Persverklaring: Familie van Gereformeerde Gemeentes

Die volgende persverklaring is uitgereik na aanleiding van die eerste byeenkoms van die Familie van Gereformeerde Gemeentes.

*******

FAMILIEBYEENKOMS: PERSVERKLARING

21-22 Julie 2022 sal in die Suid-Afrikaanse kerkgeskiedenis altyd onthou word. Dit was ’n belangrike historiese moment waar behoudende gereformeerde kerke en lidmate in SA saamgetrek het om hande te vat vir samewerking teen die liberale teologie wat besig is om baie kerke van binne te verlam. Dit was n heerlike Familie-byeenkoms by Afrforum se Teater in Pretoria, waar meer as 200 verteenwoordigers vanoor die hele land ten spyte van die skrikwekkende hoë brandstofkoste en die feit dat die byeenkoms in gewone werkstyd gehou was, saamgekom het. Daar was verteenwoordigers van verskillende behoudende gereformeede kerke. Kort na die opening was die vergadering verras met ‘n groeteboodskap en belofte van steun en samewerking vanaf die Alliance of Reformed churches in America. Die byeenkoms wat oor twee dae gestrek het, was deurgaans in ‘n baie positiewe en eensgesinde atmosfeer gehou.

Die hooftema was “Saam vorentoe as Skrifgetroue Geloofsfamilie”. Drie sake wat telkens weer en weer na vore gekom het was die volgende:

1. ONS WIL NIE SKEUR NIE

Die Algemene Sinode het in 2019 die NG Kerk geskeur. Ons het geen begeerte om dit verder te skeur nie, ons werk en bid vir radikale reformasie. Reformasie is egter slegs moontlik solank daar nog ‘n oop deur vir reformasie is. Indien die deur gesluit word en dit tot verdere skeuring lei was dit nie ons keuse nie. Tans het al ons noodkrete tot bekering ongelukkig op dowe ore geval.

2. ONS IS NIE ALLEEN NIE

Die stryd teen liberalisme is nie uniek in die NG Kerk nie. Dit raak alle gereformeerde kerke plaaslik en internasionaal. Orals in ander wêreldlande en onder ander kerkgenootskappe wêreldwyd is kerke uitmekaar geskeur deur die aanslag van liberalisme, feminsme, en die LGBTQI+ beweging. Dit bevestig die noodsaaklikheid dat dit tyd geword het om oor kerkgrense heen die behoudendes bymekaar te bring wat bymekaar hoort. Ons staan saam met baie ander Skrifgetroue gelowiges oor die hele wêreld.

3. ONS HET KLAAR GEPRAAT

Dit was duidelik uit verskeie van die voordragte asook paneelbesprekings dat hulle nie met die gang van sake in die Algemene Sinode se strukture en die leierskap veel langer kan vereenselwig nie. Die duidelike boodskap wat telkens gehoor is, ook by ‘n hoeveelheid jongmense wat die vergadering bygewoon het, was dat die geduld by baie mense opgeraak het. Ons is nie bereid om veel langer te praat met ‘n leierskap wat min of geen tekens van selfondersoek of berou toon oor baie afwykende en soms selfs manipulerende prosesse om hul doel te bereik om ‘n kerk vir almal, maar later ‘n kerk vir niemand te wees nie.

In die lig van bogenoemde, en afhangend van die tekens van berou en bekering by die huidige kerkleiers en sinodale strukture, stel ons in die nabye vooruitsig ‘n eie alternatiewe sinode vir behoudende Skrifgetroue gemeentes. Vandaar af stel ons ook verder in vooruitsig die moontlikheid van ‘n nuwe ekumeniese sinode vir Skrifgetroue gereformeerde kerke in SA en internasionaal. Mag die Here self Sy Kerk lei, bewaar en reformeer tot Sy eer.

Familie van Skrifgetroue gereformeerdes in SA

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui