Wanneer is die Nuwe Testament geskryf?

Kyk ook:

Om die betroubaarheid van die Nuwe Testament te bevestig is dit belangrik om te weet wanneer dit geskryf is. Hoe nader dit aan die werklike gebeure geskryf is, hoe meer betroubaar is dit.

Dit is egter baie belangrik om te verstaan dat die datering van die Evangelies en ander Nuwe Testamentiese boeke op sy beste ’n intelligente raaiskoot is.

Watter Evangelie is eerste geskryf?

Die algemene reël is dat die kortste en minste uitgebreide weergawe van ’n boek waarskynlik die oorspronklike is. Hierdie beskrywing pas die beste by die Markusevangelie. Dit is egter nie ’n vaste, onveranderlike reël nie.

Die hedendaagse konsensus onder geleerdes kan soos volg verduidelik word: Markus, die kortste evangelie, is eerste geskryf en beide Matteus en Lukas het van Markus se basiese struktuur gebruik gemaak om hul eie evangelies op te stel. Matteus en Lukas het hul evangelies egter verder uitgebrei met sekere van Jesus se leringe wat blyk om reeds die rondte te gedoen het in mondelingse of selfs skriftelike vorm. Om egter ’n idee te gee van die verskillende sieninge oor die volgorde waarin die Evangelies geskryf is, kyk What Is the “Synoptic Problem” and Why Do Apologists Need to Know About It?

Wanneer is die Evangelies geskryf?

Dit word algemeen aanvaar dat Jerusalem in 70 nC verwoes is (kyk Siege of Jerusalem (70 CE)).

Jesus het die vernietiging van Jerusalem in al drie die sinoptiese Evangelies voorspel: Matteus 24:1-2, Markus 13:1-2, en Lukas 21:5-6. Hier volg Matteus 24:1-2: (1)Toe Jesus van die tempel af weggaan, het sy dissipels nader gekom en sy aandag op die tempelgeboue gevestig. (2)Maar Hy antwoord hulle: “Julle sien al hierdie dinge? Dit verseker Ek julle: Hier sal nie een klip op die ander bly nie; alles sal afgebreek word.”

Dus is dit logies om te aanvaar dat hierdie Evangelies almal voor 70 nC geskryf is[1]. Inteendeel, omdat daar nêrens in die Nuwe Testament melding gemaak word van die vernietiging van Jersulem nie, kan ons aflei dat die hele Nuwe Testament voor die vernietiging van Jerusalem in 70 nC geskryf is. Dit sluit die Johannesevangelie en Openbaring in. In die artikel Was Revelation written before or after the destruction of the temple in AD 70? word drie redes gegee hoekom Openbaring voor 70 nC geskryf is en nie 95 nC, soos baie glo, nie:

  1. Net soos dit onredelik is om te veronderstel dat iemand wat ’n geskiedenis van die Wêreldhandelsentrum in New York skryf sal nalaat om die vernietiging van die torings op 11 September 2001 te noem, so is dit ook onredelik om te veronderstel dat Johannes die boek Openbaring sou skryf sonder om die vernietiging van Jerusalem te noem.
  2. As Johannes die boek Openbaring in 95 nC geskryf het, is dit merkwaardig dat hy nie die vervulling van Christus se profesie oor die vernietiging van Jerusalem sou noem nie. Ons weet hoe algemeen die skrywers van die Evangelies vervulde profesieë uitgewys het met woorde soos: “So is vervul wat deur die profete gesê is.” (kyk bv Die Bybel oor die vervulling van profesieë)
  3. Nuwe Testamentiese dokumente – insluitende die boek Openbaring – praat van Jerusalem en die Joodse tempel ongeskonde, dus voordat dit vernietig is.

Daar is twee redes hoekom skeptici glo dat die Evangelies tussen 70 nC en 140 nC geskryf is en nie voor 70 nC nie:

  1. Bybelskeptici wil hê dat die Evangelies so laat as moontlik geskryf is omdat dit die betroubaarheid daarvan sal verminder.
  2. Skeptici glo nie in voorspellings nie omdat dit bonatuurlik is. Daarom beweer skeptici dat die voorspellings oor die vernietiging van Jerusalem in die sinopiese Evangelies nie vóórspellings was nie, maar náspellings was (in Engels, Postdictions). Die gevolg van hierdie siening is egter dat die skrywers van die Evangelies oneerlik was: hulle het dus die gebeure beleef en daarna geskryf asof hulle dit voor die tyd geweet het.

Paulus se briewe

Omdat Paulus in 64 nC gesterf het moes al sy briewe voor dit geskryf gewees het.

Vergelyking met ander antieke manuskripte

Selfs indien aanvaar word dat die Evangelies tussen 70 nC en 140 nC geskryf is, is dit steeds ordes beter as enige ander antieke manuskrip. Die volgende tabel uit How do other ancient texts compare to the New Testament? (deur Bill Pratt) vergelyk verskillende antieke manuskripte (MSS = bestaande manuskripkopieë):

Outeur Werke Datum geskryf Vroegste MSS Tydgaping #MSS
Homer Iliad 800 vC 400 vC 400 1757
Herodotus History 480-425 vC 10de eeu 1350 109
Sophocles Plays 496-406 vC 3de eeu vC 100-200 193
Plato Tetralogies 400 vC 895 nC 1300 210
Caesar Gallic Wars 100-44 vC 9de eeu 950 251
Livy History of Rome 59 vC – 17 nC Vroeg 5de eeu 400 150
Tacitus Annals 100 nC 850 nC 750-950 33
Pliny, the Elder Natural History 49-79 nC 5de eeu fragment: 1; Rem. 14-15de eeu 400 200
Thucydides History 460-400 vC 3de eeu vC 200 96
Demosthenes Speeches 300 vC Sommige fragmente vanaf 1ste eeu vC 1100+ 340
Griekse NT 50-100 nC 130 nC 40 5795

Die tabel illustreer dat die Griekse Nuwe Testament baie goed vaar met beide die tydgaping (40 jaar) en die aantal MSS (5795) in vergelyking met al die ander dokumente in die tabel. Maar die situasie vir die Nuwe Testament is selfs beter omdat ons nog nie al die MSSe van die Nuwe Testament in ander tale genoem het nie. Die totale hoeveelheid manuskripkopieë van die Nuwe Testament is ongeveer 5800 Grieks + 10000 Latyn + 8600 ander = 24000.

Die 8600 ander sluit onder andere die volgende in:

  • Armeens > 2000
  • Kopties ~ 1000
  • Goties = 6
  • Ethiopies > 600
  • Latyns > 10 000
  • Siriërs > 350
  • Georgies = 43
  • Slawies > 4000

Dit is dus baie duidelik dat die Nuwe Testament die betroubaarste antieke manuskrip ter wêreld is.

Ander bronne

Voetnotas

[1] Hier volg ’n opinie van Herman Grobler:

Ek dink op grond van die profetiese rede dat Markus en Mattheus voor die val van Jerusalem geplaas moet en Lukas daarna. (Ek laat Johannes eers buite rekening). Mattheus 24:15 en Markus 13:14 sê “wanneer julle die gruwel van die verwoesting sien staan” en Lukas 21:20wanneer julle Jerusalem met leërs omring sien“. Lukas se weergawe is waarskynlik beinvloed deur die beleg van Jerusalem waarin hy tereg die vervulling van die profesie gesien het.

Die Openbaring is waarskynlik tydens die regering van Nero geskryf; hy is in 68 nC dood, twee jaar voor die val van Jerusalem. Een van die belangriker verskille tussen die Openbaring en Johannes se ander geskrifte is dat die Openbaring in swak Grieks geskryf is en die ander geskrifte in goeie Grieks. Kritiese teoloë sê dat die geskrifte nie van dieselfde persoon kon kom nie. Wel, die ooreenkomste is sterker as die verskille en dui op dieselfde outeur. Die verskil in taal kan maklik verklaar word. Volgens die kerklike tradisie is die evangelie en briewe geskrywe toe Johannes baie oud was, so ongeveer 90 nC, dit wil sê meer as 20 jaar na die Openbaring. Nie net het Johannes waarskynlik nie ’n skriba tot sy beskikking gehad toe hy die Openbaring geskryf het wat hy wel tot sy beskikking gehad het toe hy die latere geskrifte geskryf het, maar hy het 20+ jaar gehad om sy Grieks te verbeter.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui