Daar is nie ’n ‘Bybelse huwelik’ nie

Kyk ook:

Die volgende artikel het in Kerkbode verskyn.

Hierdie wys baie duidelik wat die gevaar is wanneer die fondasie van die Bybel (Genesis 1-11) verwyder word.

En dit wys weereens dat die teologiese fakulteite die NG Kerk gefaal het (kyk ook NG teologiese skole progay).

Kommentaar verskyn in [rooibruin blokhakies].

Kyk ook Chris van Wyk se kommentaar onderaan.

*********

Daar is nie ’n ‘Bybelse huwelik’ nie

Kerkbode, 19 Februarie 2016

Chris Jones

Só lank reeds word Genesis 2 beskou as ’n verklaring dat die huwelik ’n goddelike instelling is. Maar is dit werklik so? Waarskynlik nét as jy Genesis 2 as ’n histories-letterlike berig aanvaar. Daar is egter al hoe meer Bybellesers én Bybelverklaarders vir wie Genesis 1-11 verhale is wat iets verwoord van mense se soeke na wie hulle was en wat hulle rol in die wêreld behoort te wees. Die skeppingsverhaal (Gen 1) en tuinverhaal (Gen 2-3) is na alle waarskynlikheid eers tydens die Babiloniese ballingskap (of selfs daarna) geskryf. [Nee, dit is nie waar nie. Kyk gerus Het God evolusie gebruik om te skep, is Genesis 1-11 in ballingskap geskryf en was die sondvloed werklik ’n globale vloed?.]

Vir my is daar nie ’n sogenaamde “Bybelse huwelik” nie. Die huwelik as instelling is ’n sosiale konstruk wat kultureel en tradisioneel bepaal word. Hierom kan “alternatiewe” huwelike vir Christene as geldig aanvaar word.

[’n Mens kan dit slegs sê indien jy glo dat Genesis 1 ’n fabel is, dat die wette van Moses in Levitikus nie werklik deur God aan hom geopenbaar is nie en dat Paulus dinge oor die huwelik kwytgeraak het bloot omdat hy naïef genoeg was om te glo dat Genesis 1-11 letter gebeur het en dat God die wet bonatuurlik aan Moses openbaar het, dat dit nie vanuit sy eie wysheid gekom het nie. En dan wil ’n mens nie eers weet watter godslasterlike argumente Chris moet gebruik om om Jesus se eie woorde in Matteus 19:3-12 te kom nie…]

Kultureel gesproke twyfel ek of die mense van die Ou Testament (ooit), soos ons vandag, die huwelik as ’n juridiese verbintenis beskou het. Dit is nie die indruk wat ’n mens kry uit byvoorbeeld die aartsvaderverhale waarin ’n vrou – soms by ’n put – gaan haal word om die vrou van ’n aartsvader te word nie.

Die kulturele omgewing van die Ou Testament het nie die “monogame” huwelik geken soos ons dit in ons Westerse kulturele omgewing ken nie. As ons dus die Ou Testament letterlik wil toepas, sal ons moet teruggaan na byvoorbeeld poligamie, harems en die swaershuwelik. Daarom moet ons die uitleg van die Skrif sensitief benader.

[Alles wat in die Bybel opgeteken is, is nie noodwendig deur die Bybel goedgekeur nie. Dit is ’n baie wilde stelling om te sê dat die Ou Testament nie ’n monogame huwelik geken het nie. Kyk Does the Bible clearly teach monogamy?.]

Die Bybelse boeke en literatuur is grootliks menslike pogings om die mense van daardie tyd, hoe hulle die wêreld om hulle verstaan het en wat dit met hulle geloof in God te make gehad het, te beskryf. Toe mense byvoorbeeld agterkom dat hulle tot mekaar aangetrokke voel, ook seksueel, het hulle hierdie “onverklaarbare” werklikheid in ’n teologiese raamwerk probeer verstaan. Hulle het beskryf hoe God, na húlle mening, by hierdie fasette betrokke kon wees.

[So wat is nou waarheid? Wie moet ons glo? Lyk my elkeen kan maar glo wat hy wil.]

Ons kry dus nie in Genesis 2 ’n “oorsprongverhaal” nie. Dit is veel eerder ’n “teologiese waarnemings- of interpretasieverhaal”.

Die doel van Genesis 2 (en Gen 1) is daarom nie om al die “variasies op die tema” uiteen te sit nie. Hier word byvoorbeeld niks gesê oor hoeveel keer ’n man hom aan ’n vrou mag verbind nie. Dié gedeelte sê ook nie vir ons hoe die seremonie of ritueel waardeur hierdie verbintenis bevestig word, moet lyk nie. Hierdie Bybelgedeeltes laat ons nie toe om ’n spesifiek geformuleerde teologie oor die huwelik uit te werk nie.

[Het ’n mens meer nodig as om te weet: “Daarom sal ’n man sy vader en moeder verlaat en saam met sy vrou lewe, en hulle sal een word.” Is dit nie ooglopend dat God die detail aan die mens oorgegee het om self uit te sorteer nie?]

As ons Genesis 2 só lees en verstaan, is dit redelik duidelik dat daar nie sprake van ’n amptelike verbintenis was nie. Wat wel ter sprake was, is wederkerigheid, verhoudingsgerigtheid en aangewesenheid op mekaar as man en vrou. Dít was die hooffokus.

[Jy het nie ’n amptelike verbintenis nodig nie. “Laat jou ja ja wees en jou nee nee.” (Matteus 5:37)]

Omdat hierdie Bybelgedeelte na my mening uit menslike waarneming en teologiese interpretasie van destyds spruit, is hier ook nie sprake van ander vorms van verhoudings soos ons dit vandag ken nie, soos byvoorbeeld homoseksuele verhoudings/verbintenisse nie.

Genesis 2 is geskryf vanuit ’n meerderheidsperspektief (met ander woorde ’n heteroseksuele én patriargale perspektief). Dit probeer nie nadink oor al die verskillende soorte verhoudings of verbintenisse wat bestaan nie. Juis daarom kan ons met redelike sekerheid sê: Dieselfde waardes wat in Genesis 2 aangedui word as dié waardes wat die verhouding tussen man en vrou moet kenmerk, moet ook die vertrekpunt wees vir waardes wat andersoortige verhoudings behoort te kenmerk.

Wat in hierdie opsig ook belangrik is, is dat kerke tradisioneel heteroseksuele instansies is – dit aanvaar dat heteroseksualiteit die normatiewe vorm van menslike seksualiteit is. Alle ander vorms van seksuele oriëntasie is gevolglik afwykend. Daarom kan dit nie aan die ideale uitdrukking van ’n individu se menswees voldoen nie.

Hetero-seksisme is presies soos seksisme en rassisme. Dit bevoorreg ’n bepaalde sosiale groep en diskrimineer teen die groep wat hulle “die ander” noem. Dit is dikwels ’n kwessie van mag.

’n Teologie van hetero-seksisme (sien Gen 1:27-28 en 2:18-25) is oortuig dat, wat God in die begin sou geskep het, universeel normatief vir die menslike samelewing moet wees. Op dié aanname volg dat slegs heteroseksuele “partners” mekaar werklik kan aanvul. [So nou is die Bybel hetero-seksisties – dit bevoordeel slegs ’n bepaalde groep. Gelukkig hoef daardie dele nie letterlik gelees te word nie, want anders was God self hetero-seksisties. Chris Jones, wat glo jy oor redding? Sal God werklik slegs mense voortrek wat in Hom glo en hulle toelaat om hemel toe te gaan en die res hel toe? Is dit nie baie diskriminerend en selfgesentreerd van God nie?]

Dít verabsoluteer die heteroseksuele huwelik. Die feit dat daar slegs één moontlikheid gelaat word vir die uitdrukking van menslike seksualiteit, is ongeldig en onaanvaarbaar.

In die Bybel lees ons van verskillende vorme van huwelike. Oor die eeue asook oor die wêreld heen was die huwelik dinamies, vloeiend en veranderend. Daar is nie net één, normale, natuurlike vorm en/of model van die huwelik nie. Wanneer menslike instellings as goddelik en onveranderlik voorgehou word, soos ons met die huwelik doen, mislei ons mense.

Net soos die Ou Testament bevat die Nuwe Testament nie werklik ’n bespreking van die huwelik nie. Eintlik beveel die Nuwe Testament aan dat mense selibaat bly en net trou as hulle hulle nie kan “beheer” nie. [Dit is 1 Korintiërs 7. En die rede hoekom daar nie werklik ’n bespreking is nie, is waarskynlik omdat dit so vanselfsprekend was. En weereens, watter bespreking oor die huwelik sou ’n mens verwag?]

Daar is nie ’n enkele woord in die Bybel wat die toegewyde verbondsliefde van selfdegeslag-paartjies wat begeer om ’n familie te word, eksplisiet verbied nie. [Daar is ook geen deel in die Bybel wat net ’n aanduiding gee dat so ’n tipe verhouding voor God aanvaarbaar is nie.] Om jouself in liefde vir iemand te gee, is Godgegewe. En dít moet gerespekteer word deur súlke mense toe te laat om hulleself in die huwelik (of verbintenis) te verenig, waarbinne hulle kinders kan groot maak én laat doop. As ons gays nie hierdie lewensmoontlikheid gun nie, wat gun ons hulle dan?

[Genesing (en bekering). Kyk Getuienisse van voorheen gay mense.]

▶ Dr Chris Jones is gekoppel aan die Fakulteit Teologie,

Universiteit Stellenbosch.

Kommentaar

God gee die huwelik

Chris van Wyk van Somerstrand skryf:

Dit is jammer dat die argument vir selfdegeslagverhoudings in Chris Jones se artikel (Kerkbode, 19 Februarie) begrond word op die devaluering van die konsep van die huwelik as ’n goddelike instelling.

’n Mens kan simpatie hê met die poging om daarmee die deur vir enige tipe verhouding oop te maak. Die prys om die huwelik van God se voorsienigheid los te maak, is egter net te groot.

Ons verloor daarmee die verwagting dat God huweliksmaats op ’n spesiale wyse seën. Dink aan die kosbare verhale van Ragel en Jakob, Rut en Boas, Maria en Josef en die inspirasie wat ons uit hulle liefde en trou put.

Dink aan die raad wat regdeur die OT en NT vir huweliksmaats gegee word. Dink aan die wederkerigheid en eksklusiwiteit wat Hooglied as die ideaal skets vir huweliksverhoudings waarin die passie en plesier van die liefde kan gedy.

Geen wonder nie dat die Here Jesus sy dissipels spesifiek herinner daaraan dat die huwelik ’n goddelike instelling is (Mat 19; Mark 10).

Die huwelik as ’n goddelike instelling berus dus op Jesus se interpretasie van Genesis 1 – 2. Hierdie beginsel is nie net ’n kulturele sosiale konstruk nie, maar ’n deurslaggewende Bybelse begronding van die huwelik.

Ons bely van die Bybel dat dit “nie deur die wil van ’n mens gestuur of voortgebring is nie, maar, die heilige mense van God het dit, deur die Heilige Gees gedrywe, gespreek” (NGB 3).

Soos Paulus sê: “Die hele Skrif is deur God geïnspireer en het groot waarde om in die waarheid te onderrig, dwaling te bestry, verkeerdhede reg te stel en ’n regte lewenswyse te kweek” (2 Tim 3:16). Wat die Bybel dus oor die huwelik en verhoudinge sê, het vandag nog Goddelike gesag.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui