Namibiese leraars verwerp NG kerk se ‘dwalinge’ oor gays

*********

Namibiese leraars verwerp NG kerk se ‘dwalinge’ oor gays | Netwerk24

Deur Johan Eybers

15 Augustus 2021 00:01

Meer as die helfte van die dienende leraars van die NG Kerk in Namibië ondersteun ’n drukgroep wat vra dat hul streeksinode hom moet losmaak van die algemene sinode se “dwalinge” oor selfdegeslagverhoudings.

Ds. Erik van Zyl, voorsitter van die Sola Scriptura-groep, ’n forum vir behoudende predikante, gemeenteleiers en lidmate, sê 30 van die 58 dienende leraars van die Namibië-sinode ondersteun ’n besluit wat Vrydag geneem is om hulle te “beywer vir ’n totale losmaking van die algemene sinode volgens artikel 37 van die kerkorde”.

Sola Scriptura of “skrif alleen” verwys na die groep se aanklag dat die kerk van die Bybelse verordeninge afwyk. Ingevolge artikel 37 kan ’n streeksinode glo volledig wegbreek én sy status as NG Kerk, voorregte, regte, besittings en naam behou.

Tien van die 44 gemeentes van die Namibië-sinode wat by die vergadering was, meen daar moet druk op die streeksinode geplaas word om weg te breek.

Van Zyl sê 14 leraars, drie emeritus leraars, vyf ouderlinge en drie lidmate het die vergadering in Okahandja, 70 km noord van Windhoek, bygewoon om oor die pad vorentoe te praat.

“Daar is 30 predikante wat Sola Scriptura ondersteun (waarvan nie almal die vergadering bygewoon het nie). Dit beteken moontlik dat die meerderheid predikante by die volgende streeksinodesitting ten gunste mag wees om ingevolge artikel 37 uit te tree,” sê hy.

Dit sal na verwagting beteken dat meer gemeentes hulle nou sal voeg by die twee van die 44 gemeentes in die land wat reeds doleer (of “treur”) oor die algemene sinode se besluit oor selfdegeslagverhoudings.

“Ons beweging is besig om vinnig te groei. Toe ons in 2019 ontstaan het, was daar 19 leraars wat ons verklaring onderteken het om te protesteer teen die algemene sinode se besluit om ruimte te maak vir selfdegeslagverhoudings en verbintenisse in die kerk.”

Volgens ’n verklaring van Sola Scriptura het hulle Vrydag byeengekom om te “treur oor die swak geestelike toestand van die NG Kerk”, vir ’n “God-gewerkte herlewing” in die kerk en “die pad vorentoe”.

“Ons versoek alle gemeentes in Namibië om ook te treur oor die besluite van die algemene sinode en ons sal ons beywer vir die totale losmaking van die algemene sinode volgens artikel 37.”

Die verklaring lui hoewel die Nami­biese streeksinode in 2016 “ ‘selfdegeslagseksuele verhoudingsgedrag as sonde veroordeel het”, het die Nami­biese afvaardiging ná die algemene sinode se vergadering in 2019 “nie die besluit oor selfdegeslagverhoudings ten sterkste afgewys nie”.

“Inteendeel, hulle het die algemene sinode se besluite geprys en die onbybelse diversiteit van dié besluit wat twee onversoenbare Skrifstandpunte binne een geloofsgemeenskap wil akkommodeer, met oop arms omhels.”

Sola Scriptura het die afvaardiging se optrede as “hartseer” beskryf. In ’n klaarblyklike verwysing na lede van die afvaardiging sê hulle “sekere mense het ons geledere binnegesypel wat God se genade in losbandigheid laat ontaard en Jesus Christus ontken”.

Dié Namibiërs se standpunt volg op die besluit van 77 van die 1 050 gemeentes van die NG Kerk in Suid-Afrika om te doleer. Dié gemeentes verwys na hulself as die Kairos Netwerk (KN) en wil nou vir ’n afsonderlike sinode in die kerkverband vra.

Van Zyl sê daar is op die vergadering kennis geneem dat KN ’n afsonderlike sinode wil begin. KN het vroeër aangedui hulle wil die gesprekke oor die proses teen die einde van die jaar afgehandel hê en beoog om teen volgende jaar ’n werkbare sinode op die been te bring.

In die Vrystaat doleer 23 uit 154 gemeentes, gevolg deur 17 uit 112 van die Hoëveld-sinode (Johannesburg en omstreke), 11 uit 123 in Goudland (Noordwes), agt uit 225 in Wes-Kaapland, vyf uit 103 in Oos-Kaapland, vyf uit 84 in die Oostelike Sinode (Mpumalanga), drie uit 82 in Noord-Kaapland; twee uit 117 in die Noordelike Sinode (wat gemeentes van Pretoria tot Zambië insluit), en een uit 50 in KwaZulu-Natal.

Anton Knoetze, voorsitter van KN, het aan Rapport gesê behoudende gemeentes sal self die inisiatief moet neem om “alternatiewe kerkverbande” te sluit. “KN se rol is adviserend en ondersteunend.”

Ds. Nelis Janse van Rensburg, moderator van die algemene sinode, sê daar was ’n gesprek met KN oor pogings om missionale kerkordelike vernuwing te bewerkstellig sodat groepe wat bepaalde standpunte huldig by die NG Kerk kan inskakel. “Die idee van ’n afsonderlike sinode is nog glad nie op die tafel geplaas of deurdink nie.”

Lees ook die briewe oor dié kwessie op bl. 10 van Weekliks.

1 thought on “Namibiese leraars verwerp NG kerk se ‘dwalinge’ oor gays”

  1. Dit lyk of die Gemeentes wat ontevrede is nog met emosie-ketting in binding met NG Kerk staan. Doen die regte ding en stap uit daai verhouding uit in onafhanklikheid van die NG in verantwoording aan JHWH alleen

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui