Doopformulier van die NG Kerk

FORMULIER VIR DIE BEDIENING VAN DIE DOOP AAN DIE KINDERS VAN GELOWIGES

Geliefdes in die Here Jesus Christus, vir die bediening van die doop moet ons die volgende weet en met ons hele hart daarop vertrou:

Waarom ons doop

Ons word gedoop omdat die Here God ’n verbond van genade met ons en ons kinders gesluit het. Reeds vir Abraham die vader van alle gelowiges (Gal 3:29; Rom 4:11,16), het die Here gesê: “Ek bring ’n verbond tot stand tussen My en jou en jou nageslag en al hulle geslagte. Dit is ’n blywende verbond: Ek sal jou God wees en ook die God van jou nageslag” (Gen 17:7).

In die Ou Testament het die Here die besnydenis en pasga as tekens gegee dat die verbondgeldig is. Daarna het Christus gekom en hierdie verbond in sy persoon en deur sy verlossingswerk op ’n nuwe en finale wyse bevestig. As teken en waarborg hiervan het Hy die doop en die nagmaal gegee.

Die Here Jesus Christus het voor sy hemelvaart aan sy dissipels die opdrag gegee om die doopte bedien. Hy het gesê: “Gaan dan na al die nasies toe en maak die mense my dissipels: doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees, en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het” (Mat 28:19,20a). So het die Here Hom verbind deur hierdie verbond om ons God te wees en ons te seën. Van ons vereis Hy dat ons Hom in dankbaarheid en gehoorsaamheid sal dien.

Wat is die doop?

Die doop in die Naam van die drie-enige God, Vader, Seun en Heilige Gees, beteken en verkondig:

  • dat ons en ons kinders, wat as sondaars in die wêreld gekom het, slegs in die koninkryk van God kan kom as ons opnuut gebore word;
  • dat die Here daardeur bevestig dat Hy ons in sy verbond insluit, ons tot sy kinders aanneem en ons deel laat hê aan al die voorregte van die verbond;
  • dat ons en ons kinders verbind word aan Christus wat ons sonde deur sy bloed afgewas het;
  • dat ons ou, sondige lewe saam met Hom aan die kruis gesterf het en saam met Hom begrawe is, maar dat ons ook weer deur sy opstanding lewend gemaak word sodat “ons vir die sonde dood is en vir God lewe” (Rom 6:11);
  • dat die doop ’n seël is van die inlywing in die kerk van Jesus Christus en ons verplig om as lewende lidmate te leef;
  • dat ons as gedooptes die Here uit dankbaarheid met ons hele wese moet liefhê, vertrou en dien, en
  • dat die Here ons deur hierdie sakrament verséker dat Hy deur sy Gees in ons wil woon en ons lewens daagliks so regeer dat ons hoe langer hoe meer sy beeld vertoon.

Verbondskinders moet gedoop word

Kinders van gelowiges moet gedoop word omdat God die kind van die begin af insluit in sy verbond met die gelowige ouers. Daarom is hele gesinne in die Nuwe Testament gedoop waar die ouer(s) tot geloof gekom het.

Al verstaan die kinders nog nie die doop nie, verander dit niks aan die geldigheid daarvan vir hulle nie. Trouens, dit beklemtoon juis die feit dat dit God is wat uit vrye genade ook in hulle geval die inisiatief neem in hul verlossing.

Waartoe verplig dit ons?

Die doop bevestig aan ons alles wat God ons skenk deur die genadeverbond en maak ons telkens bewus van hierdie vaste grond waarop ons geloof berus.

Daarom verbind die doop die ouers om hulle kinders soos hulle opgroei oor die betekenis en eise van die genadeverbond in te lig, ’n voorbeeld vir hulle te wees in die uitlewing daarvan en hulle op te roep tot die toe-eiening van God se beloftes.

(Die doopouers word opgeroep en die dopelinge word ingebring.)

Gebed

(Opsioneel)

Doopgelofte

Geliefdes in die Here Jesus Christus
U* het gehoor dat die doop ’n Goddelike instelling is waardeur die Here sy verbond van genade aan ons en ons kinders waarborg en aan ons al die gawes van Christus skenk. Om te bevestig dat u die doop vir hierdie doel gebruik en nie uit gewoonte of bygelowigheid nie, moet u opreg op die volgende vrae antwoord:

Ten eerste: Bely u dat, hoewel ons kinders as sondaars in die wéreld gekom het en daarom onder die oordeel van God staan, hulle nogtans in Christus aan God behoort en daarom as lidmate van sy gemeente gedoop moet word?

Ten tweede: Bely u dat die leer van die Ou en Nuwe Testament wat ook in die artikels van die Christelike geloof vervat is en in die kerk hier geleer word, die ware en volkome leer van die verlossing is?

Ten derde: Beloof u om hierdie kind, van wie u vader en moeder (of voog) is, in dié leer na dié beste van u vermoë te onderrig en te laat onderrig?

Antwoord (hardop): Ja.
* “u” kan met “jy” of “julle” vervang word.

Bediening

Die liturg wat die doop bedien, sê: “NN (volle naam en van), ek doop jou in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees.”

Dankgebed

Almagtige, ewige God en Vader, ons dank U vir u genadeverbond waarin U ons en ons kinders laat deel. Ons dank U dat U ons deur die bloed van Jesus Christus van al ons sondes gereinig het, dat U ons deur u Heilige Gees tot lidmate van sy gemeente ingelyf het en ons tot u kinders aangeneem het. Baie dankie dat U hierdie waarheid deur die doop aan ons en ons kinders waarborg en bekragtig.

Regeer hierdie kind(ers) so deur u Woord en Gees dat hy/sy/hulle U uit dankbaarheid en met vreugde voortdurend sal dien, dat hy/sy/hulle met volharding teen die duiwel en sy mag sal stry en oorwin, sodat hy/sy/hulle eenmaal voor u troon sal kan staan met vrymoedigheid.

Hemelse Vader, ons bring aan U die lof, dank, aanbidding, eer en heerlikheid tot in alle ewigheid, in die Naam van ons Here, Jesus Christus. Amen.

4 thoughts on “Doopformulier van die NG Kerk”

  1. Kan die doop van babas ‘n tradisie of formaliteit wees?
    Baie babas wat gedoop is word later aangeneem en voorgestel en sien dit as gered terwyl hul dan in wêreld verval?
    Geen baba is gedoop in die Bybel nie.

    1. David, ja natuurlik. Maar daar is baie mense wat ook kerk toe gaan omdat dit ‘n tradisie is en hulle dink dat dit darem sal help om gered te word. Hierdie argument is op sigself nie goeie argument teen die doop van babas nie.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui