Vraelys aan predikante in die Oos-Kaap

*******

‘n Vraelys is aan die begin van 2022 per e-pos aan al die leraars in die Oos-Kaap gestuur met ’n skakel om dit anoniem op die Internet te beantwoord. Dit is gestuur na 91 leraars en 55 reponse is terug ontvang, ’n responskoers van 60%. Daar was ander vrae wat oor die ring en gemeente gegaan het, maar net twee vrae aan die leraars oor hulle persoonlike standpunt oor die Algemene Sinode se 2019-besluit.

Die vrae was:

  1. Watter stelling hieronder pas die beste by jou persoonlike standpunt oor die AS 2019-besluit? (JA, ek keur die 2019-besluit oor selfdegeslagverhoudinge goed / NEE, ek keur nie die 2019-besluit oor selfdegeslagverhoudinge goed nie)
  2. Sê asb iets meer. Beskryf kortliks jou persoonlike standpunt oor selfdegeslagverhoudinge

Op die eerste vraag het 57% JA geantwoord en 43% NEE.
Op die tweede vraag was 69% ongemaklik met selfdegeslagverhoudings met ’n wye verskeidenheid redes daarvoor. 31% het geen probleem daarmee nie.

************

Hier volg die uitslag van nog ’n vraelys

Hoe dink NG-predikante oor die Bybel, belydenisskrifte en selfdegeslagbesluite?

ngkok.co.za/hoe-dink-ng-predikante-oor-die-bybel-belydenisskrifte-en-selfdegeslagbesluite/

13 Junie 2022

Die Taakspan Navorsing van die Algemene Sinode doen gereeld steekproewe onder ewekansig geselekteerde groepe predikante om menings en oortuigings te toets. In ‘n onlangse paneel is navraag gedoen oor die Bybel, status en rol van belydenisskrifte en die leraars se houding oor die 2019–besluit van die Algemene Sinode oor selfdegeslagverhoudinge. Die Taakspan het tydens die onlangse Algemene Sinodale Moderamen hieroor verslag gedoen.

Hierdie vrae is belangrik in die lig van bedenkinge wat uitgespreek word oor hedendaagse predikante se oortuigings. Die volgende selfverduidelikende grafieke en skyfies gee ‘n aanduidings oor waar leraars staan:

Die Bybel is …

  • Ek weet nie – 0%
  • ‘n Antieke boek met min waarde vir vandag – 0%
  • Nie die woord van God nie, maar ’n waardevolle boek – 0%
  • Nie die woord van God nie, maar bevat God se woord aan ons – 3%
  • Die woord van God wat in die lig van sy historiese konteks en die kerklike leerstellings verstaan moet word – 20%
  • Die woord van God wat in die lig van sy historiese en kulturele konteks verstaan moet word – 76%
  • Die woord van God wat letterlik, word vir woord verstaan moet word – 1%

Uit bogenoemde blyk dat verreweg die meeste predikante die klassieke Gereformeerde posisie inneem die Bybel die Woord van God is wat literêr-histories interpreteer moet word.

Dan is ook oor die belydenisskrifte navraag gedoen:

Die Drie Formuliere van Eenheid (NGB, HK, DL) se gesag word afgelei van die eintlike norm, naamlik die Skrif

  • Stem beslis saam – 44%
  • Stem saam – 44%
  • Neutraal of onseker – 9%
  • Stem nie saam nie – 1.5%
  • Stem beslis nie saam nie – 1.5%

Die Drie Formuliere van Eenheid (NGB, HK, DL) is belangrik vir die opleiding van predikante

  • Stem beslis saam – 32%
  • Stem saam – 48%
  • Neutraal of onseker – 11%
  • Stem nie saam nie – 5%
  • Stem beslis nie saam nie – 4%

Wat leraars se ingesteldheid teenoor die 2019-besluit van die Algemene Sinode oor selfdegeslagverhoudinge betref, verwelkom byna 75% van leraars die reg wat aan gemeentes gegee word om ‘n eie standpunt oor SGV te ontwikkel. 8% is neutraal of onseker en 19% teen hierdie reg van gemeentes gekant:

Ek verwelkom die reg wat die 2019-besluit aan gemeentes gee om ’n eie standpunt oor SGV te ontwikkel

  • Stem beslis saam – 30%
  • Stem saam – 43%
  • Neutraal of onseker – 8%
  • Stem nie saam nie – 8%
  • Stem beslis nie saam nie – 11%

Is daar middelgrond tussen predikante?

Dit word dikwels gesê dat die middelgrond in samelewings verdwyn, aangesien persone geneig is om in terme van uiterste standpunte te polariseer. Dit is altyd ‘n slegte teken, omdat gemeenskaplike of middelgrond dan verdwyn. Dit blyk egter nie die geval te wees by predikante van die NG Kerk nie. Terwyl baie klein groepe uiterste standpunte inneem, bestaan die middelgrond t.o.v. ‘n verdelende kwessie soos selfdegeslagverhoudinge uit sowat 80% van predikante.

Klik hier om die volledige Powerpoint-aanbieding met ‘n aantal ander interessante perspektiewe af te laai.

4 thoughts on “Vraelys aan predikante in die Oos-Kaap”

  1. Is die mening van hierdie predikante getoets of die homoseksuele daad, buite of binne ’n verhouding van liefde en trou, volgens die Woord van God sonde is. (Indien wel, wat was die uitslag. Indien nie, hoekom nie?)

    1. Etienne, dit lyk nie so nie. Dit sou interessant gewees het, maar is dit sinvol om hierdie onderskeiding te maak?
      Of ’n man met een meisie voorhuwelikse seks het en of hy met meer as een het, dit bly sonde, nie waar nie?

  2. Die kern van die saak is of seks tussen twee persone van dieselfde geslag, in watter verhouding ookal, sonde is of nie.

    Die 1986 algemene sinode van die NG Kerk het besluit dat “homoseksualiteit is in die lig van die Skrif ’n afwykende vorm van seksualiteit. Homoseksuele praktyke en ’n homoseksuele verhouding moet afgewys word as in stryd met die wil van God, soos in die Heilige Skrif geopenbaar”. Dit is dus sonde.

    Aanvanklik het ’n klein groepie gay predikante, ’n paar gay proponente, dosente en lidmate met die aanslag begin om alle Bybelse uitsprake teen homoseksialisme, as nie meer bindend nie, te herverklaar. Lidmate is teen 2015 ontnugter toe besef is in welke mate die gay groep veld gewen het. Professor Nelus Niemandt, algemene moderator van die Kerk, se uitsprake bevestig dit: “Dit het tyd geword dat gay NG predikante nie meer gedwing word om selibaat te wees nie en dat gay paartjies se huwelik met die volle seën van die kerk voltrek word” en verder bygevoeg: “My hoop is dat die lesbiese, gay, biseksuele en transseksuele (oriëntasie) binne die Kerk genormaliseer sal word”. Volgens hom was dit dus nie meer sonde nie.

    Die Kuratorium van die Stellenbosch kweekskool het later in 2015 ’n besprekingspunt by die Algemene Sinode ingedien dat die selibate eis vir gay predikante in die NG Kerk geskrap word. In die beskrywingspunt is genoem dat hierdie standpunt eenparig deur die NG Kerk se dosente raad ondersteun word. Dit is dus nie meer sonde nie.

    In die bykans 30 jaar na die 1986 sinodebesluit, het die Kerk hiermee ’n totale ommekeer gemaak, terwyl die eeu-oue Woord van God, geen jota of tittel verander het nie. Toe kom die 2019 sinodebesluite wat bevestig het dat gays (en daarom ook alle mense wat in LGBTIQI+ verhoudinge lewe), voortaan met geen selibate verpligting, in die Kerk kon trou en dat ’n formulier opgestel moet word, om gay huwelike amptelik met die Kerk se seën te kan bevestig. Met die ‘Kerk se seën” beteken tog met “God se seën” wat dus nie alleen op sinodale vlak bevestig het dat gay-seks nie sonde is nie, maar selfs aan God voorgeskryf het dat Hy dit voortaan kon seën. Na al die “ruimteskepping” en “gesprekvoering” het dit teen 2019, tot gays se vreugde, die sondige angel daarvan, in ruil vir die Kerk se seën, verloor en is ook besluit dat gays op ’n verskoning geregtig is vir enige kerklike anti-gay standpunte van die verlede. Dit was dus nog nooit sonde nie!

    Dr Frits Gaum, die voormalige voorsitter van die NG Kerk-kuratorium, het in “Rapport” van 3 Januarie 2021 bevestig dat daar min huidige teoloë van die drie teologiese fakulteite is “wat nie standpunt ingeneem het ten gunste selfdegeslagverbintenisse nie.” Die grofgeskut van die NG Kerk sien dit dus ook lank nie meer as sonde nie.
    In behoudende gereformeerde geledere wêreldwyd is dit egter nie die standpunt nie. ’n Paar voorbeelde: “If one can turn Bible words and phrases upside down on its head to mean the exact opposite of what it clearly says, the authority of Scripture is a nose of wax to be shaped by the changing culture.” (Douglas Kelly) “People drift along from generation to generation, and the morally unthinkable becomes thinkable as the years move on” (Francis Schaeffer). “Almost any behaviour begins to look normal if you are exposed to enough of it” (Marshall Kirk & Hunter Madsen). “…homosexual passions and acts are unnatural, shameful and contrary to sound doctrine… This being so they cannot be the basis of a Christian marriage sanctioned by God’s Church. The Church exists to save people, not to bless the means of their damnation…. No matter what our society may legislate, the law of God is clear—that a marriage is not a godly marriage if it is a same sex union…We cannot bend the principles of God’s Word to suit vocal minority groups.” Dit is dus sonde.

    Teen hierdie agtergrond is dit belangrik om te weet hoe predikante, nie net in die Oos-Kaap nie, maar landwyd hieroor voel. Om skynbaar die indruk te skep dat die 2019-besluitneming oor selfdegeslaghuwelike nog nie as finaal afgehandel en vanaf hoogste sinodale vlak afgedwing is nie, is ook besluit om dit na kerkrade af te wentel, deur “gemeentes aan te moedig om voort te gaan met die skep van gesprekruimtes vir gesonde geloofsonderskeidende gesprekke oor hierdie (en ander) teologies-etiese kwessies”.

    Elke individuele predikant se gemeentelike leiding oor die sondige aard, aldan nie, van die Kerk se seën op selfdegeslaghuwelike met seksuele voorregte, is dus van wesenlike belang. Sommiges sal weet dat só ’n huwelik so totaal absurd in God se oë is, dat daar op geen plek in Sy Woord selfs daarna as ’n moontlikheid verwys word nie en dus beslis nie met Sy seën sal kan geskied nie. In ten minste 90 plus gemeentes het predikant-begeleiding gevolglik tot dolering gelei. Wat het in die ander 90% gemeentes gebeur en wat gaan gebeur as dit werklik op die spits gedryf word?

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui