Oor ds. Maartje se ‘parkeer’-versoek

*******

BRIEF | Oor ds. Maartje se ‘parkeer’-versoek | Rapport

Sondag, 5 November 2023

Amos van der Westhuizen, Bloemfontein, skryf:

Ds. Maartje van der Westhuizen, nuwe assessor van die NG Kerk, word deur Hanlie Retief aangehaal: “ . . . kom ons kyk asseblief net ’n bietjie na alles wat ons saambind, kom ons haak nie vas by alles wat ons van mekaar wegtrek nie.”

Dit is in die konteks van die verdeeldheid binne haar kerk.

Sal dit nie wonderlik wees as ons dié stukkie wysheid uitkringend reg deur ons handel en wandel kan toepas nie? Dus, as ’n NGK-verteenwoordiger ’n interkerklike byeenkoms bywoon, beteken dit om te fokus op die breë Christelike waardes en weg te bly van sy/haar kerk se spesifieke gebruike en dogmatiese leringe. As dieselfde verteenwoordiger ’n intergeloofsbyeenkoms bywoon, sal die fokus val op gemeenskaplikhede in die teïstiese wêreld en neutraal praat van “God” eerder as name vir gode soos Jesus, Mohammed, Jahwe, Allah, ens.

As die verteenwoordiger nou die geleentheid kry om in die koerant te skryf of in die openbaar of oor die radio of op TV ’n toespraak te lewer, bevind hy/sy hom/haar buite die religieuse of teïstiese leefwêreld. Om hier proteïstiese, anti­teïstiese of spesifieke godsdiens-uitsprake te maak is om verdeling te veroorsaak.

Ds. Maartje vra in dieselfde onderhoud dat ons ons verskille eenkant parkeer. Die neutrale standpunt ten opsigte van teïsme in die sekulêre wêreld is eerderareligieus of ateïsties; nie proteïsties of antiteïsties nie. Laasgenoemde twee sal beslis verdeling en twis ontlok.

Ons almal in die menslike toestand deel dinge soos liefde, haat, wins, verlies, vreugde, hartseer of enige ander menslike ervaring wat ons kan bespreek op maniere wat nie aanstoot gee nie. As jy buite jou veilige dampkring beweeg, is gedeelde menslikheid dit wat ons saambind. Parkeer die verskille.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui