “(Noordelike Sinode) neem kennis dat die Algemene Taakspan Regte die besluit van die AS-2019 rakende selfdegeslagverhoudings ’n prosesbesluit is … (waarvan) die uitvoering sekere uitdagings bied en gee erkenning aan gemeentes en predikante wat hard werk om hierdie uitdagings die hoof te bied.”

Dit lui verder dat die sinode hulleself “verbind om saam met individue en gemeentes na maniere te soek om mekaar te bly vashou” en ook dat die sinode “die feit (betreur) dat daar weereens oor mense gepraat word en nie met hulle nie.

  • Die dag sluit af met ’n jeugpaneelbespreking en daarna die afkondiging dat ds Lizl-Louise Schoeman as die nuwe assessor (ondervoorsitter) van die SDR verkies is. Die nuwe moderator (voorsitter) en twee addisionele lede op die SDR se dagbestuur word Donderdag verkies waarna die sitting gaan verdaag.
  • Dié berig ná publikasie vir akkuraatheid aangepas.

Kommentaar

Met hierdie besluite ontken die Noordelike Sinode die hoofbesware van behoudendes:

  • Dat ruimte gemaak word vir selfdegeslagverhoudings
  • Dat die teologiese fakulteite wegbeweeg het van gereformeerde teologie

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui