Dana Snyman: So lig het ek gevoel, so gou het ek geval

Kyk ook KOMMENTAAR onderaan.

*******

Dana Snyman: So lig het ek gevoel, so gou het ek geval | Netwerk24

Dana Snyman

04 Maart 2023 (Saterdag)

Ek het in st. 5 op ’n avontuurkamp die eerste keer tot bekering gekom.

Daar was net seuns op die kamp. Ons is in groepe verdeel en het in bungalows geslaap. Twee ooms was in beheer van ons: oom Tobie en oom Mike. Albei het weermagstewels gedra en het leerklappies oor hul horlosies gehad.

Bedags het hulle ons geleer hoe om met ’n kompas ’n roete deur die veld te volg. Hoe om die wilde vrugte uit te ken wat ’n mens kan eet. Hoe om in die nag dou in ’n plastieksak op te vang om te drink.

Saans ná ete wanneer ons moeg was en wou gaan slaap, moes ons in ’n lapa rondom ’n groot vuur bymekaarkom, dan het oom Tobie met ons gesels. Hy het veral oor die kommuniste met ons gepraat. Hoe die kommuniste godsdiens sal verbied en die kerke sluit. Sê jy jy glo aan die Here, smyt hulle jou in die tronk, alleen in ’n sel waar water op jou drup en drup en drup. Ná ’n paar dae sit hulle ’n lekker bord kos voor jou neer en sê jy kan dit eet, mits jy ophou om ’n Christen te wees en die Here verloën.

Al sulke dinge het oom Tobie vir ons vertel, dan het hy sy Bybel opgetel en oor die Here met ons gepraat.

Die eerste aand al het twee seuns hul hande opgesteek toe oom Tobie vra of enigeen van ons sy hart vir die Here wil gee. Elke aand daarna het nóg seuns hul hande opgesteek.

Dit het gevoel of ek oom Tobie en die ander seuns op die kamp teleurstel omdat ek nog nie tot bekering gekom het nie. Die vierde of vyfde aand toe gaan klop ek ook aan oom Tobie se deur. Hy was bly om te sien dis ek, en ek was bly om te sien hy is bly.

Ons het op sy bed gaan sit, toe vra oom Tobie of daar dinge is wat my pla. Ek het net geknik, te skaam om vir hom te vertel wat ek saans in my bed doen.

Die Here het vir my gelyktydig ver en vreemd en baie naby gevoel, ’n ou man met ’n baard iewers bokant ons wat alles weet wat ek dink en doen, hier, nóú, gereed om my te straf.

Toe ek sê ja, ek wil my hart vir die Here gee, toe glimlag oom Tobie en sê, kom ons kniel sommer hier by sy bed. Toe kniel ons naby waar sy stewels staan, met sy kouse opgefrommel daarop, vol klitsgras en witterig van die voetpoeier.

Toe begin ek met die Here praat, asof dit iemand diep in my is wat praat – ’n slegte iemand vol bose verlangens en gedagtes. Toe ek begin snik en huil, sit oom Tobie sy hand op my skouer en sê, Here, vergewe hierdie kind.

Lig, ek het so lig hier binne-in my gevoel toe ek uit oom Tobie se kamer stap – ’n gevoel wat gou verdwyn het. Gou het ek weer al die sondes gedoen wat ek daardie aand bely het.

Kommentaar

‘n Mens wonder wat is die punt wat Dana Snyman wil maak met hierdie skrywe.

Dit is duidelik dat die saad op die klipbank geval het:

Matteus 13

(5)’n Ander deel daarvan het op klipbanke geval, waar daar nie baie grond was nie, en dit het gou opgekom omdat die grond nie diep was nie. (6)Maar toe die son warm word, is dit verskroei, en omdat dit nie wortel geskiet het nie, het dit verdroog.

(20)Die man weer by wie daar op die klipbanke gesaai is, is hy wat die woord hoor en dit dadelik met blydskap aanneem. (21)Hy laat dit egter nie by hom wortel skiet nie, en hy hou nie lank uit nie. As hy ter wille van die woord verdruk en vervolg word, word hy gou afvallig.

Kyk ook Matteus 13:1-9 (Gelykenis van die saaier).

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui