NG sinode gaan mos nie net oor die gay-debat

Dit lyk of die meningspeiling waarna in hierdie brief verwys word hierdie een is: Vraelys aan predikante in die Oos-Kaap.

*******

NG sinode gaan mos nie net oor die gay-debat | Netwerk24

Neels Jackson

Rapport, 15 Oktober 2023

Selfde­geslag­verhoudings is nie die hoofsaak op die sakelys van die sitting wat vandag begin nie, skryf Neels Jackson.

Van ’n afstand beskou kan dit maklik lyk asof die algemene sinode van die NG Kerk wat vandag in Boksburg begin, maar net nog ’n ronde in ’n voortslepende en hoogs verdelende kerklike stryd oor verhoudings tussen mense van dieselfde geslag gaan wees.

In ’n belangrike sin is hierdie egter ’n randsaak op die algemene sinode se agenda, want dit is die stryd van ’n klein minderheid oor ’n kwessie waaroor daar in die breë Kerk eintlik grootliks vrede is.

In ’n peiling wat in 2020 gedoen is, is predikante gevra om te reageer op die stelling: “Ek verwelkom die reg wat die 2019-besluit aan gemeentes gee om ’n eie standpunt oor selfdegeslagverhoudings te ontwikkel.”

Hierop het 74% van die respondente gesê hulle “stem saam” of “stem beslis saam”, terwyl net 19% aangedui het dat hulle nie saamstem nie of beslis nie saamstem nie. ’n Groep van 8% was neutraal of onseker.

En as die beswaardes van die Kairos Netwerk en die Koinonia Sinode sê dit gaan nie slegs oor selfdegeslagverhoudings nie, maar ook Skrifgesag, kan ’n mens kyk na ’n vraag waarin predikante gevra is met watter van verskillende bewoordinge wil hulle die sin voltooi wat begin met: “Die Bybel is . . .”

Hierop het meer as driekwart van die dominees gekies vir die woorde: “ . . . die Woord van God wat in die lig van sy historiese en kulturele konteks verstaan moet word”, en nog 20% vir “ . . . die Woord van God wat in die lig van die konteks en kerklike leerstellinge verstaan moet word”.

Op opsies soos “Ek weet nie” of “ ’n Antieke boek met min waarde vir vandag” of “nie die Woord van God nie, maar ’n waardevolle boek” was daar geen positiewe response nie. Slegs sowat 3% het gekies vir “nie die Woord van God nie, maar bevat God se Woord aan ons” en sowat 1% vir “die Woord van God wat letterlik, woord vir woord, verstaan moet word”.

Dit dui daarop dat daar eintlik ’n groot, stil middelgrond in die Kerk is oor sake waaroor die beswaardes lawaai maak.

Ook hul eie syfers toon dat die beswaardes ’n klein minderheid is. Slegs sowat 100 van die Kerk se meer as 1 000 gemeentes het gekies om te doleer en die beswaardes se Koinonia Sinode het slegs 56 gemeentes getrek. Met ’n groot middelgrond en ’n klein minderheid van beswaardes, sou dit verbasend wees as die algemene sinode nou ’n groot ommekeer oor selfdegeslagverhoudings gaan maak.

As dít nie die hoofsaak op die agenda van die algemene sinode gaan wees nie, wat is dan die belangrike kwessies waaroor die Kerk se wyses gaan beraadslaag?

Daarvoor moet ’n mens verder deur die agenda blaai, byvoorbeeld na die verslag van die Taakspan Missionale Roeping.

Hier gaan dit nie oor besluite wat eensklaps groot dinge in die Kerk gaan verander nie. Dit is deel van ’n proses wat al ’n dekade of langer kom en wat op grond van ’n diepgaande besinning oor wat God van sy kerk verwag, ’n kultuurverandering in die Kerk probeer fasiliteer.

In die hart hiervan lê die verstaan ­dat God aktief in hierdie wêreld betrokke is – wat anders is as wanneer Bette Midler sing: “God is watching us from a dis­tance.”

Hieruit vloei die selfverstaan van die Kerk, naamlik dat die Kerk geroep is om deel te neem aan die missie van God in die wêreld. God se missie, so word dit verstaan, is om lewe en volheid aan die wêreld te gee – en die kerk is in diens van hierdie missie.

God, so staan dit in die kerkorde, vergader ’n gemeente en deur die gemeente laat God sy Woord verkondig, bring Hy die gemeenskap van die heiliges uit alle nasies tot stand, laat Hy diens aan ’n wêreld in nood lewer, laat Hy sy opdrag om die skepping en die lewe te bewaar sigbaar tot uitdrukking bring, en word sy geregtigheid en versoening verkondig.

Hierdie formulerings is nie nuut nie. Dis die grondslag wat reeds deur vorige sinodes gelê is en waarop die Kerk nou verder wil voortbou.

Een van die maniere waarop dit gedoen word, is deur ’n proses op dreef te bring waardeur opleiding aan gemeentes gegee kan word om dié soort missionale kultuurverandering in gemeentes te bevorder.

Dit gaan onder die vaandel “In Pas” en die betrokke werkgroep gee terugvoering aan die algemene sinode oor hul vordering die laaste paar jaar. Dit sluit in die ontwikkeling van ’n handleiding en ’n webwerf (www.inpas.co.za) aan die hand waarvan hulle in die volgende paar jaar ’n beduidende aantal gemeentes wil help om beter “in pas met die lewende God” te kom.

’n Tweede werkgroep van die Taakspan Missionale Roeping, het begin om na te dink oor die moontlikheid om nuwe geloofsgemeenskappe te vestig. Dit behels dat die Kerk, wat nog grootliks, hoewel nie uitsluitlik nie, ’n kerk van wit Afrikaanssprekendes is, sy vlerke wyer sprei om ook ander bevolkingsgroepe te bedien. Die volgende stap, waarvoor die algemene sinode se opdrag gevra word, is om ’n werkgroep aan te wys wat die ontwikkeling van nuwe geloofsgemeenskappe moet bevorder.

’n Derde werkgroep het aandag geskenk aan evangelisasie – iets waarvan daar ’n lang tradisie in die Kerk bestaan. Hulle bring ’n verslag met 12 uitgangspunte (hulle noem dit ook vars insigte) oor evangelisasie. Hulle dui telkens aan wat die implikasies daarvan is en hoe dit tot nuwe praktyke in gemeentes kan aanleiding gee.

Een so ’n uitgangspunt is dat die hele gemeente die evangelis is. Die implikasie is dat dit nie net ’n groepie in die gemeente is wat hulle met evangelisasie besig hou nie. En ’n moontlike veranderde praktyk is dat die hele gemeente geïnspireer word om oral waar hulle kom “die goeie nuus te beliggaam deur as tekens van hoop te leef”.

Dit is natuurlik alles makliker gesê as gedaan, en daarom word daar ook ’n hele program van toerusting voorsien. Ook hieroor sal die algemene sinode moet be­sin en besluite neem.

Nog ’n saak uit die Taakspan Missionale Roeping se verslag gaan oor kerklike reaksies op rampe. In praktyk is gemeentes dikwels betrokke by reaksies op rampe, maar die vraag is hoe daar meer gekoör­dineerd te werk gegaan kan word. Verskillende moontlikhede is al ondersoek waaroor daar aan die algemene sinode terugvoering gegee word, maar dit is die algemene sinode wat nou die rigting vorentoe moet aandui.

Die Taakspan Missionale Roeping is maar een van die taakspanne wie se verslag as ’n hoofsaak op die algemene sinode se agenda beskou kan word.

Dit is dié soort werk wat voortgaan ten spyte van die geraas wat ’n randgroep in die Kerk maak.

Dit is die soort werk wat gemeentes wil help om deur die praktiese en dienende uitlewing van God se liefde vir die wêreld ’n helende invloed uit te oefen op die gemeenskappe waarin hulle leef.

•  Neels Jackson is ’n vryskutjoernalis wat spesialiseer in geloofsake.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui