Die Koinonia-Sinode van die Kairosbeweging: Algemene Taakspan Regte adviseer

Kairos Netwerk het hierop reageer in Verklaring van Kairos Netwerk oor die ATR se advies oor die Koinonia Sinode (5 Mrt 2023)

Kyk ook Hoffie Hofmeyr skryf: Waarheen is die ASM op pad: Hoop of wanhoop? (10 Mrt 2023)

Kyk ook KOMMENTAAR onderaan.

*******

Die Koinonia-Sinode van die Kairosbeweging: Algemene Taakspan Regte adviseer | Kerkbode

Deur Kerkbode

3 Maart 2023

Grens.Pos (nuusblad van NG Kerk in Oos-Kaapland) berig op 3 Maart 2023 as volg: Tydens die onlangse vergadering van die Algemene Sinodale Moderamen (ASM) het die advies van die Algemene Taakspan Regte (ATR) oor die Koinonia Sinode van die Kairosbeweging gedien. Dit lui as volg en word aangehaal:

Die ATR adviseer as volg:

  1. Alhoewel die skrywes en/of uitnodigings waarvan die ATR kennis geneem het, deurspek is met bekende kerkregtelike woorde en terme, kan hierdie byeenkoms niks meer wees as ’n konferensie wat sake hanteer soos geadverteer.
  2. Terwyl terme soos “nasionale sinode”, “stigtingsvergaderings”, “amptelike vergadering” en “geloofsbriewe” onder andere gebruik word, kan daar tydens hierdie byeenkoms geen bindende besluite geneem word wat die NG Kerk raak nie.
  3. Die kerkorde maak voorsiening vir vier amptelike kerkvergaderings te wete kerkraad, ring, sinode en algemene sinode (Artikel 22, Kerkorde 2019). Slegs ’n ring, ’n sinode en die algemene sinode konstitueer aan die hand van geloofsbriewe van afgevaardigdes (Artikels 30.4, 33.4 en Reglement 4, Kerkorde 2019)
  4. Die ATR bevestig weereens dat lidmate, ampsdraers en gemeentes wat beswaard voel oor bepaalde besluite van die Algemene Sinode gebruik behoort te maak van die kerklike middele wat die kerkorde bied – kerklike middele soos revisie, hantering van kerklike geskille, prosedurele besware, beskrywingspunte en gravamina.
  5. Die ATR wys verder daarop:
    5.1 dat lidmate hulle lidmaatskap van ’n NG gemeente beëindig deur middel van ’n bedanking
    5.2 dat ’n gemeente kan uittree uit kerkverband (ring en sinode) met die gevolg dat lidmaatskap van die NG Kerk beëindig word wat ook ’n invloed het op diesulke predikante se bevoegdheid en die gemeente se voortbestaan. Sulke prosesse word deur die ring en sinode hanteer, in ag genome bv. die “universitas”-beginsel (Nota: die lidmate wat agterbly is die voortsetting van die gemeente)
    5.3 Sinodes kan met ’n konsensusbesluit uit die Algemene Sinode tree aan die hand van Artikel 37.
  6. Die ATR wys weer op die moontlike negatiewe gevolge vir lidmate en gemeentes indien ’n eie sinode of kerk tot stand sou kom:
    6.1 Die voortbestaan van die oorspronklike gemeente (“universitas”-beginsel)
    6.2 Verlies van lidmaatskap van die NG Kerk
    6.3 Verlies van bevoegdheid en gevolglike beroepbaarheid van predikante
    6.4 Die verlies van bates en eiendomme
    6.5 Verlies aan die groter kerkverband met historiese verbintenisse.

Hierdie advies het gedien by die ASM-vergadering van 28 Februarie tot 2 Maart 2023.

Kommentaar

Daniel Louw

As ‘n mens hierdie dokument van die ATR lees wonder ‘n mens met watter emosie dit geskryf is. Sommiges gaan so ver om dit as ‘n lys dreigemente te ervaar. ‘n Mens het egter nie ‘n keuse nie as om die dokument te neem vir die woorde wat daarin geskryf is, en nie ‘n emosie daaraan te koppel nie.

Dit is so dat die Koinonia Sinode reeds baie keer adverteer is deur die gebruik van “bekende kerkregtelike woorde en terme”. Die ASM het waarskynlik daarom vir die ATR gevra wat die kerkorde sê oor die beplande Koinonia Sinode en op grond daarvan het hulle die dokument uitgereik.

Die vraag wat ‘n mens moet vra is: Is die ATR se dokument korrek en objektief?

As ek as leek na die dokument kyk, lyk dit nie vir my of daar fout is nie.

As dit nie korrek en objektief is nie, dan het die leierskap van die Kairos Netwerk die verantwoordelikheid om hierdie dokument met feite te kritiseer.

Oor die “universitas”-beginsel

Dit is die eerste keer dat ek hoor van die “universitas”-beginsel. Mens kry ook nie baie daaroor op die internet nie. (Vir die wat ook daarna wil soek, probeer ‘n kombinasie van die volgende sleutelwoorde: “universitas, principle, property, voluntary association”.) Die ATR gebruik dit om te bedoel dat: “die lidmate wat agterbly is die voortsetting van die gemeente”. Met ander woorde, sou ‘n gemeente besluit om te skeur, is die lidmate wat agterbly die voortsetting van die gemeente en bly die gemeente se bates die eiendom van die lidmate wat nie wil skeur nie.

Hierdie beginsel maak op geen manier sin nie. ‘n Gemeente se eiendom is geregistreer onder die gemeente se naam wat deur die kerkraad bestuur word. Dus sou dit sin maak dat ‘n gemeente volledig sê oor die bates het en dat dit demokrasies bepaal word met ‘n meerderheid stem.

As ek dit egter reg verstaan is hierdie beginsel al in die verlede deur ‘n hof afgedwing wat veroorsaak het dat die meerderheid die bates moes agterlaat aan die minderheid.

Die Geloofsbond van Hervormde gemeentes (GHG) het egter ‘n weg daar rondom gekry en suksesvol van die Hervormde Kerk geskeur met behoud van bates.

Dit is onseker wat die ATR in punt 6 wil sê: “6. Die ATR wys weer op die moontlike negatiewe gevolge vir lidmate en gemeentes indien ’n eie sinode of kerk tot stand sou kom:” (eie beklemtonig)

Die daaropvolgende punte (6.1-6.3) geld vanselfselfsprekend in die geval van skeuring, maar tog sekerlik nie in die geval wanneer ‘n streeksinode Artikel 37 sou uitvoer nie, nog minder wanneer behoudendes ‘n “eie sinode” (die Koinonia Sinode) stig.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui