Aprilgekgrap: NG Kerk stel poligamie in

Die artikel “NG Kerk stel poligamie in, ná versoek van gay-lidmate” het op 1 April 2016 as ’n Aprilgekgrap op die webblad praag.co.za verskyn (kyk hieronder).

Kort daarna op 5 April het die artikel NG Kerk sê poligamiegrap skep verwarring in Die Burger verskyn waar die NG Kerk leierskap hulle daaroor uitspreek het (kyk hieronder vir die artikel).

Die feit dat soveel mense egter vir die grap geval het spreek boekdele. Dit is duidelik dat mense by die punt gekom het dat hulle glo dat enigiets moontlik is met die NG Kerk. Sal die NG Kerk nog kan omdraai? Net tyd sal leer…

Opdatering (8 Des 2022):

In Desember 2022 het hierdie grap weer die rondte gedoen. Kyk Uit Gustav se pen: Reaksie op ‘kwaadwillige’ kettingbrief wat op sosiale media versprei word (8 Des 2022)

*********

NG Kerk stel poligamie in, ná versoek van gay-lidmate

praag.co.za (Dan Roodt)

1 April 2016

’n Studiekommissie van die NG Kerk onder voorsitterskap van dr. André Bartlett het aanbeveel dat poligamie deur die Kerk aanvaar word. “Ons verwag dat poligame huweliksmaats vanaf vandag net soos tradisionele sisgenderpare voor die kansel die huweliksformulier in ons kerk sal kan opsê,” sê Bartlett. “Ek het self reeds ’n eggemeenskap van drie mense in die kerk getrou.”

Nadat die algemene sinode van die NG Kerk verlede jaar met 102 stemme teen 88 gay huwelike aanvaar het, het vele ampsdraers gevoel dat die kerk nog nie ver genoeg gegaan het in sy “verwerping van heteronormatiwiteit en bevestiging van geslagtelike diversiteit nie”. Die studiekommissie het ook by Islam gaan kers opsteek wat poligamie betref.

“Ons aanvaar almal nou dat daar net een Opperwese is wat ons op verskillende maniere aanbid,” het dr. Bartlett gister in sy huis in Parkview, Johannesburg, aan ’n uitgesoekte groepie joernaliste gesê. “Sommige van ons behoort aan een van die susterskerke, ander is weer Moslems of Jode of Hindoes. Dit maak geen verskil nie. Daarom het ons gevoel ons moet ook die Koran oor die kwessie van poligamie raadpleeg om tot groter helderheid te kom.”

’n Probleem het onlangs by die gemeente Aasvoëlkop ontstaan toe ’n gay paar, wat egter in die landdroshof getroud is, by die kerk aangeklop het om met ’n derde persoon te trou. Die derde persoon was van die transgeslag.

“Man, dit was nou vir jou ’n kopkrapper,” sug Bartlett. “Van die begin af het ons gevoel ons kan nie die drie mense wegwys nie, maar vir ons was dit ’n probleem dat die aanvanklike gay paar nie in die kerk getroud is nie. Hulle het egter ingestem dat indien ons bereid is om die derde persoon ook met die aanvanklike twee te laat trou, sal hulle al drie aan die huwelikseremonie in die kerk deelneem. Daarmee is ’n groot struikelblok uit die weg geruim. Dit was so ’n magic moment toe ons mekaar op daardie punt verstaan.”

Die sinodale studiekommissie het gister ’n verslag voorgelê waarin aanbeveel word dat die NG Kerk sonder meer poligamie, van sowel sisgendermense as gays aanvaar. Die verslag en sy aanbevelings is eenparig aanvaar. “Die sinode hoef nie weer te stem nie,” sê Bartlett. “Ons het mos klaar gestem. Van die oomblik dat jy die beginsel van gay huwelike aanvaar, bevind jy jou in die volle heerlikheid van Christus se liefde en is alle huweliksvorme wat in die skepping bestaan, aanvaarbaar. Ons dink baie sisgender- of heteroseksuele huweliksmaats gaan ook hierby baat vind.”

“Sisgender” is ’n term wat deur geslagsaktiviste gebruik word om heteroseksuele mense mee te benoem wat nie meer die norm is nie. “Die NG Kerk aanvaar ook nie meer sisgender as norm nie,” bevestig dr. André Bartlett. “Die tyd van normatiwiteit is verby. Jy weet die aarde is rond, maar as jy in die Karoo staan en jy sien hoe plat die Karoo is, dan kan jy maklik dink die aarde ís miskien plat. Vandat ek die Koran gelees het, weet ek die aarde is waaragtig rond.”

Bartlett meen dat elke NG-lidmaat vertroud behoort te wees met hoofstuk 4:3 van die Koran waarin staan:

“En as u vrees dat u nie regskape sal wees in u behandeling van wesens nie, trou dan vroue wat u behaag, twee of drie, of vier, as u vrees dat u nie regverdig gaan handel nie, dan één of wat u regterhand besit. Dit is vir u die beste weg, om onregverdigheid te voorkom.”

Die NG Kerk se standpunt stem grotendeels met dié van Islam ooreen, naamlik dat poligamie nie verplig is nie, maar ’n keuse is wat uitgeoefen word. “’n Mens kies hoeveel huweliksmaats jy wil hê,” sê dr. André Bartlett. “Nes jy jou geslag kies. Al is jy ’n man gebore, kan jy steeds as vrou bestaan, vroueklere dra en ’n vrou of man as huweliksmaat hê. Vir die Here is alles cool.”

Die feit dat president Jacob Zuma ook oor meer as een vrou beskik, maak dit vir die NG Kerk makliker om poligamie te aanvaar. Immers staan daar in Romeine 13:

“Laat elke mens hom onderwerp aan die magte wat oor hom gestel is, want daar is geen mag behalwe van God nie, en dié wat daar is, is deur God ingestel, sodat hy wat hom teen die mag versit, die instelling van God weerstaan; en dié wat dit weerstaan, sal hulle oordeel ontvang.”

Dr. Bartlett het self onlangs die eerste poligame huwelikseremonie in die NG Kerk waargeneem, geklee in dr. Beyers Naudé se ou toga wat hy as geskenk ontvang het. Hy kry trane in sy oë as hy aan “Oom Bey”, dominee en stryder teen apartheid, dink en sê:

“Die feit dat ek (as gay-aktivis) vasgebyt het, het baie met sy voorbeeld te doen. As dit gaan oor geregtigheid, is dit ononderhandelbaar, dan vat jy die punch. Dít het ek by hom geleer.

“Ek het hom so 14, 15 jaar terug gevra wat hý dink oor die gay kwessie. Toe sê hy hy moet eerlik wees, hy verstaan dit nie, maar wat hy wel verstaan, is dat daar onreg teen mense gepleeg word. En waar daar onreg gepleeg word, moet dit reggestel word.”

‘Monogamie is rassisties’

Die kerk sal ook onreg pleeg as hy nie sy poligame lidmate ter wille is nie. “Boonop is monogamie rassisties, veral op ons kontinent,” sê dr. Bartlett. “Dis hoofsaaklik blankes wat hulle by monogamie hou terwyl Afrikane meesal poligamie beoefen. Dis die blanke wat sy vooroordele koloniaal op swart mense afgeforseer het. Ek voel ons kan baie by die tradisionale kulture leer. Dis tyd om ’n mens oop te stel vir dié dinge, net soos die Kerk haar vir gay-wees oopgestel het.”

Toe dr. Bartlett die twee gay mans en ’n transgeslagpersoon in die huwelik bevestig het, het hy skielik na die transgeslagpersoon se geboortedatum gekyk: 1 April 1994. “Toe begin ek sommer huil,” beken hy. “Hier is iemand wat in Aprilmaand, Vryheidsmaand, gebore is en vandag trou ek hom (of haar, want sy het ’n trourok gedra) met twee ander mans. Watter wonderlike voorreg. Dit was amazing!”

Die NG Kerk se gewysigde huweliksformulier, waarin die woorde “man en vrou” deurgaans geskrap is, sal van vandag af landwyd in alle gemeentes ontplooi word. “Ons sal seker al weer hate mail van die ou verkramptes kry, maar ek delete dit net,” sê Bartlett.

Die eerste twee paragrawe van die NG Kerk se nuwe gay- en poligaamvriendelike huweliksformulier lui soos volg:

Die huwelik is deur God ingestel toe Hy aan die begin gesê het: “Dit is nie goed dat die mens alleen is nie; Ek sal vir hom persone maak wat hom kan help, sy gelykes.” So het Hy hulle as mense geskep om mekaar as huweliksmaats aan te vul en by te staan. Om so deur die Here verenig te wees is ’n voorreg, ’n vreugde en ’n verantwoordelikheid.

Die huwelik is ’n hegte eenheid waarin daar ’n plek vir ’n derde, ’n vierde of meerdere persone is. Hierdie eenheid is die diep geheim van ’n gelukkige lewe, die grondslag van ’n gesonde gesinslewe en die hoeksteen vir ’n stabiele samelewing. Eggemeenskappe wat in God hul eenheid, geluk en toekoms vind, en wat hul lewe inrig onder heerskappy van sy Woord en Gees, is vir mekaar, vir hul familie, die kerk en die samelewing ’n vreugde, krag en inspirasie. Dit gee aan ’n eggemeenskap die vrymoedigheid om vir sy leiding op hulle huwelik te bid.

“Ons het gevorder van die ‘egpaar’ na die ‘eggemeenskap’,” meen dr. André Bartlett. “Ons het hard gewerk oor die jare. Dit maak my sommer baie emo as ek dit sê.”

**********

NG Kerk sê poligamiegrap skep verwarring | Die Burger

Die Burger

5 April 2016

Suzaan Potgieter

Kaapstad. – ’n Aprilgrap verlede week oor poligamie en die NG Kerk (NGK) het mense woedend gelaat en die kerk was nie gelukkig daarmee nie.

Die Pro-Afrikaanse Aksiegroep (die webwerf Praag) het op 1 April ’n berig geplaas waarin dr. André Bartlett, hoof van die Universiteit van Pretoria se teologiefakulteit, gesê het ’n studiekommissie van die NGK onder sy voorsitterskap “het aanbeveel die kerk aanvaar poligamie”.

Bartlett was verlede jaar een van die mense wat die voorstel opgestel het dat gays dieselfde behandeling en regte geniet as ander NGK-lidmate.

“Ons verwag dat poligame huweliksmaats vanaf vandag – net soos tradisionele sisgenderpare – voor die kansel die huweliksformulier in ons kerk sal kan opsê,” het Bartlett volgens Praag gesê. Lesers van die webwerf het egter gou besef dis ’n Aprilgrap.

Op Facebook het iemand geskryf: “Die [NG Kerk] het lankal die Bybel by die kerkdeur uitgegooi”.

Nog een het gesê sy is klaar met die kerk, want “hulle dien ’n god van hul eie”.

Die NGK het Sondag op sy Facebook-blad gesê die algemene sinode het kennis geneem van Praag se gekskeerdery. Die kerk het benadruk geen poligamie-kommissie is op die been gebring nie. Volgens die kerk het die artikel verwarring geskep.

“Die wyse waarop die artikel poog om ’n individu onder verdenking te bring en ’n verleentheid te skep vir ’n predikant en gemeente van die NG Kerk veroorsaak dat die goeie gees van Suid-Afrikaanse humor ontaard in iets wat ongemaklik is,” lui die kerk se verklaring.

5 thoughts on “Aprilgekgrap: NG Kerk stel poligamie in”

  1. Hoe kan julle GAY regverdig,

    God forgive this people they dont know what they are doing..

    Kon terug na die waaheid van God se woord die woord maar vry, Jesus se bloed het julle losgemaak..

    2022 ñ predikant van NG kerk in Vryheid pleeg selfmoord… waar is Jesus.. waar is die waarheid

    Die woord sê.. Seek my Kingdom, not your own l:ust and opinion”

    God se woord sê my volk gaan tengronde agv gebrek in kennis..

    It’s time to give-up and clean-up..

    Draai asb terug na die waarheid..

    Lekker dag..

  2. Waarvoor het God ons gemaak, wat was Sy doel vir ons.. Waar is Jesus..

    Ek voel ons kan baie by die tradisionale kulture leer.. Dis tyd om ’n mens oop te stel vir dié dinge, net soos die Kerk haar vir gay-wees oopgestel het.”

    Waar is God se waarheid…

    Ek het hom so 14, 15 jaar terug gevra wat hý dink oor die gay kwessie. Toe sê hy hy moet eerlik wees, hy verstaan dit nie, maar wat hy wel verstaan, is dat daar onreg teen mense gepleeg word. “En waar daar onreg gepleeg word, moet dit reggestel word.”

    Al wat reggestel moet word is God se waarheid.. ek bid vir julle..

  3. Die Here roep alle kerke “BACK TO BIBLICAL BASICS =
    Daar is hoop vir H.O.O.P (=Hemel Op Ons Planeet)

    Die Heilige Bybel is die Here se H.O.O.P Liefdes Brief aan alle families en medeburgers oor alle grense (kleur, taal, godsdiens, denominasie, status, beroep, rykdom).

    Die Heilige Bybel bevat die Here se H.O.O.P. Planne vir elke landsburger en sy/haar huwelik, familie, finansies, werk en gemeenskap..

    Die Heilige Bybel bevat die Here se H.O.O.P Beloftes, ‘Doele, Grense, Reels, Afrigters, en Skeidregters’

    Die Here se H.O.O.P ‘Doele’ = Sy wil laat geskied hier op aarde SOOS DIT IS in die hemel.

    VIR MEER INLIGTING: Contact@World-HOPE.com
    Seen groete
    Dr MM
    Dr = Jesus
    Mind in the Begining (Today)
    WHAT
    Matters in the End (Heaven or Hell)

  4. Ondeskei tussen homoseksuele geneigdheid en beoefening daarvan. ń Geneigdheid beteken dat hy dit mag gedink maar nie beoefen nie. Dis dieselfde as om gedagtes te hê om ń sonde te pleeg maar jy weerhou daarvan. Vir die homoseksuele Christen sluit dit in om van hierdie geneigdheid ontslae te deur God te vra om dit uit sy lewe te verander. Indien dit nie gedoen word nie en na veel waarskuwings van die gemeente om te bekeer verontagsaam word , word die persoon uit die gemeente uitgewerp, soos Paulus dit stel, wat deur Christus self onderrig was.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui