Twee dominees, een warm affair

‘n Mens wonder hoe dit kan gebeur dat twee predikante so kan optree. Indien dit ’n eenmalige voorval was met berou daarna, kan ’n mens dit tot ’n groot mate aanvaar.

Het Auke Compaan en Anél Pienaar op geen stadium die vraag gevra, “Wat dink God hiervan?” nie?

1 Korintiërs 6:9-11 lui soos volg:

(9)Of weet julle nie dat mense wat onreg doen, geen deel sal kry aan die koninkryk van God nie? Moenie julleself mislei nie: geen onsedelikes of afgodsdienaars of egbrekers of mense wat homoseksualiteit beoefen (10)of diewe of geldgieriges of dronkaards of kwaadpraters of bedrieërs sal deel kry aan die koninkryk van God nie. (11)En so was party van julle juis ook. Maar julle het julle sonde laat afwas, julle is geheilig, julle is vrygespreek in die Naam van die Here Jesus Christus en deur die Gees van ons God.

Besef hulle dat hierdie onbelyde sonde, kan lei tot die hel?

Daar is slegs een verklaring vir hierdie optrede: Hulle het totaal hulle vrees vir God verloor.

Liefde is liefde simbool. Manlike homoseksuele paartjie, heteroseksuele paartjie, lesbiese paartjie. In die reenboog kleure.‘n Mens wonder of hulle glo dat daar ’n hel is

‘n Alternatiewe manier op hierna te kyk is dat hulle die liefde-is-liefde-beginsel bloot konsekwent toepas. Niemand het immers die reg om in die pad van ware liefde te staan nie…

*********

Twee dominees, een warm affair | Netwerk24

Deur Johan Eybers en Jeanne-Marié Versluis

6 Desember 2020

’n Lidmaat van ’n bekende NG gemeente in die ooste van Pretoria eis R150 000 van die kerk nadat sy destydse vrou – ’n predikant by die gemeente – ’n stomende buite-egtelike verhouding met ’n medeleraar gehad het.

Neels Pienaar sê dit het hom R150 000 aan regskoste gekos om die kerk te dwing om hul eie sanksie teen sy eksvrou weens haar egbreuk af te dwing nadat hulle sy klagtes “afgelag” het. Hy eis nou dat die kerk sy regskoste betaal.

Die dispuut tussen Neels en die kerk spruit uit ’n verhouding wat sy destydse vrou, ds. Anél Pienaar, ’n leraar van die NG gemeente Skuilkrans in die ooste van Pretoria, met haar Skuilkrans-kollega dr. Auke Compaan gehad het.

Gedurende die huweliksonmin het Neels afgekom op talle eksplisiete WhatsApp-boodskappe tussen sy vrou en Compaan waarin hulle nie net hul liefde vir mekaar bely nie, maar hul eie kerk in gekruide taal slegsê. Die boodskappe toon ook dat hul verhouding na bewering voortgegaan het nadat hulle teenoor die kerk onderneem het om dit te staak.

Die boodskappe is alles vervat in ’n brief wat aan die algemene sinode geskryf is en waarin Neels se eise vir regskoste uiteengesit word. Volgens dié brief toon die boodskappe dat die twee “tussen 18 Augustus 2019 en 28 Oktober 2019 23 keer fisieke geslagtelike gemeenskap gehad en agt keer owerspel by wyse van foonseks gepleeg het”.

Die twee het ook, volgens die brief, na bewering in teksboodskappe hul “minagting vir die kerk teenoor mekaar uitgespreek”.

“F*k die kerk,” lui een so ’n boodskap terwyl die ander sê “die kerk verveel my” en die ring “weet nie wat hulle doen nie”.

’n Ander sê: “Eintlik hoef ons glad nie skaam te wees vir ons liefde nie”, en in nog een maak hulle dit duidelik wat hulle van die kerk se tugproses dink: “Kort gesê, dominees op die RTL (ring-tugliggaam) beskerm hul eie poste en die groter kerk hou die volk in stand.”

Uit die brief is dit egter nie duidelik wie van Compaan of Anél die opmerkings maak nie.

Neels sê hy het in ongeveer Maart verlede jaar bewus geword van Anél, met wie hy in 2012 getroud is, se ontrouheid. Die egpaar het twee kinders. Dit was gou duidelik dat sy al etlike maande in ’n vurige verhouding met Compaan betrokke was. Compaan was self getroud en is die pa van twee kinders.

Neels het by die kerkraad gaan kla, maar sy klagte is egter “afgelag en met suspisie begroet”.

Hy sê hy het geen ondersteuning van sy eie gemeente gekry nie en ’n predikant van ’n naburige gemeente moes hom uiteindelik bystaan met die klagte, sê hy.

Dit het gelei tot ’n verhoor waarin ’n tugliggaam van die Silverpark-ring uiteindelik vir Compaan en Anél in Mei verlede jaar aan egbreuk skuldig bevind het. Hulle is ontslaan uit die diens van die gemeente en gedelegitimeer, maar die vonnis is vir ’n jaar opgeskort op voorwaarde dat hulle die verhouding beëindig en opregte berou toon.

Neels beweer hulle het egter nie die verhouding beëindig nie. Nadat hy aan die kerk bewyse voorgelê het dat die verhouding “met mag en mening” voortgesit is, is besluit dat hul skorsing as predikante moet bly staan.

Anél en Compaan het egter teen die besluit geappelleer en ’n appèlliggaam het op 3 Junie vanjaar beslis dat hul skorsing opgehef moet word weens die tydsverloop tussen die eerste verhoor en die appèl.

Neels was steeds ongelukkig en wou by die oostelike sinode weet hoe dit moontlik is dat hul legitimasie herstel is en hulle weer beroepbaar kan wees as predikante as daar duidelike bewyse is dat hulle nie die verhouding beëindig het nie – die voorwaarde waaronder hul aanvanklike straf opgeskort is.

Hy sê met die uitsondering van ds. Dirkie van der Spuy, tans die voorsitter van die oostelike sinode se sinodale diensraad, het ander senior kerkleiers geweier om na hom te luister.

“Hy (Van der Spuy) het ’n baie simpatieke gesindheid gehad en het verskeie kere met my kontak gemaak om te hoor hoe dit gaan.”

Hy het toe weer ’n formele klagte ingedien oor sy eksvrou se buite-egtelike verhouding. “Ek het weer eens die WhatsApp-boodskappe tussen Anél en Auke aan hulle voorsien.”

Hy sê sy eksvrou en haar minnaar het toe uit hul pad gegaan om die inligting te onderdruk.

“Hulle het senior regslui aangestel. Ek is gedreig met ’n interdik van die hooggeregshof om die bewyse van hul verhouding aan hulle te oorhandig. Daar was ook ’n dreigement dat ek by die direksie van my werkgewer benadeel sou word omdat ek in besit is van die inligting.”

’n Gesamentlike tugliggaam van die ringe van Derdepoort en Moot-Sentraal is toe aangestel om die nuwe klagte te ondersoek. In die verhoor in Augustus is Neels deur ’n senior advokaat en ’n afgetrede regter gekruisondervra wat die twee predikante verteenwoordig het. Hulle het regsargumente aangevoer dat die boodskappe ontoelaatbare getuienis was. Die tugliggaam het egter uiteindelik die getuienis toegelaat.

Anél en Compaan is daarop skuldig bevind aan wangedrag en owerspel, sondes wat indruis teen die woord van God en die belydenis van die kerk en sondes wat openbare aanstoot gee.

Neels sê hy moes twee prokureurs aanstel om hom te help met die saak.

“Ek het geen twyfel dat as ek nie die dienste van kundige, ervare regsgeleerdes gehad het nie, ’n onreg sou seëvier. Sonder die inligting wat ek verskaf het, sou die tugliggaam hulle nie skuldig kon bevind nie.”

Dit is daarom dat die kerk sy onkoste moet dra, sê hy.

Hy moes self betaal vir die opstel van die klagstaat van 993 bladsye en vir die verkryging van ’n senior deskundige. Omdat hy nie die regskoste kon bekostig nie het sy werkgewer vir hom die geld voorgeskiet.

Neels se werkgewer, MidCity, het sedertdien die algemene sinode genader met ’n versoek dat die kerk sy regskoste of ’n gedeelte daarvan betaal.

In hul brief aan die kerk skryf MidCity: “Soos wat ons instaan vir ons werknemers se dade in die loop van hul werkverrigting, selfs wanneer hulle foute maak, behoort die NG Kerk in te staan vir die volle koste wat deur hul twee predikante veroorsaak is. Dit moet in ag geneem word dat as die genoemde predikante met die waarheid vorendag gekom het, en dit nie probeer wegsteek het nie, die koste aansienlik minder sou gewees het.”

Dr. Gustav Claassen, algemene sekretaris van die NG Kerk, het die bal aangegee na die kerkraad van Skuilkrans. Die kerkraad het laat weet dat hulle Pienaar en MidCity niks skuld nie.

Pienaar sê hy is ’n dubbele onreg aangedoen.

“Ek het my gesin verloor en ek het beperkte toegang tot my kinders. Ek is nou opgesaal met regskoste van derduisende rande wat ek noodgedwonge moes aangaan om te verseker dat reg en geregtigheid geskied, ook in belang van die NG Kerk.”

Anél het aan Jeanne-Marié Versluis gesê haar eksman se storie oor haar en Compaan is eensydig.

“Dis ou nuus. Dis nou al soveel jaar van 2018 af. Ons is nou in 2020. Ons is almal op ’n nuwe plek.”

Sy sê boonop “sal dit nie goed wees vir enig­iemand om hieroor te skryf nie – ook nie vir die klaer nie. Dis sensasie. Julle moet onthou hier is minderjarige kinders betrokke.”

Sy sê sy is nie meer in die bediening nie. “Ek bedien die Here op ander maniere. Ek glo in Sy genade en Sy vergifnis.”

Ds. Nelis Janse van Rensburg, moderator van die algemene sinode, sê die algemene sinode is nie ’n party in die saak nie. “MidCity moet die saak met die gemeente opneem wat ’n regspersoon op sy eie is.”

Prof. Piet Meiring, hoof van pastorale hulp by die Skuilkrans-gemeente, sê hy het Rapport se oproep verwag. “Ons het hieroor gepraat en besluit om geen kommentaar te lewer nie. Wat ons aanbetref, is die saak afgehandel.”

Compaan het nie op Rapport se versoeke vir kommentaar gereageer nie.

  • “Die kerk verveel my.”
  • Die ring “weet nie wat hulle doen nie”.
  • “Eintlik hoef ons glad nie skaam te wees vir ons liefde nie.”
  • “Kort gesê, dominees op die RTL (ring-tugliggaam) beskerm hul eie poste en die groter kerk hou die volk in stand.”

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui