Appèldokument teen die besluite van die algemene sinode 2015 oor selfdegeslagverhoudinge

Kyk ook:

Ds T Danzfuss
Posbus 13027
WITFIELD
1467
Telefoonnommer: 011 8261394
e-posadres: theod@telkomsa.net

Ds HM Janse van Rensburg
Posbus 22
VILLIERS
9840
Telefoonnommer: 058 821 0112
e-posadres: helgardjvrensburg@vodamail.co.za

23 Februarie 2016

VIR AANDAG:

DIE ALGEMENE SINODE 2017 IN SITTING, EN/OF

DIE ALGEMENE SINODE SE GEVOLMAGTIGDE APPÈLLIGGAAM:

DIE ALGEMENE TAAKSPAN REGTE (ATR)

APPÈLDOKUMENT TEEN DIE BESLUITE VAN DIE ALGEMENE SINODE 2015 OOR SELFDEGESLAGVERHOUDINGE

1. ONS KAN NIE ANDERS NIE

1.1 Artikel 23.1 van die Kerkorde bepaal soos volg:

23.1 Die besluite van vergaderinge of hulle gevolmagtigdes is bindend, maar daaroor kan in appèl na ’n meerdere vergadering of die meerdere vergadering se gevolmagtigde gegaan word.

1.2 Die Kerkorde 2013, Reglement vir Appèl of Beswaar, bepaal soos volg:

“5.1 Lidmate of ’n kerkraad of ’n ring of ’n sinode wat ’n beswaar op grond van die Bybel, die Belydenis en/of die Kerkorde teen die besluit(e) van die Algemene Sinode of sy gevolmagtigde het, kan binne die toegelate tyd (vergelyk 6.2 en 6.3 hieronder) skriftelik by die Algemene Sinode se gevolmagtigde appèlliggaam (die Algemene Steunspan Regte ingevolge 3.1.5 van die Reglement vir die Algemene Steunspan Regte) of die eersvolgende Algemene Sinode daarteen appelleer of beswaar aanteken. Die appellant of beswaarde gee daarvan kennis aan die Moderamen of aan die Algemene Sinode.

6.2 ’n Lidmaat of ’n kerkvergadering wat ’n appèlstuk of beswaarskrif wil indien, moet binne 21 dae nadat die vergadering se goedgekeurde notule beskikbaar gestel is, of nadat die bevindinge van ’n tug- en/of dissiplinêre ondersoek bekend gemaak is, by die meerdere vergadering daarvan kennis gee.

6.3 Die appellant of beswaarde moet binne 21 dae nadat daar kennis van appèl of beswaar gegee is, in die appèlstuk of beswaarskrif aan die appèlliggaam ’n skriftelike uiteensetting van die gronde van/redes vir die appèl of beswaar (ter sake dokumentasie ingesluit) voorsien, anders verval die reg op appèl of beswaar.”

Aangesien ondergetekendes binne die voorgeskrewe tyd op 3 Februarie 2016, skriftelik kennis gegee het van ons voorneme om te appelleer, handig ons hiermee nou skriftelike gronde vir die appèl (die appèlstuk) in soos vereis in 6.3 van bogenoemde Reglement.

Ons gebed is dat elke lid van die appèlliggaam deurgaans sal weet dat ons besluit om te appelleer, nie, soos die media ons dikwels beskuldig, kom uit gebrek aan liefde en deernis vir lidmate wat ’n homoseksuele oriëntasie het nie. Dit kom ook nie uit disrespek vir die meerdere kerkvergaderings nie. Ons besluit om te appelleer kom uit ons eerbied vir God se Woord en ons gereformeerde oortuiging dat geen kerkvergadering onfeilbaar is nie. Spoelstra skryf in sy boek Gereformeerde Kerkreg en Kerkregering: “’n Mens sou verwag dat almal wat erns maak van gehoorsaamheid aan Christus, gretig sou wees om in appèl die reg te laat seëvier, al bring dit mee dat ’n kerklike handeling (besluit) ter syde gestel moet word. Ongelukkig veroorsaak menslike eersug en heerssug enersyds dat iemand verwyt word omdat hy appelleer of andersyds dat onnodig en geforseerd geappelleer word…”[1].

Ons eerbied vir die Here en die gesag van Sy Woord dwing ons egter om die Algemene Sinode dringend te versoek om die betrokke besluite van 2015 oor selfdegeslagverhoudinge te herroep terwille van die eer van God, die heil van Sy Kerk, die gesag van Sy Woord, en die redding van sondaars. “Daar is derhalwe nie net ’n reg nie, maar ook ’n plig tot appèl wanneer ’n kerkvergadering teen die Woord van die Koning ingaan… Gereformeerdes bely dat die Skrif duidelik genoeg is vir elke gelowige om te verstaan en te gebruik (NGB 7). Of mense daarvan hou of nie, die Here roep eenvoudige mense om met die Bybel, selfs oor ampsdraers en kerkvergaderinge te oordeel en toesig te hou (Ridderbos 1965).”[2]

Verder wil ons dit duidelik stel dat hierdie appèl nie gerig is teen die Algemene Sinode as kerkvergadering nie, maar teen spesifieke besluite van die Algemene Sinode en teen die wyse waarop die besluite geneem was. Hiermee dus ons appèl in nederigheid en diepe afhanklikheid van die Here, met respek vir die vergadering van die Algemene Sinode, en opregte liefde vir sondaarmense van wie ons die grootste is.

Die negatiewe gevolge wat die Algemene Sinode 2015 se besluite oor selfdegeslag-verhoudinge inhou vir die eer van God, welsyn van die Kerk asook die heil van duisende sondaars laat ons met geen ander keuse as ’n dringende appèl nie. Die praktiese implikasies van hierdie besluite vir die funksionering van die Skrifgesag en Skrifgebruik in die NG Kerk, dwing ons tot hierdie appèl: Hier staan ons, ons kan nie anders nie. Mag die appèlliggaam wat hieroor moet besluit gevul word met wysheid, eerbied vir die Woord en die leiding van die Heilige Gees.

2. BESLUITE WAARTEEN DIE APPÈL GERIG IS.

Aangesien die Algemene sinode van 2015 die volgende besluite deurentyd in die debat asook in die stemming, as ’n eenheid hanteer het, is die appèl dus gerig teen die besluite hieronder in geheel, al sou sommige dele daarvan moontlik opsigselfgenome aanvaar kon word.

2.1 Die Algemene Sinode herbevestig die gelykwaardigheid van alle mense ongeag seksuele oriëntasie en verbind haarself tot die handhawing van die menswaardigheid van alle mense.

2.2 Die Algemene Sinode verklaar dat hetero- en homoseksuele persone wat in ’n verhouding van persoonlike geloofsgehoorsaamheid aan die Here leef, ten volle kan deelneem aan al die voorregte van die kerk as verbondsgemeenskap.

2.3 Die Algemene Sinode herbevestig die besluite oor die huwelik van 2004, 2007 en 2013 dat slegs die verbintenis van een man en een vrou as ’n huwelik beskou word.

2.4 Die Algemene Sinode besluit om in die lig van 2.1 hierbo erkenning te gee aan die status van burgerlike verbintenisse van persone van dieselfde geslag wat gekenmerk word deur liefde en trou – en maak voorsiening dat hierdie verbintenisse deur predikante wat hulle weg oopsien, bevestig kan word.

2.5 Dieselfde Christelik-etiese standaarde (leer en lewe) geld vir die legitimasie en ordening van alle persone. Punt 7 van die besluit van 2007 verval.

2.6 Die Algemene Sinode erken die diversiteit van beskouinge oor selfdegeslagverbintenisse binne die NG Kerk en bevestig die reg van kerkrade om hieroor hulle eie standpunte en praktyke te formuleer en te reël.

2.7 Die Algemene Sinode bevestig die diskresie van kerkrade om die verskille oor homoseksualiteit in gemeentes te hanteer en versoek hulle om dit in ’n gees van Christelike liefde te doen.

2.8 Die Algemene Sinode bied hierdie besluite oor selfdegeslagverhoudings aan met nederigheid na ’n ernstige soektog en as die beste toepassing van die boodskap van die Bybel soos ons dit tans verstaan. Die Algemene Sinode versoek lidmate, gemeentes en kerkvergaderings om weereens op ’n selfstandige soekproses na die toepassing van die boodskap van die Bybel hieroor te gaan. In die soektog kan studiestukke van die Algemene Sinode van 2007, 2011, 2013 en 2015 ernstig gelees word. In ooreenstemming met NGB Art 2 behoort die besondere en algemene openbaring gebruik te word, dws die beste huidige menswetenskaplike bevindings.

2.9 Die Algemene Sinode besluit om ’n Christelik-Bybels-etiese model oor die seksualiteit vir alle mense te ontwikkel om gemeentes te begelei in die lig van voorafgaande besluite. Hierdie saak word ook verwys na die Taakspan vir Leerstellige en Aktuele Sake, wat reeds ’n soortgelyke opdrag in A.8.2 bl 172 punt 7.4 ontvang het.

2.10 Die Algemene Sinode besluit om ’n bevatlike oorsig van die NG Kerk se reis met homoseksualiteit saam te stel en te versprei om gemeenteleiers te bemagtig in die begeleiding van gemeentes oor hierdie saak.

Die uitslag van die stemming was 114 ten gunste van en 63 daarteen.

Die volgende persone teken hulle teenstemme aan: JH Hattingh, T Danzfuss, H Janse van Rensburg, PG Otto, HJ Niemand, R Britz, BH Swart, CP Crause, D Oelofse, J van der Westhuizen, J Smook.

3. WAT VRA ONS IN DIE APPÈL?

Aangesien die kerk se standpunt rakende selfdegeslagverhoudings ingrypende etiese en leerstellige implikasies het, mag dit nooit sonder deeglike Skriftuurlike gronde gewysig word nie; en

aangesien Christus ons enigste Hoof is wat Sy kerk regeer deur Sy Woord en Gees mag kerkvergaderings geen besluite neem wat direk of indirek in stryd met die Bybel nie

versoek ons daarom dat die appèlliggaam bevestig dat:

3.1 bogenoemde besluite van die sinode waarteen ons appelleer, ter syde gestel (herroep) word; en

3.2 die standpunt en besluite van die sinode soos vervat in die goedgekeurde besluite van die Algemene Sinodale vergaderings vanaf 2007 tot 2013, steeds geld as die amptelike standpunt van die NG Kerk oor selfdegeslagverhoudinge.

GRONDE VIR DIE APPEL

A. KERKREGTELIKE, KERKORDELIKE EN PROSEDURELE BESWARE

A.1 DIE SINODE SE BESLUITE IS ONGELDIG WANT DIT IS NIE “OP ’n KERKLIKE WYSE” GENEEM EN BESTUUR NIE (Kerkorde Artikel 21)

Artikel 21 van die Kerkorde bepaal soos volg:

“Die kerkvergaderinge behandel sake vanuit kerklike perspektief, in die lig van die Woord van God en op kerklike wyse.

Die Algemene Sinode 2015 se besluite oor selfdegeslagverhoudinge is nie “op kerklike wyse” geneem nie.

A.1.1 Daar was verskeie drukgroepe van binne en buite wat voortdurend probeer het om die sinode te manipuleer en/of te indoktrineer. Die voorsitter het nie hierdie onheilige en onkerklike indoktrinasie tydens die debat en besluitnemingsproses aangespreek/gestop nie. Afgevaardigdes sowel as besoekers was toegelaat om dmv hul progay T-hempies en slagspreuke die vergadering openlik te intimideer.

Daar was aanhoudende en fynbeplande progay propaganda van binne en van buite die vergadering. Selfs die sinode se eie ontwerpspan en/of ander kommissies en/of ampsdraers by die sinode het op verskeie onkerklike wyses die vergadering in ’n progay rigting probeer druk.

A.1.2 Opening van sinode: Reglement 3.1 bepaal dat die vergadering van die Algemene Sinode soos volg geopen moet word: “Die afgevaardigde bedienaar van die Woord met die langste diens wat die oudste in jare is, open die vergadering en gaan voor totdat die moderator verkies is.”

Hierdie opening behels normaalweg Skriflesing met ’n gepaste boodskap/preek, plus gebed.

Ds Dirkie van der Spuy, die leraar met die langste jare diens en oudste in jare, moes dus ook die Woordverkondiging tydens opening behartig het. (Hy was terloops wyd bekend vir sy eie asook sy kerkraad se behoudende teologiese standpunte rondom selfdegeslagverhoudinge).

Die organiseerders het hom doelbewus ontneem van die voorreg om die openingsrede te lei deurdat hy gevra was om slegs die Skriflesing (uit die geslagsregister van Jesus) te behartig sodat ’n jong predikant, ds Marina Strydom, die preek kon hou. Haar boodskap het sterk voorbrand gemaak ten gunste van die progay besluite. Verskeie sinodegangers was diep ontsteld en het die volgende dag openlik gekla oor die skandalige misbruik van hierdie gewyde geleentheid.

A.1.3 Die onvanpaste beïnvloeding van die kerklike vergadering is onbeskaamd voortgesit deur die wyse waarop die daaglikse oggendgodsdiens gelei was vanuit die boek Rut. Verskeie kere was daar sterk suggesties dat Rut en Naomi eintlik ’n lesbiese verhouding gehad het.

A.1.4 Verskeie van die skilderye en simbole wat tydens die dagopeninge gebruik was het ook baie duidelik een tema gepropageer naamlik: stem progay anders is jy liefdeloos (ds HM Janse van Rensburg het tydens die bespreking spesifiek daarna verwys en is aangehaal in ’n berig in Beeld).

A.1.5 Ook die “kerklike perspektief” is geïgnoreer. Reeds in 1994 het die Algemene Sinode besluit dat wanneer daar besluite geneem word oor sake wat omstrede is en dus tot groot verdeeldheid kan lei, die sinode terwille van groter konsensus eers die advies van mindere vergaderings daaroor kan inwin. “Indien die Algemene Sinode egter vermoed dat sekere besluite of standpunte moontlik tot groot verdeeldheid onder kerklidmate kan lei, staan dit hom vry om voor die finale besluitneming , die advies van mindere kerkvergaderings in te win ten einde groter konsensus oor die betrokke sake in die Ned Geref Kerk verband as geheel te kry”.[3]

Tydens hierdie debat was dit duidelik dat daar baie groot verdeeldheid oor selfdegeslagverhoudinge binne die NG Kerk is. Dit was duidelik uit die ongekende aantal sprekers wat wou deelneem (36 sprekers) (Notule vyfde dag punt 4), die groot aantal botsende voorstelle en amendemente, die ongekende belangstelling van die media en besoekers. Hierdie verdeeldheid is na afloop van die sinode bevestig deur die getal lidmate wat reeds a.g.v. die sinode se besluite bedank het, die talle gemeentes wat dreig om sinodale bydraes te staak en weg te breek uit die NG Kerk asook die oorweldigende getal beswaarskrifte en appèlle soos nog nooit voorheen in die NG Kerk beleef was nie.

Ten spyte van hierdie groot verdeeldheid en ten spyte van die sinode se eie goeie advies sedert 1994 oor hantering van so ’n situasie, en ten spyte van direkte voorstel vanaf die vloer dat die saak eers na mindere vergaderings verwys moes word vir advies, het die sinode verkies om op ’n onkerklike wyse sy eie besluite deur te druk. As daar nog konsensus binne die sinode was, sou mens dit nog verstaan, maar die besluite is geneem te midde van ernstige verskille en ’n redelike klein meerderheid van stemme. Dit wek die indruk na buite dat die Algemene Sinode homself en sy besluite as onfeilbaar beskou. Besluite wat die ganse kerk intens raak en waaroor daar groot verskil onder gelowiges is, word doodeenvoudig met ’n geringe meerderheid deurgedruk sonder om te vra wat ander kerkvergaderings en ander kerke met wie die NG Kerk gevestigde ekumeniese bande het, daaroor sou besluit en ongeag watter skade dit aan die Here se Kerk doen. Dit kom neer op liefdeloosheid in ’n erge graad.

A.2 DIE SINODE SE BESLUITE IS ONGELDIG WANT TWEE STELLE TEENSTRYDIGE BESLUITE KAN NIE GELYKTYDIG GELD NIE.

Dit is ’n algemene regsbeginsel dat twee teenstrydige besluite nie gelyktydig kan geld nie. Dit is een van die redes waarom daar eers revisie gevra moet word om staande besluite te hersien alvorens daar ’n besluit geneem kan word wat in stryd is met bestaande besluite.

Dr P Rossouw stel dit baie duidelik in sy boek Kerkvergaderings bladsy 55 dat sekere voorstelle by ’n kerkvergadering nie eers ontvanklik is nie.

’n Voorstel wat bots met die heilige Skrif, die belydenisskrifte, die kerkorde en genome besluite is nie ontvanklik nie. Indien laasgenoemde toegelaat word, word die voorskrifte in verband met revisie onordelik oorboord gegooi.[4]

A.2.1 Die voorstel sowel as die besluite wat uiteindelik geneem was, bots direk met die sinode se staande besluite vanaf 2007 tot 2013 oor selfdegeslagverhoudinge. Die sinode se staande besluite het vereis dat homoseksuele slegs tot die bediening toegelaat mag word mits hulle selibaat lewe. Die 2015 besluite het hierdie vereiste weggeneem en laat presies die teenoorgestelde toe.

A.2.2 Die staande besluite het nie die “burgerlike verbintenisse” erken nie en ook nie toegelaat dat sulke verbintenisse kerklik bevestig kon word nie. Die 2015 besluit erken nie net burgerlike verbintenisse nie, maar laat ook toe dat sulke verbintenisse kerklik bevestig word.

A.2.3 Daar was egter geen revisie gevra om die staande besluit te heroorweeg nie.

Volgens kerkregtelike en gemeenregtelike beginsels is die genoemde besluite van 2015 dus totaal ongeldig. Beide die voorstel en die besluit was dus buite orde.

A.3 DIE SINODE SE BESLUITE IS ONGELDIG WANT DIE HELE PROSES VAN BESLUITNEMING WAS HERHAALDELIK TEENSTRYDIG MET DIE REGLEMENT VAN ORDE EN MET ALGEMEEN ERKENDE VERGADERING PROSEDURES.

Die reglement van orde is juis in die kerkorde geskrywe om die kerk te bewaar teen onordelike, onregverdige en bloot emosionele besluite. Verskeie reëls van die Reglement van Orde asook algemene reëls vir enige regverdige ordelike kerkvergadering was herhaaldelik verbreek.

Die notule poog wel om hierdie chaos te verberg deur woorde soos: “met goedkeuring van die vergadering”. Hierdie sogenaamde “goedkeuring” was egter hoogstens ’n persoonlike en terloopse opmerking van die voorsitter wat vergadering bedank vir hul mooi samewerking, om sy onordelike minagting van die Reglement van Orde te kondoneer. Selfs al sou die vergadering die onordelike en onregverdige prosedures goedkeur sou dit steeds onwettig wees. Feit is dat die Reglement van Orde bindend is op alle vergaderings van die Algemene Sinode en slegs gewysig kan word met ’n tweederdemeerderheid na behoorlike stemming. Dit het nooit gebeur nie. Alle besluite wat in stryd met die Reglement van Orde geneem word, is ongeldig, anders kan die hele reglement maar geskrap word. In die Reglement van Orde het ons ooreengekom watter soort besluite (en besluitneming) in die NG Kerk geldig is en watter nie.

A.3.1 REVISIE

Daar was ook vooraf geen revisie gevra vir wysiging van bestaande besluite wat al sedert 2004 en 2007 geldig is nie.

REGLEMENT 3.

Die Kerkorde se Reglement van Orde bepaal soos volg ten opsigte van revisie:

8. REVISIE[5]

8.1 Besluite wat geneem is, mag alleen na voorafgaande kennisgewing en met die toestemming van die vergadering op ’n tyd deur die Moderatuur bepaal, in revisie geneem word.

8.2 Kennisgewing van revisie:

8.2.1 Revisie kan toegestaan word indien oortuigend aangevoer word dat

8.2.1.1 in die bespreking van die saak waarom dit gaan in die vergadering aan sekere aspekte daarvan glad nie of nie voldoende aandag gegee is nie; en/of

8.2.1.2 daar later inligting na vore gekom het wat hersiening van die besluit noodsaaklik maak.

8.2.2 Elke kennisgewing van revisie word na die Tydelike Steunspan Regte verwys.

8.2.3 Die aansoeker stel die rede(s) vir die aansoek om revisie aan die Tydelike Steunspan Regte.

8.2.4 Die Tydelike Steunspan Regte doen ’n aanbeveling aan die vergadering ten opsigte van elke kennisgewing van revisie.

8.2.5 Die vergadering beslis met meerderheidstem of die revisie toegestaan word. Indien toegestaan, word die saak weer oopgestel vir bespreking en kan die vergadering tot ’n ander besluit kom of die vorige besluit kan gehandhaaf word.”

Die voetnota by bogenoemde bepaal soos volg: Vergelyk ook Reglement vir Appèl en Beswaar, pt 1.2.

“1.2 Besluite wat geneem is, mag alleen na vooraf kennisgewing deur ’n lid van die vergadering en met die toestemming van die vergadering, in revisie geneem word. Kennisgewing geskied óf tydens die vergadering waar die besluit(e) geneem is óf in die agenda vir die volgende vergadering.”[6]

REGLEMENT 19

Die hantering van revisie soos voorgeskryf in die Reglement van Orde word ook in die Reglement vir Appèl en Beswaar soos volg omskryf: “1.1 Besluite van kerklike vergaderings is bindend, maar dit kan herroep, gewysig of vervang word by wyse van revisie, appel, beswaar of gravamen.

1.1.1 Revisie behels die hersiening van ’n besluit tydens dieselfde of ’n volgende vergadering op versoek van ’n lid van die vergadering.”

en

 “1.2.1 Revisie kan toegestaan word indien oortuigend aangevoer word dat, in die bespreking van die saak waarom dit gaan, aan sekere aspekte daarvan glad nie of nie voldoende aandag gegee is nie en/of daar later inligting na vore gekom het wat hersiening van die besluit noodsaaklik maak.”[7]

Dr P Rossouw sluit aan by bogenoemde en stel dit baie duidelik dat sekere voorstelle geensins ontvanklik is by ’n kerkvergadering nie:

“’n Voorstel wat bots met die heilige Skrif, die belydenisskrifte, die kerkorde en genome besluite is nie ontvanklik nie. Indien laasgenoemde toegelaat word, word die voorskrifte in verband met revisie onordelik oorboord gegooi.”[8]

Daar is op geen wyse kennis gegee van revisie van die vorige besluite geneem in 2004, 2007 en 2013 nie, inteendeel. Die Moderamen het die Taakspan se verslag laat opneem in die Aanvullende Agenda as ’n prosesverslag met die oog daarop dat die Algemene Sinode die opdrag voortsit. Daarom is die aanbevelings wat die Taakspan gemaak het asook die kommentaar ontvang op die Taakspan se verslag, nie opgeneem in die verslag aan die Algemene Sinode nie. Die Aanvullende Agenda, p 80, A.19 lui volledig soos volg (let op die onderstreepte sinne/sinsnedes):

1. AGTERGROND EN OPDRAG

Die inligting word weergegee in pt 1 van BYLAAG SELFDEGESLAGVERHOUDINGS.

2. ETOS

2.1 Die Moderamen het hulleself deurentyd daaraan herinner dat die werk van die Taakspan, die Moderamen se refleksie daarop asook die gesprek tydens die Algemene Sinode moet geskied aan die hand van die waardes van die Seisoen van Menswaardigheid.

2.2 Die Moderamen wil in hierdie verslag herhaal wat al vantevore gesê is en dit weer onderstreep: die werk van die Moderamen en die Taakspan asook die hantering hiervan by die Algemene Sinode geskied met pastorale deernis. Die Moderamen wil ook weer sê dat die gesindheid by die Moderamen is om met hiérdie deernis te praat: met almal te praat en dat ons nog nie klaar gepraat het nie.

3. VERSLAG VAN DIE TAAKSPAN

3.1 Die Taakspan het deurlopend aan die Moderamen terugvoering gegee oor hulle werk en vordering.

3.2 Die Moderamen kon nie soos beplan die verslag van die Taakspan by sy vergadering in Junie 2015 hanteer nie as gevolg van die skielike siekte van dr Andries Kritzinger.

3.3 Die Moderamen het ’n buitengewone vergadering vir 9–10 September 2015 belê om hierdie verslag (asook enkele ander verslae) te hanteer. Die grootste deel van die tyd van hierdie vergadering is aan die Taakspan se verslag afgestaan.

3.4 Die Moderamen het hom nie uitgespreek oor die verslag se inhoud en aanbevelings nie. Die Moderamen en die Taakspan het konsesus dat die aanbevelings van die Taakspan nie in die in die verslag aan die Algemene Sinode vervat word nie.

3.5 Die verslag van die Taakspan is aangeheg as BYLAAG SELFDEGESLAGVERHOUDINGS.

4. AANBEVELINGS: SELFDEGESLAGVERHOUDINGS

4.1 Die Algemene Sinode neem kennis van die terugvoering van die Moderamen ten opsigte van die opdrag rakende selfdegeslagverhouding.

4.2 Die Algemene Sinode reël ’n gefasiliteerde gespreksgeleentheid oor die opdrag ter vergadering.

4.3 Die Algemene Sinode besluit om die opdrag voort te sit en besluit ter vergadering oor die raamwerk vir die voortgesette navorsing en dialoog.

Gevolgtrekkings:

  1. In 2004 het die Algemene Sinode sy vorige besluite wat in 1986 geneem was, herroep en nuwe besluite geneem. Hierdie nuwe besluite is met verloop van tyd effens gewysig of aangevul, maar geld nog altyd.
  2. Volgens die Reglement vir Appèl of Beswaar, pt 1.1 is hierdie (die vorige) besluite bindend en kan slegs op een van die volgende wyses herroep of vervang word nl: revisie, appèl, beswaar of gravamen.
  3. Enige nuwe besluit wat direk teenstrydig is met die bestaande besluit sal dus ongeldig wees tensy daar vooraf kennis van revisie gegee is vir hersiening van die besluit. ’n Appèl is na so ’n lang tyd nie moontlik nie. Indien daar ’n geslaagde beswaar of gravamen was wat op wettige wyse vooraf in die agenda opgeneem was, sou die revisie dus nie nodig wees nie. Daar was egter geen voorstel vir die wysiging in die Taakspan se verslag nie en ook geen voorstel vir die wysiging in die ASM se verslag nie. Selfs die beskrywingspunt van Oostelike Sinode het geen voorstel vir wysiging bevat nie. (Die beskrywingspunt van die kuratorium was in elk geval ook nie ontvanklik nie).
  4. Hierdie voorstel vir wysiging van die kerk se beleid tov selfdegeslagverhoudinge wat al ongeveer 11 jaar lank geldig is, het dus sonder enige goedgekeurde revisie of appèl, of beswaar of gravamen van die vloer af gekom. (Volgens 1.2.1 van Reglement 19 sou revisie in elk geval nie suksesvol toegestaan kon word nie aangesien die verslag wat in die oopgesprek bespreek was geen nuwe Skriftuurlike inligting bevat het wat so ’n drastiese hersiening van die besluit sou kon regverdig nie.) Die voorstel was dus volgens die Reglement van Orde en die Reglement vir Appèl of Beswaar asook algemene vergaderingsprosedures nie ontvanklik nie. Sinodegangers kon gevolglik nie deeglik voorberei vir so ’n debat nie. Die besluit is dus ultra vires geneem.

A.3.2 SPERDATUM VIR DIE INDIEN VAN VERSLAE

Die verslag van die Moderamen se Projekspan vir Selfdegeslagverhoudinge was nie ingedien voor die sperdatum soos bepaal in die Reglement van Orde nie.

Ten opsigte van die datum vir indiening van verslae geld die volgende:

“6.5 Verslae van projek- en algemene steunspanne van die Algemene Sinode moet minstens drie maande voor die vergadering by die algemene sekretaris ingedien word.

6.6 Dringende sake wat in die drie-maande-tydperk voor die vergadering voorkom en deur projek- of algemene steunspanne behandel is, mag by wyse van addendumverslae, met verlof van die Projekspan Agenda Algemene Sinode, ter tafel gelê word.”[9]

Die sperdatum vir die indiening van verslae met die oog op die Algemene Sinode 2015 wat 4 Oktober 2015 ’n aanvang geneem het, was 4 Julie 2015.

Die verslag was nie gereed vir voorlegging aan die Moderamen wat op 22 – 24 Junie 2015 vergader het nie. Tydens dié vergadering is daar toe twee geleenthede geskep waartydens gesprek gevoer is met lede van die Projekspan (vanweë die siekte van die voorsitter, dr Andries Kritzinger, was net dr Elize Morkel teenwoordig by die eerste gespreksgeleentheid, en by die tweede gespreksgeleentheid was die ander lid, dr André van Niekerk ook teenwoordig). Die Moderamen het ooreengekom met die Projekspan dat hulle die verslag skryf en voorlê aan die Moderamen op ’n buitengewone vergadering op 9 en 10 September 2015. Die verslag (konsep) is op 6 September 2015 met die agenda vir die vergadering elektronies aan die lede van die Moderamen gestuur.

Op 9 en 10 September 2015 is die verslag in behandeling geneem deur die Moderamen tesame met die Projekspan en met skriftelike kommentaar daarop deur oa dr Chris van Wyk, dr JH Ernst, prof J Janse van Rensburg, ds WJ Botha en ds HM Janse van Rensburg. By wyse van konsensus is verskeie besluite geneem waaronder die volgende: “Die Moderamen en die Taakspan het konsensus dat die aanbevelings weggelaat word. Dit staan die Taakspan vry om sy verslag te redigeer na die insette verkry vanuit die Moderamenvergadering.”[10]

Ná redigering is die verslag opgeneem in die Aanvullende Agenda en versend na die onderskeie sinodale kantore vir verdere verspreiding onder die afgevaardigdes. Vanweë die beperkte tyd en groter afstande in veral landelike gebiede, het baie afgevaardigdes (waaronder die appellant, ds HM Janse van Rensburg en ander afgevaardigdes van die Vrystaat), hulle kopieë eers ontvang op die eerste sittingsdag van die Algemene Sinode. Die saak van selfdegeslagverhoudinge kan ook nie beskou word as (‘n) “dringende sake wat in die drie-maande-tydperk voor die vergadering” voorgekom het nie (vergelyk pt 6.6), want die opdrag tot verdere studie is reeds deur die Algemene Sinode in 2013 gegee. Die Moderamen se aanbeveling “Die Algemene Sinode besluit om die opdrag voort te sit en besluit ter vergadering oor die raamwerk vir die voortgesette navorsing en dialoog.”[11] dui verder daarop dat die saak nie dringend was nie en dat navorsing en dialoog voortgesit moet word.

Die feit dat die verslag van die Projekspan nie ingedien is soos bepaal in die Kerkorde nie en dit dus nie opgeneem kon word in die Agenda nie, het nie reg laat geskied aan die eise van billikheid nie. Dit is nie moontlik om ’n verslag wat handel oor so ’n ingewikkelde saak, in so ’n beperkte tyd behoorlik te bestudeer met die oog op verantwoordelike besluitneming nie. Die verslag het boonop ontbreek aan relevante agtergrondmateriaal ter wille van die verfrissing van die geheues van afgevaardigdes wat wel die vorige vergadering(s) bygewoon het en nuwe lede wat oor geen agtergrondskennis beskik nie.[12]

A.3.3 VERWARRING OOR WATTER VOORSTEL TER TAFEL IS

Wanneer ’n vergadering besluit dat ’n beskrywingspunt nie vir die vergadering ontvanklik is nie, word daardie hele beskrywingspunt met motivering en al hanteer asof dit nie bestaan nie.

Volgens die notule het die sinode (op grond van kerkregtelike advies) besluit dat die beskrywingspunt van die Kuratorium van Stellenbosch (B15) nie ontvanklik is nie. Ten spyte daarvan besluit die sinode om tog tydens die bespreking kennis te neem van die inhoud (motiverings en aanbevelings) van B15[13]. In die debat word die kuratorium se voorstelle – wat nie ontvanklik is nie – selfs bepleit.

Dit is ’n erge graad van ongerymdheid wat die vergadering onregmatig beïnvloed het ten gunste van die progay standpunte.

A.3.4 VOORSTEL WAT MOES DIEN

Reglement 3 bepaal hoe voorstelle van projekspanne voorkeur geniet bo voorstelle van tydelike steunspanne.

4.1 Aanbevelings van ’n projekspan en ’n algemene of ’n tydelike steunspan word as voorstelle aan die vergadering voorgehou. Indien ’n tydelike steunspan ’n aanbeveling doen wat ’n aanbeveling van ’n projekspan of algemene steunspan raak, het die projekspan of die algemene steunspan die voorstel en moet die tydelike steunspan amendeer.

In hierdie geval was die enigste voorstel op die tafel, toe die besluitnemingsproses begin is, die voorstel van die Moderamen 4.1-4.3.

4.1 Die Algemene Sinode neem kennis van die terugvoering van die Moderamen ten opsigte van die opdrag rakende selfdegeslagverhouding.

4.2 Die Algemene Sinode reël ’n gefasiliteerde gespreksgeleentheid oor die opdrag ter vergadering.

4.3 Die Algemene Sinode besluit om die opdrag voort te sit en besluit ter vergadering oor die raamwerk vir die voortgesette navorsing en dialoog.

Aangesien 4.1 en 4.2 reeds goedgekeur en uitgevoer was, was 4.3 kerkregtelik die enigste voorstel op die tafel. Slegs amendemente op 4.3 was ontvanklik. Die volgende het gebeur, wat totale verwarring en chaos veroorsaak het:

  • Voorsitter ontvang ’n reeks van ongeveer 16 voorstelle waarvan slegs enkeles as amendemente sou kwalifiseer. (Fout nr 1)
  • Al die voorstelle word gelyktydig op die projektor vertoon, geen onderskeid oor wat is op daardie stadium ontvanklik en wat nie. (Fout nr 2)
  • Al die voorstelle word verwys na ’n ad-hoc kommissie (Fout nr 3)
  • Die ad-hoc kommissie reduseer en konsolideer die voorstelle tot twee teenoorgestelde voorstelle wat elk uit ’n hele klomp punte bestaan.
  • Nie een van die twee gekonsolideerde voorstelle kwalifiseer as amendement op die enigste voorstel wat wettiglik ter tafel is nie (nl 4.3 hierbo).
  • Die oorspronklike wettig dienende voorstel vanaf die Moderamen (4.3) word nooit eers tot stemming gebring nie. (Fout nr 4)
  • Die vergadering word onderbreek sodat die Tydelike Regskommissie eers kan besluit watter voorstel nou eintlik ter tafel is. Hulle advies, naamlik dat die Moderamen se voorstel nr 4.3 die enigste voorstel ter tafel is, en dat daarop slegs amendemente ontvang kan word, word foutief gerapporteer en nie gevolg nie. (Fout 5).
  • Al die ander voorstelle (uit die ongeveer 16 wat ontvang was), word sonder die vereiste toestemming van die voorstellers, sekondante en die vergadering, as vervalle beskou. (Fout nr 6).
  • Die voorsitter laat die vergadering nou stem tussen twee direk teestrydige voorstelle. (Fout nr 7). Sien dr P Rossouw
“die volgende punt van besondere belang is dat niemand in ’n kerkvergadering ’n teëvoorstel mag maak nie. Daar kan slegs teen ’n voorstel gepraat word en daar kan slegs teen ’n voorstel gestem word.”… “Die reël wat vasstaan is dat slegs een voorstel oor ’n saak ter tafel voor ’n vergadering kan dien. Geen teëvoorstel is toelaatbaar nie…[14]
  • Voorsitter reël dat die vergadering stem tussen twee teenstrydige voorstelle maar sê uitdruklik hierdie stemming tel nie regtig nie. (Fout nr 8).
  • Die stemming is per geheime en geslote stem op amptelike stembriewe en word deur die amptelike stemtellers getel, maar die voorsitter sê herhaaldelik dat hierdie stemming nie regtig tel nie. (Fout nr 9).
  • Nadat die uitslag ontvang en bekend gemaak is, verduidelik die voorsitter dat die verloorvoorstel substantief nou verval. Die voorstellers moet nou olv ’n fasiliteerder tot laat aand gaan sit en herformuleer, maar die herformulering mag nie substantief afwyk van die wenvoorstel nie. (Al het die wenvoorstel nie regtig getel nie, tel dit nou so baie dat die nuwe voorstel nie substantief daarvan mag verskil nie!!) (Fout nr 10).
  • Die prosedurele chaos en verwarring was so groot dat byna al die nuusmedia, radio en TV kanale daardie aand onomwonde en triomfantlik aankondig dat die NG Kerk nou volledig oopgestel is vir gay predikante en dat selfdegeslagverhoudings nou kerklik bevestig kan word. (Bevestiging van chaos en foute 1-10).
  • Die volgende dag hoor ons by die voorsitter dat alle ander voorstelle nou verval het ten spyte van wat die Reglement van Orde sê oor die verval van voorstelle. Al wat nou dien is hierdie laatnag geformuleerde voorstel. Selfs die oorspronklike voorstel van die Moderamen[15] het maar net verval.
  • ‘n Dringende voorstel deur twee lede van die vergadering dat die besluit eers na die mindere vergaderings terugverwys moet word voordat dit in werking tree word verwerp. (Fout nr 11).
  • ‘n Afgevaardigde se beswaar teen die voorsitter se reëling dat sprekers slegs 3 minute kry – (in teenstelling met die reglement van orde wat 5 minute per spreker toelaat) – word deur die voorsitter van die hand gewys. Toe dieselfde lid by die ASM vergadering waar notule goedgekeur word, versoek dat sy beswaar tydens die sinode genotuleer moet word, antwoord die voorsitter dat ons tog nie alles notuleer nie, en wys die versoek van die hand. (Fout nr 12).
  • Die volgende aanhaling uit punt 2 van die sesde sittingsdag se notule bevestig die onhoudbare en onkerkordelike wyse waarop die besluitneming verloop het.
Voorsitter reël dat die voorstel nou ter tafel die amendement op die vorige dag se besluit is. In die hantering daarvan moet rekening gehou word daarmee dat die vorige dag se besluit as besluit steeds staan. Die amendement gaan ook in sy geheel gestel word. Indien dit nie aanvaar word nie staan die besluit van die vorige dag.[16]

Die voorsitter reël hier dat die voorstel van Bartlett en Sahd, wat die vorige dag goedgekeur is deur ’n stemproses wat volgens die voorsitter nie regtig getel het nie, nou die volgende dag geammendeer word deur dieselfde persone wat dit voorgestel het. Verder reël hy dat indien hierdie amendement nie goedgekeur word nie, dan bly die vorige dag se goedgekeurde voorstel waarvan die stemming nie geld nie, steeds geld. (Fout nr 13).

Reglement 3

2.3.2 In die geval van ’n voorstel met amendemente, word die amendemente eers tot stemming gebring in opgaande orde vanaf die laaste amendement wat ingedien is en daarna die voorstel soos deur die aanvaarde amendement(e) gewysig. Slegs indien al die amendemente verwerp word, stem die vergadering oor die oorspronklike voorstel.
  • Hierdie voorgeskrewe bepaling is geensins gevolg nie
2.3.3 Na elke stemming oor ’n amendement of ’n voorstel word die uitslag van die stemming aangekondig – nie die getal stemme vir of teen die voorstel of amendement uitgebring nie, maar of dit aanvaar of verwerp is.
  • Hierdie voorgeskrewe bepaling is nie gevolg nie

Dr P Rossouw stel dit baie uitdruklik in sy boek: Kerkvergaderings op p 54 en 56

P 54 “die volgende punt van besondere belang is dat niemand in ’n kerkvergadering ’n teëvoorstel mag maak nie. Daar kan slegs teen ’n voorstel gepraat word en daar kan slegs teen ’n voorstel gestem word.”… [17]
  • Hierdie kerkregtelike beginsels is albei herhaaldelik oortree.
P 56 “Die reël wat vasstaan is dat slegs een voorstel oor ’n saak ter tafel voor ’n vergadering kan dien. Geen teëvoorstel is toelaatbaar nie…
  • Hierdie kerkregtelike beginsel is herhaaldelik oortree.
p 56 “’n amendement amendeer ’n voorstel op enkele punte en daarom is ’n korrekte amendement altyd van kleiner omvang en inhoud as die voorstel. Om hierdie rede is dit totaal onmoontlik vir ’n korrekte amendement om sonder meer die plek van ’n teruggetrekte voorstel in te neem
  • Hierdie beginsel is nie eerbiedig nie.
p 56 “As ’n voorstel met die nodige toestemming teruggetrek word dan verval al die amendemente omdat laasgenoemdes geen eie been het om op te staan nie. ’n Suiwer amendement wat oor ’n paar onderafdelings van die voorstel handel, kan onder geen sinvolle omstandigheid die plek van ’n volledige voorstel neem nie.

Indien ’n voorsteller verlof vra om sy voorstel ten gunste van ’n amendement terug te trek, dan is hy (tensy die reglement van orde dit toelaat) dadelik buite orde”.

  • Hierdie beginsel is nie eerbiedig nie. Voorstelle wat reeds ter tafel ontvang was, is teruggetrek sonder die vergadering of die voorsteller en sekondant se toestemming. So is voorstellers wat geregtig sou wees op 8 minute spreekbeurte plus nog tyd vir repliek, erg benadeel deurdat hulle slegs 3 minute as gewone spreekbeurt minute kon kry. Dit is fisies onmoontlik om so ’n gekompliseerde saak in 3 minute te beredeneer.
4.1 “…..Aanbevelings van ’n projekspan en ’n algemene of ’n tydelike steunspan word as voorstelle aan die vergadering voorgehou. Indien ’n tydelike steunspan ’n aanbeveling doen wat ’n aanbeveling van ’n projekspan of algemene steunspan raak, het die projekspan of die algemene steunspan die voorstel en moet die tydelike steunspan amendeer…..”[18]
  • Hierdie voorskrif van die Reglement van Orde is nie eerbiedig nie. Die span wat saamgestel is om voorstelle tydens die sinode onder leiding van ’n fasiliteerder te herformuleer is tydelike spanne. Hulle kan volgens 4.1 van Regl 3 dus nie nuwe voorstelle indien nie, maar slegs amendemente op die voorstel van die projekspan.

Ten spyte hiervan het die voorsitter die oorspronklike voorstel by die stemming heeltemal geïgnoreer, en die amendemente wat in die tydelike kommissies geformuleer was as voorstelle hanteer. Hierdie voorstellers is onregmatig bevoordeel.

A.4 DIE SINODE SE BESLUITE IS ONGELDIG WEENS ONREELMATIGE EN ONREGVERDIGE TOEKENNING VAN SPREEKBEURTE.

A.4.1 DIE ONREGMATIGE BEVOORDELING VAN PRO-GAY SPREKERS

Die Algemene Steunspan Regte ATR /Tydelike Steunspan Regte (TTR) het die Algemene Sekretaris, dr JJ (Kobus) Gerber, ontmoet vóór die aanvang/konstituering van die vergadering van die Algemene Sinode 2015 ten einde bepaalde onsekerhede rakende afvaardigings en spreekbeurte op te klaar. Tydens dié ontmoeting is dit onder dr Gerber se aandag gebring dat die TSR kennis geneem het van die Aanvullende Agenda, p 3, pt 2 wat soos volg lui:

2. VERTEENWOORDIGERS VAN NG DOSENTERADE BY TEOLOGIESE FAKULTEITE

Die volgende persone woon die vergadering van die Algemene Sinode by: Fakulteit Teologie, Universiteit van Stellenbosh: dr Nadia Marais; Fakulteit Teologie, Universiteit Pretoria: prof Dirk Human; Fakulteit Teologie, Universiteit Vrystaat: prof Fanie Snyman.

Aangesien “dr”(?) Nadia Marais nie ’n NG dosent is nie, het die TTR vir dr Gerber daarop gewys dat sy op grond van die Kerkorde 2013, p 10, Art 38.2, nie die Teologiese Fakulteit Stellenbosch kan verteenwoordig nie en dus nie ’n spreekstem sal kan hê nie. Dr Gerber het onderneem om dit onder die aandag van die waarnemende voorsitter (tydens die opening/konstituering tot met die verkiesing van ’n voorsitter) en die nuutverkose voorsitter te bring. Die saak is ook soos volg opgeneem in die eerste verslag van die TSR aan die Algemene Sinode:

“2. A.1 AGENDA PROJEKSPAN/ONTWERPSPAN

2.1 AFGEVAARDIGDES (Agenda p 10, pt 3.3)

2.1.1 Die Tydelike Taakspan Regte (TTR) wys die Algemene Sinode op die bewoording van die Kerkorde 2013, Artikel 38.2: “Die teologiese opleiding word in adviserende hoedanigheid verteenwoordig deur ’n NG dosent van elk van die teologiese fakulteite van Stellenbosch, Pretoria en Bloemfontein.” Hugenote Kollege se verteenwoordiging is nog in proses (vergelyk Agenda p 353, pt 9).

2.1.2 AANBEVELING: AFGEVAARDIGDES

2.1.2.1 Die Algemene Sinode neem kennis van die bewoording van die Kerkorde 2013, Artikel 38.2.”

Die Algemene Sinode het aanbeveling 2.1.2.1 goedgekeur[19].

Ten spyte van die gesprek tussen die TTR en dr Gerber én die ooreenkoms waartoe gekom is dat hy dit onder die waarnemende voorsitter/voorsitter se aandag sal bring, én die feit dat die Algemene Sinode die TTR se aanbeveling goedgekeur het, is daar toe wel by twee geleenthede aan haar ’n spreekbeurt gegee. ’n Lid van die TSR, ds GJ Duursema, het beswaar aangeteken. Die voorsitter het egter volstaan by sy reëling om spreekbeurte aan haar toe te ken.

Ons verwys weer na die Aanvullende Agenda, p 3, pt 2. Prof Dirk Human is die enigste aangewese verteenwoordiger van die Teologiese Fakulteit Pretoria. Tydens die bespreking van selfdegeslagverhoudinge, neem dr Alphons Groenewald plek in agter die mikrofoon, sê dat prof Human nie teenwoordig kan wees nie en dat hy in sy plek is. Hy kry toe ’n spreekbeurt terwyl hy nie ’n NG dosent is nie en dus nie ’n amptelike afgevaardigde of ’n amptelike waarnemer kan wees volgens Artikel 38.2 nie (soos reeds uitgewys deur die TTR).

Beide die sprekers wat Kerkordelik nie geregtig was om aan die debat deel te neem nie, was sterk progay en het ’n beduidende invloed gehad op die uiteindelike besluite van die vergadering.

Hierdie reëling om aan hulle spreekbeurte toe te ken in stryd met die Kerkorde, maak die besluit ongeldig.

A.4.2 DIE ONREGMATIGE BENADELING VAN ANDER SPREKERS

Nadat prof Johan Janse van Rensburg verhinder is om die Algemene Sinode 2015 as amptelike afgevaardigde van die Vrystaat Sinode by te woon, het die Moderamen van die Vrystaat besluit om ’n versoek te rig dat hy wel die vergadering bywoon as amptelike waarnemer met die versoek dat ’n spreekbeurt aan hom toegeken word. Dit het gelei tot die volgende korrespondensie:

Versoek van die Moderamen van die Vrystaat:

31 Augustus 2015

Dr Kobus Gerber

Die Algemene Sekretaris

NG Kerk

Posbus 13528

Hatfield, Pretoria 0028

Beste dr Gerber

AFVAARDIGING NA ALGEMENE SINODE 2015

U dra reeds kennis van die omstandighede rakende prof Johan Janse van Rensburg en dat hy nie as afgevaardigde leraar na die Algemene Sinode kan gaan nie.

Die Moderamen het egter besluit om vir prof Janse van Rensburg as waarnemer af te vaardig en rig hiermee ’n versoek aan u kantoor dat, indien moontlik, prof Janse van Rensburg as waarnemer oor spreekreg by die sinodesitting sal kan beskik.

Ons hoor graag van u in hierdie verband.

Vriendelike groete in Christus.

Dr Carin van Schalkwyk

SKRIBA

INTERIMKOMITEE

Dr JJ (Kobus) Gerber se antwoord op 17 September 2015:

Beste Thea

Dankie vir die navraag.

Die ASM het verlede week vergader en ek het met die Aktuarius oor julle skrywe gekonsulteer.

Die toeken van ’n spreekbeurt is aan lede van die vergadering en toeken daarvan aan waarnemers is nie staande praktyk nie en geskied alleen volgens die diskresie van die moderator/ moderatuur.

Ek vertrou julle vind dit so in orde.

Vriendelike groete

Dr Kobus Gerber

Skrywe aan prof Johan Janse van Rensburg:

18 September 2015

Prof J Janse van Rensburg

Posbus 26067

LANGENHOVENPARK

9330

Beste prof Johan

Insake: Waarnemer met spreekbeurt by die Algemene Sinode

Soos beloof, het die Skriba ’n versoek aan die Algemene Sekretaris van die Algemene Sinode gerig om u as waarnemer met spreekbeurt te erken by die komende Algemene Sinodesitting. Die Algemene Sekretaris, dr Kobus Gerber, het in ’n skrywe gedateer 17 September 2015, soos volg op die versoek geantwoord:

“Die toeken van ’n spreekbeurt is aan lede van die vergadering en toeken daarvan aan waarnemers is nie staande praktyk nie en geskied alleen volgens die diskressie van die moderator/moderatuur.”

In die lig van hierdie skrywe is dit dus hoogs onwaarskynlik dat spreekbeurte toegeken sal word aan persone wat nie deel is van die sinode vergadering nie.

Die aanbod van die Vrystaat Sinode om u as waarnemer na die Algemene Sinode te stuur,

geld steeds. U naam verskyn in die lys van afgevaardigdes na die Algemene Sinode onder die waarnemers wat die Vrystaat Sinode na die Algemene Sinode stuur.

Aangesien u aangedui het dat u in die besonder belangstel in die saak van selfdegeslagverhoudings,bring ons dit onder u aandag dat dit volgens die gedrukte agenda aan die orde kom op Woensdag 7 Oktober 2015, om 16:00. Ter wille van die reëlings sal ons dit waardeer as u vir ons in kennis sal stel of u die hele vergadering, of ’n gedeelte daarvan gaan bywoon.

Vriendelike groete.

Dr Carin van Schalkwyk

SKRIBA – MODERAMEN

Skrywe van prof Johan Janse van Rensburg:

Sent: 18 September 2015 11:51 AM

To: KOMMUNIKASIE (Thea)

Subject: Re: INSAKE SPREEKREG AS WAARNEMER BY ALGEMENE SINODE

Die skriba,

Moderamen Vrystaat.

Geagte dr. van Schalkwyk,

In die lig van die skrywe van dr. Kobus Gerber en die onwaarskynlikheid dat ek aan die besprekings by die Algemene Sinode sal kan deelneem, stel ek u hiermee in kennis dat ek nie die vergadering sal bywoon nie.

Die uwe,

J. Janse van Rensburg

Die feit dat die versoek van die Vrystaatse Moderamen dat ’n spreekbeurt aan prof Johan Janse van Rensburg – alom bekend daarvoor dat hy teen selfdegeslagverhoudinge is – nie toegestaan is nie en hy inderwaarheid ontmoedig is om die vergadering by te woon, terwyl spreekbeurte toegestaan is aan Nadia Marais en dr Alphons Groenewald (vergelyk punt 4.2.1.1 hierbo), dui op niks minder nie as absolute inkonsekwentheid en onregverdigheid.

Artikel 21 stel dit duidelik stel dat “Die kerkvergaderinge behandel sake vanuit kerklike perspektief, in die lig van die Woord van God en op kerklike wyse”[20]. Prof PJ Strauss lewer oor die “kerklike wyse” die volgende kommentaar: “’n Eie kerklike wyse sluit die volgende in: Skrif- en belydenisgetrouheid; broederlike oorreding in plaas van oordondering of profetiese geweld, oorstemming of manipulering; respek vir goeie en billike prosedure; speel die bal en nie die man nie; en ’n verinnerliking van Christelike waarhede (vgl. Janse 1952:144; Nauta 1971:129; Spoelstra 1989:184-185 vir meer voorbeelde).[21] Met die

  • toeken van spreekbeurte in stryd met die Kerkorde aan progay persone,
  • nie toeken van ’n spreekbeurt op versoek van ’n moderamen aan ’n anti-gay persoon,
  • vorige moderator se pleidooi: ‘Gooi NG Kerk óóp vir gays[22],
  • openingsdiens waartydens die geslagregister van die Here Jesus aangewend is om ’n klimaat van “openheid” te skep,
  • dag twee en drie wat nie soos die Reglement van Orde bepaal met Skriflesing[23] geopen is nie, maar waar daar op emosionele wyse voortgeborduur is op die tema van die openingsdiens,
  • skilderye wat tydens die dagopeninge geskep is waarin die gay-tema subtiel aan die orde gekom het in die aanwending van die kleure van die LGBT-vlag,
  • teenwoordigheid van besoekers geklee in hempies wat die progay boodskap propageer het,
  • dat ’n sinodeganger (oudl Carel van der Merwe) wat geklee in ’n progay hempie deelneem aan die bespreking met spesifieke verwysing na die hempie en die boodskap daarvan (terwyl dit al gebruik is by kerkvergaderings om lede daarop te wys dat applous tydens die bespreking nie toegelaat word nie omdat dit nie strook met die kerklike wyse waarop kerkvergaderings sake behandel nie, is dié “stille applous” deur die voorsitter oorgesien),
  • sprekers wat strydig met die Kerkorde nie die voorsitter aanspreek[24] nie, maar (dikwels op uiters emosionele wyse) hulle rig tot die vergadering en die (gay en progay) besoekers,
  • openlike pleidooi vir selfdegeslagverhoudinge tydens die opening van die vierde sittingsdag,
  • aanwending van die Mandorla[25] op die sesde sittingsdag, ens

is ’n atmosfeer geskep waarbinne daar min oorgebly het van nugter denke en eerlike soeke na die leiding van die Heilige Gees volgens die Woord van God as hoogste norm vir die ganse lewe.

Hierdie nie-kerklike wyse en onbillike/onregverdige proses maak die besluit ongeldig.

A.4.3 TYDSBEPERKING PER SPREEKBEURT

Die Kerkorde 2013, p 26, Reglement van Orde, punt 4.4 bepaal:

“Die indiener van ’n voorstel word beperk tot ’n spreekbeurt van 8 minute, met 5 minute tyd vir repliek, en ander sprekers tot 5 minute. Die vergadering mag in bepaalde gevalle van hierdie tydsbeperking afsien.”

Ten spyte van bogenoemde kerkordelike bepaling, het die voorsitter eensydig (maw sonder om die vergadering se goedkeuring te kry by wyse van ’n stemming) gereël dat die deelnemers aan die debat (sprekers) slegs 3 minute gekry het. Ten minste een afgevaardigde het op ’n ordelike wyse beswaar gemaak en daarop gewys dat die Kerkorde bepaal dat sprekers 5 minute het. Hierdie beswaar is doodeenvoudig geïgnoreer. Die reëling is nie net strydig met die Kerkorde nie, maar ook uiters onbillik omdat dit prakties byna onmoontlik is om so ’n moeilike saak wat ingrypende Bybelse (eksegetiese, hermeneutiese, leerstellige, etiese, ens) en kerkordelike implikasies het, in slegs 3 minute per spreukbeurt te beredeneer.

Aan die ander kant nadat daar strydig met die Kerkorde 2013 gehandel is deurdat spreekbeurte wel toegeken is aan twee dosente wat nie voldoen aan die vereistes van Art 38.2 nie, naamlik Nadia Marais en Alphons Groenewald, albei uitgesproke kampvegters vir selfdegeslagverhoudinge – dit ten spyte van en teen die advies van die TTR – is daar aan die wettige afgevaardigdes elk ten onregte slegs 3 minute in plaas van 5 minute[26] per spreekbeurt toegestaan, maar het húlle en die ander teologiese dosente (prof Fanie Snyman van die Fakulteit Teologie Vrystaat en by ’n later geleentheid prof Dirk Human) wat almal progay is, baie langer per spreekbeurt gekry. Tydens die vergadering van die ASM waar die sinode se finale notule goedgekeur is, het ds T Danzfuss versoek dat sy beswaar tydens die sinode teen die 3 minute ipv 5 minute spreekbeurte genotuleer moet word. Die voorsitter het dit bloot afgemaak deur te sê ons hoef nie alles te notuleer wat in ’n vergadering gebeur nie.

Hierdie onregverdige proses tesame met soveel ander onreëlmatighede maak die besluit ongeldig.

A.5 DIE SINODE SE BESLUITE IS ONGELDIG EN PREMATUUR WANT DIE TAAKSPAN SE OPDRAG WAS NOG NIE VOLTOOI NIE.

Die volgende feite bevestig dat die Taakspan[27] nog nie die Algemene Sinode se opdrag uitgevoer het nie en die Algemene Sinode dus nog nie voorbereid of gereed was om op ’n kerklike wyse enige nuwe besluite te kon neem nie.

A.5.1 Die ASM en die taakspan het ooreengekom dat die aanbevelings van die Taakspan nie voor die sinode moet dien nie.

A.5.2 Die ASM se eie aanbeveling aan die sinode was “Die Algemene Sinode besluit om die opdrag voort te sit en besluit ter vergadering oor die raamwerk vir die voortgesette navorsing en dialoog”.

A.5.3 Die sinode van 2013 erken dat die besluite van 2007 geneem was na ’n deeglike eksegetiese en teologiese studie’. Tog gee dieselfde Sinode in Punt 1.5.2 opdrag aan die ASM om verdere studie te doen in die lig van die Skrif en Gereformeerde tradisie. En dan word die Gereformeerde tradisie juis geïgnoreer in die besluite van 2015! In die hele verslag is daar geen sprake van ’n studie van die Gereformeerde tradisie of die Skrif oor die saak nie. Die Gereformeerde tradisie bestempel juis homofilie as sonde! Dan het AS-2015 die besluit van AS-2013 verwerp. Die studie moes gedoen word in die, lig van die Skrif’, maar AS 2015 ignoreer ook daardie deel van die opdrag.

B. BYBELSE EN TEOLOGIESE BESWARE

B.1 DIE SINODE SE BESLUITE IS ONGELDIG WANT DIT IS IN STRYD MET DIE WOORD VAN GOD.

Deur die besluite van 2015 oor selfdegeslagverhoudinge het die Algemene Sinode die Woord van God geminag deur hom nie te onderwerp aan die gesag van die Bybel nie.

  • Die Bybel het verskeie duidelike uitsprake teen die sonde van homoseksuele en/of lesbiese praktyke. Sien bv: Genesis 19:5; Rigters 19:22; Levitikus 18:22; Levitikus 20:13; Romeine 1:24–27; 1 Korintiërs 6:9; 1 Timoteus 1:10. Sien ook Gen 2:18-25
  • Hoewel sekere teoloë met ’n liberale siening en hantering van die Skrif, probeer het om bogenoemde Skrifgedeeltes so te vertolk dat dit nie homoseksuele en lesbiese praktyke veroordeel nie, het die NG Kerk reeds in 2007 ’n deeglike studie oor die eksegese van hierdie Skrifgedeeltes gemaak waarin die liberale vertolking van hierdie tekste een vir een ontleed en afgewys word. Die Sinode het tot dieselfe konklusie gekom as die meer behoudende groep se verslag van 2007 dat homoseksuele praktyke Skriftuurlik onaanvaarbare gedrag is. Daarom was die vereiste gestel dat homoseksuele predikante wat in die bediening staan selibaat moet lewe. In 2013 bevestig die sinode dat daardie besluite op deeglike eksegetiese en teologiese studie rus. Dit verwys baie duidelik na die meer behoudende studieverslag van 2007 want dit was daardie verslag se standpunte wat die sinode aanvaar het.
Die Algemene Sinode herbevestig 2007 se besluit en verklaar dat dit na deeglike eksegetiese en teologiese studie gedoen is…[28]

Die 2015 besluite is dus teenstrydig met die Woord van God en ongeldig.

  • In 2015 het die sinode – sonder om revisie te vra – onkerkordelike besluite geneem wat die teenoorgestelde siening aanvaar. Ons as gereformeerde kerk aanvaar dat die kerk Christokraties regeer word. Christus en Sy Woord dra die hoogste en finale gesag in alle kerkvergaderings. Daarom kan ’n ommeswaai in leerstellige en etiese uitsprake van die Kerk alleen geregverdig word indien dit vanuit die Bybel gemotiveer word. Die probleem is dat daar by die 2015 sinode geen nuwe eksegetiese of teologiese gronde voor die sinode gedien het om sulke besluite te regverdig nie. Ons beskik oor korrespondensie met die Algemene Sekretaris van die sinode waarin hy herhaaldelik versoek is om ons te voorsien van die Skrifgronde wat die sinode tot nuwe insigte oortuig het. Dit het niks opgelewer nie. Die kerk se standpunt van die afgelope 10 jaar is dus sonder enige teologiese of eksegetiese begronding, en sonder die nodige revisie aansoek, omgekeer.
  • Die 2015 besluite is ook ’n ernstige aantasting van die christelike huwelik volgens die Skrif. Die sinode het wel so ewe verklaar dat slegs die verbintenis tussen een man en een vrou ’n huwelik genoem kan word, maar die volgende besluit oor erkenning van burgerlike verbintenisse is in die praktyk ’n verloëning van die huwelik.
2.3 Die Algemene Sinode herbevestig die besluite oor die huwelik van 2004, 2007 en 2013 dat slegs die verbintenis van een man en een vrou as ’n huwelik beskou word.

2.4 Die Algemene Sinode besluit om in die lig van 2.1 hierbo erkenning te gee aan die status van burgerlike verbintenisse van persone van dieselfde geslag wat gekenmerk word deur liefde en trou – en maak voorsiening dat hierdie verbintenisse deur predikante wat hulle weg oopsien, bevestig kan word.[29]

  • ‘n Gewone (heteroseksuele) huwelik kan in SA volgens enige van die twee wette bevestig word nl die ou huwelikswet, wet 25 van 1961 of die nuwe wet op burgerlike verbintenisse van 2006. In laasgenoemde geval kan homoseksuele pare ook bevestig word. Die verhouding wat tot stand kom volgens die twee wette is in praktyk presies dieselfde wat ook insluit wedersydse seksuele voorregte en verantwoordelikhede.
In Suid-Afrika is die definisie van ’n huwelik volgens die Huwelikswet (Wet No. 25 van 1961) deur die Wet op Burgerlike Verbintenisse van 2006 uitgebrei na burgerlike verbintenisse wat deur twee mense van dieselfde geslag aangegaan word. In die praktyk geniet selfdegeslaghuwelike in Suid-Afrika tans dieselfde regtelike erkenning soos heteroseksuele huwelike, al word in hulle registrasiedokument of huweliksertifikaat spesifiek na die Wet op Burgerlike Verbintenisse van 2006 verwys en kan hulle nie ’n huwelik volgens die Huwelikswet van 1961 aangaan nie. Pare wat volgens die nuwe wet wil trou of ’n vennootskap wil registreer, kan self kies of na hul verhouding in die registrasiedokument as huwelik of burgerlike verbintenis verwys word. Burgerlike verbintenisse staan ook oop vir heteroseksuele pare.[30]

Die vraag of hierdie verbintenis bekend gaan staan as ’n huwelik, of as ’n burgerlike verbintenis, word dus nie bepaal deur ’n ander formulier of ander beloftes of ’n ander kontrak of deur enige besluit van die huweliksbevestiger nie. Dit word uitsluitlik oorgelaat aan die keuse van die paartjie self of hulle verbintenis bekend gaan staan as ’n huwelik of as ’n burgerlike verbintenis. Wat die kerk se aandeel en die ampsdraer van die kerk se aandeel aanbetref is daar dus geen verskil tussen ’n huwelik en ’n burgerlike verbintenis volgens die wet van 2006 nie!

  • Die sinode mislei homself en die lidmate dus deur te sê dat die NG Kerk wel ’n selfdegeslag burgerlike verbintenis erken, maar nie ’n selfdegeslag huwelik nie. Volgens die wet op burgerlike verbintenisse van 2006 is dit presies dieselfde.
  • Die sinode verloën so die duidelike Bybelse lering oor die huwelik as ’n lewenslange verbintenis (verbond) slegs tussen een man en een vrou.
  • Die sinode sondig met hierdie besluite. Aangesien die sinode ’n seksuele verhouding in ’n burgerlike verbintenis goedkeur, maar ontken dat dit ’n huwelik is, sondig die sinode nog verder deur nie net seks buite die huwelik goed te keur nie, maar deur selfs ’n nuwe verhouding te skep vir seks buite die huwelik en selfs in die Naam van die Here daardie verhouding te bevestig en te seën.
  • Die sinode sondig baie ernstig deurdat die sinode die sonde van seks buite die huwelik – nogal tussen twee persone van dieselfde geslag so kerklik seën dat die sondige mens nie meer daarvan hoef te bekeer nie. Matt 5:19 waarsku juis teen mense wat sonde goedpraat deur te leer dat God se gebooie ongeldig is. “Wie dan ook een van die geringste van hierdie gebooie ongeldig maak en die mense so leer, sal die minste geag word in die koninkryk van die hemel. Maar wie die wet gehoorsaam en ander so leer, sal hoog geag word in die koninkryk van die hemel”.
  • Die sinode handel in die ergste graad van liefdeloosheid deurdat sy lidmate weerhou word van die voorreg van bekering, aangesien die sonde van buite-huwelikse seks en van homoseksualisme nou kerklik so gesanksioneer word dat bekering nie meer nodig is nie. In Markus 9:42 waarsku Jesus Sy dissipels juis teen die gevaar om met jou uitsprake of optrede ander te laat struikel. “Elkeen wat een van hierdie kleintjies wat in My glo, van My afvallig laat word, vir hom is dit baie beter as ’n groot meulsteen aan sy nek vasgemaak en hy in die see gegooi word.”
  • Die sinode het hom laat lei deur eensydige ongekontroleerde mediese, sosiologiese en sekulêre opinies ipv die Woord van God. Selfs volgens baie Engelstalige kerke het die NG Kerk sy getuieniskrag verloor deur hierdie besluite te neem.
·        The DRC no longer holds the Scriptures as its final authority in practise.

·        The DRC is no longer able to teach the nations to observe all that Jesus commanded, or bring about obedience of the faith among the gentiles, since it now regards the cultures view of morality as the correct one, and thus cannot call for repentance.[31]

B.2 DIE SINODE SE BESLUITE IS ONGELDIG WANT DIT IS IN STRYD MET DIE GEREFORMEERDE BEGINSEL VAN “SOLA SCRIPTURA”

Weens ’n totale afwesigheid van enige Bybelse gronde vir die sinode se besluite, beroep die sinode hom op die algemene openbaring met verwysing na die NGB artikel 2, ipv die Bybel. Die argument word gebruik om die totale gebrek aan Skrifgronde te verbloem.

  • Dit is ’n totale mistasting van die Nederlandse Geloofsbelydenis se verstaan van die algemene openbaring. Weens die mens se sondige natuur en totale verdorwenheid kan die algemene openbaring slegs reg verstaan word in die lig van die Skrif. Dit mag nooit losgemaak word van die bril van die Woord nie.
  • Mens sou eerder die algemene openbaring in die lig van die Skrif kon gebruik om te bewys dat God die mens geskep het as man en vrou nie as man en man of vrou en vrou nie. Ons Skepper het die mens se geslagsorgane so ontwerp dat man en vrou mekaar kan aanvul, nie man en man of vrou en vrou nie. Verder het Hy ook voortplanting geskenk aan man en vrou nie aan twee mans of twee vrouens nie. Deur die Skriftuurlike bril getuig ook die algemene openbaring sterk teen die sinode se onskriftuurlike besluite.

B.3 DIE SINODE SE BESLUITE IS ONGELDIG WANT DIT GAAN UIT VAN ‘N VALSE SIENING VAN SKRIFGESAG EN SKRIFGEBRUIK ASOOK ’n RELASIONELE WAARHEIDSBEGRIP

Die standpunt wat die sinode nou aanvaar het stem grootliks ooreen met die dwaling wat die GKN (Nederlandse Gereformeerde Kerk) reeds in 1979 aanvaar het. Die Algemene Sinode van 1982 het sterk daarteen gereageer. Dit was een van die vernaamste redes waarom ons destyds bande met die GKN verbreek het. Interessant dat die GKN se standpunt destyds juis ook die gevolg was van ’n modernistiese siening oor Skrifgesag en Skrifgebruik soos verwoord in die bekende rapport: “God met ons”.

Dit is duidelik dat die standpunt van die GKN oor homoseksualiteit nie losgemaak kan word van die Skrifbeskouing wat uit die rapport “God met Ons” geblyk het nie. Die Tussentydse Kommissie van die GES wat oor hierdie sake gehandel het, wys in sy verslag op die volgende uitspraak in “God Met Ons” “Ten slotte is op te merken, dat ieder Bijbels gebod toegesneden was op een bepaalde historische situatie. Veranderde die situatie dan zien we al binnen de Bijbel zelf, dat dit aanleiding is tot opheffing, opschorting of wijziging van het gebod” (90/91).

In die lig van die uiteensetting oor hoe die Skrifberoep in die etiek moet funksioneer wat in “God met Ons” gegee word, kan ’n mens nie van die indruk loskom dat daarvan uitgegaan word dat dit eintlik net die liefdesgebod is wat altyd en onder alle omstandighede geldigheid behou en elke historiese situasie te bowe gaan nie. Alle ander Bybelse gebooie moet gesien word as spesifieke konkretiserings van die liefdes-gebod in ’n bepaalde historiese situasie. As ons vandag moet bepaal wat die betekenis van die konkrete gebooie van die Bybel vir ons is, moet ons vra: “Welke heilzame uitwerking beoogde God met die gebod in die specifieke situatie?” In die lig hiervan moet ons dan in ons eie historiese situasie soek om te doen wat heilsaam is. Dit kan dikwels heeltemal anders uitval as wat in die konkrete Bybelse gebod gevra word, mits dit maar beantwoord aan die liefdesgebod en die norm van wat heilsaam in die konkrete situasie is.

In die lig hiervan kan dan geredeneer word dat homofiele verhoudinge nie noodwendig verkeerd hoef te wees nie, mits hulle getrou bly aan die norm van die naasteliefde en die trou teenoor mekaar wat aan die naaste werklik beskerming en lewensruimte gee. Die vraag of die huwelik volgens die skeppingsordening van God en volgens die duidelike implikasie van talle konkrete gebooie in die Bybel die enigste God-gewilde wyse is waarop die mens se seksuele lewe sy vervulling mag vind, kom dan op die agtergrond. Homofiele verhoudinge word selfs as ’n gelykwaardige variant van die liefdes- en seksuele verhouding binne die huwelik aanvaarbaar. Deur die implementering van die relasionele waarheidsbegrip (vergelyk die rapport Homofilie en die boekie In Liefde trouw zijn) word daar ’n spanning geplaas tussen die konkrete gebooie van die wet van God en die samevattende sin van die wet, naamlik die liefde tot die naaste. Dit is na ons mening teologies ontoelaatbaar en dit laat die deur oop vir etiese subjektiwisme. Dit word moontlik om die heersende sedelike opvattinge van die tyd op een of ander wyse met die Bybel te versoen, sy dit dan deur ’n sterk aksent op die historiese bepaaldheid van die konkrete Bybelse gebooie, of deur die redenasie dat die relasionele karakter van die waarheid toelaat dat ons in verskillende tye verskillend met die Bybelse gebooie sal omgaan.[32]

Hierdie kommentaar oor die direkte invloed van ’n valse Skrifbeskouïng en minagting van die Skrifgesag op die GKN se standpunt oor homoseksualisme, verklaar ook die rol van Skrifgesag en Skrifgebruik op die NG Kerk se rondomtalie oor homoseksualisme. As ons uitgaan van ’n relasionele waarheidsbegrip en ’n onskriftuurlike verskraalde eensydige liefdesetiek, dan is dit verstaanbaar dat daar geen behoefte aan Skrifgronde vir ’n nuwe standpunt is nie. Dan is die Skrif nie meer regtig belangrik nie. Al wat belangrik is, is dat die kerk in voeling moet bly met die heersende sedelike opvattings van die tyd om die Skrif dan dienooreenkomstig te herinterpreteer.

B.4 DIE SINODE SE BESLUITE IS ONGELDIG WANT DIT MAAK ’n KARIKATUUR VAN DIE BYBEL SE AMPSBEGRIP EN AMPSDRAERS

Ten opsigte van dié besluit moet daar gelet word op ten minste twee belangrike sake:

  1. Die besluit het voortgevloei uit ’n foutiewe beredenering/valse voorstelling in die verslag van die Projekspan soos voorgelê aan die Algemene Sinode 2015, en
  2. Die Woord van God stel wel besondere vereistes aan persone in die besondere ampte.

B.4.1 FOUTIEWE BEREDENERING/VALSE VOORSTELLING IN DIE VERSLAG VAN DIE PROJEKSPAN

Die Algemene Sinode 2007 het besluite oor homoseksualiteit geneem[33]. Die Projekspan het onder andere soos volg daarop kommentaar gelewer:

3.4 ‘N ONHOUDBARE TEENSTRYDIGHEID IN AMPSBESKOUING[34]

Ons is uit verskillende oorde daarop gewys – maar veral deur leraars en dosente – dat soos dit met konsensussoekende vergaderinge gebeur, daar teenstrydighede in ons 2007-besluitneming oor homoseksualiteit beland het.

Daar is die besluit dat alle mense, ongeag hulle seksuele oriëntasie, ingesluit is in God se liefde en op grond van hulle doop en geloof as volledige lidmate van die kerk van Christus aanvaar word met onder andere toegang tot die ampte (vergelyk punt 3 AS-besluit 2007).

Tegelyk is ook besluit dat slegs “… homoseksuele gelegitimeerdes wat ’n selibate lewensstyl beoefen tot die predikantsamp toegelaat word” (punt 7 van AS-besluit 2007)……………

Die invoering van die selibaat as voorvereiste vir homoseksuele persone in die predikantsamp impliseer ’n dubbele ampsbegrip – een vir lidmate, ouderlinge en diakens, en een vir predikante…….

Bogenoemde argument wat ook weer tydens die besprekings in die Algemene Sinode 2015 herhaal (en weerlê) is, het onder andere gelei tot die volgende besluit[35]:

2.5 Dieselfde Christelik-etiese standaarde (leer en lewe) geld vir die legitimasie en ordening van alle persone. Punt 7 van die besluit van 2007 verval.

Dat die Projekspan se beredenering foutief en ’n valse voorstelling is, is reeds tydens die buitengewone vergadering van die Moderamen op 9 – 10 September 2015 mondeling en skriftelik onder die aandag van die hele Moderamen en

Projekspan gebring. Die volgende uittreksels uit die skriftelike kommentaar[36] wat gelewer is op die konsep verslag van die Projekspan toon dit duidelik aan:

Uittreksel uit die skriftelike kommentaar van die vorige aktuarius, dr JH Ernst:

7.3 Die teenstrydighede wat die Taakspan uitlig, word deur die Taakspan self geskep weens die gedwonge en verkeerde interpretasie wat deur die lede van die Taakspan en ander persone aan die 2007-besluit gegee word. Die Taakspan en ander interpreteer punt 3 van die besluit as die Algemene Sinode se instemming dat homoseksuele persone wat nie selibaat lewe nie (dus in vaste seksuele verhoudinge is), wel in die amp van ouderling of diaken verkies kan word. Omdat dit kan gebeur, is dit teenstrydig of inkonsekwent dat homoseksuele persone in die predikantsamp selibaat (ongetroud) moet bly. Die sprong word dus gemaak van punt 3 na punt 7, sonder om enigsins ag te slaan op punt 6. Natuurlik behoort die voorstanders van vaste gay-verbintenisse te weet dat dit nie gedoen kan word nie, anders was die opdrag aan die huidige Taakspan nie nodig nie. Punt 3 gaan egter van die standpunt uit, soos reeds hierbo reeds aangetoon, dat die NG kerk in sy amptelike besluitneming steeds die onderskeid handhaaf tussen seksuele oriëntasie (gerigtheid) enersyds en die aktiewe uitlewing van seksualiteit in ’n homoseksuele verhouding of verbintenis (dade) andersyds (sien 1.4 hierbo). Die taakspan weet dit inderdaad, en daarom sê die Taakspan self: “Hoewel nie uitdruklik gesê word nie, figureer die onderskeid tussen homoseksuele oriëntasie en homo-erotiek binne die verwysingskaders van AS 2007, met dien verstande dat eersgenoemde aanvaar is en laasgenoemde nie.

Uittreksel uit die skriftelike kommentaar van ’n lid van die Moderamen, ds HM Janse van Rensburg:

3. AS 2007-besluite

Kortliks die volgende oor die beweerde “onhoudbare teenstrydigheid in ampsbeskouïng”:

3.1 Dit is hoekom dit so belangrik is om besluit 9 as volledige besluit (nie net ’n nota of terloopse opmerking nie) by die eerste 8 te lees.

3.2 Dit lê op die terrein van die AS om uitdrukking te gee aan oa die Kerk se beleid (KO, Art 43.1.1). Op grond daarvan het die AS 2007 besluite 1 tot 6 geneem.

3.3 Dit lê verder op die terrein van die AS om die formele vereistes vir die opleiding van bedienaars van die Woord vas te stel (KO, Art 43.1.7). Dit was dus reg dat die AS sy beleid uitspel oor predikantsbevoegdheid in besluit 7.

3.4 Die AS het reg opgetree deur situasie in gemeentes te laat in die hande van kerkrade met besluit 8. Juis omdat die besluite 1 tot 8 saam gestel en saam tot stemming gebring is en dus saam gelees moet word, moet kerkrade dit hanteer in die gees van al 8 die besluite. Indien ’n kerkraad dus anders sou handel in die geval van ouderlinge/diakens, lê die “skuld” vir die teenstrydige ampsbeskouïng by hulle en nie by die AS nie.”

Ons wil dit beklemtoon dat die Algemene Sinode 2007 se besluit 7 nie dui op ’n teenstrydige ampsbeskouïng nie, maar bloot dat die vasstelling van die formele opleiding van bedienaars van die Woord en die toelating tot die bediening is ’n taak van die Algemene Sinode[37] (wat dus Algemene Sinodale diskresie vra). Die verkiesing van kerkraadslede is egter ’n taak van kerkrade (wat dus kerkraadsdiskresie vra).

Daar word vandag ook herhaaldelik geredeneer dat hierdie besluit eintlik al in 2013 geneem was, (dr André Bartlett het al paar keer so gesê), en dus niks nuuts is nie. In 2013 het die Algemene Sinode soos volg besluit, aanvullend tot die 2007 besluite: “Die Algemene Sinode besluit dat homoseksuele en heteroseksuele studente, wat hulle voorberei vir die bediening in die NG Kerk, aan dieselfde Christelik-etiese standaarde moet voldoen met die oog op legitimasie”.

Dit is van wesentlike belang om daarop te let dat die besluit van 2013 het met “dieselfde christelike-etiese standaarde” iets anders bedoel as die besluit in 2.5 hierbo. In 2013 het dit nog, binne konteks, beteken vir albei geld dieselfde maatstawwe soos bv: geen seks buite die huwelik nie. Dit is bevestig met die selibaat vereiste wat steeds geldig was vir homoseksuele gelegitimeerdes wat nie in ’n wettige huweliksverhouding staan nie.

In 2015 beteken “dieselfde Christelik-etiese standaarde” binne konteks gelees, egter iets heel anders, aangesien die “selibaat” vereiste nou daarmee saam geskrap word. Maw homoseksuele gelegitimeerdes kan nou met hul “lewensmaats” seksueel verkeer net soos heteroseksuele gelegitimeerdes. Hierdie implikasie word ook bevestig deur die 2015 besluit oor amptelike kerklike erkenning van ’n burgerlike verbintenis tussen twee persone van dieselfde geslag wat in ’n verhouding van liefde en trou leef.

Dit word betreur dat ten spyte van bogenoemde kommentaar, die Projekspan volstaan het met hulle foutiewe beredenering/valse voorstelling in die verslag.

B.4.2 BESONDERE VEREISTES AAN PERSONE IN DIE BESONDERE AMPTE.

Alhoewel alle gelowiges opgeroep word tot dissipelskap (navolging van die Here Jesus Christus) deur die wêreld te versaak, hulle ou natuur te kruisig en godvrugtig te lewe[38], is daar voldoende bewyse in die Woord van God dat daar tog besondere eise gestel word aan gelowiges wat dien in die besondere ampte. Let onder andere op die volgende: 1 Tim 3:1 – 13 (let byvoorbeeld op die Here se eis in 1 Tim 3:2 naamlik dat ’n opsiener (ouderling – lerend en regerend) moet ’n man met net een vrou wees (2014, Direkte Vertaling). Is daar enige ander konteks wat die reg gee om te lees “…die man van een man/vrou van een vrou”?); 4:6 – 16; 2 Tim 2:15 – 16a; Titus 1:6 – 9; Heb 13:7; 1 Pet 5:2 – 3; en dan so duidelik Jak 3:1.

Die Formulier vir die Bevestiging van Ouderlinge en Diakens sluit daarby aan: “……Die ampte is deel van die gawes (charismata) wat die Here deur sy Heilige Gees aan die kerk gee…… Uit die Bybel is dit duidelik dat ’n ampsdraer bekend moet wees as iemand met ’n lewende geloof, iemand met ’n begeerte om vir die Here te werk, wat bekwaam is om te leer en gewillig is om daarvoor toegerus te word. Verder moet ’n ampsdraer ’n hoë sedelike lewenspeil handhaaf en in alle opsigte betroubaar wees…”

Spesiale hoë etiese standaarde vir die besondere ampsdraers is dus nie Rooms soos wat in die debat beweer was nie. Die Roomse dwaling gaan nie oor hoë etiese standaard vir besondere ampte nie, maar oor onskriftuurlike asketiese vereistes wat hulle stel. Spesiale hoë etiese standaarde vir die besondere ampsdraers is nie Rooms nie. Dit is Skriftuurlik en suiwer gereformeerd. Die Algemene Sinode en alle ander kerkvergaderings is blote funksionarisse van die Koning van die Kerk. Daarom moet elke kerkvergadering haar onderwerp aan die reëls van die Woord. Die vereistes wat God vir die ampte stel, is duidelik, soos hierbo aangetoon.

Konklusie: Die sinode was mislei deur hierdie valse redenasie asof die staande besluite vanaf 2007 op ’n onhoudbare teenstrydige ampsbeskouïng sou rus. Vandaar die ondeurdagte voorstelle vanaf die vloer.

C. KONFESSIONELE BESWARE

C.1 DIE SINODE SE BESLUITE IS ONGELDIG WANT DIT BOTS MET ONS GEREFORMEERDE BELYDENISSKRIFTE

Die NG Kerk staan gegrond op die Bybel as die Woord van God en die leer wat die Kerk in ooreenstemming met die Woord bely, staan uitgedruk in die Formuliere van Eenheid[39]. Dié Belydenis is vir die Kerk só kosbaar dat die wysiging daarvan alleenlik kan geskied by wyse van ’n omvangryke prosedure wat in die Kerkorde[40] bepaal word.

Daar is egter ’n aantal beredeneringe in die Taakspan se verslag en in die besluite rakende selfdegeslagverhoudinge wat lynreg indruis teen die Woord en die Belydenisskrifte. Ons wys slegs op twee sake – een in die verslag en ’n tweede in die besluite.

C.1.1 VERSLAG: INSLUITING IN GOD SE GENADEVERBOND

Die Taakspan lewer die volgende kommentaar: “Die NG Kerk se verknorsing, waarvoor daar nie ’n maklike oplossing is nie, is volgens ons: Indien ons selfdegeslagverhoudinge aanvaar, sal dit vir talle lidmate en evangelikale groepe ’n bewys wees van ons ongehoorsaamheid aan, wat hulle beskou as, die direkte Skrifuitsprake teen homoseksualiteit. Indien ons egter hierdie lidmate en groepe rustig en tevrede in die kerk wil hou deur selfdegeslagverhoudinge af te keur, sal ons ontrou wees aan die Skrifboodskap van Christus oor die menswaardigheid van alle mense en die aanvaarding van alle mense en hul insluiting in God se genadeverbond (sic)”.[41]

Die Taakspan gebruik dus as uitgangspunt “….dat alle mense ingesluit is in God se genadeverbond.”

Dit staan lynreg teenoor die NG Kerk se formele belydenis aan die hand van die Dordtse Leerreëls:

“Die Sinode verwerp die dwaling van hulle wat leer: Alle mense is in die staat van die versoening en in die genade van die verbond opgeneem, sodat niemand vanweë die erfsonde aan die verdoemenis skuldig is of verdoem moet word nie, maar dat alle mense van hierdie sondeskuld vry is.

Die Sinode leer: Hierdie mening is in stryd met die Skrif wat verklaar dat ons van nature kinders van die toorn is (Ef 2:3).”[42] Dié en ander argumente van die Taakspan, teenstrydig met die Belydenisskrifte, het ’n deurslaggewende rol gespeel in die neem van die besluite oor selfdegeslagverhoudinge (beoefening van homoseksualiteit).

C.1.2 BESLUITE: ERKENNING AAN SELFDEGSLAGVERHOUDINGE/-VERBINTENISSE EN DIE VOORSIENING DAT DIÉ VERBINTENISSE KERKLIK BEVESTIG KAN WORD

Die Heidelbergse Kategismus, Sondag 32, lui soos volg:

“87 Vraag: Kan dié mense dan nie salig word wat in hulle goddelose, ondankbare lewe volhard en hulle nie tot God bekeer nie?

Antw: Nee, glad nie. Want die Skrif sê dat geen onkuise, afgodedienaar, egbreker, dief, gierigaard, dronkaard, lasteraar, rower, en sulkes (sic) die koninkryk van God sal beërwe nie (a).

(a) 1 Kor 6:9,10; Ef 5:5,6; 1 Joh 3:14.”

Let daarop dat die Heidelbergse Kategismus verwys na 1 Kor 6:9 en 10 wat soos volg lui: “Of weet julle nie dat mense wat onreg doen, geen deel sal kry aan die koninkryk van God nie? Moenie julleself mislei nie: geen onsedelikes of afgodsdienaars of egbrekers of mense wat homoseksualiteit beoefen of diewe of geldgieriges of dronkaards of kwaadpraters of bedrieërs sal deel kry aan die koninkryk van God nie. En so was party van julle juis ook. Maar julle het julle sonde laat afwas, julle is geheilig, julle is vrygespreek in die Naam van die Here Jesus Christus en deur die Gees van ons God.”

Dit is opvallend dat die “mense wat homoseksualiteit beoefen” in 1 Kor 6:9 nie net so genoem word in die Heidelbergse Kategismus nie, maar dat daar verwys word na “en sulkes”. Waarom het Zacharias Ursinus en Casper Olevianus, die opstellers besluit om nie die Griekse woorde malakoi oute arsenokoi (NAV: mense wat homoseksualiteit beoefen, 2014 DV: manlike prostitute of mans wat met mans intiem verkeer) aan te haal nie, maar te vervang met ’n parafrase? Was hulle versigtig om die beoefening van homoseksualiteit as sonde aan te dui soos wat moderne teoloë doen? Nee, daar was ten minste twee redes:

  1. Die tydsgees[43] van die 1500’s het Ursinus weerhou daarvan om homoseksualiteit pertinent in die HK te noem. Homoseksualiteit was tydens die era waarin die Kategismus opgestel is, beskou as so verwerplik dat vroom mense dit nie eers by die naam wou noem nie. Daarom, vanuit ’n Middeleeuse vroomheid, bloot die verwysing na “en sulkes”. Ursinus se eie kommentaar bevestig dat homoseksuele dade gesien is as sonde wat so erg is, dat daar nie in goeie geselskap daaroor gepraat is nie: “… En vooral de zonde van Sodom of homoseksualiteit. Want hoewel deze zonde te schandelijk is om eraan te denken, veel meer nog om ze uit te spreken, en ervan te wensen was, dat niet alleen de daad, maar ook de herinnering eraan van de aarde weggenomen ware, heeft echter de trouwe Wetgever, onze God – aangezien zo’n onmenselijke zonde bij de heidenen gevonden werd – niet nagelaten, om Zijn volk Israël getrouw daarvoor te waarschuwen, opdat zij zich met zulke gruwelijke zonde niet zouden inlaten (Lev. 18 : 22 en 25; vgl. ook Rom. 1 : 26v.)…”[44]

Dit was nie net Ursinus wat homoseksuele dade beskou het as onuitspreeklike dade nie. Calvyn se kommentaar oor 1 Kor 6:9 en 10 wys ook sy ongemak om homoseksualiteit by die naam te noem: “The fourth description of crime is the most abominable of all — that monstrous pollution which was but too prevalent in Greece.”[45]

  1. Die Heidelbergse Kategismus was opgestel as onderwysing van die Christelike leer – ook van kinders. Dit is interessant om Ursinus se kommentaar op vraag 87 te lees:

“Daarom, allen die van de boze werken niet tot God bekeerd worden, maar die in de zonden volharden, worden in eeuwigheid verdoemd, zoals er geschreven staat in 1 Kor. 6 : 9: „Of weet gij niet dat de onrechtvaardigen het Koninkrijk Gods niet zullen beërven?” en vers 10: „Dwaalt niet: noch hoereerders, noch afgodendienaars, noch overspelers, noch ontuchtigen, noch die bij mannen liggen, noch dieven, noch gierigaards, noch dronkaards, geen lasteraars, geen rovers zullen het Koninkrijk Gods beërven”;[46]

Waarom sou Ursinus in sy kommentáár op vraag 87, 1 Kor 6:9 en 10 aanhaal, met die aanhaal van “die bij mannen liggen”, maar in die parafrase van 1 Kor 6:9 en 10 in die Kategismus self,word homoseksualiteit nie uitgespel nie?

Kevin DeYoung is heeltemal korrek as hy motiveer waarom die HK 1 Kor 6:9 en 10 bloot opsom, sonder om die hele sondelys weer te herhaal, en terwyl dit doelbewus homoseksualiteit nie by die naam noem nie: “The Catechism was meant first of all for children, and children, it was thought, should not be corrupted by exposure to such unnatural behavior. Adults would have understood that Answer 87 forbids all the vices mentioned in 1 Corinthians 6:9-10, including the ones left out or too unseemly to mention.”[47]

Die NG Kerk se formele belydenis identifiseer selfdegeslagverhoudings dus as sonde. Daarom is dit bloot onhoudbaar dat die Taakspan ’n verslag daargestel het, wat geensins teen die agtergrond van die NG Kerk se Belydenisskrifte opgestel is nie. Die verslag aan die Algemene Sinode 2015 het ook die studie resultate van vorige sinodes, waar homoseksuele dade as sonde aangetoon is, bewustelik of onbewustelik geïgnoreer. Dit het uiteindelik gelei tot ’n besluit deur die Algemene Sinode in 2015 wat Skriftuurlik, belydenismatig en kerkordelik nie verantwoordbaar is nie.

DRINGENDE VERSOEK: Ons versoek die sinode dringend om terwille van reg en geregtigheid, die eer van God, die welsyn van Sy kerk, die gesag van die Woord en die redding van sondaars, op grond van een of meer van bogenoemde besware, hierdie appèl te handhaaf.

Geteken:

T Danzfuss (ds)

HM Janse van Rensburg (ds)

Voetnotas

[1] Spoelstra B: Gereformeerde Kerkreg en Kerkregering, p 165, (elektroniese weergawe op webblad van AH Bogaards; Enigste Troos

[2] Spoelstra B: ibid ;p 165.

[3] Handelinge van die Algemene Sinode 1994, p 439, pt 2.6.4.2, en p 559, Algemene Sinode: Besluitnemingsproses, pt 2

[4] Rossouw, P.: Kerkvergaderings; p 55

[5] Die Kerkorde 2013, p 28, Reglement van Orde, pt 8

[6] Die Kerkorde 2013, p 77, Reglement vir Appèl of Beswaar, pt 1.2

[7] Die Kerkorde 2013, p 77, Reglement vir Appèl of Beswaar, pte 1.1, 1.1.1, en 1.2.1

[8] Dr P Rossouw: Kerkvergaderings, p 55

[9] Die Kerkorde, p 27, Reglement van Orde, pte 6.5 en 6.6

[10] Notule Moderamenvergadering 9 – 10 September 2015, p 3, besluit 4.1.2.9.1

[11] Aanvullende Agenda, p 80, aanbeveling 4.3

[12] Dr P Rossouw: Kerkvergaderings. p 48: “Dit is baie nodig om relevante agtergrondsmateriaal na vore te bring, en dit word om twee redes gedoen. Sedert die vorige vergadering is heelwat punte deur lede vergeet, en in die volgende vergadering is gewoonlik nuwe lede wat bygekom het.”

[13] Notule Algemene Sinode, punte 2.1.2.1 – 2.2.2.2

[14] Dr P Rossouw, p 54 en 56

[15] Aanvullende Agenda 2015, p 80, pt 4.3

[16] Notule sesde sittingsdag, punt 2.

[17] Rossouw, dr P: Kerkvergaderings; 1979; p 54en 56

[18] Die Kerkorde 2013, p 26, Reglement van Orde, pt 4.1

[19] Notule, Tweede Sittingsdag: Maandag 5 Oktober 2015, p 1, onder punt 3.

[20] Die Kerkorde 2013, p7

[21] PJ Strauss: Kerk en Orde vandag met die klem op die NG Kerk, 2010, p 61

[22] Netwerk24, 1 Julie 2015

[23] Die Kerkorde 2013, p 24, Reglement van Orde, pt 1.6. Vergelyk ook die notules van die tweede en derde sittingsdae.

[24] Die Kerkorde 2013, p 25, Reglement van Orde, pt 3.7

[25] Die Vanderbilt Biblioteek se webblad sê oor die skildery: “The passion of Ruth’s commitment is suggested by the word “clung.” The verb is most frequently found in the context of marriage, such as the famous words from the garden scene in Genesis 2:24. “Therefore a man leaves his father and his mother and clings to his wife, and they become one flesh.” Ruth clings to her mother-in-law as a man clings to his wife….Naomi makes one last attempt to send Ruth away…Ruth’s response is among the most radical statements of commitment in the Bible…the words of Ruth 1:15-16 take the form of a covenant, but a covenant that goes against all social expectations. Ruth chooses to commit herself to Naomi. She binds herself unconditionally not only to a woman rather than a man, but in an act of radical solidarity, to a woman in near desperate circumstances.”

[26] Die Kerkorde 2013, p 26, Reglement van Orde, pt 4.4.

[27] Taakspan/Projekspan: tensy anders vermeld dui dit op die ASM se Taak-/projekspan wat die Algemene Sinode 2013 se besluite oor selfdegeslagverhoudinge moes uitvoer.

[28] Besluite van die Algemene Sinode 2013 p 237 van Handelinge.

[29] Notule, Algemene Sinode 2015; Besluite oor selfdegeslagverhoudinge

[30] Wikipedia: https://af.wikipedia.org/wiki/Selfdegeslaghuwelik.

[31] Kyk https://calledconvictedconverted.com/2015/11/05/3118/ The Dutch Reformed Church and Homosexuality

[32] Algemene Sinode 1986, Agenda 1986, p355-363

[33] Handelinge Algemene Sinode 2007, pp 204 – 205, pte 12.2 en 12.3

[34] Aanvullende Agenda, pp 89 – 90

[35] Notule Algemene Sinode 2015, Sesde Sittingsdag, p 51

[36] Skriftelike kommentaar is voorgelê aan die Moderamen. Die Moderamen het dit nie ingesluit by die verslag aan die Algemene Sinode 2015 nie aangesien dit die Moderamen se aanbeveling was dat die studie voortgesit word en dat die kommentaar dan in die verdere studie onder die lope geneem sou word.

[37] Vergelyk die Kerkorde 2013, Artikels 7 en 43.1.7

[38] Klassieke doopformulier

[39] Die Kerkorde 2013, p 1, Art 1

[40] Die Kerkorde 2013, p12, Art 44

[41] Aanvullende Agenda, p 84

[42] Dordtse Leerreëls, Hoofstuk 5, punt 5

[43] Die omslagblad van ’n boek, Sodomy in Reformation Germany and Switzerland, 1400 – 1600, wat ’n in diepte studie gemaak het van homoseksualiteit in die 1400 – 1600 era vat die inhoud van die boek mooi saam en dui op die tydsgees: “During the late Middle Ages, a considerable number of men in Germany and Switzerland were executed for committing sodomy. Even in the seventeenth century, simply speaking of the act was cause for censorship. Here, in the first history of sodomy in these countries, Helmut Puff argues that accusations of sodomy during this era were actually crucial to the success of the Protestant Reformation . Drawing on both literary and historical evidence, Puff shows that speakers of German associated sodomy with Italy and, increasingly, Catholicism. As the Reformation gained momentum, the formerly unspeakable crime of sodomy gained a voice, as Martin Luther and others deployed accusations of sodomy to discredit the upper ranks of the Church and to create a sense of community among Protestant believers. During the sixteenth century, reactions against this defamatory rhetoric, and fear that mere mention of sodomy would incite sinful acts, combined to repress even court cases of sodomy.”

[44] Kyk http://www.theologienet.nl/documenten/UrsinusCathZ34-52.pdf Sondag 41 pagina 141

[45] Kyk http://www.studylight.org/commentaries/cal/view.cgi?bk=45&ch=6

[46] Kyk http://www.theologienet.nl/documenten/UrsinusCathZ15-33.pdf pagina 160

[47] Kyk http://blogs.thegospelcoalition.org/kevindeyoung/2012/03/16/does-the-heidelberg-catechism-have-anything-to-say-about-homosexuality/

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui