Neem dié perspektiewe ook in ag

D.C. Coetsee van Brackenfell lewer in die brief hieronder uitstekende kommentaar op die artikel ‘Twee ou wit mans’: Los die ‘braai, bier, bliksem en bendes’ en luister na vroue (25 Nov 2022).

*******

Neem dié perspektiewe ook in ag | Netwerk24

D.C. Coetsee, Brackenfell

Die Burger, 7 Desember 2022

Dis verbasend dat twee teoloë, prof. Bernard Lategan en dr. Chris Jones (03.12), nie kan deurdring tot die kern van geslagsgeweld en die begin van ’n oplossing daarvoor nie.

Geslagsgeweld is deel van ’n groter geheel – ’n gewelddadige samelewing. Om die byna 1 000 vroue wat in net meer as 90 dae “vermoor” sou wees (aanmeldings is nog nie bewese feite nie) te noem, sonder om in ag te neem dat terselfdertyd omtrent 3 500 mans “vermoor” sou wees, skep ’n skeefgetrekte geheelbeeld.

Wat is die kernoorsaak van die algemene gewelddadigheid?

Dit begin nie by swak polisiëring nie, maar by gebrekkige opvoeding wat kinders in hul huise kry ten opsigte van respek, gesag, verantwoordelikhede en die gevolge van onverantwoordelike gesindhede en optrede.

Respek vir die waarde van medemense is tradisioneel deel van die kultuur van suksesvolle samelewings. Vir Christene is dit gegrond in die skeppingsverhaal waarvolgens God man en vrou gelykwaardig geskep het “na sy beeld” en die bestuur van die skepping aan hulle opgedra het.

Omdat mense inherent selfsugtig is en nie ander se regte en waarde respekteer nie, is gesag nodig om die grense te handhaaf en selfsugtige en onverantwoordelike gedrag aan bande te lê.

Hierdie werklikhede moet in ouerhuise aangeleer word. Soos ’n wyse opvoeder gesê het: “Home is the place where life makes up its mind.” Waar ouers mekaar en hul kinders met respek behandel en by kinders dieselfde gesindheid inprent, sal ’n respekvolle en nie-gewelddadige samelewing volg.

Hierdie waardes is grondig ondermyn deur ’n algemene kultuur van “regte” ten koste van verantwoordelikhede, die vroeëre beleid van die “bevrydingsbewegings” om Suid-Afrika onregeerbaar te maak, en die Grondwet wat ouerlike gesag eerder ondermyn as onderskraag.

Teoloë moet minstens hierdie perspektiewe bied as hulle wil bydra tot die debat oor geweld.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui