Uit Gustav se pen: Reaksie op ‘kwaadwillige’ kettingbrief wat op sosiale media versprei word

Die skrywe hieronder is na aanleiding van ’n Aprilgekgrap wat op 1 April 2016 deur Dan Roodt geïnisieer is en wat oorspronklik op www.praag.co.za geplaas nie. Vir die volle besonderhede, kyk Aprilgekgrap: NG Kerk stel poligamie in (1 April 2016).

‘n Week voor die Algemene Sinode in 2023 het 11 van die 12 lidmate wat die NG Kerk hof toe gesleep het, ‘n regsmening gekry oor hierdie skryf. Dit word hier gegee: Adv Jeremy Gauntlett: Legal opinion

*********

Uit Gustav se pen: Reaksie op ‘kwaadwillige’ kettingbrief wat op sosiale media versprei word | Kerkbode

8 Desember 2022

Uit die kantoor van dr Gustav Claassen, algemene sekretaris van die NG Kerk:

Kennis word geneem van ’n kwaadwillige berig wat wyd verspreid die rondte doen tussen gemeentes en lidmate.

Dit bevat ondermeer bewerings ten opsigte van die NG Kerk en die besluite oor selfdegeslag-verhoudings, asook aantygings van die NG Kerk se sogenaamde siening van ander godsdienste.

Bewerings wat gemaak word in hierdie skrywe is van alle waarheid ontbloot en lasterlik van aard.

Die spesifieke lasterlike skrywe is nie nuut nie en die kern daarvan word sedert 2016 van tyd tot tyd wyd versprei. Dit is aanvanklik bedoel as ’n April-gek grap maar is uiteraard daarop gemik om die NG Kerk skade te berokken en leraars, kerkrade en lidmate te verwar. Leraars, kerkrade en lidmate word gevra om die brief met die minagting te hanteer wat dit verdien, en die integriteit daarvan aan die kaak te stel.

Die volgende besluite is wel deur die Algemene Sinode geneem:

HUWELIK, PROMISKUÏTEIT EN SELFDEGESLAG-VERHOUDINGS

Die AS 2007 het die volgende besluite bevestig:

  1. Die Algemene Sinode herbevestig die besluit van 2004 dat, volgens ons verstaan van die Bybel, slegs die verbintenis tussen een man en een vrou as ʼn huwelik beskou kan word.
  2. Die Algemene Sinode bevestig ook die besluit van 2004, dat sowel heteroseksuele as homoseksuele promiskuïteit ten sterkste veroordeel word.
  3. Die Algemene Sinode besluit dat, in die lig wat ons tans het, homoseksuele verbintenisse en huwelike nie as ʼn alternatief vir die huwelik aanvaar kan word nie. (uit Handelinge AS 2007, pp 204-205, pte 12.2 en 12.3)

Die volgende aanbevelings is ook verder goedgekeur:

Die Algemene Sinode:

  1. bevestig dat vorige besluite insake homoseksualiteit, selfdegeslag-verbintenisse en huwelike gewysig en/of vervang is met nuwe besluite;
  2. bevestig dat vorige besluite oor die huwelik en promiskuïteit steeds die geldende besluite is;
  3. versoek dat hierdie besluite volledig in die Kerk-ordeboek opgeneem word.
  4. neem kennis dat besluite oor selfdegeslag-verbintenisse vir gemeentes buite die RSA onderworpe is aan daardie land se wetgewing;
  5. besluit dat hierdie verslag met die oog op persverklarings die boodskap is wat die Algemene Sinode aan die wêreld bekend sal maak as die huidige amptelike standpunt van die Algemene Sinode.

Die ASM het tydens sy vergadering vroeër vanjaar besluit om nie aandag te gee aan die ontwikkeling van ’n formulier nie.

Skrywers en verspreiders van briewe soos hierdie moet kennis neem dat beriggewing soos hierdie op sosiale media neerkom op moontlike haatspraak en/of laster. Sou daar ’n beoordeling wees van hierdie uitsprake/plasings op sosiale media aan die hand van ’n baie eenvoudige verklaring van haatspraak, is daar nie twyfel dat dit wel die geval is nie. Haatspraak word verklaar as spraak of geskrewe teks wat daarop gemik is om intimidasie, geweld of vooroordeel teen ’n groep mense (soos bv. ’n kerkverband) op grond van hulle ras, etnisiteit, afkoms, geloof, seksuele oriëntasie, of gestremdheid te bewerkstellig.

Berigte, soos hierdie, bevat ongetoetste en/of valse bewering, terwyl die betrokke instansie en/of individue nooit geleentheid gegun is om die korrekte feite te plaas nie.  Dit is ’n miskenning van die gemeenregtelike reël van audi alterm partem. Wanneer kommunikasie die volgende behels: woorde, verbaal of geskrewe, wat ten doel het om ’n negatiewe indruk of ’n vernederende beeld van ’n individu, besigheid, produk, groep of enige ander entiteit te skep, sou hom/haar moontlik maak aan naamskending en/of laster. ’n Persoon maak hom-/haarself dus skuldig aan naamskending wanneer hy iemand se naam en eer skade aan doen deur verkeerde of vals inligting aan die publiek of derde party te publiseer.

Ons vertrou op die samewerking van al ons leraars en lidmate om kwaadwillige pogings soos hierdie teen te staan.

Vriendelike groete

Gustav Claassen
ALGEMENE SEKRETARIS

 

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui