‘Eers gays, dan ook pedofiele’

Die volgende artikel het in Rapport verskyn.

Let veral om na wat André Bartlett in hierdie artikel sê (in geel gemerk).

Iemand het toe lyk my die moed gehad om teen Chris van Wyk op te staan, want hy is kort hierna by die menseregtekommissie aankla vir haatspraak. Kyk Opsomming van klag van haatspraak teen Chris van Wyk.

Johann Ernst het egter aan die einde van 2020 ’n tugklag teen André Bartlett gelê op grond van wat hy onder andere in hierdie artikel gesê het. Bartlett is in Junie 2021 skuldig bevind. Kyk Opsomming van tugklag teen André Bartlett 2020-2021.

********

‘Eers gays, dan ook pedofiele’ | Rapport

Deur Johan Eybers

23 September 2018

Een van die mees senior dominees in die NG Kerk sê as die kerk homoseksuele mense in hul midde aanvaar, kan jy dit net sowel vir pedofiele doen. Dr. Chris van Wyk, lid van die kerk se algemene sinode se moderatuur en dus een van die top-ses leiers, het die afgelope week ’n storm ontketen toe hy op Kerkbode se Facebookblad homoseksualiteit en pedofilie gelyk gestel het.

“lndien jy steeds oortuig is daarvan dat seksuele orientasie ’n gawe van God is, sal jy pedofilie – seksuele aangetrokkenheid tot kinders – ook op ’n soortgelyke manier moet aanvaar.” Hy voer aan dat pedofilie tans as ’n seksuele oriëntasie beskryf word deur sielkundiges.

” ’n Mens sou pedofilie dan ook as ’n goeie gawe van God moet beskryf,” het hy geskryf.

Sy inskrywing was in reaksie op ds. Nelis Janse van Rensburg, moderator van die NG Kerk se algemene sinode, se meningstuk in Kerkbode verlede week dat sy persoonlike oortuiging oor selfdegeslagverhoudings nie met die van sy kerk strook nie. “My eie denke oor selfdegeslagverbintenisse lê in ’n ander stroom as wat uitdrukking gevind het in die 2016-besluit (dat homoseksuele verhoudings sonde is).

“Gay mense moet versoen word met die gawe van hul seksuele orientasie. Hulle is net so deel van God se skepping soos heteroseksuele mense. Ek is ook oortuig dat sonde gemeet moet word aan hoe ons leef, en nie aan ons seksuele oriëntasie nie. Sonde is onder meer wanneer ’n daad of ’n aksie iemand anders benadeel, skade aandoen, seermaak, uitbuit, misbruik en dus menswaardigheid aantas,” skryf hy.

Van Wyk het daarop vir Janse van Rensburg beskuldig dat sy standpunt oor gays die Skrif en die belydenis in gedrang bring en dat dit ’n botsing van belange skep met sy posisie as voorsitter van die moderatuur.

Die stryd het uitgekring toe Kerkbode Van Wyk se inskrywing op Facebook verwyder het en hy dit toe op sy eie Facebook-blad gaan plaas het.

Neels Jackson, redakteur van Kerkbode, sê hy het Van Wyk se inskrywing “waarin hy ’n verband met gay-wees en pedofilie maak” op regsadvies van hul blad verwyder. “Dit is gevaarlik om pedofilie by te sleep in gesprekke oor homoseksualiteit. Van Wyk stel homself bloot aan klagte van haatspraak,” sê Jackson. Die brief kom verder neer op ’n klag van leerdwaling teen Janse van Rensburg. “Kerkbode is nie die kanaal daarvoor nie,” sê Jackson.

Van Wyk sê op navraag sy stellings is nie haatspraak nie. “Ek tref nie ’n vergelyking tussen homoseksualiteit en pedofilie as sodanig nie. Dit gaan vir my daaroor dat die gesprek oor seksuele orientasie ’n mens op ’n glibberige roete neem waar die Bybelse boodskap ondergrawe kan word. Vir die Bybel is daar twee geslagte en enige seksuele gedrag buite die huwelik tussen ’n man en ’n vrou word afgewys. As jy egter die sielkundige begrip van seksuele orientasie as ’n gawe van God wil beskryf, sal jy alle seksuele orientasies so moet beskryf, sonder uitsondering.”

Hy se dieselfde argument kan selfs gevoer word vir iets soos bestialiteit.

“As ’n mens een van die verbode seksuele verhoudings goedpraat, het jy nie ’n voet om op te staan om die ander verbode seksuele verhoudings af te wys nie,” sê hy.

Dr. André Bartlett, voormalige lid van die NG Kerk se algemene sinodale se moderamen, sê: “Hy is besig met guerrilla-oorlogvoering op sosiale media. Hy doen niks amptelik nie, maar saai verdeeldheid met inskrywings op sy persoonlike Facebook-blad. Hy ondermyn Janse van Rensburg en die res van die kerk se leierskap terwyl hy self deel is daarvan. Dit is pure verdagmakery.

“Sy standpunt oor gay-wees en pedofilie kom neer op haatspraak. Hoekom word hy met handskoene hanteer en waarom distansieer die kerk hom nie van sulke uitsprake nie? lemand behoort hom aan te gee, maar dit lyk of niemand die moed het om teen hom op te staan nie,” sê Bartlett.

Van Wyk ontken ondermyning. “Ek is 40 jaar lank al vriende met Nelis. Ons was klasmaats. Maar ek handhaaf die 2016-besluit en Nelis nie.” Janse van Rensburg het ’n rugoperasie gehad en kan nie op navrae reageer nie.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui