Bly weg van ‘ekstreme kante’ – Lubbe

Kyk ook KOMMENTAAR onderaan.

*******

Bly weg van ‘ekstreme kante’ – Lubbe | Netwerk24

Johan Eybers

Rapport, Sondag 22 Oktober 2023

“Die wrywing is hoog in die kerk.”

So het ds. Jan Lubbe, nuwe moderator van die NG Kerk, Vrydagmiddag ná afloop van die kerk se 18de vergadering van die Algemene Sinode (AS) in Boksburg aan Rapport gesê.

Lubbe is ’n predikant van die NG gemeente Berg-en-Dal in Bloemfontein.

Een van die groot besluite wat op die vergadering geneem is, is dat sinodes nie meer geografies saamgestel hoef te wees nie. Tweederdes van die afgevaardigdes het Vrydag die Sinodebesluit gesteun om artikel 32 van die kerkorde te wysig sodat spesifieke gemeentes by ’n ander bestaande sinode met gelyksoortige standpunte kan inskakel.

Dit kom nadat die AS Vrydag eenstemmigheid bereik het om nog meer ruimte te skep vir meningsverskille oor selfdegeslagverbintenisse in ’n verdere poging om kerkskeuring te verhinder.

“Ons besluit sê ons maak die pad oop vir gemeentes om ’n tuiste te vind gegewe hul oortuigings rondom die saak. Ons gaan moeite doen om by ons eerste vergadering van die Algemene Sinode Moderamen (ASM) in Maart al daai pad te hê,” sê Lubbe.

Dit beteken in kort dat ’n gemeente sal moet eenstemmigheid kry om te wil skuif. Dit beteken die hele gemeente – nie ’n dominee of ’n groepering binne die gemeente nie.

Hy sê ’n gemeente sal by die sinode waar hulle nou geografies is redes moet aanvoer waarom hulle na ’n ander sinode wil skuif en terselfdertyd ’n versoek rig aan die sinode waarby hulle wil aansluit. Dit gaan dan na die ASM en wanneer dit goedgekeur word, kan die gemeente skuif.

Lubbe sê hy het nie illusies dat die artikel 32-besluit nie kopsere kan veroorsaak nie.

“Ek voorsien daar gaan gemeentes wees wat gaan sê ons is nou klaar. Maar dit is ’n poging om erkenning te gee aan die realiteite binne die kerk. Ons het ’n keuse: Ons kan óf niks doen nie, óf ons kan erken ons is verdeeld en sê ons reorganiseer en herbedink ons kerkverband om daai ruimtes wat gegee is te struktureer ter wille daarvan om nie te skeur nie.”

Lubbe meen die NG Kerk moet wegbly van ekstreme kante.

Solank die middelgrond sy wegwyser is, sal die kerk relevant en behoue bly en ’n verskil in die samelewing maak.

“Waaroor ons ook al praat, of dit nou selfdegeslagverhoudings, aborsie of die oorlog tussen Israel en Hamas is, moet ons wegbly van die ekstreme kante.”

Hy sê as sy eie kinders gay sou wees, sal hy hulle “net gewoon liefhê”, maar hy glo sterk daar moet plek in die kerk wees vir mense wat anders as hy hieroor voel.

Hy het in Nederland met ’n teoloog, dr. Ad de Bruijne, gepraat wat ’n boek oor die gaydebat geskryf het, Verbonden voor het Leven, en besef “hulle is in presies dieselfde situasie as ons”.

Lubbe sê die uitdaging vir die kerk is om weg te bly van die kultuuroorlog soos dit in Amerika afspeel “en nou ’n globale ding geword het”.

Hy sê die NG Kerk het by herhaling besluit en bevestig dat die kerk ’n missionale kerk wil wees.

‘Missionaal’ beteken uiteindelik ons is nie ter wille van onsself kerk nie. Ons is regtig gestuur in ’n wêreld wat op die oomblik ’n ontsaglike nood het en gepolariseer is.”

Hy sê as jy van buite af kyk, is daar twee dinge wat die kerk relevant maak. “Die een is die werk wat op voetsoolvlak gebeur om mense – ons land en ons gemeenskap – te help. Die ander is om ’n ruimte te wees waar mense lig en hoop kan kry.

“Ons het netwerke en ons kan help. Jy het dit gesien met die rampe. Dit is hoekom ek sterk voel dat ons nie moet skeur nie. Ons werksaamhede gaan ly, sowel as ons boodskap van hoop en lig in die wêreld.”

Rapport kon Vrydagmiddag ná die sinodevergadering ’n halfuur met ’n gedaan Lubbe praat oor sy indrukke van die vergadering.

“Ek het laas nag ’n uur en ’n half geslaap. Daar was ’n klomp goed wat ek moes reg hê vir vanoggend wat nie verwys kon word nie. Ons het ná middernag verdaag en toe moes die skryfwerk nog gebeur.”

Lubbe sê hy is persoonlik jammer dat daar nie genoeg tyd was om die beskrywingspunt oor die Belydenis van Belhar op die vergadering te hanteer nie.

Die Wes-Kaaplandse sinode sukkel die afgelope agt jaar weens onuitvoerbare kerkordelike prosedures om Belhar (wat apartheidsteologie as dwaalleer bestempel) as ’n vierde belydenisskrif te aanvaar.

Ds. Charl Stander, die Wes-Kaaplandse aktuarius, kon Vrydag slegs tien minute lank daaroor praat.

Lubbe sê hy gee erkenning aan hul frustrasie, maar “die voorstel is nie weg nie”. Hy sê die kwessies oor sowel Belhar as selfdegeslagverhoudings is voorbeelde wat die kerk naby aan die rigting van “teologies kategoriale sinodes” neem.

“Dit sê byvoorbeeld die Wes-Kaap word die Belhar-sinode en dan kan almal daar inskakel wat gemaklik is daarmee.”

Lubbe sê sy algemene gevoel van die AS-vergadering is dat daar ’n groter sensitiwiteit was “om nie net besluite te jaag nie”.

Kommentaar

Daniel Louw

Interessant dat daar gesê word: “Dit beteken in kort dat ’n gemeente sal moet eenstemmigheid kry om te wil skuif. Dit beteken die hele gemeente – nie ’n dominee of ’n groepering binne die gemeente nie.”

Volgens Lubbe moet die hele gemeente dus wil skuif. As dit werklik die voorwaarde is, dan gaan dit baie beter wees as die gemeente eerder maar heeltemal skeur van die NG Kerk. Sodoende kan die gemeente vryheid verkry om te assosieer met wie hulle wil en volledig kerk wees – kyk Die plaaslike gemeente is volledig kerk (Daniel Louw).

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui