Kettingbrief oor poligamie is fopnuus

*******

Kettingbrief oor poligamie is fopnuus | Netwerk24

Sondag, 11 Desember 2022

’n Kettingbrief waarin beweer word dat die NG Kerk “een Opperwese” aanvaar wat op verskillende maniere deur Christene, Moslems, Jode en Hindoes aanbid word, het ’n beroering onder kerkleiers veroorsaak.

Dr. Gustav Claassen, algemene sekretaris van die NG Kerk, het die kettingbrief veroordeel as kwaadwillig, lasterlik en ’n manier om die NG Kerk skade te berokken.

Die brief word onder die opskrif “Die NG Kerk gaan nie weer stem oor gay huwelik kwessie nie. Dit is nou algemeen aanvaar” wyd op sosiale media versprei.

Dr. André Bartlett, ’n predikant wat hom sterk beywer vir die posisie van gays in die kerk, word valslik in die kettingbrief aan­gehaal dat hy sê die Koran moet oor die kwessie van poligamie geraadpleeg word om tot groter helderheid te kom.

Dit was nadat ’n probleem by die Aasvoëlkop-gemeente ontstaan het toe ’n gay paartjie by die kerk aangeklop het om met ’n trans persoon te trou, lui die brief.

’n Fop-aanhaling word ook aan Bartlett toegedig waar hy glo sou sê: “Die tyd van normatiwiteit is verby. Jy weet die aarde is rond, maar as jy in die Karoo staan en jy sien hoe plat die Karoo is, dan kan jy maklik dink die aarde ís miskien plat. Vandat ek die Koran gelees het, weet ek die aarde is waaragtig rond.”

Claassen sê in ’n verklaring die brief het iewers as ’n Gekkedag-grap begin, en het gewaarsku dat die verspreiders van sulke briewe moet kennis neem dat dit neerkom op haatspraak, laster en naamskending.

“Bewerings wat gemaak word in hierdie skrywe is van alle waarheid ontbloot.

“Die kern daarvan word sedert 2016 van tyd tot tyd wyd versprei. Ons vra mense om die brief met die minagting te hanteer wat dit verdien.” – Johan Eybers

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui