Nie alle waardeverskuiwings is goed

*******

Nie alle waardeverskuiwings is goed | Netwerk24

Daniel Louw

Die Burger, 24 Augustus 2022

Lindie Koorts (13.08) probeer sê behoudendes in die NG Kerk (en seker ander kerke ook) moet selfdegeslagverhoudings aanvaar. Haar argument? Want daar was al baie waardeverskuiwings in die verlede. En dan noem sy slawerny, verbranding van hekse, vervolging van godsdiensgroepe, ensovoorts.

Die vraag is of alle waardeverskuiwings goed is? Sy noem byvoorbeeld ook #RhodesMustFall en #BlackLivesMatter as waardeverskuiwings. Is dit goeie waardeverskuiwings? Wat van waardeverskuiwings soos vryheid van spraak, wat tans erg bedreig word:

  • Jacques de Vos is as ’n jong dokter belet om meer as drie jaar te praktiseer omdat hy ’n vrou afgeraai het om ’n aborsie te ondergaan omdat hy aan haar gesê het ’n ongebore baba is ’n mens;
  • Chris van Wyk is by die Menseregtekommissie aangekla omdat hy homoseksualiteit met pedofilie vergelyk het;
  • Robert Malone is van Twitter en LinkedIn verbied omdat hy durf waag het om te sê daar bestaan groot vraagtekens oor die veiligheid van Covid-19-entstowwe.

Daar is nog meer waardeverskuiwings:

  • Pornografie is vrylik beskikbaar. Dit verwoes nie net die gebruikers van pornografie se lewe nie, maar ook dié van die pornografie-akteurs en kinders wat ontvoer word vir die bedryf;
  • Die moderne mens (kan jy glo!) kan nie eens meer definieer wat ’n vrou is nie. As jy so voel, is jy een en dit beteken dat ’n man as ’n vrou in sport kan deelneem. Klein kinders word selfs aangemoedig om onomkeerbare geslagsveranderinge te begin ondergaan;
  • Volgens die Wêreldgesondheidsorganisasie vind daar tans 73 miljoen aborsies per jaar plaas.

Is dit nodig dat ek nog voorbeelde noem van sommige van hierdie waardeverskuiwings? Dit is daarom dat sommige waardeverskuiwings “met storm en drang” aangepak moet word. Veral as hierdie waardeverskuiwings teenstrydig is met die Ontwerper se Handboek vir die lewe.

1 thought on “Nie alle waardeverskuiwings is goed”

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui