‘Wegbreek-praatjies benadeel kerk se beeld’

*****

‘Wegbreek-praatjies benadeel kerk se beeld’ | Kerkbode

Deur Helene Meissenheimer

19 Augustus 2021

Daar het ’n groep van 14 predikante, drie emeritusleraars, vyf ouderlinge en drie NG lidmate op Vrydag 13 Augustus ’n byeenkoms in Namibië bygewoon om oor dolering en die pad vorentoe te praat.

Sola Scriptura (Latyn vir ‘Skrif alleen’), ’n gespreksplatform van predikante en NG lidmate in Namibië, het die byeenkoms gereël. Die platform is deur 19 predikante begin wat nie met die 2019-sinodebesluit oor selfdegeslagverhoudings saamstem nie, want hulle beskou dit as “in stryd met God se Woord en dus as ’n minagting van die gesag van God se Woord”.

“Ons wil graag sien dat soveel as moontlik gemeentes doleer en so hulle standpunt inneem teen dwaalleer in die NG Kerk. Daarna hoop ons die Namibiese Sinode maak haarself volgende jaar los van die Algemene Sinode in terme van Artikel 37 … sonder beke­ring by die Algemene Sinode en suiwe­ring van die teologiese opleiding sien ons geensins ons weg oop om saam met hierdie instellings vorentoe te beweeg nie,” sê ds Erik van Zyl, voorsitter van Sola Scriptura. Hy is ook sendingkoördineerder van Kunene vir Christus en medepredikant by Pionierspark-gemeente in Windhoek.

Die ‘dwaalleer’ verwys na die Algemene Sinode se besluit oor selfdegeslagverhoudings in 2019. Luidens dié be­sluit kan gemeentes self besluit watter standpunt hulle wil inneem oor verhoudings tussen mense van dieselfde geslag.

By navraag van Kerkbode het Van Zyl breedvoerig uiteengesit hoekom hulle sê dat hulle nie langer in een kerkverband kan staan met die Algemene Sinode oor die 2019-besluit nie. Hy sê, in kort, Sola Scriptura hou by die NG Kerk se voormalige beskouing dat selfdegeslagverhoudings sonde is en reken dit is onder druk vanuit “sekulêre postmodernisme” wat die kerk oor jare binnegesypel het dat laasgenoemde nou erken word as reg. Hulle beskou dit as liefdeloos om dit nie sonde te noem nie.

Volgens Van Zyl het 39 Namibiese leraars nou al aangedui dat hulle Sola Scriptura se verklaring teen die 2019-sinodebesluit steun wat glo net meer as die helfte van dienende leraars in die land sou wees.

Die NG Kerk se leierskap het by navraag aan Kerkbode genoem uitla­tings soos dié van Sola Scriptura doen skade aan kerkeenheid en die beeld van die kerk na buite.

“Dit sal altyd die NG Kerk se strewe wees om die eenheid van die kerk voor­op te stel. Ons getuienis hang immers in ’n groot mate daarvan af,” sê dr Gustav Claassen, algemene sekretaris van die Algemene Sinode van die NG Kerk.

“Myns insiens word daar in ge­sprekke op sosiale media en elders onverantwoordelik omgegaan met die eenheid van die kerk. Woorde en taal wat na kerkskeuring verwys is onnadenkend. Die kerk, ook die kerk waaraan die dolerendes behoort, word ongelooflik skade aangedoen. Die kommentaar van buitekerklikes en hoe hulle hierdie gevegte binne die kerk beoordeel, is ’n pynlike bewys daarvan,” voeg hy by.

Om te doleer is ’n ou gereformeerde tradisie waarvolgens ’n gemeente aandui dat hulle ‘treur’ oor ’n besluit of optrede van die kerkleierskap en dan gewoonlik hulle finansiële ondersteuning terughou. Dolerende gemeentes behou egter hulle NG Kerk-status.

“Dit is ongelukkig so dat sommige van die dolerende groep nie net ‘treur’ nie maar met verdagmakery besig is, onder andere dat andersdenkendes se getrouheid aan fundamentele belyde­nissake bevraagteken word. Beskuldi­gings word dan gemaak soos van swak geestelike toestand, ensovoorts. Dit slaag nie die toets van die liefde nie,” sê Claassen.

Vir die Sinode van Namibië is be­skerming van kerkeenheid ook voorop en daarom wil hulle die optrede van Sola Scriptura intern hanteer. “Dit bly vir ons ’n binnenshuise gesprek,” sê hulle moderator ds Johannes Maritz. “Al die (publisiteit) wat die saak kry, maak dat eksterne faktore interne spanning skep en dat onnodige etiketering en agterdog plaasvind. Ons wil dit ten alle koste verhoed,” voeg hy by.

Die Sinode van Namibië het hulle onlangs in ’n verklaring gedistansieer van NG gemeente Die Strand se dole­ringsbesluit. Claassen sê dit is belangrik om hiervan kennis te neem omdat Sola Scriptura die “sentimente van Die Strand-gemeente” ondersteun.

Daar is tans twee dolerende gemeentes in Namibië en sowat 75 in Suid-Afrika, volgens die lys wat deur die Kairos Netwerk op hulle webwerf bygehou word. Van Zyl se eie gemeente is nie een van die dolerendes nie en hy weet nie of hulle gaan doleer nie.

Anton Knoetze, voorsitter van Kairos Netwerk, het gesê hulle het kennis geneem van die byeenkoms gereël deur Sola Scriptura en bygevoeg daar is ook ander gemeentes wat hom skriftelik gekontak het dat hulle Kairos Netwerk ondersteun. Die Kairos Netwerk verteenwoordig ’n groep NG gemeentes wat ook van die 2019-sinodebesluit verskil en onlangs aangedui het hulle wil vir ’n afsonderlike sinode in die NG kerkverband vra.

Claassen sê die hoop van die NG Kerk se leierskap is egter dat kerkeenheid behou kan word. “Die uitnodiging is altyd daar vir gesprek. Kom ons probeer ’n weg vind uit die vasgelopenheid. Kom ons wees ’n getuienis,” sluit hy af.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui