Anton van Niekerk: ’n Klip in die bos oor wát ons glo

Kyk Repliek: Eina, ’n klip het my getref! (14 Nov 2023, Johan Janse van Rensburg) wat hierop kommentaar lewer.

En ook Die dood van dogma? Prof Anton van Niekerk (1 Des 2023, 33:17) van Ferdie Mulder.

Kyk ook KOMMENTAAR onderaan.

*******

Anton van Niekerk: ’n Klip in die bos oor wát ons glo | Netwerk24

Anton van Niekerk

07 November 2023

Die NG Kerk se algemene sinode is agter die rug. Vele het die verloop en uitkoms van hierdie beraad gevrees, veral oor twee sake: die teologiese verantwoordbaarheid van selfdegeslagverhoudings en die vraag of die “woord nog reg gesny word” in die teologiese fakulteite wat huidige geslagte predikante oplei.

In albei die dispute was die casus belli die vraag of die kerklike ortodoksie behoorlik gehandhaaf word. Meer populêr geformuleer: Is besluite wat daaroor geneem word, “skrifgetrou”? Word die Bybel as kerklike gesagsbron na behore erken en eerbiedig?

Ek wil vandag ’n klip in die bos gooi en vra: Moet ons in die Christelike kerk altyd met mekaar saamstem?

Ek het dit elders soos volg geformuleer: Behoort die nagestreefde ortodoksie in die kerk van groter belang te wees as ’n ortopraksie?

Daarmee bedoel ek: Behoort ons, lidmate van die kerk, vir ons meer sorge te maak oor presies wat ons almal glo (ortodoksie), eerder as oor hóé ons, soos gestimuleer deur die Bybel, behoort te leef (ortopraksie)?

My klip in die bos is geen nuwe idee nie; dit gaan eeue terug en word aangetref in die denke van figure soos Arius en Erasmus.

Terwyl die idee bekend en oud is, is die rede waarom dit ’n verstandige idee is, nog nie altyd na behore ingesien nie. Hierdie rede het alles te doen met die veronderstellings wat deurspeel in die kerk se manier om die Bybel te (probeer) lees en verstaan. Kortom, dit het alles te doen met die kerklike ortodoksie se veronderstelde hermeneutiek. Met laasgenoemde bedoel ek die teorie van interpretasie wat deurspeel in talle kerklidmate se lees en begrip van die Skrif.

Die eerste punt om in hierdie verband te snap – en wat deur vele glad nie gesnap word nie – is dat die Bybel nie “vanself spreek” nie, maar geïnterpreteer moet word. Dít is glad nie vanselfsprekend nie!

Vergelyk, byvoorbeeld, Moslems se leesstrategie as dit kom by die Koran. ’n Paar jaar gelede besoek ek en my vrou die bekende Blou Moskee in Istanbul. Ons gids is ’n jong man wat graag gesels. Voordat ons ingaan in daardie manjifieke gebou, ag hy dit nodig om ons eers ’n paar dinge oor Islam te vertel vir “beter konteks”. Sy openingsin is: “The first thing you must understand about Islam, is that it’s a very easy religion.” Ek is nogal verbaas daaroor, maar hy hou voet by stuk.

“To be a good Muslim, you must do five things (only five!): 1. Profess every day there is but one God, and His name is Allah; 2. Pray five times a day, your face directed at Mecca; 3. Give alms to the poor (zakat). 4. Fast through day­time during Ramadan; 5. Do a pilgrim­age to Mecca at least once in your life.”

Ons gids glimlag breed: “You see how easy the Islam religion is?”

Ek is geen Moslem nie, maar hy het my baie laat dink. Moslems lees die Koran letterlik; elke woord in daardie heilige boek is presies en onveranderlik die “Heilige Skrif”.

By Christene is dit so anders. Ons kan nie anders nie as om die Bybel – ook al neem ons laasgenoemde hoe ernstig op – te móét interpreteer. Jesus en Paulus self interpreteer die Ou Testament gereeld in hul prediking. Die skynbaar eenvoudige reël: “Ons glo wat die Bybel sê”, is allesbehalwe eenvoudig.

Ek is daarvan oortuig dat ons heeltemal te veel tyd en energie bestee op die pogings om ortodoksie in die kerk te vind. Ons sal veel verder kom as ons soek na ortopraksie, na ’n gemeenskaplike leefwyse en -strategie wat prakties,eerder as teoreties doen wat God van ons vra.

• Van Niekerk is ’n professor in filosofie aan die Universiteit Stellenbosch. Die mening van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Kommentaar

Daniel Louw

Natuurlik is daar ruimte vir verskille, maar daar is ook baie dinge in die Bybel wat baie duidelik en voor die handliggend is. As jy daaroor wil verskil dan aanvaar jy nie die gesag van die Skrif nie, so eenvoudig soos dit.

Vir meer hieroor, kyk Hermeneutiek en Skrifgesag en skrifinterpretasie (Jan Louw).

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui