Chris van Wyk oor homoseksualiteit vs pedofilie

Chris van Wyk het soos volg op Facebook reageer op onder andere die artikel ‘Eers gays, dan ook pedofiele’ (23 Sep 2018).

********

Chris van Wyk oor homoseksualiteit vs pedofilie | Facebook

Deur Chris van Wyk

27 September 2018

Daar word baie onwaarhede op Facebook verkondig na aanleiding van die berigte by Netwerk24.

Hiermee ’n paar opmerkings om my standpunt oor pedofilie te verduidelik.

Vooraf opmerkings oor seksuele oriëntasie

1. In die eerste plek moet ons onthou dat daar steeds baie verskillende menings is oor die hele idee van seksuele oriëntasie. Die American Psychiatric Association (APA) het nog onlangs soos volg daaroor gerapporteer (2015):

“Some people believe that sexual orientation is innate and fixed; however, sexual orientation develops across a person’s lifetime. Scientists are far from discovering the factors that contribute to the development of sexual attractions, so it’s untenable and irresponsible to claim that the innateness of sexual attractions is a proven reality.”

Die gerekende Amerikaanse sielkundige Lisa Diamond, ’n self-erkende selfdegeslag aangetrokke vrou, sê onomwonde:

“In essence, the current scientific revolution in our understanding of the human epigenome challenges the very notion of being ‘born gay,’ along with the notion of being ‘born’ with any complex trait. Rather, our genetic legacy is dynamic, developmental, and environmentally embedded.”

2. In die tweede plek is daar volgens die APA geen inherente verbintenis tussen iemand se seksuele oriëntasie en sy geneigdheid om vir ander ’n gevaar te wees nie. Oriëntasie lei nie noodwendig tot afwykings of misdadigheid nie. Dit is deel van my voorveronderstellings as ek hieroor skryf.

3. In die derde plek is pedofilie iets wat baie meer onder mans voorkom as onder vroue. Dit is bykans afwesig onder vroue, soos die APA self rapporteer. Homoseksualiteit en heteroseksualiteit ontwikkel daarby ook onafhanklik van pedofilie. So het studies daaroor bevind.

Hoewel ek nie my wil uitlaat oor die studies as sodanig nie – dit is ’n gesprek vir ’n ander dag – is dit duidelik dat ’n enkelvoudige reglynige verband tussen homoseksualiteit en enige ander vorm van seksuele oriëntasie, belangstelling of gedrag, nooit gehandhaaf kan word nie.

Ek het ook nie só ’n verband gelê nie. My argument was doodgewoon, as jy seksuele oriëntasie as ’n gawe van God sien, dan sal jy moeilik ander seksuele oriëntasies kan afwys. Dit sou inkonsekwent wees. Ek het doelbewus in die algemeen gepraat oor seksuele oriëntasie en dit nie verbind aan een spesifieke oriëntasie nie:

Die volledige paragraaf van my verklaring as deel van my gesprek met Nelis Janse van Rensburg waarin ek na pedofilie verwys lui as volg:

***

1. Anders as wat jy beweer, is seksuele oriëntasie nie iets waarmee ’n mens gebore word nie. So lees ek in wetenskaplike artikels. Dit is iets wat ontwikkel aan die hand van jou ervaring van aangetrokkenheid tot ander mense. Dit word met puberteit al hoe duideliker. Jou fisiese, emosionele, seksuele en romantiese aangetrokkenheid speel alles ’n rol.

Seksuele oriëntasie kan daarom moeilik sonder meer as ’n gawe van God beskryf word, soos jy dit doen. Dit staan nie só in die Bybel nie. Dit is dus nie deel van God se openbaring aan ons nie.

Indien jy steeds oortuig is daarvan dat seksuele oriëntasie ‘n gawe van God is, sal jy pedofilie – seksuele aangetrokkenheid tot kinders – ook op soortgelyke wyse moet aanvaar. Pedofilie word tans as ’n seksuele oriëntasie beskryf deur sielkundiges (opdatering ter wille van duidelikheid: die APA het die begrip “oriëntasie” in DSM V na hewige teenkanting aangepas na “belangstelling”, maar beskryf pedofilie steeds as ’n normale belangstelling, nie as ’n afwyking, en in ons taal ’n sonde nie). ’n Mens sou pedofilie dan ook as ’n goeie gawe van God moet beskryf. Iets wat moeilik in ’n geloofsgemeenskap gedoen kan word.

***

Dit is duidelik uit hierdie aanhaling dat ek nie na homoseksuele oriëntasie as sodanig verwys nie, maar na alle seksuele oriëntasies. Die gedagte dat ek homoseksuele oriëntasie met pedofilie gelyk stel, is dus van alle waarheid ontbloot.

Die probleem is verder dat die verwarring oor seksuele oriëntasie van die APA self afkom. Hulle is verantwoordelik vir die verwarring wat daar bestaan oor pedofilie as ’n seksuele oriëntasie.

Hier is ook ’n paar opmerkings daaroor:

1. In die eerste plek het die DSM V in sy eerste uitgawe na pedofilie ook as ’n “Pedophilic sexual orientation” verwys en dit soos volg onderskei van “pedophilic disorder”:

“If they report an absence of feelings of guilt, shame, or anxiety about these impulses and are not functionally limited by their paraphilic impulses (according to self-report, objective assessment, or both), and their self-reported and legally recorded histories indicate that they have never acted on their impulses, then these individuals have a pedophilic sexual orientation but not pedophilic disorder. (DSM V, p 698)

Dit beteken dat as jy nie skuldig voel dat jy aangetrokke is tot kinders nie, is jou tipe pedofilie volgens die DSM V net ’n aanduiding van jou seksuele oriëntasie. Jy ly dan nie aan ’n pedofilie afwyking (disorder) nie en moet anders hanteer word. Dit geld homoseksuele en heteroseksuele aangetrokkenheid tot kinders.

Dit is regtig problematies. Die APA het hulle uiteindelik wel van die hele idee van “oriëntasie” gedistansieer, toe daar ’n groot opstand daaroor opgevlam het, en gesê ’n mens moet eerder praat van “pedophilic interest”, en nie “orientation” nie. Die DSM V is online só reggestel. Maar dit beteken nie dat die idee van pedofilie as ’n oriëntasie daarmee doodgewoon weer van die tafel af gehaal is nie.

2. In die tweede plek is daar druk om pedofilie ipso facto as ’n normale beoefening van seksualiteit te aanvaar. Sommige geleerdes propageer bv steeds pedofilie as seksuele oriëntasie hoewel die meeste dit darem ten sterkte teë staan. Kyk hier na een artikel daaroor: Scholar Calls Pedophilia ‘An Unchangeable Sexual Orientation’ that Should Be Accepted by Society.

Daar is ook publieke figure wat pedofilie nie net voorstaan nie, maar persoonlik goedkeur, en moontlik uitleef, soos Nathan Larson, wat in 2018 homself as senator in Amerika verkiesbaar gestel het: Nathan Larson is a pedophile and a white supremacist. And he’s running for Congress. Hy wil pedofilie wettig in Amerika. Vergelyk ook hierdie vroeëre artikel daaroor – pedofiele wil dieselfde regte hê as ander:

Daarby moet ’n mens onthou dat die APA steeds seksuele belangstelling in kinders nie noodwendig as verkeerd en sondig teken nie, maar as normaal, so lank die persoon net nie daarvolgens optree nie. Of pedofilie nou as oriëntasie of as belangstelling geteken word, só ’n tipe aantrekkingskrag bly Bybels-gesproke ’n sondige gedragspatroon.

3. In die derde plek moet ’n mens ook onthou dat daar al hoe meer genders as seksuele oriëntasie (of belangstelling) geteken word. Dit lei ’n mens af uit die uitbreidende karakter van die LBGTIQA+ beweging wat al hoe meer genders as normale uitdrukking van seksualiteit aanvaar.

Die probleem is dus dat die Westerse gemeenskap, en almal wat die LGBTIQA+ beweging ondersteun, met hulle kritieklose aanvaarding van die akroniem LGBTIQA+ hulle skaar by ’n al hoe groterwordende gender oriëntasie ideologie en hulle daardeur blootstel aan ’n al hoe verder weg beweeg van die Bybelse perspektief op geslagtelikheid.

Soos die druk oplaai om pedofilie te wettig, is dit ook met bloedskandelike verhoudings. Daar is pogings om bloedskande te wettig, en in Rhode Island is bloedskandelike seksuele verhoudings reeds wettig, hoewel sulke huwelike nog nie toegelaat word nie: Is incest legal in the United States of America?.

Hierdie tendens sien ’n mens ook in die druk om die ouderdom van “consent” te verlaag. Kyk hier vir ’n kaart met die lande van die wêreld se wetgewing: https://www.ageofconsent.net/world. Hier is ’n opsomming van die situasie in Europa: What is the age of consent in the UK and could it be lowered to 15? The legal sex age for the USA, France, Japan, Spain and others.

Hiermee volstaan ek met my kommentaar op Facebook.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui