Dagbestuur van NG Kerk se ASM moet bedank, eis Koinonia

Kyk ook:

Die volgende is geskryf na aanleiding daarvan dat die ASM (algemene sinode moderamen) nie mediasie aan die Koinonia Sinode toegestaan het nie. Kyk ook ASM sê nee vir mediasie.

Kyk ook KOMMENTAAR onderaan.

*******

Dagbestuur van NG Kerk se ASM moet bedank, eis Koinonia | Netwerk24

Inge du Plessis

31 Augustus 2023

Die Koinonia Sinode (KS) eis die onmiddellike bedanking van die dagbestuur van die NG Kerk se Algemene Sinode Moderamen (ASM). Dit sodat “leiers aangewys kan word wat meer besorg sal wees oor die belange van die NG Kerk as oor hul eie posisies, eer, belange en ideologiese oortuigings”.

Die ASM funksioneer in die termyn tussen gewone vergaderings van die Algemene Sinode (AS) as ’n gevolmagtigde werksvergadering waar die operasionele en bedryfsake van die AS behartig word, volgens die amptelike webtuiste van die NG Kerk.

Die KS voer aan dat die NG Kerk, ondanks sy roem op diversiteit en ruim-huis-benadering, nie bereid is om in ’n “ordentlike” mediasiegesprek te tree met verteenwoordigers van 56 NG gemeentes wat deel vorm van die KS nie.

Die KS het namens dié gemeentes ’n versoek om mediasie aan die ASM gerig.

Netwerk24 het vroeër berig een van die belangrikste beginselsake waarvoor die Kairos Netwerk veg, is die hantering van Skrifbeginsels in besluitneming oor sake soos selfdegeslagshuwelike in die kerk. Die NG Kerk se AS het in 2019 besluit gemeentes en kerkrade kan volgens hul eie diskresie handel om selfdegeslagshuwelike te voltrek.

Dr. Gustav Claassen, hoofsekretaris van die NG Kerk, sê die kerk neem slegs kennis van die “groepering” se jongste versoek.

“Die NG Kerk het ’n kerkorde waarin al die samestellende kerke, waaruit die 10 sinodes bestaan, met mekaar ooreengekom het hoe hulle met mekaar handel. Dit sluit onder meer in hoe griewe hanteer sal word én besware teen besluite,” sê hy aan Netwerk24.

Claassen sê die KS word nié deur die NG Kerk as ’n amptelike sinode beskou nie.

“Dié groep is nie deel van die samestellende kerke wat die AS uitmaak nie en het dus nie locus standi in dié verband nie.

“Dit beteken nie dat die ruimte vir gesprek vir hulle nie bestaan nie. As NG gemeentes kan hulle die kerklike weg volg om deur sinodes gesprek aan te vra of selfs beswaarskrifte na die AS te stuur,” sê Claassen.

Dr. Anton Knoetze, voorsitter van die KS en Kairos Netwerk, sê egter die vermelding dat die KS nie locus standi het nie, is “onsinnig” en “berus op ’n misverstaan van die kerklike orde”.

“Locus standi is nie ’n kerklike begrip nie, maar ’n term wat in die burgerlike reg gebruik word om verskyningsbevoegdheid in ’n hof te beskryf. In die kerk as geloofsgemeenskap word juis die toon van burgerlike regspleging vermy.”

Luidens ’n verklaring van die KS meen hulle dat taakspanne van die NG Kerk toenemend poog om buitegroepe soos LGBTQI+-bewegings, mediese dokters, wetenskaplikes, maatskaplike werkers, sielkundiges en lidmate van die Vrye Gereformeerde Kerke te betrek. “Almal het blykbaar locus standi behalwe die 56 NG gemeentes wat met hulle in gesprek wil tree oor hul dwaling.”

Volgens Claassen is die AS “altyd oop vir gesprek aan die hand van die remedies wat deur die kerkorde gebied word”.

“Daar is gemeentes wat dieselfde besware as dié groep het wat suksesvol deur kerkordelike weë deur sinodes oor hul besware in gesprek getree het. Die gesprekke was baie konstruktief en het positiewe gevolge gehad,” sê hy.

Die KS beweer die ASM het drie skriftelike versoeke vir ’n proses van “onpartydige mediasie” geweier.

“In die kerk is daar ook nie iets soos ’n informele vergadering nie. In die verlede het sulke ontmoetings op niks uitgeloop nie en daarom bied dit geen oplossing vir die probleme wat die AS deur sy besluite en optrede in die kerkverband en in gemeentes veroorsaak nie,” sê Knoetze.

Kommentaar

Daniel Louw

Die vraag is: watter positiewe resultaat kon in elkgeval uit ‘n mediasieproses verwag word.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui