God se hart vir God se mense – Uitverkiesing onder vergrootglas (Johan Kriel)

Kyk ook:

Kliek om Johan Kriel se boekie, “God se hart vir God se mense – Uitverkiesingsleer onder die vergrootglas” af te laai in Word-formaat, kliek hieronder

Hier volg die voorwoord:

Hierdie uiteensetting is gebore uit die behoefte om die opvatting dat God reeds vóór die skepping sommige mense tot die Ewige Lewe uitverkies het, en die res in hulle gevalle sondige toestand laat – met die verderf as hulle eindbestemming – aan die Skrif te toets.

Ek weet ek loop hiermee die gevaar om as “ongereformeerd” afgemaak te word, maar ek het nie veel van ’n keuse nie, want ek sal die Here in die oë moet kyk, as ek stilbly oor die insigte wat uit Sy Woord vir my duidelik geword het. Ek besef ook dat daar baie mense is wat nie eens die moeite sal doen om my opvattings aan die Skrif te toets nie, want dan sal hulle dálk moet herbesin oor wat hulle oor baie jare onkrities as die onbetwisbare gereformeerde waarheid aanvaar het. Maar dit mag my nie daarvan weerhou om in elk geval die ander kant van die saak te stel nie. Wat ander daarmee maak, is nie my verantwoordelikheid nie.

Dan is daar baie mense wie se sienings só verstok is, dat hulle die waarheid nie sal glo nie, selfs al staan dit ook helder, duidelik en onbetwisbaar in die Skrif. Al wat ek vra, is vir die gewilligheid om bestaande, ingeburgerde leerstellings ’n slag diepgaande en onbevooroordeeld aan die Woord van God te toets, en om méér waarde te heg aan wat die Woord sê, as wat ander óór die Woord sê. Feit is, niemand van ons staan bó die Skrif nie, nie eens Calvyn of Luther, of wie ookal nie. Ongelukkig lyk dit soms of party teoloë van die verlede Kanonieke status verkry het. Wat hulle gesê het, is finaal – en ons durf dit nie bevraagteken nie!

In hierdie skrywe verwys ek na baie Skrifgedeeltes wat duidelik ’n ander boodskap, as die gangbare, oor ekstreme uitverkiesing oordra, en dan word ook die Skrifgedeeltes wat m.i. verkeerd vertolk word, aan die orde gestel. Hierdie is geen nuwe waarheid nie, slegs die herhaling van bestaande Skrif-waarheid, wat soms verwring word deur nie die konteks waarbinne hulle staan, behoorlik te verreken nie.

Maar die kern van die saak is dat ons God se hart vir Sy skepping en skepsels in die Skrif moet hoor klop, as ons by die waarheid oor die uitverkiesing wil uitkom. Vandaar die titel van hierdie boekie.

Ek hoop dis vir u tot seën.

Johan Kriel

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui