Bartlett se uitleg verkeerd

Kyk ook:

Die volgende brief van Chris van Wyk het in Kerkbode, 5 Februarie verskyn, waarin hy André Bartlett se skrifuitleg kritiseer (kyk Bartlett se artikel heel onder).

**********

Uitleg is verkeerd

Chris van Wyk van Port Elizabeth skryf:

André Bartlett beweer (Kerkbode, 22 Januarie [kyk hieronder “Die liefde is die Bybelse norm”]) dat sommige in die gay-debat “proeftekste” gebruik en ander die breë lyne van die Bybel. Ek dink die meeste deelnemers volg die breë lyne, maar verskil oor die beoordeling daarvan.

André hou net rekening met die liefde vir die naaste wat onder andere gemarginaliseerdes insluit. Hy sou beter doen deur ook rekening te hou met die liefde vir God, wat ’n gehoorsaamheid vra aan die Skrif se riglyne vir verhoudings.

Die dieper probleem met André se aanpak, is dat hy wel die “proeftekste” behandel, maar ’n eksegeties aanvegbare uitleg daarvan gee:

  • Die tekste in Levitikus het nie met tempelprostitusie te make nie, maar met homoseksuele gedrag binne familiekontekste. Die Bybel praat wel oor selfdegeslagprostitusie in Deuteronomium 23, maar sê in Levitikus 18:22 en 20:13 doodgewoon: “met ’n manspersoon mag jy ook geen gemeenskap hê soos met ’n vrou nie” (OAV).
  • Romeine 1 praat nie net van uitspattige seksorgies nie, maar van enigeen van die vele vorms van selfdegeslagverhoudings wat in Rome bekend was in daardie tyd, onder andere gewone minnaars, seksuele uitbuiting, en wettige selfdegeslagverhoudings (John Boswell).
  • 1 Korintiërs 6:9 en 1 Timoteus 1:10 praat nie net van seksuele uitbuiting nie, maar van selfdegeslagverhoudings wat gekenmerk is deur passiewe en aktiewe vennote, soos die Griekse woordeboeke die woorde uitlê wat daar gebruik word.

Ter illustrasie van die wyse waarop die Bybel oor ongewenste seksuele verhoudings praat, kan na 1 Korintiërs 5 se afwysing van selfdefamilieverhoudings gekyk word. Paulus beoordeel hulle verdraagsaamheid om ’n man en sy stiefma toe te laat om ’n selfdefamilieverhouding te sluit as onsedelik, al doen hulle mekaar nie kwaad aan nie.

Sy beoordeling geld selfdefamilieverhoudings. Dit geld selfdegeslagverhoudings. Dit geld buite-egtelike verhoudings.

*********

Die liefde is die Bybelse norm

André Bartlett

By die Algemene Sinode van die NG Kerk in Oktober verlede jaar is besluite oor die status van vaste selfdegeslagverhoudings geneem wat gelei het tot soms stormagtige gesprekke onder lidmate en predikante.

Wat opvallend was in die debat wat tot hierdie besluite gelei het, is dat daar ten opsigte van Bybelgebruik en Bybelverstaan twee baie duidelike lyne gevolg is.

Aan die een kant was daar die benadering om van ’n paar “proeftekste” gebruik te maak om aan te dui dat die Bybel gekant is teen enige vorm van homoseksuele gedrag en dat die kerk dus in gehoorsaamheid aan hierdie tekste nie anders kan as om te volstaan met ’n verbod op verhoudings tussen mense van dieselfde geslag nie.

Aan die ander kant was daar die benadering om nie vanuit enkele tekste ’n saak op te bou nie, maar om eerder die breë lyne van die Bybel te probeer volg – en dan veral vanuit die perspektief van die Jesusverhaal soos wat dit in die Nuwe Testament uitdrukking vind. Daar is wel ook na die sogenaamde “proeftekste” gekyk, maar daar is bevind dat hierdie tekste te doen het met seksuele uitwasse tussen mense van dieselfde geslag en dus nie bruikbaar is in die beoordeling van selfdegeslagverhoudings van wedersydse liefde en trou nie.

In die lig van die Jesusverhaal is daar veral op twee aspekte gefokus: Jesus se radikale insluiting van mense wat om een ander rede deur die samelewing gemarginaliseer is, en die wyse waarop Jesus die wet as maatstaf vir menslike gedrag gehanteer het.

Uit Jesus se optrede teenoor gemarginaliseerdes is dit baie duidelik dat Hy uitgebeeld word as iemand wat uit sy pad gegaan het om mense wat deur samelewingsnorme en -strukture uitgesluit is, in te sluit by die gemeenskap wat Hy rondom Hom vergader het. Dit het ook mense ingesluit wat op grond van allerlei Ou-Testamentiese reëlings uitgesluit is van volle deelname aan die lewe van die geloofsgemeenskap.

Ten opsigte van die tweede aspek (Jesus se hantering van die wet) word sy samevatting van die wet in die dubbele liefdesgebod as uitgangspunt geneem. In die lig hiervan word die liefde as maatstaf gebruik om te bepaal of menslike gedrag (ook seksuele gedrag) reg of verkeerd is. Die vraag hoe hierdie norm konkreet hanteer moet word, kan op tweërlei maniere beantwoord word: enersyds deur onder andere te verwys na Paulus se uitspraak in Romeine 13:10 dat “die liefde die naaste geen kwaad aandoen nie”, en andersyds deur te verwys na Jesus se woorde in Johannes 10:10: “Ek het gekom sodat hulle die lewe kan hê, en dit in oorvloed”.

Die klassieke voorbeeld van Jesus se eie Skrifgebruik in hierdie verband is sy antwoord aan diegene wat sy dissipels gekritiseer het oor hulle oortreding van die sabbatsgebod, toe Hy gesê het: “Die sabbatdag is vir die mens gemaak en nie die mens vir die sabbatdag nie” (Mark 2:27). Hieruit is dit duidelik dat vir Jesus self die “lewe in oorvloed” waardeur die naaste nie kwaad aangedoen word nie, belangriker is as die strakke nakoming van een of ander bepaling van die wet.

Indien die lens van die liefdesgebod oor die sogenaamde “proeftekste” geplaas word, sou daar bevind kon word dat die gedrag wat daarin beskryf word, wel afkeurenswaardig is – nie omdat dit ’n algemene oordeel oor homoseksuele gedrag uitspreek nie, maar omdat dit verwys na spesifieke gedrag wat die medemens kwaad aandoen. Dit gaan immers in hierdie tekste oor sake soos groepsverkragting (die verhaal van Sodom), tempelprostitusie (die Levitikus-tekste), uitspattige seksorgies (Rom 1) en die seksuele uitbuiting van ondergeskiktes en minderjariges (1 Kor 6 en 1 Tim 1). Sulke gedrag doen nie net die medemens kwaad aan nie, maar dra ook nie by tot die verwesenliking van ’n “lewe in oorvloed” nie, en word om dié rede steeds as onaanvaarbare en sondige gedrag beskou. Hierdie tekste spreek egter nie ’n algemene oordeel oor alle vorme van homoseksuele gedrag uit nie.

Indien die liefdesgebod as norm hanteer word om menslike verhoudinge te beoordeel, dan behoort daar wat sowel heteroseksuele as homoseksuele verhoudings betref, die dubbele vraag gevra te word: Doen dit die medemens kwaad aan, en staan dit in diens van ’n lewe in oorvloed?

Indien twee persone in ’n verhouding van liefde en trou staan waar hulle mekaar nie kwaad aandoen nie en mekaar se lewe verryk, is dit ’n verhouding wat die toets van die liefdesgebod deurstaan en as eties aanvaarbaar beskou kan word. Dan maak dit ook nie saak of dit ’n verhouding tussen persone van dieselfde geslag of tussen persone van die teenoorgestelde geslag is nie.

’n Mens sou verder kon gaan deur te sê dat dit téén die bedoeling van die liefdesgebod is om van enigiemand op grond van sy/haar seksuele oriëntasie te verwag om te kies vir ’n lewe van eensaamheid en onvervuldheid. Volgens die tweede skeppingsverhaal in die Bybel het God self aan die begin gesê “dat dit nie goed is dat die mens alleen is nie” en toe vir die mens ’n medemens gemaak het “wat by hom pas”.

Met die besluit om te kies vir die erkenning van selfdegeslagverhoudings het die Algemene Sinode nie net ’n bepaalde etiese beslissing gemaak nie, maar ten diepste gekies vir ’n meer verantwoordelike wyse om met die Bybel om te gaan in die soeke na antwoorde op lewensvrae.

▶ Dr André Bartlett is hoof van Excelsus, die Sentrum vir Bedieningsontwikkeling aan die Universiteit Pretoria.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui