Verklaring deur Sola Scriptura: 13 Augustus 2021

********

Verklaring deur Sola Scriptura: 13 Augustus 2021

Sola Scriptura het ontstaan toe 19 besorgde leraars van die NG Kerk in Namibië ’n verklaring uitgebring het nadat ’n besluit deur die Algemene Sinode van die NG Kerk (Benoni, 8 Oktober 2019) ruimte gemaak het vir selfdegeslagverhoudings en selfdegeslagverbintenisse in die kerk.

Die verklaring is uitgebring onder die naam Sola Scriptura omdat die verklaring ook ’n getuienis en protes was teen die totale aanslag en afbreek van die gesag van die Bybel as die Woord van God binne die NG Kerk. Die inleidende paragrawe van die verklaring verwoord waarskynlik die beste dit wat in die harte leef van Sola Scriptura-lede wat betref die Algemene Sinode van die NG Kerk se God-onterende besluit oor selfdegeslagverhoudings en selfdegeslagverbintenisse.

Dit is met groot hartseer, verslaendheid en gebrokenheid voor God dat ons, as leraars van die NG Kerk in Namibië, kennis geneem het van die Algemene Sinode van die NG Kerk se besluit (Benoni, 8 Oktober 2019) wat ruimte maak vir selfdegeslagverhoudings en selfdegeslagverbintenisse in die kerk. Ons is van mening dat dit nie ʼn besluit is wat deur die Heilige Gees bepaal is nie, maar eerder deur die heersende sekulêre humanistiese tydgees.

Ons betreur hierdie besluit ten diepste as in stryd met God se Woord en dus as ’n minagting van die gesag van God se Woord. Dit is genadeloos en liefdeloos, omdat die Sinode met hierdie besluit sekere sondaars (1 Korintiërs 6:9 -10) ontsondig en vryspreek. Dit los hulle onder die toorn van God (Johannes 3:36; Romeine 1:18) en weerhou hul die geleentheid om God se genade te ervaar. Hierdeur word hulle die voorreg ontneem om deur geloof in Christus Jesus vrygespreek en vrygemaak te word van die sonde van homoseksualiteit (1 Korintiërs 6:11).

Ons is ook dankbaar bewus daarvan dat “die 2016-getuienis van die NG Kerk in Namibië oor selfdegeslag seksuele verhoudings” wat by haar 17de Streeksinodevergadering uitgebring is, “selfdegeslag seksuele verhoudingsgedrag” as sonde veroordeel, maar hartseer dat die NG Kerk Namibiese afvaardiging na die Algemene Sinode (Benoni, 8 Oktober 2019) nie in lyn met die NG Kerk Namibië se 2016 getuienis die Algemene Sinode se besluit oor selfdegeslagverhoudings ten sterkste afgewys het nie. Inteendeel, hulle het die Algemene Sinode se besluit geprys en die onbybelse diversiteit van dié besluit wat twee onversoenbare Skrifstandpunte binne een geloofsgemeenskap wil akkommodeer, met oop arms omhels.

Ons wil dit duidelik stel: Sola Scriptura is nie ’n drukgroep binne die NG Kerk van Namibië nie.

Sola Scriptura is ’n getuienisforum van leraars, gemeentes en lidmate binne die NG Kerk in Namibië wat ontstaan het en bestaan, omdat die gesag van die Skrif op vele vlakke fundamenteel aangetas is en aangetas word binne die breër NG Kerk.

Sedertdien het daar heelwat gemeenteleiers, leraars en lidmate bygekom op die Sola Scriptura groep. Die verklaring is uiteindelik deur 39 evangelie bedienaars binne die NG Kerk Namibië onderteken. Sola Scriptura beywer hom “om te stry vir die geloof wat eens en vir altyd aan die heiliges oorgelewer is. Want sekere mense … het ons geledere binnegesypel … wat God se genade in losbandigheid laat ontaard en … Jesus Christus ontken.” (Judas vers 4 – 2020 vertaling). Enige leraar of lidmaat van die NG kerk in Namibië is welkom om deel te word van Sola Scriptura.

Die dwaalleer en verval in die NG Kerk het nie oornag gebeur nie. Dit was ’n geleidelike proses wat die NG Kerk se Woordvastheid en belydenisgrondslag weggevreet het.

Dwaalleer het oor jare ons teologiese fakulteite binnegesypel en so die Bybel se gesag as Woord van God ondermyn, sodat dosente en leraars nie skaam was om byvoorbeeld Jesus se maagdelike geboorte en liggaamlike en historiese opstanding openlik te bevraagteken en selfs te ontken nie.

Ringe, sinodes en ondersoek kommissies van die NG Kerk het nagelaat om leertug toe te pas op die dwaalleer dosente en leraars.

Gevolglik het hierdie afwatering van die Bybel se gesag as God se Woord subtiel neerslag gevind in Rings- en Sinode besluite tot by die blatante minagting van God se Woord waar die Algemene Sinode 2019 ruimte gemaak het vir selfdegeslagverhoudings en selfdegeslagverbintenisse in die kerk.

In die NG Kerk in Namibië het die afbreek van die Bybel se gesag as God se Woord ook sy kop uitgesteek. Dit het ons in die NG Kerk Namibië by ’n kruispad gebring waar ons gehoorsaamheid aan die Here Jesus Christus getoets gaan word. “Ek druk julle dit op die hart, broers: Pas op vir dié wat verdeeldheid veroorsaak en die mense afvallig maak van die leer wat julle ontvang het. Bly weg van hulle af.” (Romeine 16:17 – 1983 vertaling)

Daarom het Sola Scriptura Vrydag, 13 Augustus 2021, ’n byeenkoms in Okahandja gehou waar ons onsself voor die Here verootmoedig het en treur oor die swak geestelike toestand van die NG Kerk in die algemeen en die Here se aangesig gesoek vir ’n God-gewerkte herlewing sowel as leiding vir die pad vorentoe. Ons versoek alle NG Kerk gemeentes in Namibië om ook te treur (doleer) oor die besluite van die Algemene Sinode en ons sal ons beywer vir ֹn totale losmaking van die Algemene Sinode volgens Kerkorde artikel 37. Ons bede bly dat Sy wil sal geskied, dat Sy Naam geheilig sal word en dat Sy koninkryk sal kom ook binne die NG Kerk in Namibië. Ons rig ‘n nederige en ernstige oproep tot bekering tot en onderwerping aan God en sy Woord aan die NG Kerk in geheel.

Ds Erik van Zyl [Sendingkoördineerder Kunene vir Christus, predikant van die NG Kerk Pionierspark]

Voorsitter: Sola Scriptura

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui