Van Niekerk moet sy legitimering opsê

 

*******

Van Niekerk moet sy legitimering opsê | Netwerk24

Dr. Bernhard Ficker, Somerset-Wes

01 Desember 2023

Hennie Scholtz het ’n daadwerklike punt beet dat prof. Anton van Niekerk “darem baie ekonomies met die waarheid omgaan” (24.11) en dat van sy stellings oor Israel “ ’n infame onwaarheid” is.

Ek was ook geskok oor Van Niekerk se infame onwaarhede wat hy so blatant kwytraak. So asof hy nooit koerante lees of oorsese TV-nuuskanale kyk nie. Scholtz moet egter onthou dat Van Niekerk ’n professor in filosofie is. In daardie dissipline word jy geleer dat enigiets weg-geredeneer, weg-gemetaforiseer of weg-gefilosofeer kan word, veral Bybel-waarhede, want volgens filosowe is daar nie ’n absolute waarheid nie.

Van Niekerk spreek sy spyt uit dat sy “klip in die bos” vir prof. Johan Janse van Rensburg getref en “seergemaak” het (23.11). Dis eintlik ’n wonderwerk, want deesdae gooi Van Niekerk al hoe meer die bos heeltemal mis.

Ja, daar is deesdae ’n magdom Bybelse interpretasies wat al hoe meer word, soos Van Niekerk dit stel. Maar dit is slegs die geval as die humanistiese uitgangspunt van “my siening” en “jou siening” en “hoe voel jy daaroor” die vertrekpunt is en nie “wat sê die Bybel” nie, soos ons weer by die afgelope algemene sinode van die NG Kerk sien gebeur het.

Van Rensburg skryf (14.11) dat hy nie kan “verstaan hoe ’n kerk kan bestaan as elkeen die inhoud van ortodoksie en ortopraksie na wille keur kan bepaal nie”. Ja, baie geldige punt, ek verstaan dit ook nie.

Van Niekerk het al daarop geroem dat hy steeds ’n NG Kerk-gelegitimeerde is. Sodoende het hy ’n legitimasie-eed onderteken “… dat ek hierdie leer getrou sal verkondig en uitleef; dat ek alle dwalinge wat met hierdie leer in stryd is, sal weerlê en alles in my vermoë sal doen om dit uit die kerk te weer”.

Hoekom doen hy nie sy legitimasie-eed gestand nie, of kan hy nie meer dwaalleer herken nie?

Sy skrywe van 7 November verteenwoordig sienings wat direk bots met sy legitimasie-eed. Van Niekerk se post-moderne onderrok steek duidelik uit, ten spyte van sy ontkennings. Met die filosofiese en humanistiese sienings wat hy nou huldig, is dit nie miskien gepas dat hy sy legitimering opsê nie?

• Laat hoor van jou: Stuur jou brief na dbmening@dieburger.com. Briewe moet vergesel wees van die skrywer se naam, adres en telefoonnommer. Briewe korter as 350 woorde sal voorkeur kry. Die Burger behou hom die reg voor om briewe te redigeer en verkort. Publikasie van briewe word nie gewaarborg nie en berus by die brieweredakteur. Geen kommunikasie sal hieroor gevoer word nie.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui