Die vier Evangelies

Die volgende artikel is deel van die volgende reeks: Lees die vier evangelies kronologies deur, deur Chris van Wyk.

*******

Die vier Evangelies | Bybelskool

Deur Chris van Wyk

17 Januarie 2019

Prontuit die Waarheid 2

Welkom by die tweede bydrae van Prontuit die Waarheid. Vandag se bydrae gaan oor die vier evangelies self met ’n verduideliking van die opeenvolgende sinopsis wat ek geskep het. Volgende week sal ek bydrae drie stuur wat dan die eerste 5 perikope sal bevat met my kommentaar ingesluit. Daarna sal daar weekliks op Donderdae ’n bydrae kom oor 5 verdere perikope.

Vier evangelies

Daar is groot ooreenkomste tussen die verhale en verkondiging van Matteus, Markus en Lukas. Hierdie drie evangelies word daarom die Sinoptiese Evangelies genoem. Sinopties beteken “oorsigtelike, samevattende hantering”. Dit kom van die Griekse woord wat “saam-kyk” beteken.

Dit is verder duidelik dat Matteus en Lukas groot dele van Markus in hulle evangelies gebruik, hoewel elkeen volgens sy eie indeling. Matteus wissel die verhale uit Markus met vyf uitgebreide leringe van Jesus af. Lukas volg min of meer die raamwerk van Markus, en brei dit uit met sy eie materiaal.

Slegs drie gedeeltes in Markus kom net in sy evangelie voor: die inleiding tot sy evangelie (Mark 1:1); die gelykenis van die saad wat vanself groei (Mark 4:26-29); Jesus wat ’n blinde man in Betsaida genees (Mark 8:22-26). Die res is alles ingesluit in Lukas en Matteus.

Dit laat ons vermoed dat Markus se evangelie eerste geskryf is. Matteus en Lukas kon dit dus gebruik in die evangelies wat hulle geskryf het. Dit is egter ook duidelik dat hulle nog ‘n ander, maar onbekende, bron se materiaal gebruik. Moontlik selfs ‘n geskrewe bron wat gewoonlik Q genoem word, afgelei van die Duitse woord Quelle wat bron beteken. Hierdie ooreenkomste tussen die twee evangelies, Matteus en Lukas, beslaan 62 perikope in hulle skryfwerk.

Hierdie twee evangelies het daarbenewens ook materiaal wat uniek is aan hulle en nie ook in die ander evangelies voorkom nie. Matteus het 29 sulke eie unieke perikope materiaal. Lukas het 37 eie unieke perikope materiaal.

Die evangelie van Johannes het hierteenoor ‘n heeltemal unieke aanpak deurdat hy baie meer teologies te werk gaan in sy weergawe van Jesus se wonders, woorde en werke.

Waar die ander drie evangelies die gebeure rondom Jesus in die geskiedenis vasanker met historiese en OT verwysings, vertel Johannes eerder die betekenis van Jesus se wonders, woorde en werke. Trouens, hy noem die wonders wondertekens om die teologiese funksie daarvan te beklemtoon. Die wonders van Jesus word daardeur woorde wat sy betekenis onderstreep.

Johannes se evangelie komplementeer daarom die verhale van die ander evangelies met diep teologiese inhoud. Daarom kies Johannes verhale van Jesus wat nie net die storielyn beklemtoon nie, maar veral die boodskap van Jesus vir sy lesers oopmaak.

Dink aan Jesus se gesprek met Nikodemus wat die wonder van God se liefde uitspel en die Gees se werk om gelowiges “van bo” te verander beklemtoon (Joh 3). Dink aan Jesus se gesprek met die Samaritaanse vrou by die put en die wyse waarop gewone water ‘n simbool word van die lewende water wat Jesus gee (Joh 4).

Dink aan Jesus se “Ek is”-uitsprake verspreid deur sy evangelie wat Jesus nie net verbind aan Jahwe in die OT nie (Eks 3:14), maar sewe verdere kante van sy betekenis vir ons in konkrete beelde uitlig: Ek is die brood van die lewe; Ek is die lig vir die wêreld; Ek is die hek van die skape; Ek is die Goeie Herder; Ek is die opstanding en die lewe; Ek is die weg en die waarheid en die lewe; Ek is die ware wingerdstok.

Dink aan die diep teologiese inhoud van sy lering aan die dissipels op pad na Getsemane wat hulle paraat maak vir die stryd in die wêreld wat vir hulle wag, deur nie net klem te lê op die werk van die Gees nie, maar direk en persoonlik vir hulle in gebed in te tree (Joh 14-17).

Nie dat Johannes heeltemal onafhanklik van die ander evangelies geskryf is nie. ‘n Sterk saak kan uitgemaak word dat Johannes die evangelie van Markus geken het en trouens kommentaar gelewer het op van die dele in sy evangelie wat vir misverstand vatbaar was.

Daar is ‘n paar opmerkings in Johannes wat lyk asof dit bedoel is om verduidelikings te gee vir lesers wat bekend was met Markus se evangelie (Richard Bauckham, John for Readers of Mark).

Johannes se verduideliking in Johannes 3:24 lui bv as volg: “Op daardie tydstip was Johannes nog nie in die tronk gegooi nie.” Dit is nadat hy vertel het dat Jesus en sy dissipels na die Judea-gebied vertrek het. Hulle het daar oorgebly en mense gedoop, terwyl Johannes verder na die noorde ook besig was om te doop by Enon, in die omgewing van Salim. Daar was meer water en die mense het daarheen gestroom om gedoop te word.

Dit kan verbind word met Markus se kronologie in Markus 1:14 waar hy skryf: “Later, nadat Johannes gearresteer is, het Jesus na Galilea toe gegaan om God se Goeie Nuus aan te kondig.” Johannes maak meer sin as ’n mens aanvaar dat mense geweet het van Markus se weergawe en dat Johannes seker wou maak dat hulle verstaan dat hierdie deel van Jesus se bediening vóór Markus se weergawe van die begin van Jesus se bediening gebeur het. Dit beteken ook dat lesers gemaklik Johannes se evangelie se gedeelte in hoofstuk 1:19-4:43 kon inpas tussen Markus 1:13 en 14.

Hoe dit ook al sy, en dit is die wonder hiervan, dit is in die saamlees van al die verskillende perspektiewe en nuanses dat ’n veelkleurige prentjie vorm aanneem, ’n beeld van Jesus waarmee ons in gesprek kan tree, en met Wie ons op reis kan gaan.

Die vier evangelies gee dus vir ons ‘n dinamiese beeld van die verhaal en verkondiging van Jesus. Hulle verweef elkeen op sy eie unieke manier die storielyn en die boodskap van Jesus. Daarmee vertel hulle ons prontuit die waarheid oor die Here Jesus Christus.

Die evangelie van Lukas

Lukas plaas die verhaal van Jesus in die konteks van die wêreldgeskiedenis en brei uit oor die impak wat Jesus se geboorte en dié van sy (agter)kleinneef Johannes die Doper op hemel en aarde gehad het (hfst 1-3). Die res van die evangelie van Lukas se verhaal ontplooi geografies, soos Markus s’n.

  • Hoofstuk 4:14-9:50 speel grotendeels af in Galilea, meesal in die platteland, met die klem op die impak van Jesus se woorde en wonderwerke. Sy bediening is goeie nuus vir die armes. Die heidene word selfs ingesluit in sy bediening. Sy verwerping deur veral die Joodse leiers is egter ook ‘n groeiende werklikheid.
  • Hoofstuk 9:51-19:44 speel af “op pad na Jerusalem”. Jesus begin die reis “vasbeslote” (Luk 9:51). Hy versamel steeds dissipels om Hom, en daag almal uit met sy onderrig.
  • Hoofstuk 19:45-24:53 speel in die stad Jerusalem af waar Jesus uiteindelik verwerp en gekruisig word deur die Joodse leiers. Die wrede boodskap van die kruis word deur die opstanding uit die dood egter die reddende boodskap vir hierdie wêreld. Daarom eindig die evangelie met Jesus se hemelvaart en die dissipels se vreugde.

Die boek Handelinge sit die verhaal van die redding wat Jesus bring, voort en fokus op die uitstorting van die Heilige Gees en die verkondiging van die evangelie aan al die nasies regdeur die bekende wêreld van sy tyd.

Die evangelie van Markus

Markus vertel die verhaal van Jesus van sy doop tot sy dood met ‘n kort proloog oor Johannes die Doper (hfst 1:1-8) en ‘n kort epiloog oor Jesus se opstanding, verskynings en hemelvaart (hfst 16):

  • Jesus se bediening in Galilea – hfst 1:9-8:26;
  • Jesus se reis na Jerusalem – hfst 8:27-10:52;
  • Jesus se finale week in Jerusalem – hfst 11:1-15:47

Markus se boek is amper volledig gebruik as bron deur Lukas en Matteus.

Die dissipels vervul ’n baie belangrike rol in Markus se vertelling van die evangelie. Dit is belangrik vir Markus om aan te toon dat hulle van die begin af saam met Jesus is. Daarmee beklemtoon hy die noodsaak van dissipelskap vir alle volgelinge van Jesus. Daarmee kan ons, die lesers, identifiseer. Die verhaal betrek alle lesers as dissipels.

Die evangelie van Matteus

Matteus verweef op ’n baie integrale manier die oorgelewerde verhale oor Jesus met sy verkondiging:

  • Verhale: Geboorte – hfst 1-2; Voorbereiding (doop en versoeking) – hfst 3-4; Wonders – hfst 8-9; Gesprekke met teenstanders – hfst 11-12; Wonders en strydgesprekke met Fariseërs – hfst 14-17; Bediening in Galilea – hfst 19-20; Bediening in Jerusalem: gelykenisse en gesprekke – hfst 21-22; Lyding: nagmaal, verhoor en kruisiging – hfst 26-27; Opstanding: verskynings en uitsending – hfst 28.
  • Verkondiging: Bergrede – hfst 5-7; Onderrig aan dissipels – hfst 10; Gelykenisse van die koninkryk – hfst 13; Verhoudinge in die kerk – hfst 18; Koms van die koninkryk – hfst 23-25.

Dit gee aan die historiese gegewens van Jesus se lewe, bediening, kruisdood en opstanding ’n sterk verkondigingskarakter.

Met die verhale oor Jesus gekoppel aan sy verkondiging wil Matteus dus sy lesers beweeg om nie net te glo in Jesus op grond van sy woorde nie, maar Hom na te volg in alles wat Hy gedoen het, soos Matteus dit inderdaad self gedoen het.

Die evangelie van Johannes

Johannes vertel die verhaal van Jesus, die mens-geworde God, met die oog daarop om die waarheid daarvan te bevestig, dit teologies te interpreteer, en lesers wat ná die opstanding van Jesus en die uitstorting van die Heilige Gees lewe, tot geloof te beweeg. Jesus is immers die Waarheid!

Johannes draai nie doekies om nie, maak sy punt helder en duidelik. Elkeen wat hierdie boodskap hoor, word tot geloof opgeroep, soos die verhaal van Nikodemus illustreer (Joh 3). En tog verkondig Johannes hierdie waarheid sonder om jou te vervreem. Want, soos Jesus, begrond hy sy appèl in die liefde en deernis van God.

Die evangelie het ’n proloog wat op Jesus as die gestuurde Woord van God fokus (1:1-18) en ‘n epiloog wat op die dissipels se uitsending fokus (21:1-25) met die verhaal van Jesus wat in twee dele vertel word:

  • Die publieke Joodse bediening van Jesus met ’n fokus op wondertekens wat sy ware identiteit as die Seun van God openbaar binne die konteks van die Joodse feeste – hfst 1:19-12:50.
  • Die persoonlike bediening van Jesus aan sy dissipels wat uitmond in sy verheerliking deur sy lyding, kruisdood en opstanding as publieke getuienis aan die wêreld binne die konteks van Jesus se viering van sy laaste Paasfees op aarde – hfst 13:1-20:31.

‘n Opeenvolgende sinopsis van die vier evangelies

Dis is so dat daar ‘n interne logika is waarvolgens die materiaal van elke evangelie georden is. Dit is duidelik uit bogenoemde raamwerke van die onderskeie evangelies. Dit bly dan ook die primêre manier om die evangelies te lees.

Dit is egter nie maklik om ’n geheelbeeld van die verhaal en verkondiging van Jesus te vorm uit die bydrae van elke individuele evangelie nie. ‘n Mens het een of ander vorm van sinopsis of harmonie van die onderskeie evangelies nodig om daarmee te help.

Dit is waarmee ek graag wil help, al is dit net ‘n sekondêre manier van lees. Ek wil in die gesamentlike lees van al vier evangelies vir jou help om ‘n geheelbeeld te begin vorm van die storielyn van Jesus sowel as sy boodskap.

Só ‘n lees van die evangelies is al baie onderneem. Daar is twee breë maniere waarop die vier evangelies as ‘n eenheid deur die eeue gelees is, as ‘n harmonie óf as ‘n sinopsis. In ‘n harmonie word die tekste op verskillende maniere georganiseer sodat een verhaal daaruit gevorm kan word. In ‘n sinopsis word die tekste parallel met mekaar georganiseer sodat dit vergelyk kan word. Die terme word egter ook uitruilbaar gebruik.

Die vroegste weergawe van ‘n harmonie kom al uit die 2de eeu vC, die Diatesseron van die Assiriese Christen Tatianus uit ongeveer 170 nC. Dit is ‘n radikale harmonie, omdat hy ‘n enkele verhaal van die materiaal van die evangelies geskep het wat egter alle duplikate uitgesny het en ter wille van die vloei van die teks ook aan die teks verander het. Dit het daarom net sowat 72% van die vier evangelies self bevat: 2769 van die totale aantal van 3780 verse in die vier evangelies. Jy kan die Diatesseron hier lees.

Van groot waarde was die sinopsis wat die Christen filosoof Ammonius in die 3de eeu nC geskep het. Ons het nie meer sy publikasie nie, net verwysings daarna, maar sy werk word erken as basis vir die tabelle wat die kerkhistorikus Eusebius vroeg in die 4de eeu vC opgestel het en waardevolle kruisverwysings verskaf. Dit word dan ook die Eusebius Tabelle of Kanons genoem. Hierdie werk het die teks in tien dele parallel met mekaar ingedeel sodat jy die tekste met mekaar kon vergelyk. Jy kan dit hier lees. Eusebius se tabelle het die basis gevorm vir soortgelyke weergawes deur die eeue. Eusebius was ook bekend vir sy kerkgeskiedenis in tien volumes van die kerk in die eerste vier eeue.

Augustinus het ook sy hand daaraan gewaag en die Harmonie van die Evangelies, in vier boeke, in die 5de eeu nC geskrywe. Dit gebruik die evangelie van Matteus as basis, en verduidelik as ‘n soort lopende kommentaar daarop die ooreenkomste en verskille met die ander evangelies met die oog op ‘n sintetiese harmonie. Hy hanteer die unieke tekste van Markus, Lukas en Johannes in ‘n aparte deel. Hy verwys dus na al die tekste. Ongelukkig gee hy nie ‘n tabel van die ooreenkomste en verskille tussen die tekste nie. Jy kan dit hier lees.

Daar is talle soortgelyke werke vandag beskikbaar wat fokus op ‘n harmonie van die evangelies: AT Robertson se A Harmony of the Gospels for Students of the Life of Christ (1950); JM Cheney en M Johnston se The Life of Christ in Stereo (1969); JM Cheney, M Johnston & S Ellisen se The Greatest Story (1994); S Cox & K Easley se HCSB Harmony of the Gospels (2007); J Peyton se The NET Bible Synthetic Harmony of the Gospels (2015); S Robert se In the FOOTSTEPS of Jesus: A chronological journey through the gospels set in the geography, politics, people, power, culture and history of the day (2017).

Die bekendste sinopsis vandag is die publikasie van Kurt Aland van 1985, Synopsis of the Four Gospels, wat wyd gebruik word. Hy het die volle Griekse teks met sy tekskritiese apparaat in ‘n parallelle formaat gepubliseer wat ‘n vergelykende lees van die vier evangelies maklik maak. Verskillende vertalings is ook in verskillende weergawes daarvan ingesluit. Talle publikasies daarna het dít as basis gebruik. Vergelyk bv Gregory White se publikasie The NET Bible Synopsis of the Four Gospels (2004) wat Aland se indeling gebruik. Jy kan dit hier lees.

Daar is ook ‘n parallelle harmonie in Afrikaans gepubliseer deur PJ Coetzee, In die voetspore van Jesus – die parallelle Evangelies chronologies geharmoniseer (1974). Dit gebruik die 1933/53 Afrikaanse vertaling en plaas die tekste parallel met mekaar vir maklike vergelyking en harmonisering van die ooreenkomste en verskille. Dit gee ook handige opsommings van die Joodse kalender en feeste, die belangrikste gebeure in die Evangelies, Jesus se wonderwerke, gesprekke en gelykenisse. Sy indeling word in tien dele gedoen.

Ek wil hierby aansluit, maar tog ‘n eie weg opgaan.

Ek het die perikope van al vier evangelies (535 volgens my indeling) so ver moontlik kronologies gerangskik om jou ’n aaneenlopende prentjie te gee van die voortgaande verhaal en verkondiging van Jesus.

Ek sluit die materiaal wat in meer as een evangelie gebruik word egter nie parallel in nie, maar opeenvolgend. Dit gee jou geleentheid om die verskille as verskillende perspektiewe op dieselfde gebeurtenis te lees.

Ek hoop om met dié opeenvolgende sinopsis jou te help om die verhaal en verkondiging van Jesus beter te begryp vanuit die opeenvolgende gebeure van sy geboorte en kinderjare, sy lewe en bediening, sy kruisiging en dood, en sy opstanding en hemelvaart.

  • Ek hoop dat jy so ‘n beter begrip sal kry van die storielyn van Jesus.

In die proses sal jy ook Jesus se prediking en lering, sy gelykenisse en strydgesprekke, en sy profesieë en opdragte binne konteks kan interpreteer.

  • Ek hoop dat jy so ‘n beter begrip sal kry van die boodskap van Jesus.

My doel daarmee is dus dat jy met só ’n lees van die vier evangelies ’n oorhoofse beeld van beide Jesus se verhaal as sy verkondiging kan kry.

Ek gebruik die teks van die Afrikaanse Standaard Vertaling (ASV – 2014),’n bronteksgeoriënteerde vertaling in vloeiende, goed verstaanbare Afrikaans, en het die volgende werkswyse vir die indeling gevolg:

  • Ek het die perikope hoofsaaklik ingedeel volgens die orde van die evangelie van Lukas. Ek begin dus met sy bevestiging van die betroubaarheid van die verhaal van Jesus, eerder as met die Proloog van Johannes, soos talle ander dit doen.
  • Ek het die ooreenstemmende perikope uit die ander drie evangelies hoofsaaklik aan die hand van Lukas se orde ingedeel. Dit word egter ná mekaar ingedeel sodat elkeen na waarde geskat en vanuit die perspektief van die onderskeie evangelies self gelees kan word.
  • Ek het die orde van die evangelie van Markus gevolg waar Lukas sy materiaal nie gebruik het nie (bv Mark 7-8).
  • Ek het die orde van die evangelie van Matteus gevolg, waar hy Jesus se verkondiging meer volledig weergee, bv die Bergrede (Matt 5-7) en die Profetiese rede (Matt 24-25).
  • Ek het die evangelie van Johannes se eie unieke materiaal bygevoeg waar dit min of meer na my mening kronologies die beste pas, gebaseer op Johannes se tydsaanduidings.
    • Johannes 1:1-18 plaas ek as ‘n kommentaar op die geboorte en grootword verhale van Jesus van Lukas 2 en Matteus 2.
    • Johannes 1:19 tot 4:54 plaas ek direk ná die versoekingsverhale in Lukas 4 (Mark 1:12-13; Matt 4) en kombineer dit met die verhale van die ander evangelies. Dit is duidelik uit Johannes se verhale dat Jesus ná sy doop en dus ook ná die versoeking nog in die omgewing van die Jordaan was. Dit verklaar die getuienisse wat Johannes die Doper lewer, en van die ander gesprekke met van sy dissipels, wat duidelik ná Jesus se doop plaasvind (Sien ook Foreman, Locating the Baptism of Jesus).
    • Johannes 5 plaas ek by Lukas 7:18 vv waar Johannes die Doper aan Jesus ‘n vraag laat stel. In Lukas volg dit op die verhaal van die ete in die Fariseër se huis waar die sondige vrou Jesus se voete salf. Ek plaas dit hier, omdat volgens hierdie weergawe van Lukas dit lyk asof die dissipels van Jesus op dié stadium nie saam met Hom is nie. Hulle is weer in sy geselskap van Lukas 8 af. Dieselfde geld die verhaal in Johannes 5 wat net meld dat Jesus vir die fees Jerusalem toe is waar Hy die man by Betsata genees en oor sy gesag met die Jode praat. Jesus se dissipels is eers weer by Hom van Johannes 6 af.
    • Johannes 6 plaas ek by die eerste broodvermeerderingsverhaal van Lukas 9 en die ander evangelies. Dit is duidelik dieselfde verhaal waarvan Johannes vertel.
    • Johannes 7 tot 10 plaas ek ‘n paar maande voor die voorbereidings vir die Intog in Jerusalem aan die einde van Markus 9. Jesus het volgens Johannes in Oktober die Huttefees in Jerusalem bygewoon (Joh 7:10) en was steeds daar ‘n paar maande later vir die fees van die tempelwyding (Hanukkah) in Desember (Joh 10:22) waarna Hy na die Jordaan toe is met sy dissipels (Joh 10:40). Markus vertel ook vir ons van dié tyd by die Jordaan (Mark 10:1).
    • Johannes 11 se verhaal van die opwekking van Lasarus in Betanië kom dan volgende aan die beurt, hoewel ons nie meer presies weet wanneer dit gebeur het nie. Jesus sonder Homself daarna in die woestyn by ‘n dorpie Efraim af (Joh 11:54) vóór Hy vir die laaste keer vertrek na Jerusalem (Joh 12:1). Ek plaas die hoofstuk dus net voor die laaste reis van Jesus soos Lukas dit vir ons vertel ter wille van ‘n logiese vloei in die verhaal (Luk 9:51 vv).
    • Johannes 12:1-11 plaas ek direk vóór die Intog in Jerusalem, aangesien Johannes aandui dat dit ses dae voor die Paasfees gebeur (Joh 12:1) en integreer die res van die hoofstuk met die ander evangelies se beskrywings van die Intog in Jerusalem.
    • Johannes 13 tot 17 plaas ek by die instelling van die nagmaal waar dit die meeste sin maak, al vertel Johannes nie vir ons direk van die nagmaal nie (Luk 22).
    • Johannes 18 tot 21 plaas ek by die ooreenstemmende gedeeltes in Lukas 20 tot 24 en die ander evangelies. Dit kan relatief maklik geïntegreer word.

Gebruik die Bybellees metodiek: Lees, luister, leef

Die Bybel moet ons lewe vorm. Daarom is dit nodig dat ons leer om die Bybel te leef terwyl ons dit lees. Daardeur hoor ons die stem van God in die Bybel, leer ons hoe om Jesus prakties te volg, en skryf die Gees ons in God se verhaal met die wêreld in.

Dit is dus noodsaaklik dat jy die Bybelteks self lees. God praat met ons daardeur. Die volledige Bybelteks is vir die doel ingesluit sodat jy primêr daarop kan fokus en net sekondêr op my kommentaar.

My kommentaar is net ‘n leeshulp op aspekte van die teks en konteks wat jou sal help met jou begrip van die Bybelteks en die betekenis daarvan vir jou lewe. Ek gaan deurgaans bydraes lewer oor die teks en konteks met ‘n paar gedagtes oor die betekenis en boodskap daarvan. Dit is net om jou gedagtes te stimuleer.

Ek stel voor dat jy die volgende lees-metodiek gebruik vir elke perikoop. Gebruik ‘n joernaal en skryf jou indrukke en insigte neer:

Lees:

  1. TEKS: Wat word gesê of beskryf en wie is betrokke?
  2. KONTEKS: Waar en wanneer het dit gebeur?

Luister:

  1. BEGRIP: Hoekom is dit geskryf?
  2. BETEKENIS: Wat ontdek jy, veral van Jesus?

Leef:

  1. DINK: Watter boodskap het jou ontdekking vir jou (insigte, beloftes, opdragte)?
  2. DOEN: Hoe kan jy daarop reageer?

Die proses sal gou só deel van jou manier van lees word, dat jy dit eintlik outomaties sal kan doen: lees, luister, leef.

535 perikope

Die leeswerk is opgedeel in 535 perikope. Ons gaan 5 perikope ‘n week lees. Dit sal dus ongeveer 2 jaar neem om daardeur te lees. As ‘n mens dit in een jaar wil deurlees, sal jy 2 per dag moet lees.

Ons kom gereeld elke Woensdagaand 18:00-19:00 bymekaar in die konsistorie van NGK Somerstrand om saam oor die betekenis van ons leeswerk van die storielyn en boodskap van Jesus te gesels.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui