Skuilkrans en gay gemeente hou saam sangdiens vir Paasfees

In 2011 het Skuilkrans NG gemeente ’n basaar saam met die gay-kerk, die Reformerende kerk, gehou (kyk Geloof, hoop, liefde en pannekoek, Skat). Op 24 November 2013 het die Reformerende kerk ook by Skuilkrans ’n kerssangdiens gehou. Nou het die twee gemeentes ook saam paasfees gevier (soos berig in Kerkbode van 2 Mei 2014 hieronder).

(Toe die Silverton NG gemeente (h/v President- en De Boulevardstraat, Silverton) doodgeloop het, het hulle by die Skuilkrans NG gemeente ingeval. Skuilkrans stel tans die Silverton gebou aan die Reformerende kerk beskikbaar om dienste te hou.)

Wie is die Reformerend kerk?

Op hulle webblad (www.gaychurch.co.za – die naam sê al baie) beskryf hulle hul missie soos volg:

“Die Reformerende Kerk is ’n oop kerk van die Here Jesus Christus, waar alle mense welkom is. Ons spesiale roeping is om eerstens uit te reik na die gay gemeenskap en daarna na alle ander mense. Hierdie volgorde bly ons prioriteit solank as wat die hoofstroomkerke weier om gay mense volledig in die kerklike lewe te aanvaar.”

Hulle glo die volgende:

“Ons glo in Jesus Christus as die Seun van God en ons verkondig die Bybel. Ons probeer nie om die Bybel te herskryf of te verander om aan te pas by ons eie denkwyses nie [ek sou sê dat dit presies is wat hulle wil doen], maar ons verstaan dat die Bybel in sy kultuur-historiese verband gelees moet word. Ons aanvaar alle kerklike geloofsbelydenisse in soverre hulle met die Bybel ooreenstem, maar hulle word altyd benede die Bybel gestel. Enige belydenisskrif raak verouderd en moet gevolglik in die lig van nuwe bevindinge van die wetenskap altyd nuut oordink word.”

En ook:

  • Ons glo dat gaywees nie ’n sonde is wat bely moet word nie.
  • Ons glo dat gaywees nie ’n afwyking is wat reggestel moet word nie.
  • Ons glo dat gaywees nie ’n siekte is wat genees moet word nie.
  • Ons glo dat gaywees nie ’n demoon is wat uitgedryf moet word nie.
  • Ons glo dat gaywees ’n voorreg is.
  • Ons glo dat gaywees ’n gawe van die Skepper is wat met dankbaarheid uitgeleef kan word.

Hullle predikant is dominee André Muller, wat ’n uitgesproke gay is. Toe sy eerste kerk sy homoseksuele oriëntasie ontdek het, is hy afgedank. Daarna in 1993 was hy die voorsitter by die vergadering waar die Gay en Lesbiese organisasie (OUT) gestig is. In 2001 het hy aangedring daarop dat die Suid-Afrikaanse Bybelgenootskap die term “homoseksualiteit” uit die moderne Bybelvertalings laat omdat dit na bewering nie in die oorspronklike Grieks voorkom nie.

Dus is dit baie duidelik dat die Reformerende Kerk nie daar is om homoseksuele persone te help om van hulle homoseksualiteit verlos te word nie, maar eerder om ’n plek te bied waar “gay christene” hulleself kan uitleef. Kyk ook Gay Huwelike/Marriage op hulle webblad.

Meer oor hierdie geleentheid by Skuilkrans

Dit is baie duidelik dat Skuilkrans gemeente nie glo dat homoseksualiteit sonde is nie en die Reformerende kerk aanvaar ten spyte van die sonde wat hulle in hulle gemeente toelaat.

’n Mens kan in die versoeking wees om hierdie geleentheid te vergelyk daarmee om saam met byvoorbeeld Alkolholiste Anoniem, Noupoort (dwelmverslaafdes) of selfs ’n tronkkerk paasfees te vier nie. Jy kan dit egter nie nie doen nie, want hierdie groepe mense hierbo genoem is besig om af te sien van hulle sonde, nie soos die Reformerende Kerk wat glo dat gaywees nie sonde is nie. Hierdie geleentheid moet eerder vergelyk word met ’n kerk waar pornografie nie as sonde gesien word nie en waar daar pornografiese prente op die muur is as jy in die kerk inkom en waar God geloof word vir die mens se wonderlike liggaam en seks. Hierdie geleentheid kan selfs vergelyk word met intergeloofsgeleenthede soos bv Rick Warren se Chrislam. Of met ’n geleentheid waar byvoorbeeld Christene en Hindoes saam kom en elkeen saam tot hulle geloof aanbid met die verstaan dat ons almal maar dieselfde God aanbid en dat daardie god ons almal sal insluit in sy Hemelse Koninkryk.

Paulus sê in 1 Korintiërs 5:

(9)In die vorige brief het ek aan julle geskryf om nie met mense om te gaan wat in onsedelikheid leef nie. (10)Daarmee het ek glad nie die onsedelikes of die geldgieriges, bedrieërs of afgodsdienaars van hierdie wêreld bedoel nie, want om hulle te vermy, sou julle uit die wêreld moes padgee. (11)Wat ek geskryf het, was dat julle nie moet omgaan met iemand wat homself ’n gelowige noem, maar wat onsedelik of geldgierig of ’n afgodsdienaar of kwaadprater of dronkaard of bedrieër is nie. Met so iemand moet julle nie eens saam eet nie. (12)Per slot van rekening is dit nie vir my om oor mense buite die gemeente te oordeel nie. God sal oor hulle oordeel. Maar julle moet oor julle eie mense oordeel: “Verwyder die slegte mens onder julle uit!”

(Vers 11 is nogal ironies as jy dink dat Skuilkrans gemeente en die Reformerende kerk saam basaar gehou het.)

Dit is jammer dat Skuilkrans op so ’n manier betrokke is by die Reformerende Kerk. Skuilkrans maak ’n groot fout om enigiets saam met die Reformerende Gemeente toe doen. Hulle moes in die eerste plek nooit die Silvertongebou aan die Reformerende kerk beskikbaar gestel het nie. Die boodskap wat Skuilkrans uitstuur is dat homoseksualiteit nie sonde is nie. Dit skep die indruk by lidmate dat die Bybel verdraai kan word soos modes verander.

Wat sou Jesus se houding teenoor die Reformerende kerk gewees het? Ek glo Hy sou gesê het: “…en moet van nou af nie meer sonde doen nie.”? (Joh 8:11)

**********

Skuilkrans en gay gemeente hou saam sangdiens vir Paasfees

Deur Marietjie van Loggerenberg

“Vanaand in Skuilkransgemeente word geskiedenis gemaak.”

Ek is op pad na die Paassangdiens wat gesamentlik deur die NG Gemeente Skuilkrans en die Reformerende (gay) Kerk in Pretoria aangebied word.

Punt agt van die NG Kerk se 2007-resolusie oor gays het bepaal dat die hantering van gays na individuele gemeentes afgewentel moes word. Die gevolg was die ontstaan van gay-vriendelike gemeentes waar gays as lidmate verwelkom is. [Kyk 2007 NGK homoseksuele besluit.]

In sommige gemeentes soos Elarduspark is daar sinvolle jaarlikse byeenkomste in die kerksaal vir gays en hulle ouers gehou. Skuilkrans het byvoorbeeld die Silvertonse kerkgebou vir eredienste aan die gays beskikbaar gestel. Hulle het ook hulle kerkgebou vir die jaarlikse gay Kerssangfees beskikbaar gestel.

Maar sover ek weet was daar nog nooit ’n gesamentlike erediens soos wat op 13 April hier gereël is nie.

Terwyl ek parkering soek, sien ek baie bekende gay gesigte. Ek ken meeste se verhale, en wonder wat in hulle hart aangaan.

In 2004 toe gays vir die eerste keer na die saal by die NG Gemeente Aasvoëlkop genooi is, was baie van hulle angsbevange oor wat die kerk se motiewe was.

[Ds André Bartlett, wat openlik glo dat homoseks nie sonde is nie, is in NG Gemeente Aasvoëlkop (kyk Dan lieg Bybel mos oor homoseksualiteit). Hy was ook op 1 Maart 2013 in ’n debat op Kyknet se Dagbreek program (kyk Dagbreek: 1 Maart 2013 – Gay Predikante in die NG Kerk) waar hy pro homoseksualiteit was.]

Vanaand is daar geen vrees nie. Almal lag en gesels opgewek en lyk tuis in Skuilkrans.

Die kerkgebou is vol gepak. Spanne van die twee gemeentes het hard gewerk aan die dekor, die program van musiek, Skrifvoorlesing en drama. Dr Auke Compaan open deur God se seën en liefde vir “ons een groot familie” af te bid.

Lede van die voorsanggroepe, asook die twee dominees van die onderskeie gemeentes, lê palmtakke voor in die kerk neer. Die orrel- en saksofoonspel, asook die besonderse sang skep ’n heilige atmosfeer.

My oog vang Johan Meyer wat deel is van die gay voorsanggroep. Hy was ’n NG dominee wat lankal uit die kerk is omdat hy gay is. Die verwerping het nie in sy klere kom sit nie.

Ds André Muller en Auke wissel mekaar af deur gedeeltes voor te lees of te bid.

André is ook lank gelede as NG dominee gevra om te bedank omdat hy gay is. Getrou aan sy roeping as predikant het hy 22 jaar gelede die gay kerk gestig.

Nog nooit het ek enige van dié twee gay predikante iets leliks, hetsy in woede of uit moedeloosheid, teen die NG Kerk hoor sê nie. Hulle wil net onvoorwaardelik aanvaar en menswaardig behandel word.

Auke se gebed weerklink deur die kerkgebou:

“Here, ons vaders van lank gelede het U leer ken as ’n God wat mense wat onderdruk is en teen wie daar gediskrimineer is, bevry het. Kyk ons na onsself, weet ons dat ons ook skuldig is aan diskriminasie op grond van seksualiteit, ras, ensovoorts. Ons weet in ons is daar baie lelik, baie woede, iets van onsself wat ons moet laat gaan. Maak ons vry, Here. Maak ons lig dat ons baie kan lag en U kan loof in hierdie Paastyd.”

Terwyl die gay voorsanggroep Via dolorosa sing, word ’n houtkruis voor regop gebring. Later word die “doeke” verwyder en is daar wit blomme teen die kruis wat die opstanding van Jesus versinnebeeld.

Sang en dramatiese tonele op die verhoog beeld die kruis- en opstandingsverhale uit.

Na twee ure sluit ds André af deur sy arms wyd oor die gemeente oop te maak (asof hy almal wil insluit) en die genade van God die Vader, die liefde van Jesus Christus en die teenwoordigheid van die Heilige Gees oor almal af te bid. Hy is nie meer nie goed genoeg vir die NG Kerk nie.

Die voorsanggroep sing: “It’s a new dawn, a new day …” Vanaand is nie net geskiedenis gemaak nie;

God se koninkryk het voorwaar in hierdie kerkgebou van Skuilkrans gekom.

* Marietjie van Loggerenberg is ’n lidmaat van die NG Gemeente Monumentpark en pastorale terapeut wat al 13 jaar lank met gay mense werk.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui