Teologiese opleiding: Besorgdes wil dosente uitvra en daarna inligting deel

Let op wat hier gebeur het: Pieter Prinsloo het gevra dat die Vrystaatse Sinode die Algemene Kuratorium moet versoek om ’n vraelys, wat hy opgestel het, aan teologiese dosente te gee om in te vul en in die publieke domein bekend te maak sodat die teologiese sieninge van dosente bepaal kan word.

Instede daarvan het die sinode besluit dat Pieter Prinsloo die Algemene Kuratorium in sy persoonlike hoedanigheid kan nader. As die Algemene Kuratorium, waarvan die hoof Frederick Marais is, weier, dan kan Pieter niks verder doen nie. Die kans is min dat daar iets hiervan sal kom.

*******

Teologiese opleiding: Besorgdes wil dosente uitvra en daarna inligting deel | Kerkbode

Le Roux Schoeman

10 Maart 2022

NG dominees en lidmate het na drie dae se gesprek oor teologiese opleiding in ’n sinodesaal op Bloemfontein se Skougrond besluit om teologiedosente te peil oor hulle geloof aan die hand van vrae wat “besorgdes” sal saamstel.

Die Vrystaat Sinode besluit om die Algemene Kuratorium (die liggaam wat as skakel tussen NG Kerk en universiteite dien) te versoek om ’n vraelys van besorgdes in ontvangs te neem, waarop alle dosente die geleentheid kry om op deursigtige wyse te antwoord op vrae van besorgdes,” lui die besluit wat deur ds Pieter Prinsloo van Kroonstad-Wes voorgestel is.

“Hierdie vraelys sal deur ’n groep besorgdes aan die Algemene Kuratorium verskaf word, waarna die antwoorde ook in die openbare domein beskikbaar sal wees vir besorgde lidmate,” luidens die besluit.

Prinsloo, ’n afgevaardigde wat ’n bedrywige drie dae voor die mikrofoon gehad het oor kwessies soos dolering en selfdegeslagverbintenisse, het by verskillende geleenthede aan die vergadering verduidelik dat hy vir enige iemand sal sê wat hy glo en dat hy nie verstaan waarom dosente nie hierdie geleentheid sou wou opneem nie.

Ds Jan Lubbe, voorsitter van die moderamen aan die stuur van die streeksinode, het na die stemmery opgemerk dat die Algemene Kuratorium einde Maart vergader en voorgestel dat Prinsloo en diegene wat hy verteenwoordig, voor dan met daardie liggaam kontak maak.

Lubbe, wat naas moderator van die NG Kerk Vrystaat, ook die voorsitter is van die kuratorium van die NG Kerk in die Vrystaat, het vroeër die dag (toe hy nie voorsitter van die vergadering was nie) laat hoor hoekom hy nie die idee van so ’n vraelys aan dosente ondersteun nie. “As daar op ’n vraelys staan vir ’n dosent, glo jy dat homoseksuele orïentasie sonde is, en jy kan antwoord, ja, nee of onseker, en jy tick dit nou af en gee dit vir ’n klein kommissietjie wat nou jou antwoord in die publieke domein gaan sit, dink u enige dosent gaan sê ja, hier is my antwoorde? [Kommentaar: As jy iets probeer wegsteek, definitief nie.]

  • Hou Kerkbode dop vir meer oor hierdie storie.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui