Verklaring van Kairos Netwerk oor die ATR se advies oor die Koinonia Sinode

In die volgende verklaring reageer die Kairos Netwerk op Die Koinonia-Sinode van die Kairosbeweging: Algemene Taakspan Regte adviseer.

Kyk ook Hoffie Hofmeyr skryf: Waarheen is die ASM op pad: Hoop of wanhoop? (10 Mrt 2023).

Kyk ook KOMMENTAAR onderaan.

*******

Verklaring van Kairos Netwerk oor die ATR se advies oor die Koinonia Sinode

5 Maart 2023

Die Sentrale Werkgroep van Kairos Netwerk (KN) het kennis geneem van die advies van die Algemene Taakspan Regte (ATR) aan die Algemene Sinodale Moderamen (ASM) oor die Koinonia Sinode op 3-4 Mei 2023 wat deur KN byeengeroep word en wens om soos volg daarop te reageer:

  1. Die ATR se kritiek op ons kerkregtelike terme: Deur gebruik te maak van bekende kerktaal en kerkregtelike terme bevestig KN juis dat hulle binne die kerk op ‘n kerklike wyse wil handel. Hulle het doelbewus die term “sinode” gekies, omdat die Griekse woord waarvan dit afgelei is, beteken om mekaar op ‘n plek te ontmoet en van daar af die pad verder saam te loop. Dit staan juis lynreg teenoor die AS en ASM waar daar telkens gepraat word van ‘n “vasgelooptheid”, maw ‘n doodloopstraat waarin die AS hom tans bevind.
  2. Die ATR se bewering oor bindende besluite: In die gereformeerde tradisie begin alles by die plaaslike gemeentes wat elk volledig, maar nie alleen nie, kerk is. Dolerende en ander behoudende Skrifgebonde gemeentes en lidmate het aan KN die mandaat gegee om ‘n geleentheid te skep waar hulle saam kan besin en besluit oor die pad vorentoe. KN voorsien dat die besluite wat deur die Koinonia Sinode geneem gaan word, ook aan die deelnemende gemeentes voorgelê sal word vir goedkeuring. Dit staan lynreg teenoor die AS wat besluite vir die hele NGK neem sonder dat die gemeentes direkte inspraak het.
  3. Die ATR se foutiewe siening van geloofsbriewe: Ringe, sinodes en die Algemene Sinode het nie alleenreg op die gebruik van geloofsbriewe nie. Daar is talle voorbeelde wat die teendeel bewys, byvoorbeeld kerklike konferensies in die NGK, ekumeniese liggame en die destydse Dordtse Sinode (1618 en 1619) waar gereformeerde kerke byeen was wat besluite geneem het wat vandag nog kerke saambind en gesag het. Dit staan lynreg teenoor die AS wat konstitueer met geloofsbriewe vanaf sinodes en sinodale taakspanne sonder dat ‘n geloofsbrief van ‘n gemeente ingedien word.
  4. Die ATR oor ander kerklike middele wat kwansuis beskikbaar is: Die AS se Kerkorde maak voorsiening vir verskeie kerkordelike middele om beswaar te maak teen besluite van die AS, naamlik kennis van revisie, appèlle, beswaarskrifte, prosedurele besware, beskrywingspunte en gravamina. Al hierdie middele is veral sedert 2015 ruim beproef, maar het op niks uitgeloop nie. Dit word telkens op tegniese en ander gronde van die tafel afgevee sonder om aandag te gee aan die dringende sake waarom dit gaan. ‘n Onlangse versoek van KN gerig aan die ASM om mediasie te oorweeg as middel om ‘n oplossing te probeer kry, is ook sonder meer deur die ASM se dagbestuur van die hand gewys. Dit staan lynreg teenoor die 2019 AS wat bewustelik toegelaat het dat ‘n beskrywingspunt wat op onwettige wyse op die tafel geplaas was, die mees omstrede besluit van die AS geword het.
  5. Die ATR se totale wanbegrip oor die doel van die Koinonia Sinode: Die ATR se ongevraagde afdreiging met lidmaatskap, ampsbevoegdheid, bates, eiendom ens. toon duidelik aan waaroor dit grootliks vir die ATR en die ASM gaan. Vir die dolerende en ander behoudende Skrifgetroue gemeentes en lidmate gaan dit oor veel meer as dit. Dit gaan oor die verskeurdheid in die kerk omdat die Waarheid van God se Woord en die suiwer gereformeerde leer al hoe meer geminag word – dit gaan oor ‘n biddende getuienis, oproep tot reformasie asook ‘n eerlike soeke na egte eenheid in die waarheid. Dit staan lynreg teenoor die AS, ASM en ATR wat volhard in selfregverdiging en selfhandhawing ten alle koste.
  6. Die ATR se taktiek van gogga maak vir baba bang: KN doen gevolglik ‘n beroep op lidmate, ampsdraers en gemeentes om hulle nie in die kairos tyd, die tyd van dringende beslissings, deur die ATR en ASM te laat afdreig nie. In ons opregte soeke na herstel in die NGK, moet ons die woorde van Petrus onthou: “Ons moet eerder gehoorsaam wees aan God as aan mense.” (Hand 5:29)

Kommentaar

Daniel Louw

Kairos Netwerk se verklaring het geen van die feite genoem in die ATR se skrywe gekritiseer nie, dus aanvaar ‘n mens dat die ATR se feite korrek is.

Ek verstaan nie die stelling dat die ATR ‘n taktiek van gogga maak vir baba bang gevolg het nie. Al wat hulle gesê het is dat indien ‘n gemeente uit die kerkverband tree (met ander woorde, skeur), is die volgende die implikasies:

  1. Die lidmate van daardie gemeente se lidmaatskap word beëindig.
  2. Die predikant verloor sy predikantstatus binne die NG Kerk omdat hy ook in effek uit die NG Kerk bedank.
  3. Die bates van die gemeente bly die eiendom van die lidmate in die gemeente wat nie wil skeur nie (volgens die “universitas”-beginsel)

Punt 1 en 2 hierbo is voor die handliggend. Dit is egter jammer dat KN in hulle reaksie niks gesê het oor die “universitas”-beginsel nie. Moet ‘n mens dus aanvaar dat hierdie ook korrek is?

Dit is natuurlik so dat KN al etlike kere gesê het dat skeuring nie op die tafel is nie, maar kom ons wees eerlik: skeuring lyk onvermydelik. Dit is waarskynlik daarom dat die ATR dit in punt 5 en punt 6 in hulle dokument genoem het.

Hierdie verklaring bespreek ook nie die onduidelikheid in punt 6 in die ATR se dokument, aan nie:

“6. Die ATR wys weer op die moontlike negatiewe gevolge vir lidmate en gemeentes indien ’n eie sinode of kerk tot stand sou kom:” (eie beklemtoning)

Punt 6 geld vanselfselfsprekend in die geval van skeuring, maar tog sekerlik nie in die geval wanneer ‘n streeksinode Artikel 37 sou uitvoer nie. Dit sal nog minder geld wanneer behoudendes ‘n “eie sinode” (die Koinonia Sinode) stig, wat in elkgeval nie kerkordelik erken word nie.

Dit is baie interesant dat die KN onlangs ‘n versoek aan die ASM gerig het om mediasie te oorweeg as middel om ‘n oplossing te probeer kry. Dit is jammer dat die ASM se dagbestuur dit van die hand gewys het. ‘n Mens aanvaar dat die pad vorentoe vir behoudendes bespreek sal word tydens die KS van 3 tot 4 Mei hierdie jaar.

1 thought on “Verklaring van Kairos Netwerk oor die ATR se advies oor die Koinonia Sinode”

  1. Die pad wat die KN loop is een van opregtheid en hartseer dat die AS leierskap regte “boelie-taktiek” gebruik om nét hulle siening op die tafel te sit.
    Die AS kan tog duidelik sien dat hier nie van “skeuring” ter sprake is nie, maar wel een van hartseer omdat húlle afwyk van die suiwer toepassing van die Woord van God. As ek so kyk na die gevolge van die AS se (veral) SGV – afwykings, is juis húlle aandadig aan die vernietiging van die NGK, wat juis deur KN in Liefde verhoed wil word. (Dankie dat die term “skeuring” nie in die KN strategie gebruik word nie; “suiwering” of “terugkeer na Jesus se Waardesisteem” is wel ter sprake.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui